Hoe word ‘n Kommandant weer ‘n Skutter?
Sleutelwoorde: Nasionale Diensplig SAW/SADF National Service
Abstrak: Hoe word ‘n Kommandant weer ‘n Skutter?
Herman Toerien
Oor my dienspligjare kan ek seker boekdele skryf. Tydens my matriekjaar is die diensplig so verander dat seuns wat verder gaan studeer eers hul studies (tot op ‘n punt) kan voltooi voor hulle gaan voetestamp. Baie het so gemaak, sommiges om die dag van afrekening uit te stel. Op 18 jaar is almal immers nie ewe gereed om die nes te verlaat nie. Ander, soos ek wou die storie agter die blad kry, ‘n wanpersepsie want daarna moet jy nog ‘n fris tyd gaan kampe gaan doen, grensdiens ingesluit, en dan sonder rang. Ander het gemeen met ‘n graad onder die blad kan hulle soort van kortpad offisiere word en dan dalk minder swaarkry maar meer geld kry.
Skerpskutter, met of sonder Disleksie?
In my geval was dit ‘n geval van ek wou net ‘n blaaskans van skool en studies neem. Ek het disleksie en skoolgaan was ‘n nagmerrie. ‘n Jaar sonder leer en ‘n boektas so swaar soos ek self het eenvoudig na ‘n beter opsie gelyk as enigiets anders. Maar moenie ‘n fout maak nie, basies was ROF. Veral die “bunny hops” en “star jumps.” Om die waarheid te se, ek sou baie, baie jare daarna moeilikheid met my knieë hê. Die “push ups” op ‘n vuurwarm teerpad, waar die pad sopnat was waar jy gedril was, was ook nie te lekker nie. “Afbreek tot jy niks is sodat jy weer opgebou kon word soos die weermag jou kon gebruik” moes ons male sonder tal hoor. En” “Sien jy daai boompie doer ver? Is jy al terug.” Om dan te antwoord: “Ja korporaal!” was regtig nie aan te bevele nie.
Maar ek onthou goed hoe my pa en ma gelag het toe hulle my eendag bel en vra hoe gaan dit, en ek sê dit aan maar swaar, maar is darem BAIE beter as skoolgaan. By geleentheid het my en knie soos ‘n ballon geswel en de een dokter het my op ‘n paar dae ligtediens geplaas. Na so twee dae was ek so sat van kantore skoonmaak en vee dat ek weer gaan inval het. Ek het later gehoor ek kon hieroor in die DB gegooi gewees het, want dis beskadiging van staatseiendom. Nooit uitgevind of dit so is nie.
Rooikop, naby Walvisbaai
Ek het soos baie ander troepe ‘n her vir wiskunde gehad. Met die eksamentyd sou ek ‘n draai by die huis kon gaan maak, maar my wrewel in skoolgaan en wiskunde het my daarvan laat afsien. Gelukkig het ek daarsonder reeds universiteitstoelating gehad. En toe is ek Rooikop, so 14 myl woestyn-in van Walvisbaai, toe. Dit was ‘n ervaring wat ek lank sou koester. Hulle het ons met Duin Sewe probeer bangpraat, maar ons was ‘n “proefbattery” en duin sewe ‘n vulletjie. Trouens, as ons kans gehad het, het ons Duin 7 toe gedraf, en lekker ge-duinry, en terug basis toe gedraf.
Kort voor ons uitklaar en ons as oumanne al minder skerp was, ontdek hulle ons het nog nos laaste fiksheidtoets afgelê nie. Ek het wel geoefen vir ‘n 800 meter wedloop van ‘n atletiekbyeenkoms wat op kort kennis gekanselleer is en was so fiks soos selde. Met daai fiksheidtoets kom ek tweede, en kry 83 %. Die troep wat eerste gekom, het 83,3 % gekry. En ons hoor die mindae-trein al hard fluit, en ons is opgewonde, want ons het ons ouers toe al baie lanklaas gesien.
Ek was gelukkig, want my ouers, broer en suster, en my pa se suster het kom kuier en ‘n heerlike kothuis by Swakopmund gehuur. Maar wat ek die duidelikste onthou het was dat my pa, wat anatomie vir mediese studente gedoseer het, vir my gevra het wat ek van die weemagdokter daar dink, en hoe lekker hy, my ma en tannie almal gelag het. Ek het nie geweet k*$t is so ‘n lelike woord nie. Het ook nooit kon dink dat my ouers ‘n woord sou ken wat en na amper ‘n jaar as dienspligtige nie sou ken nie.
En toe kry ons die rampspoedige nuus. Die mindaetrein, het ‘n pap wiel, by wyse van spreke, opgedoen, en sou ons eers twee dae na ons al by die huis moes wees, kan oplaai. Voeg die vier dae sy ry terug huis toe by, en vir ‘n troep wat al die min minute begin aftel het, is dit soos ‘n doodstyding. Net daar besluit ek, ek gaan aansoek doen om wiskunde te gaan her, en maak toe so, en laat weet my ouers. My pa is verskriklik opgewonde, en reël de inskrywing en ‘n onnie vir privaat lesse.
Met ‘n Jumbo Johannesburg toe
En toe kom die nuus, by hoofkantoor is dit afgekeur en ek laat weet my pa. Ek maak vrede daarmee, maar ‘n dag later word ek kantoor toe geroep. My pê, se hulle, het die generaal gebel, en nou kan ek maar gaan. Maar op eie koste. En so kry ek my eerste vliegrit op ‘n Jumbo na Johannesburg waar my ouers my kom haal.
En nou het ek matriek wiskunde (net net) agter my naam. Ek het seker al ‘n jaar gewerk, toe soek die staat my matrieksertifikaat. Ek was uit die veld geslaan want ek het met my aansoek gewaarmerkte afskrifte van beide my grade ingegee. Maar ek moes maar uitvind waar om die gehate skoolgoed te kry, en daar vra hulle my watter jaar s’n soek ek. Blyk toe ek het twee, een met vyf vakke, en een met een. Later het ek die een met een vak nodig gehad om vir ekonomie te kon inskryf. Ek werk nou die dag uit ek het met raap en skraap saam met my graad en bykomende buitemuurse studie vakke in vyf fakulteite behaal.
Wat my diensplig-verpligtinge betref was dit my voorneme om my kampe en ander verpligtinge te benut om range en ander kwalifikasies te verwerf. Ek was steeds kanonnier soos toe ek die dag was toe ek ingeklaar het. Toe ons met Republiekdag kanon van Naval Hill af skiet sien ek een van ons swakste troepe in nou ‘n bombardier ( soos ‘n vol korporaal). As hy dit met ‘n kursus kon vermag, kan ek mos ook.
Maar met my eerste kamp moes my knie geopereer word danksy die star jumps en bunny hops) en die volgende jaar roep hulle my in my eksamen op, Toe begin ek vir kursusse inskryf maar dit word gekanselleer of ek word afgekeur.
Nie meer ‘n Kanonnier nie, maar ‘n Skutter
Teen die tyd dat ek klaar gestudeer het, het net twee goed met my verander van ek vir basies aangemeld het. Skielik was ek nie meer kanonnier nie, maar skutter Op ‘n dag kry ek ‘n brief van die weermag wat my inlig ek word op bystand (vir grensdiens) geplaas, en ek moet my bloedgroep vasstel. Tipies man is ek maar bang vir die naald, en ek skryf beleef terug dat hulle reeds my bloedgroep het. Tot vandag toe onthou ek die gebeure met die “bloedtrekparade” daar op Potch goed. Ons moes alfabeties staan, en met ‘n van soos Toerien, was ek amper agter in die tou, ekskuus, linie. Elkeen het ‘n buisie in die hand gekry met ‘n bietjies helder vloeistof onderin, en ‘n plakkertjie opgeplak met jou nommer en naam en rang daarop gedruk. Alle dienspligtiges is nie altyd genieë nie, en gou begin van die troepe wonder watse vloeistof dit in die buisie is. Nou ja, haal die doppie van die buisie af en ruik, of selfs proe. Vermoedelik was dit metanol, maar die buisie was ‘n vakuum sodat die naald aan die doppie geheg kon word en de vakuum die bloed kan uittrek.
Nou ja, kort voor lank sukkel hulle om die eerste agie se bloed getrekte kry, en boonop kap hy om. Die ander agter hom in die tou sien dit, en raak benoud. Nie lank nie, toe kap elke tweede troep om. en teen die tyd wat ek voor kom lyk dit soos ‘n slagveld. Gelukkig kap ek nie om nie. Dit word net om die beurt swart en lig om my soos ek na my bangalow toe snol. Begryplikerwys was ek nie oorhaastig om dit weer te beleef nie, Later kry ons ons dog tags, en ek is O Rh +. Dis in ‘n stadium weer ingeneem, anders het ek dit as kleinood gehou om nie weer gepunctuer hoef te word nie.
Maar nou moes ek dit weer beleef My jonger broer is siek, en die dokter is sommer gevra om my bloed ook te trek. Ek kry die uitslag, maar nou is dit A RH +. Die dokter is baie seker dis die “Army” wat die fout gemaak het, maar dit moet weer getoets word.
Die keer moet ek na buitepasiënte toe gaan, en daar in ‘n lang tou gaan sit. Ja, darem sit. ‘n Jong doktertjie is aan diens, en om my uit die bangheid te praat, praat ek nonsens. Ek sê ek weet waar die fout ingekom het, in die army is die bloed uit my regterarm getrek, en die huisdokter het dit uit die linkerarm getrek, en die doktertjie blaas haar mond dik op.
Toe word ek by NI in Pretoria aangestel, en ek word geklassifiseer as sou ek ‘n sleutelpos beklee. Weens hierdie fout sou my kampe eenvoudig ophoop solank ek by NI werk. Ek was later desperaat om ter wille van my jonger broer en suster ‘n pos in Bloemfontein te kry. Ek het onder meer vir ‘n sekuriteitspos in Bloemfontein aansoek gedoen. Nogal ‘n onderhoud ook gekry, waar ek gevra is om my aansoek terug te trek. Wat hulle eintlik soek, het die hoof van beskermingsdienste verduidelik, was iemand soos ‘n afgetrede polisieman met net een been. Maar die salaris was dubbel van wat ek by NI verdien het. My aansoek het nie geslaag nie.
Toe kry ek ‘n pos by Volksblad, en het my volgende stryd begin om my lêer in die weermag los te kry. Die bevelvoerder van Groep 35 HK wil my aanwend. Hy was ook ‘n baie bekende prokureur, en hy voer die saak naderhand as prokureur. Maar toe kom dit uit my lêer is weg. Vrede kon ek nie daarmee maak nie, want ek kan dalk al ‘n gesin met kinders hê wat na rugby-oefeninge en debatte toe gery noet word, dan kom daai lêer dalk uit, en dan moet ek as gryskop-omie begin drie-maande grensdiens verrig. Die lêer het darem na net so twee of drie jaar uitgekom. Een van die hysbakke in die Poynton-gebou in Pretoria wou naderhand nie meer tot heeltemal gelyk met die grondvloer sak nie, en toe word vasgestel die skag was vol lêers. Toe kon ek take verrig waarvoor ek opgelei was. Maar die rang van skutter het my uitgerangeer – eers as Marnet-bediener, toe as toesighouer oor die nagwagte.
In die staat was ek die Vrystaat se hoofverhoudingsbeampte, en wel in die rang van assistent-direkteur. (Die jongste persoon wat daardie rang, gelykstaande aan ‘n luitenant-kolonel, nog dié rang in die verhoudingsaksie bereik het. My baas, wat ook hoof van ‘n streekkantoor van die provinsiale administrasie was, word as voorsitter van die Suid-Vrystaatse Sub-GBS aangewys, en ek word sy sekretaris. Ek kry baie lof vir die werk wat ek daar doen, en geniet dit baie. Maar die twee werksladings raak te veel, en ek vra of ek toestemming kan kry dat my vrou my met die werk kan help, en sy kry ook ‘n klaring van Uiters Geheim.
En dit gaan voor die wind.
Maar toe op ‘n dag besluit die Provinsiale Administrasie ek mag nie meer die werk doen nie. Ek stel toe voor dat die Weermag, waar ek nog met baie dae in die rooi is, my vir die dae wat ek as sekretaris moet dien, bloot oproep. En hulle doen dit, en ons gaan aan. Van toe af moet ek ook my militêre rang, Skutter, op die presensielys invul. My baas, die voorsitter, was nog nooit in die weermag nie, en ek is toe nuuskierig wat hy daar invul, en ek kyk. By rang vul hy in: “Oom.” Ja, hy was oral as “Oom Pierrie” bekend en almal was baie erg oor hom..
Die Menasie op Tempe, en Woestyn-Omo
By geleentheid besluit die manne ons gaan in die weermag se menasie op Tempe eet. Ons word met ‘n paar Landrovers en Jeeps aangery, en ek begin wonder by watter menasie ek afgelaai sou word. Persoonlik het ek gehoop die onderoffisiersmenasie, want as ons op Walvisbaai op diens was, was die onderoffesiersmenasie by verre die beste plek om te werk. En die kos net so lekker as in die offisiersmenasie. Ons hou eers by die offisiersmenasie stil, maar ek bly agter. Maar by die onderoffisiersmenasie bly ek ook agter, en toe by die troepe-menasie afgelaai. My rang is mos skutter. Varkpan in die hand gaan kry ek kos, en sit stoksielalleen en eet. Na ete gaan was ek my varkpan, en maak soos ek van Rooikop af gewoond was, van Woestyn-Omo gebruik om daai varkpan blink skoon te kry. Die ander troepe kom agter hoe goed die Woestyn-Omo werk en kom val ook in. En ons gesels lekker terwyl ek hulle touwys maak om van daai laag vet ontslae te raak.
Maar die einde het gou hierna gekom. Ek moes ‘n baie groot operasie ondergaan om ‘n gewas teen my klein brein te verwyder. Pligsgetrou lig ek die weermag in, maar ek het geen antwoord gekry nie. Ook nie op enige verdere navrae nie. Ek bestaan eenvoudig nie meer nie, nie met O Rh + of A Rh + bloed nie. Toe ek kanker kry, en so baie bloedoortappings moes kry, was my bloedgroep darem vasgestel.
Intussen het ek die maksimum-ouderdom waarop ek opgeroep kan word, verbygesteek. In ‘n rolstoel sal ek ook net in die pad wees. Ek het ook vasgestel dat my Posspaarbank-boekie waarop ek my weermaggeldjie gebêre en laat rente trek het, lankal nie meer bestaan nie. Die geldjie daarop bestaan ook nie meer nie.
Uittree!
- Herman Toerien
- Herman Toerien het sy beroepsloopbaan by Nasionale Intelligensie in 1978 begin toe genl Hendrik vd Berg die sekretaris van die Buro vir Staatsveiligheid was. Hy het oor ‘n Honneurs in Staatsleer (nou politieke wetenskap, aan Kovsies beskik. Met die aanstelling van dr. Niel Barnard as DG, was dit sy derde departementshoof. Hy het sy werkstyd by NI baie geniet en beskou dit as voorreg om in ‘n hoogs professionele omgewing te kon werk, en kundigheid te kon opdoen wat hy baie waardevol in ander werksomgewings kon benut. Weens huislike omstandighede voortspruitend uit sy pa se dood kort voor sy diensaanvaarding, keer hy as verslaggewer by Volksblad terug Bloemfontein toe, en kon so later sy vyftig jaar as Vrystater voltooi, Hy het vier jaar gelede saam met sy vrou Joan, en outistiese jongste, in die Paarl gaan “aftree”. Hy word die afgelope elf jaar vir verskeie kankers behandel.*
