Nongqai Skrywers & Boeke: Jeugboeke en Kinderverhale in Afrikaans

Voëls in die Vrystaat vlieg onderstebo

Uit Vrystaatstories, uitgegee deur Naledi-uitgewers, 2024.

“Is dit waar dat die voëls in die Vrystaat onderstebo kan vlieg, Mossieman? Ek het so ʼn voëltjie hoor fluit op my ou Ramkiekie met net een snaar.”

Geronkie die Donkie en sy boesemvriend Mossieman lê pens en pootjies op hul rūe na die blou hemel en wit wolke van die Vrystaat en kyk. Dit is hul gunsteling tydverdryf, saam met druiwe eet, poetse bak en skaapappeltjies bymekaarmaak om kettie mee te skiet. Geronkie en Mossieman het lankal agtergekom dat, as jy op jou rug lê, jy baie meer dinge kan sien as wanneer jy regop staan. Of sit.

“Dit is waar ja,” antwoord Mossieman lakonies, terwyl hy die wolkformasies met sy een kunsoog bestudeer. “Die voëls in die Vrystaat vlieg onderstebo omdat daar niks op die grond aangaan nie. Daar is net eenvoudig net nie genoeg interessante dinge om te sien nie.”

Ten spyte van sy lang ore en kort stert, is Geronkie in die Vrystaat alombekend as ʼn diep denker. Geronkie is ʼn beroemde filosoof wat gewoonlik diep en lank dink voordat hy sommer, net soos die kranse, ʼn antwoord gee.

“Hoor bietjie hier, Mossieman,” vra Geronkie uit. “Is dit waar dat jy die slimste mossie in die hele wêreld is? En die sterkste, vinnigste en die aantreklikste?”

“Dit is alles min of meer waar, ja,” beaam Mossieman met ʼn gepaste skugter wuif van sy vlerk. Amper soos wyle Lizzie, die koningin van Engeland. Hy vermoed lankal dat hy van koninklike afkoms is, maar het nog nooit iemand daarvan vertel nie. Mossieman was inderware ‘n skugter mossie wat sy trots onder sy mossievlerk kon wegsteek.

“Maar waarom, Mossieman? Wat maak jou slim, sterk, vinnig en mooi? Waarom is jy so spesiaal?”

Mossieman krap sy kop om aan ʼn slim antwoord te dink. “Het jy al gehoor van voëls met eenderse vere, Geronkie?”

“Ek het ja.”

“Wel, ek is nie een van hulle nie. Ek is anders.” Geronkie weet goed dat Mossieman somtyds ʼn eersteklas spekskieter kan wees en verwag by voorbaat ʼn tweedeklas liegstorie van hom.

Geronkie sug diep. “Waarom is jy anders, Mossieman?”

“Want ek was ʼn Vrystaat-parabat?”

“ʼn Parabat. Wat op aarde is dit? Wat is parabats?”

“Soldate. Ek was ʼn lugmag-soldaat wat uit vliegtuie gespring het.”

“Maar waarom, Mossieman, was jy dan bang? Waarom het jy nie net gewag tot jy op die grond aankom nie?”

“Ek ly bietjie aan hoogtevrees, maar ek was nie bang nie. Vrystaatse mossies word nooit vir niemand bang nie. Ons het valskerms gehad. En kopskerms. En mondskerms soos die Springbokke se Bomb Squad.”

“Parabats met valskerms! Beskerm die kopskerms julle as julle val? Of as julle omval? Of uit die vliegtuig val?”

“Nee, dit keer net dat ons nie teen die grond vasvlieg nie.”

“Maar die Liewe Vader het dan vir julle mossies vlerke gegee! Waarom het julle nog valskerms ook nodig om te vlieg?”

“Ek dink die Liewe Vader het valskerms uitgevind sodat ons iets het om te gebruik as ons vlerke nie meer werk nie. Of as ons beseer of moeg is. Soos ʼn versekeringspolis! ʼn Plan B.”

“So, as jy ʼn Parabat is, dan is jou vlerke Plan A en jou valskerm jou Plan B?”

“Ja, Geronkie,” lag Mossieman. “Maar onthou, dit is ʼn valskerm, ʼn val-skerm. Hy beskerm jou as jy val. Ons mossies is nogal rats in die lug, ons val nie baie om as ons vlieg nie.”

“Waarom nie, Mossieman?”

Mossieman peins bietjie oor die vraag soos dit ʼn beroemde Vrystaatse filosoof betaam. “Want as jy val terwyl jy vlieg, dan kom die grond baie vinning nader. As jy nie pasop nie, kan jy selfs teen die grond vasvlieg. Dit is angswekkend, ek kry sommer koue rillings.”

“En wat doen julle toe?”

“Ons het geleer om onderstebo te vlieg, Geronkie. Sodat ons nie die grond daaronder hoef te sien nie. Dit het veral die nuwe parabats baie gehelp en vir hulle selfvertroue gegee om lekker uit die vliegtuie te spring, veral die wat aan hoogtevrees gely het. Met of sonder valskerms.”

“Selfvertroue?”

“Ja! Die meeste van die nuwe Parabats het aan hoogtevrees gelei. Hulle wou nie afkyk grond toe nie.”

“Wat doen julle toe?”

Mossieman sug en tuur die hemel in, en kyk vir die pragtige blou-wit wolkies in die Vrystaatse hemelruim. “Toe laat ons al die Parabats onderstebo uit die vliegtuig spring. Ons het hulle valskerms agterstevoor vasgemaak, sodat hulle onderkante boöntoe gewys het en hul voorkante agtertoe. En hul agterkante vorentoe.”

Geronkie sug ook diep saam met Mossieman en hy loer beïndruk na sy kameraad. “Mapstieks, Mossieman, ek kan nou sien waarom die diere van die Vrystaat dink jy is die slimste mossie in die hele wêreld. Jy weet iets van alles af.”

“Dit is nie heeltemal waar nie, ek weet eintlik net alles van iets af. Dit is nie al nie,” sluit Mossieman sy liegstorie af. “Toe hulle eers daardie onderstebo-vlieg-vaardigheid onder die vlerke het, toe leer ons hulle nog ‘n kunsie.”

“Ai, Mossieman, ek weet regtig nie meer of ek jou moet glo nie.”

“Jy hoef my nie te glo nie, Geronkie. Kyk net daarbo na die hemel, dan sien jy dat die meeste voëls daarbo vlieg agteruit.”

“Jy jok nou, Mossieman!”

“Nee, regtig, dit is raar maar waar. Kyk maar. Die voëls wat vorentoe vlieg, gaan met vakansie en die voëls wat klaar vakansie gehou het, vlieg agteruit terug na die Vrystaat toe.”

“Mossieman, jou storie klink vir my te deurmekaar en agterstevoor. Ek glo jou nie meer nie.”

“Dit is waar wat jy sê, Geronkie. “Ek glo ook nie meer my eie stories nie,” gaap Mossieman terwyl sy oë aan die slaap raak. En daar, terwyl hulle nog so na die Vrystaatse hemelruim kyk, vlieg Mossieman en Geronkie die Donkie droomland toe.

Lekker slaap, manne!

*

Henning van Aswegen

Vrystaatstories, Naledi-uitgewers. 2024.