Die Agent
Abstrak
Hierdie vertelling ondersoek die dun, soms onsigbare grens tussen alledaagse akademiese lewe en die skaduwêreld van intelligensie‑werk. Deur die herinneringe aan ’n voormalige kollega — eers ’n betaalde agent, later ’n dosent en uiteindelik ’n gelowige — word die morele spanning tussen geloof, waarheid en die bedrog van spioenasie ontbloot. Die verhaal wys hoe agente dikwels deur geld, ideologie, ego of dwang gedryf word, en hoe hierdie motiewe uiteindelik bots met enige vorm van geestelike integriteit.
Teen hierdie agtergrond word die ironie van die spioenasiewêreld uitgelig: dat die meeste inligting waarvoor mense lieg, bedrieg en verraai, in werklikheid openlik sigbaar is vir dié wat weet waar om te kyk. Die skrywer kontrasteer die romantiese James Bond‑beeld van donker, indrukwekkende kantore en sigaarrook met die werklikheid van ’n klein universiteitskantoortjie — ’n eenvoudige vertrek waar tog merkwaardige dinge gebeur het: besoeke van ’n spioenmeester, die berging van ’n geheimsinnige tassie, ontmoetings met ’n jong vrou wat later as agent ontmasker is, en gesprekke met navorsers oor die toekoms van polisiëring ná 1990.
Deur hierdie voorvalle word ’n groter waarheid sigbaar: dat die politiek dikwels die polisie misbruik, dat magspel en ego die openbare veiligheid kan verdraai, en dat die mees betekenisvolle insigte soms nie in geheime kamers nie, maar in gewone ruimtes ontstaan. Die abstrak vang dus die essensie van die teks vas — ’n refleksie oor moraliteit, mag, spioenasie en die onverwagse plekke waar die waarheid haarself openbaar.
DIE AGENT*
(Chris Botha)

Ek het ‘n vriend gehad wat, soos ek, ‘n dosent by die universiteit was. Jare gelede al. Voor dit was hy ‘n agent. Hy was nie ‘n voltydse staatsamptenaar in ‘n intelligensiediens nie (wat, het hy gesê, ook ‘n agent kan wees), maar het teen betaling inligting aan sy spioenmeester voorsien. Nà ‘n tyd, en as gevolg van die ontbloting van ‘n vriendin van hom wat ook ‘n agent was (terwyl hy dit nie geweet het nie) moes sy spioenmeester hom uit sy dekking uit lig. Vriend is toe aangestel in die rang van luitenant by die polisie se intelligensiestruktuur. Met sy spioenplasings (by ‘n ander universiteit) het hy reeds goeie kwalifikasies gehad en mettertyd het hy uit die polisie bedank en ‘n dosent geword.
‘n Ruk daarna egter, het Vriend gelowig geword. Net voor sy kankerdiagnose. Een dag, met ‘n koffie in die hand, vra ek hom of sy gelowigheid versoenbaar is met sy agentigheid van destyds. Hy het nogal lank hieroor nagedink. Uiteindelik sê hy toe nee, ‘n agent en geloof loop nie saam nie. As agent het hy gelieg en bedrieg. ‘n Agent, sê my vriend, doen agent-dinge vir redes van geld, ideologie, ego, geredelike toegang tot inligting, karaktergebreke en opwinding. Soms werk ‘n agent omdat hy gedwing word, of afgepers word, en dan is agent se spioenmeester waarskynlik ook nie in lyn met gelowigheid nie. Vriend vertel my van ‘n Suid-Afrikaner wat ‘n spioen vir die kommuniste was. Vir meer as twintig jare, sê Vriend, het hierdie man hoogs geheime inligting aan ‘n ander land gegee. Volgens Vriend lei al die eienskappe wat mense motiveer om spioene te word altyd tot verraderlike optrede. En verraderlike optrede, sê Vriend, loop nie saam met gelowigheid nie.
Teen hierdie tyd in ons gesprek het ek gedink dat ek meer van James Bond se flieks hou (al vermoed ek dat ek sy flieks nogal deurentyd as goeie komedie gesien het) as wat ek van agente, en die dinge van agente, hou. En ek wonder – is alles regtig só weggesteek, of is dit eintlik sigbaar as mens weet waar om te kyk? Baie jare ná my gesprek met Vriend, skryf die outeur van ‘n boek wat in die openbare ruimte beskikbaar is presies dit – vyf-en-negentig present van die inligting wat die spioen soek is sigbaar vir almal om te sien. Wat my natuurlik laat wonder. Waarom lieg en bedrieg en verraderlik optree vir iets waarvoor mens net moet rondkyk? En waarom nie net skerp waarneem daar waar jy is nie?
Vat nou maar my kantoor by die universiteit. Later jare sou ek dink dat hierdie kantoor, waarin ‘n paar goed gebeur het, eintlik net ‘n gewone tipe kantoor was. Ek meen, mens sou sekerlik verwag dat spioengoed gebeur in indrukwekkende kantore. Kantore met swaar meubels waarin uitsonderlike whiskeys aangebied word uit drankkabinette deur goedgeklede, sigaarrokende mans met indrukwekkende taalgebruik en woordkeuses, een hand altyd in die sak van volmaak-passende netjies gesnyde langbroeke. Hierdie kantore sou altyd ietwat donker wees, en op die massiewe lessenaars sou daar altyd ‘n leeslamp met ‘n groen langwerpige ligskerm wees. Kantore waarin planne beraam word, woordspel die botoon geniet en die teenwoordiges heeltyd besig is om te bedrieg, ratte voor die oë te draai en klein oorwinnings te beplan. Ek meen, dit is mos soos James Bond se flieks ons leer, dan nie?
Maar so was my kantoortjie nie. Dit was gewoon ‘n klein vertrekkie met ‘n lessenaartjie en twee regop stoele, met rugleunings. Daar was ‘n grys staalkas in, met hangplek en rakke. Teen die een muur was ‘n wit bord waarop ek die besoekende student sou blootstel aan my denke met groot sketse van hoe dinge nou eintlik in mekaar steek. Die penne in die gleuf aan die onderkant was altyd droog, en waardevolle tyd sou verlore gaan terwyl ek in my tas krap of by die kantoor langsaan ‘n draai gaan maak om ‘n pen te leen. Ek het altyd gewonder waarom die universiteit nie maar die groen bord met die eenvoudige wit kryte behou het nie. Maar dan het ek weer onthou van die wit stof op my baadjie, aan my hande en op my papiere wanneer ek die bord sou skoonmaak. In sulke tye was ek dankbaar vir sagte wit skryfborde in klein universiteitskantoortjies.
Tog, elke keer, verwonder ek my daaraan dat hierdie tipe dinge sommer in ‘n eenvoudige kantoortjie sou gebeur.
Daar was die keer, byvoorbeeld, toe ‘n spioenmeester by my ‘n draai gemaak het, in hierdie klein kantoortjie. Dit was gedurende die tyd toe die politieke situasie in ons land heel verander het, iets wat niemand verwag het nie en wat sou lei tot ‘n bewindsverandering. Ek het Spioenmeester geken want hy was ‘n baie senior polisie-offisier terwyl ek in die polisie was, hy was aktief in die openbare lewe van ons land en het boonop toe ‘n kontrak-aanstelling by die universiteit gehad. Spioenmeester (wie se een oog ‘n ander kleur was as sy ander oog) het altyd met albei oë toe geluister wanneer hy wou konsentreer op wat gesê word. Ek was, volgens my wete, nooit ‘n agent nie en het dus nooit met Spioenmeester gepraat oor spioengoed nie. Ons het wel oor my vak gepraat, en oor hoe my vak en die politiek in ‘n ongemaklike verhouding staan. Ek het argumenteer dat die polisie as instelling, en die werk wat die polisie doen, onafhanklik moet staan van politiek. Politiek, het ek gemeen, was ‘n spel van mag, ego en toorn. Dit was nie, het ek gevoel, ‘n spel van diens aan die gemeenskap nie. Politiek, het ek aan Spioenmeester verduidelik, gaan oor die verkry en die behoud van mag en dan oor die aanwending van aggressiewe handelinge wat selfs tot die dood van politieke teenstanders mag lei. En die politiek, het ek sterk betoog, gebruik die polisie om in die saal te bly. Dan is die polisie nie dienaars en beskermers van die mense nie, maar onderdrukkers en moordenaars van die mense. Mens kan immers maar net die geskiedenis van ons land gaan lees, dan sal mens dit maklik raaksien. Spioenmeester het nooit met my oor my standpunte geredeneer nie, net toe oë geluister en hier en daar ‘n geluidjie gemaak. Ek was nooit seker of dit ‘n geluidjie van instemming was nie.
Op hierdie dag egter, het Spioenmeester ‘n klein tassie by hom gehad. Dis die soort tassie wat ek op my eerste skooldag gebruik het om my goedjies in te pak. So ‘n klein, bruin, kartontassie wat aan die einde van my eerste skooljaar redelik vodde was. En Spioenmeester vra of hy die tassie by my in my kantoor kan bêre vir ‘n paar maande. Spioenmeester sê nie wat in die tassie was nie. Ek sit toe die tassie in my staalkas neer, op die vloer van die hanggedeelte, met die deksel aan die voorkant, en sluit die staalkas se deur toe. (Nadat Spioenmeester weg was, het ek die staalkas oopgesluit en ‘n paar foto’s geneem wat duidelik die posisie van die tassie in my staalkas aandui. Ek het hierdie foto’s laat ontwikkel en by ‘n geheime plek gaan stoor, ‘n plek waarvan net twee ander mense geweet het en ‘n plek wat oopgemaak sou moes word na my dood). Ek het nooit aan die tassie geraak nie. ‘n Paar maande later het Spioenmeester weer verby gekom, en sy tassie kom haal. Hierdie keer het hy nie vertoef vir geselsies nie.
Toe, eendag, staan daar ‘n verdwaalde jong vrou buite die kantoor se deur, in die gang. Ietwat muiserig, dink ek, en dit lyk of sy hulp nodig het. Sy lyk heel bang. Ek vra toe maar die valerige vrou of ek met iets kan help, waarop sy instemmend antwoord. Sy het ingeskryf vir een van die vakke wat ek aanbied, sê sy, en wil graag meer duidelikheid hê oor die moreel-etiese kwessies rondom polisiëring. Ons praat lekker, en ek kom agter dat sy ‘n wye kennis het oor polisie-optredes teenoor politieke teenstanders van daardie tyd se regering. Met tye haal sy sommige regters woordeliks aan, en dan kontrasteer sy wat hierdie regters gesê het met die uitsprake van leidende politici van daardie tydperk. Sy beïndruk my toe mateloos want sy was duidelik ‘n goeie student. Sy het nog twee keer, dink ek, sonder afsprake by my kantoor opgedaag, elke keer as ek toevallig (toevallig?) vry was om met haar te kon gesels. Jare later, nadat sy haar studies gestaak en weggeraak het, het ek gelees dat sy uit haar agentposisie gelig is en iewers in die buiteland woon. Tydens ons gesprekke het sy nie vir my gesê dat sy ‘n agent was nie, maar sy het eendag gebel en gesê dat sy jammer was dat sy nie met my eerlik was nie. Ek het haar baie jammer gekry.
Op ‘n ander dag kom daar twee vreemde mense aan, ‘n man en ‘n vrou. Dit was nà 2 Februarie 1990 en dit was nie ongewoon dat iemand met my sou kom praat oor die polisiëringsituasie in ons land na die ontbanning van verbode organisasies en die vrylating van Nelson Mandela uit die gevangenis nie. Die vrou het vooraf gebel en gevra of sy en haar kollega my kon kom sien. Ek het hulle nie geken nie, maar ons het ‘n goeie gesprek gehad oor die polisie in ‘n nuwe bestel. Onder andere het ons saamgestem dat ‘n politikus, soos byvoorbeeld ‘n kabinetsminister wat die polisie-portefeulje het, voortaan ondergeskik sou wees aan die bepalings van die Suid-Afrikaanse reg. Op daardie wyse, het ek argumenteer, kan nasionalisties-populistiese politieke oorwegings (wat eintlik ook maar gelei word deur magspele, ego-eise en toorn tot die punt van haat) getemper word deur regsekerheid oor die regte van die individu. Na hierdie besoek word my werk oor polisie-transformasie meer geredelik gebruik terwyl ons land besin oor die polisie van die toekoms. En die twee besoekers, vra jy? Die een het weggeraak en ons het nie kontak nie. Die ander een is ‘n baie goeie navorser wat vir eie rekening werk.
Onder die stort vanoggend wonder ek oor hierdie dinge. Waar gebeur spioengoed? En ek wonder wat Vriend vir my sou gesê het indien ek hom sou kon vra. Ek meen hy sou argumenteer dat spioengoed in die gewone omgewing gebeur, reg rondom ons. Ek dink hy sou marteling vir inligting, of diefstal om inligting in die hande te kry, verwerp het. Hy sou redeneer dat agente nie hoef te lieg en bedrieg nie – hulle hoef nie mens te laat sien wat nie is nie. ‘Smoke and mirrors’, sou hy meen (dink ek), is gewoon die speletjies van mense wat dit nie eerlik in ‘n wêreld van goeie mense kan maak nie. Hy sou waarskynlik van mening wees dat diesulkes nie goed genoeg is om in gewone interaksie ‘n teorie te ontwerp, en dan daartoe teorie te toets nie. Ek dink ook hy sou meen dat die mens nie supermagte nodig het om inligting raak te sien en te evalueer nie. En dit maak die goeie agent eintlik niks anders nie as slegs ‘n goeie navorser, sou hy dan sê. Goeie navorsing, sou hy mee afsluit, staan nie in konfrontasie met gelowigheid nie, maar wel met verraderlikheid.
Ek dit – goeie navorsing – kan mens in ‘n klein kantoortjie by die universiteit doen.
(Hartenbos; 29 Desember 2025)
*Hierdie is natuurlik net ‘n storie, die vlug van my verbeelding oor die Groot Dae aan die einde van die jaar 2025. Die verbeeldingsvlug is waarskynlik afkomstig van ‘n klompie gebeure of iets wat ek iewers raakgelees het, en wat nou, in die stilte van my leefwêreld, deur my vingers op my rekenaar se skerm lewe kry. Daar mag dalk ooreenkomste wees met ander mense, denke, selfs gebeure, maar dit is bloot toevallig. O ja, net vir die rekord, na my wete was ek nooit ‘n agent nie.

Een van die skadelikste elemente van ons teenrewolusionére strategie voor 1994 was die feit dat van ons senior offisiere en politici hulself nie kon losmaak van hul persoonlike verbintenis tot Bybelse gebooie toe hulle oor teenrewolusionére optrede besluit het nie. Ons het mense gehad wat gesukkel het om hulself emosioneel te distansieër van enige besluite geraak deur die 6de en 9de gebooie van die Bybel. Onlangse gebeure in die Midde Ooste staaf die feit dat antieke beginsels soos in die Joodse Torah omskryf- ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand – baie meer gepas is wanneer oorlewing deur geweldpleging bedreig word.