Eulogy Brig IJ “Sakkie” Bosman
HULDEBLYK – BRIGADIER SAKKIE BOSMAN
Oud-Kaptein Gustav Dey
Januarie 1971 was ‘n mylpaal in my lewe toe ek getroud is met ‘n fraaie meisie van Pretoria. Ek was op daardie stadium ‘n adjudant offisier in Wachthuis, Polisiehoofkantoor. Ons was skaars twee maande getroud toe kry ons nuus dat ek verplaas word as Stasie Bevelvoerder na Katima Mulilo in die Caprivi Zipfel, destyds nog ‘n operasionele gebied in die grens stryd met “vyande” van die Suid Afrikaanse regering.
So daag ek en my vrou, Susan, op 1 Maart 1971 (54 jaar gelede) in die Caprivi op met ons Volkswagen-luikrug, volgepak met persoonlike besittings. Ons roete van Pretoria na Beitbrug, Bulawayo, Victoria Valle en ‘n lang grondpad tot by die Botswana grenspos van Kazankulu tot by Kasane grenspos in die Chobe en daarna die slagyster grondpad tot in Katima Mulilo. Nadat ek by die Distrikskommandant se kantoor aangemeld het, is een van die eerste persone wat ek raakgeloop het, Adjudant Offisier Sakkie Bosman. ‘n Gryskopman met ‘n baie vriendelike en oop gesig. Oor die volgende paar dae in my nuwe pos het ek telkemale met Sakkie skouer geskuur en het sy oop en vriendelike gesig ‘n blywende indruk op my gelaat wat die res van my lewe bygebly het. Sakkie was altyd ‘n behulpsame, bedagsame & gemaklike persoon wat altyd iets goed deurdink het voor hy ‘n antwoord gegee het. Sakkie het ‘n vriendskaplike verhoudings gehad met die mense saam met wie hy gewerk het wat van Sakkie ‘n baie nimlike persoonlikheid gemaak het. Gedurende 1972 is beide Sakkie en ek in kennis gestel dat ons gekeur is vir die 1972 offisiers kursus in Pretoria wat ons saam bygewoon het. Sakkie was ‘n gewilde kursusganger en ‘n mede-kursusganger (afgetrede Lt Genl) het Sakkie beskryf as ‘n korrekte en beleefde kollega. Na suksesvolle aflegging van die eksamen is Sakkie teruggeplaas na Katima Mulilo.
Ek dink aan die baie dae na werk of Saterdagmiddae wanneer ons by Sandy Beach met sy klein, wit sand strandjie, vanwaar ons in die Zambezi rivier geswem het (en kompetisies gehou het om ‘n sekere afstand van die strand te swem, om te draai en terug te swem sonder om deur ‘n krokodil gevang te word). Ons het ook verskeie boot ritte op die Zambezi gedoen met die turbo, platbootskuit om later in die middag op een van die eilande vleis te braai. Ook vergeet ek nie die talle Volley-bal wedstryde wat gespeel is tussen die Veiligheids- en Uniform tak. Ons was ‘n klein maar hegte groep met goeie onderlinge samewerking waarvan Sakkie een van die uitstaande lede was.
Ons sal ook Sakkie onthou vir die Ngwezi-insident aan die Zambiese kant van die Zambezi-rivier waar Sakkie en twee kollegas, op 24 Augustus 1968, in hegtenis geneem is deur die Zambiese Polisie.
In sy boek Terrorism skryf Michael Morris, voormalige lid van die SAP Veiligheidstak, op Bladsy 115 die volgende oor die arrestasie: “So began one of the strangest incidents in the insurgency warfare. Even to this day the truth about Zambians’ reason for the arrests is unknown”.
Morris beskryf die arrestasie as:
“So, the arrest of the South Africans for landing on the Zambian bank, was farcical”.
Morris vra dan die vraag: “What was the real reason behind the whole sorry story of the trumped-up charges and palpably weak arrest-excuse?” en dan antwoord Morris: “We shall probably never know”.
Terwyl hulle aangehou is in die Lusaka Tronk beweer Morris dat: “During the course of the following five days the men were repeatedly interrogated by the Zambians” en “… as before, the interrogators achieved no success, despite the men several times being physically assaulted.”
Hierdie aanhaling vir my verpersoonlik die karakter van Sakkie met sy lojaliteit, onverskrokkenheid, weerstands- en uithou vermoë. Sakkie se verhouding met sy personeel word ook verpersoonlik deur die aanhaling van Morris “… Constable, Matali was told because he was black, he could go – but he refused saying that he was S.A.P. like his Sergeant and wish to be treated just as the other two were to be”.
Op 10 September 1968 is Sakkie en sy twee manne op die brug by Livingstone aan die Suid-Afrikaanse owerhede oorhandig onder media belangstelling o.a. internasionale media. Ek het Sakkie eers na die insident leer ken en daar was geen teken aan sy vriendelike en innemende persoonlikheid dat hy so ‘n traumatiese insident oorleef het nie. ‘n Beskrywing van die insident kan gelees word in Michael Morris se boek Terrorism, pp 114 – 118.
As kinders en jongmense het ons grootgeword met die gedig, waarvan ons ouers en onderwysers ons gereeld herinner het, van Jan F Celliers wat in ons ore weerklink oor Generaal Christian de Wet “Stil broers, daar gaan ‘n man verby,… Daar’s nog maar een soos hy: bekyk hom goed.”
As ons Sakkie se lewe in oënskou neem roep ons uit saam met die digter:
“ STIL BROERS DAAR GAAN ‘N MAN VERBY”
(Terrorism uitgegee deur Howard Timmins.)