HUMOR IN UNIFORM
HB Heymans
Staaltjie een: Heymans doen hom suksesvol voor as Jasser Arafat
Ek het elders hierdie staaltjie al vertel:
So moet ek ‘n vergadering by “Onderwys en Opleiding” in Schoeman-straat, Pretoria bywoon. Kom by ontvangs en meld by sekuriteit aan.
“Naam?”, vra die amptenaar.
‘n Onnutsige gier pak my beet: Ek staan stom.
“JA, NAAM?”, vra die sekuriteitsamptenaar met bietjie ongeduld. Ek dog ek sal sy dag bietjie opkikker.
“Kolonel” sê ek.
“Ja – kolonel wie?” Hy skryf.
“Kolonel Jasser Arafat”
“Van watter organisasie?”
Ernstig antwoord ek: “Van die PLO”.
“Dankie kolonel, hier is u toegangskaartjie!” En ek lyk dan glad nie soos Jasser Arafat nie!
Staaltjie twee: Heymans lyk soos ‘n Katalaan
Die staaltjie hierbo laat my dink aan my eerste besoek aan Nederland hier in die laat 1989.
Ek doen ‘n BA (Hons) en ek moet die Koninklijke Marechaussee as konsep van ‘n “Derde Mag” vir my skripsie inhandig. Die Koninklijke Marechaussee staan as die ‘KMar’ bekend of as “Het Wapen”. Die Nederlanders gebruik “Turbo-taal” nes ons ou SAW, die Koninklijke Marechaussee is in hul spreektaal bekend as “KMar”.
Die woord of begrip “Koninklijke Marechaussee” het nie op die databasis van beide RAU en UNISA verskyn nie.
Deur ‘n Nederlandse-Suid-Afrikaner maak ek met kaptein Arie van der Kerkhof kontak, hy was toe die stasiebevelvoerder van die polisie op die Schiphol-Lughawe bekend as die Koninklijke Marechaussee. (Later het Arie Suid-Afrika by twee geleenthede besoek. Hier volg twee foto’s van Arie van der Kerkhof.)
Arie van der Kerkhof gee vir t/sers “Fish” Visser (een van my “ou” vriende van wie ek baie staaltjies kon vertel) ‘n Nederlandse das by IPA Pretoria. Arie was ‘n “fyn heer”. Arie vertel my dat die woord “gentleman” van Gent afkomstig is. Gent het fyn en goeie materiaal vir klere vervaardig. ’n Man wat sulke klere gedra het was ‘n “Gent-se-man” en dis hoe die woord ontstaan het.
Arie van der Kerkhof met strikdas sit langs my tydens sy tweede besoek aan Suid-Afrika – ek sit in uniform langs hom. Foto in Welkom geneem.
Arie was ‘n offisier van durf en daad. Ons gesels “langsaam” (m.a.w. ons praat stadig) oor die telefoon met mekaar en hy belowe om boeke en leesstof oor die Koninklijke Marechaussee op die volgende KLM-vlug te plaas en my kollega van die veiligheidstak te Jan Smuts sou die pakkie vir my afhaal. Dit is toe gedoen.
Kenteken: Rijkspolitie Nederland
So raak ek begeesterd oor die Nederlandse polisiestelsel – hulle het die Koninklijke Marechaussee, die Rijkspolitie, die Rijkspolitie te Water, Spoorwegpolisie en Gemeente Politie gehad. Ook in die kolonies het hulle Nederlandse polisiemagte gehad asook gedurende die oorlog “Politie-troepen”.
Die Amsterdam-Amstelland Regio-polisie kenteken
Vandag het hulle in Nederland slegs die Koninklijke Marechaussee, die Regio Politie (polisie in die verskillende streke) en natuurlik spoorwegpolisie.
Nie te min ek wil gaan kyk na my voorsate se polisiemagte.
Ek is lid van die IPA en deur die voorsitter brig Johan Gijsbers – self in Venlo, Nederland gebore – en Johan du Plooy reël vir my ‘n studiebeurs en “goedkoop” kaartjie by ‘n reisagentskap en met my spaargeld het ek genoeg oor vir ander uitgawes.
Arie van den Kerkhof reël vir my ‘n toer deur Nederland. Ek verskyn voor ‘n paneel van die “politie-vakbond” (toe het ons in die SA polisie nog nie sulke goed gehad nie) oor waarom ek Nederland se polisie wil besoek. Hulle gee toestemming nadat ek my doel van my besoek en navorsing verduidelik het.
Ek is die eerste Suid-Afrikaner wat by Jos en Ger Sevink in Amsterdam tuisgaan. Ons het later oor en weer gekuier.
Hulle woning was toe my basis. Ek het lekker gelag vir sekere woorde in die Nederlandse taal … Ger (foto) was ook polisieman verbonde aan KMar en het vir ‘n ruk vir Klaas de Jonge in die Nederlandse ambassade in Pretoria opgepas.
So land ek in Den Haag en my gasheer is kol Max van der Hoog en sy gade Cato. Een aand tydens my verblyf in Den Haag word ek na ‘n ete in die ambassade genooi deur Marina Minnie – een van die buitelandse sake personeel wat ek reeds in Pretoria geken het.
Ons eet heel gesellig en ek vra die dame wat langs my sit waar sy vandaan kom en val amper van my stoel af toe sy my vertel sy kom Texel waar haar vader skape in Texel “teel”. Om met skape te boer in die Nederlandse taal klink “volksvreemd” in die Afrikaanse taal – ek kon my lag nie bedwing nie!
Elk geval, ons hoor ‘n slag – ‘n ontploffing – en ek sê: “Dit is ‘n bom wat daar afgaan!”
Die volgende oggend vra ek vir Max of ons by die toneel kan verby ry – ek wil die skade besigtig. Ek het toe swart hare, swart snor en swart bokbaard gehad. Daar staan polisie by die ontploffingstoneel en ek neem ‘n paar foto’s.
Ons toer die dag in Den Haag en toe ons die aand tuiskom word die huis deur die polisie omsingel en daar word geklop. Ou Max is ‘n goeie gasheer en ware offisier: Hy vertel die ware storie want die manne wil net die boeie toeknip. Die lank en die kort van die verhaal is: Die polisie het gesien ek neem foto’s. Vir hulle het ek toe soos ‘n Katalaan van Spane gelyk. (Die ontploffing – daar was eintlik twee – is na bewering deur die Euskadi Ta Askatasuna (ETA) uitgevoer). Die polisie se afleiding is ek neem my handewerk af om na my hoofkantoor te stuur. Nadat my identiteit vasgestel is, is ek “vrygelaat”.
Die kommissaris van KMar was twee maal op ‘n nie-amptelike besoek aan Suid-Afrika en hy was ook my huisgas. Hier besoek genl Hans Rademaker die ou SAP-museum:
Hy het waarskynlik nie die hoëlui in die SA Polisie besoek nie weens die delikate verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika.
Soos ek al baie gesê het, moet nooit, selfs die gewone konstabels op grondvlak onderskat nie – hulle kan soms vinnig die boeie toeknip!