Storie – Nongqai Vol 17 No 5
MY STORIE… (NOOIENSVAN IS VORSTER)
Melanie Steyn (via Ida Steyn)

Dit was 1993, tweede semester, peloton 69 in Heidehof. Ek was net 18 jaar oud toe ek kollege toe is. Die kollege het my baie geleer—om te skiet (ek was doodbang die eerste keer… maar toe skiet ek vol punte), dril en dissipline. Dít het ek al geken, want ek was in ’n koshuis op hoërskool. Dit het my ook geleer om onafhanklik te wees.
Ek het absoluut verlief geraak op die polisielewe. Dit was nie my eerste beroepskeuse nie, maar dit het my roeping geword… en ek het dit gelóóf.
My eerste plasing was Heuningspruit—ja, daar ís so ’n plek—’n klein dorpie in die Vrystaat, naby Kroonstad. Toe ek daar aankom, was daar net ’n polisiestasie en twee huise. Die vier polisiemanne was in skok… en ek in trane.
Daar is toe gereël dat ek eerder Kroonstad toe oorgeplaas word.
Ek was 19 jaar oud—skaam en bang vir wat voorlê. Hulle sit my sommer op nagskof. Ek kry ’n woonstel, maar het nie eens meubels nie. My pa bring vir my ’n bed en ’n groen yskas van ’n pandjieswinkel… en so begin my polisieloopbaan.
In 1994 verander alles in die polisie, maar ons is geleer om aan te pas en nuwe uitdagings aan te pak. Ek werk skofte en besigheidswag. Teen 21 voel ek Kroonstad is nie opwindend genoeg nie. Ek los mense wat vir my lief was en vat ’n ruilverplasing na Sunnyside, Pretoria, waar ek ’n sersant word.
Dit was ’n totaal ander ervaring—en ek het dit nóg meer geniet. Ek bly in Huis Duveen Botha, kamer 606… een groot fees! Ek werk in besigheidswag, misdaadvoorkoming en skofte. Ek was ’n gelukkige, passievolle polisievrou.
Ek was alles vir mense—sielkundige, medic, dominee, berader. Ek het dronkies toegesluit, agter onwettige immigrante aangehardloop… Ek wou bitter graag by die kinderbeskermingseenheid aansluit, maar is afgekeer omdat ek “te emosioneel” was—hulle het gesê ek sou te betrokke raak.
Ek het ook saam met SANAB undercover gewerk. Ek het geleef vir my werk.
In dié tyd ontmoet ek my eerste man—ook ’n polisieman. Ons werk saam, raak verlief, trou, en ek raak swanger. Ons besluit om na ’n rustiger plek te trek—Thabazimbi.
Daar word ek ’n inspekteur en werk as FTO, hanteer vuurwapen- en dranklisensies. Dit was ’n lekker werk—kantoorure, ’n klein dorpie, ’n polisiehuis… maar dinge verander. My oudste seun se pa en ek skei.
Ek bly in Thabazimbi aan. ’n Nuwe stasiekommissaris kom—’n man wat geglo het dit is reg om op vroue te skree. Ek staan op vir vroueregte en spreek hom aan… iets wat ek later sou berou.
Ek ontmoet my tweede man (nie ’n polisieman nie), en ons trou. Maar in November 2007 verander alles. Hy skiet homself met my dienspistool… voor my oë.
My wêreld val uitmekaar.
Die stasiekommissaris besluit toe om my vir moord te arresteer. Ek was reeds in die hospitaal vir trauma en fibromialgie… maar hy laat my uit die hospitaal haal en sluit my toe by Bela-Bela SAPD.
Ek, wat self mense toegesluit het… sit nou in ’n sel.
Ek is borg geweier en vir 10 dae aangehou. Daarna word ek geskors sonder salaris en moet die polisiehuis verlaat. Ek verloor alles.
Vir twee jaar baklei ek vir my onskuld. SAPU help my. In 2009 word ek uiteindelik onskuldig bevind—dit was selfmoord. Maar teen daardie tyd was ek al in die koerante uitgekryt: “Polisievrou skiet man dood.” Ek was selfs op Carte Blanche.
Ek kon teruggaan SAPD toe… maar ek het nie. Ek was bang—vir vuurwapens, vir geweld, vir die polisie self. My passie het my vrees geword.
Vandag is ek ’n huisvrou. Ek is gelukkig getroud met my derde man—al 14 jaar—en ons het nog ’n seuntjie saam.
Ek is gelukkig.
Maar soms… mis ek nog die adrenalien van ’n polisievrou wees.
