Nongqai intelligence banner

INTELLIGENSIE-KURSUS MET DIE (WES)DUITSE BND, 1979

Dr Willem Steenkamp

ABSTRACT: During the Cold War, the Republic of South Africa had a cooperative relationship with Western countries in the spheres of security and intelligence. Information was exchanged, and cooperation included training exchanges. One such course took place in 1979 in Munich, Germany, presented to analysts of the S.A. intelligence service by the BND (the Bundesnachrichtendienst – the intelligence service of then West-Germany). This article recounts the memories of a South African participant.

KEYWORDS: BND; Bundesnachrichtendienst; Department of National Security; intelligence training course.

Read time: 9 minutes

AGTERGROND:

Op Sondag 23 September 1979 het ‘n span van ses lede van die navorsing-komponent (d.w.s., intelligensie-analiste) van die destydse Suid-Afrikaanse Department van Nasionale Veiligheid (DNV) oorsee vertrek vir ‘n drie-weke kursus in Duitsland. Dit was midde-in die Koue Oorlog. Suid-Afrika en die Westerse moondhede het destyds noue skakeling gehandhaaf op veiligheids- en intelligensie-gebied. Deel van hierdie skakeling was samewerking t.o.v. opleiding. Die ses DNV-lede (soos wat die ou Buro vir Staatsveiligheid kortstondiglik bekend gestaan het, tussen 1978 en 1980, toe dit vervolgens die Nasionale Intelligensiediens of te wel NI geword het) was oppad na München, die hoofstad van die Duitse deel-staat Beiere, waar die hoofkantoor van die Wes-Duitse intelligensiediens, die BND (Bundesnachrichtendienst) gesetel was. Hierdie BND-kursus vir Suid-Afrikaanse intellegensie-offisiere was toe al ‘n jaarlikse instelling, altoos so romdom München se beroemde Oktober-fees.

Hieronder kan u die program sien:

DIE PROGRAM en ADMINISTRATIEWE REËLINGS:

VERHOUDINGSBOU:

Deels was die kursus ‘n oefening in verhoudinge bou. Hierdie professionele bande het gedemonstreer hoe nou die skakeling met “apartheid” Suid-Afrika was wat destyds steeds deur die Weste in stand gehou is op die gebiede waar dit saak gemaak het, soos intelligensie en verdediging – selfs al was dit in die geheim gedoen, eerder as publiek-verklaard (dit alles was natuurlik gedryf deur die Weste se destydse vrees vir die Rooi Beer, daar in die sewentiger-jare, as gevolg van die Sowjet-unie se vroeëre winste in plekke soos Viëtnam en Angola).

Hierdie BND-opleiding was ‘n jaarlikse ding wat vir ‘n groep van ongeveer ‘n half-dosyn Suid-Afrikaanse intelligensie-ontleders op ‘n slag aangebied is. Die lesings is aangebied in ‘n goed toegeruste BND “veilige huis” in die voorstedelike buitewyke van München, met die verblyf-fasiliteit wat ‘n ewe goed ingerigte veilige huis was wat soos ‘n luukse gastehuis of boetiekhotel opgestel was, vol diskrete dienspersoneel en met ‘n uitstekende kok.

Binne ‘n lesinglokaal in ‘n BND-skuilhuis in die buitewyke van München, met die skrywer agter links en ‘n BND-dosent wat ‘n filmrol op die projektor voorberei.

Hierdie jaarlikse opleidings- / skakelgeleenthede is altyd vir ons Suid-Afrikaners aangebied tydens die beroemde Oktoberfest (wat eintlik in September plaasvind, nie Oktober nie). Die Duitsers wou ons laat glo dat dit te wyte was aan die prioriteitsbelang wat hulle aan ons toegeken het onder hul vennootdienste, om dit vir ons so spesiaal moontlik te maak. Dit was waarskynlik minstens ten dele waar, want die interpersoonlike verhoudings en identifikasie met mekaar was inderdaad besonder hartlik. Maar ons het ook verstaan dat daar praktiese voordeel aan was om ons tydens die Oktober-fees oor te nooi (met die stad wat dan deur buitelanders oorstroom is), sodat dit ons “melaatses” die minste sou laat uitstaan …

Die Oktoberfest was prominent op die nagtelike begeleide uitstappies wat die BND vir ons gereël het.

Binne die stad is ons na-ure getrakteer op reise na die Koninklike Paleise en historiese plekke soos die Hofbräuhaus-biersaal, vanwaar Hitler probeer het om die putsch uit te voer wat hom in die twintigerjare van die vorige eeu kortliks in die tronk laat beland het. Daar was ook reise na die Alpe (die Zugspitze, Duitsland se hoogste berg, plus Oberammergau) sowel as na die beroemde kasteel van Neuschwanstein. Plus ‘n naweek in Wes-Berlyn…

Die sprokiesagtige Neuschwanstein-kasteel

Die heel eerste dag daar se middagete was ‘n “groot brâg”, met ons vriendelike gashere wat alles uitgehaal het. Dit is aangebied in die uitstekende Bayerischer Hof Hotel se privaat eetkamer. Ons gashere het trots daarop gewys dat dit die gunsteling eetplek was van Beiere se destyds beroemde en gewilde minister-president Franz-Josef Strauss, wat ‘n ongeskroomde openlike ondersteuner van Suid-Afrika was en ‘n gereelde besoeker aan ons land. Die maaltyd was ongelukkig tipies Duitse kookkuns van varkvleis en aartappels, en (hoewel dit perfek voorberei is) was dit nie regtig ‘n kulinêre kragtoer vir soverre dit my persoonlike smaak betref het nie …

Miskien was die mees onvergeetlike maaltyd vir my tydens daardie reis ‘n aandete in ‘n restaurant in die ou deel van Schwabing, die kunstenaars- en studentekwartier in die noordelike voorstede van München. Dit was nie net die beste peper-biefstuk wat ek nog ooit geniet het nie (tot vandag toe), maar ek was veral getref deur ‘n opgemaakte verhaal wat een van ons BND-gashere daardie aand oorvertel het.

Die storie (wat na bewering dikwels onder Duitsers oorvertel word om die grille van die geskiedenis te illustreer, asook om te demonstreer dat verandering die enigste konstante in die lewe is) handel oor ‘n groep trotse patriotiese Duitse studente wat aan die begin van die 20ste eeu ‘n wyse ou goeroe wat kwansuis in staat was om die toekoms te voorspel, uitgevra gehad het oor wat vir hulle land in die vooruitsig was. Duitsland was op daardie stadium – aan die begin van die 1900’s – sterk aan die opgang maak, na die keiserlike Duitse Ryk se eenwording net drie dekades tevore.

VERANDERING IS DIE LEWE SE ENIGSTE KONSTANTE:

Die wyse ou man het ‘n bietjie nagedink, bekommerd toe hy sien met hoeveel positivisme en entoesiasme hulle almal duidelik ‘n baie blink toekoms vir hul land verwag het.

Daar sal hoogtepunte en laagtepunte wees …” Hy het uiteindelik versigtig geantwoord, huiwerig om te pront vertel wat hy gesien het.

Vertel asseblief!” het die jongmense hom gedruk.

Wel, teen die begin van die volgende dekade, dis nou gedurende die vroeë 1910’s, sal Duitsland selfs nog meer ryk en magtig wees as wat ons nou reeds is, met ‘n sterk, groeiende vloot en groeiende kolonies regoor die wêreld. Mense sal goed leef, en die lewe sal aangenaam wees.

Maar teen die begin van die daarop volgende dekade – die vroeë twintigerjare, dit wil sê – sal ons egter nie meer ‘n keiser hê nie, ons sal meer as twee miljoen man verloor het en ‘n groot deel van ons grondgebied aan die Pole, die Tsjegge en die Franse afgestaan het in ‘n vier jaar lange oorlog wat feitlik die hele wêreld sal verswelg het, en ons sal boonop ‘n onmoontlik groot oorlog-herstelskuld hê om te betaal aan diegene wat ons land verslaan het.

Die studente was natuurlik baie ongemaklik om hierdie tyding te hoor, en wou weet of dinge dan ten minste weer aanstons sou begin regkom?

Ongelukkig nie,” antwoord die wysgeer toe. “Teen die vroeë deel van die dertigerjare sal ons ekonomie en dié van die wêreld in ‘n baie moeilike situasie wees. ‘n Groot depressie sal op die planeet neergedaal het. Jy sal ‘n kruiwa vol Duitse mark nodig hê om ‘n brood te koop, en werkloosheid sal hoogty vier. Verder sal ‘n mal Oostenrykse korporaal polities aan die opkom wees in Duitsland en sal hy die land teen 1933 oorneem …

Teen hierdie tyd het baie van die studente al baie erg begin twyfel aan hierdie vermeende wysgeer met sy hoogs onwaarskynlike voorspellings. “Dan sal ons sekerlik nooit daarvan herstel nie en sal ons net verder bly afgaan,” het een opgemerk.

Nee, nee,” antwoord die goeroe egter vinnig. “Inteendeel – aan die begin van die veertigerjare sal ons geliefde Duitsland Europa se grootste moondheid wees. Ons sal die Franse en die Pole verslaan het en ons troepe sal alles van die Noord-Kaap in die Arktiese gebied tot die grootste deel van Noord-Afrika beheer.

Die beweerdelike skielike ommeswaai in landsfortuin het die studente uiteraard baie verheug, al was hulle teen die tyd al erg skepties. “So, van dan af sal dinge weer wonderlik wees, nie waar nie? Ons sal net van krag tot krag gaan!” het een van die wysgeer se jong inkwisiteurs gesê-vra.

Helaas, nee, my jong vriende,” was die goeroe se hartseer antwoord. “Binne halwe dekade daarna sal al ons groot stede in totale puin wees, met ons land weer eens erg in grootte verklein, baie meer so as selfs die vorige keer. Ons sal meer as vier miljoen van ons soldate in daardie 2de wêreldoorlog verloor het en ons sal op ons nasionale gewete hê dat ons meer as ses miljoen Jode vermoor het …

Ons sal onder volledige buitelandse militêre besetting wees, met Duitsland deur ons veroweraars in besettingsones verdeel, en met Oos- en Wes-Duitsland wat van mekaar geskei is. Daar sal massiewe ekonomiese vernietiging en verwoestende burgerlike nood…”

Teen hierdie tyd, egter, voordat hy eers sy sin kon klaarmaak, het die laaste van die studente opgestaan en weggestap van die sogenaamde heldersiende ou wysgeer, in uiterste ongeloof oor die “totaal belaglike” toekoms-scenario’s wat hy so verspot aan hulle opgedis het …

Ons weet natuurlik almal vandag dat elke “voorspelling” in hierdie fiktiewe verhaal tragies werklik waar geword het. Al wat ek vandag kan sê, is dat (te oordeel ook aan my eie lewenservaring), die enigste konstante waarop ‘n mens as ‘n absolute sekerheid kan staatmaak, inderdaad is dat VERANDERING die altyd teenwoordige en onvoorspelbare lewensrealiteit is.

Daarom moet ‘n mens altyd oppas vir aannames maak – veral in die intelligensie-bedryf…

Daardie ietwat ironiese storie het my destyds diep laat dink. Oor die “konstantes” wat ons destyds as onveranderbare gegewenes aanvaar het (daar aan die einde van die sewentigerjare), en wat ons geglo het vir ewig “onveranderlik” sou wees. Soos dat die Koue Oorlog onbepaald sou voortduur en sou dien as die bepalende paradigma van daar tyd. En, dat daar ewige wit heerskappy in Suid-Afrika sou wees…

DIE KOUE OORLOG-KONTEKS:

Die opleiding wat ons in München ontvang het, is baie gekenmerk deur die anti-kommunistiese Koue Oorlog-konteks. Die Sowjetunie en sy spioenasie-agentskappe was openbare vyand nommer een, vir beide ons en hulle. Baie inligtingsessies het dus gehandel oor die interne struktuur van die KGB (sien die interessante organigramme hieronder – onderskeidelik van die USSR se oorhoofse opset met sy veelheid van veiligheidsdienste, sowel as een van die KGB se Eerste Hoofdirektoraat (buitelands), plus ook van ‘n tipiese KGB-kantoor binne ‘n Sowjet-ambassade).

Nongqai USSR intelligence and security services diagram

BND: Organigram van USSR se intelligensie- en veiligheidsdienste, Augustus 1978.

 

Nongqai KGB organigram 1978

BND: Organigram van die Eerste Hoofdirektoraat van die KGB (Buiteland-gerigte Intelligensie) 1978

 

Nongqai diagram typical KGB resident office in an embassy 1977

BND: Organigram van ‘n tipiese KGB resident-kantoor in ‘n Sowjet-ambassade oorsee, 1977

 

Heelwat tyd is ook afgestaan aan die militêre bedreiging vanuit die Warskou-verdrag lande. Net soos die Buro/DNV/NI, was die BND ook ‘n volspektrum-intelligensiediens, wat beteken dat dit alle vakgebiede wat nasionale veiligheidsbelange kan beïnvloed, gemonitor en oor berig het. Die BND het dus ook gespesialiseerde analitiese afdelings gehad vir die beoordeling van ekonomiese, militêre en politieke ontwikkelings in die Oosblok – net soos wat die Buro/DNV/NI sy eie gespesialiseerde afdelings gehad het met fokus op die ontleding van ekonomiese, militêre en politieke ontwikkelings binne ons primêre Suider-Afrikaanse geografiese sfeer van strategiese belang. Trouens, die BND het primêre verantwoordelikheid gehad vir militêre intelligensie op strategiese vlak in die Duitse stelsel.

Dit was ook duidelik uit wat ons om ons heen gesien het dat die Duitsers daarna gestreef het om hul land te herenig. Wat ek goed onthou, is die amptelike kaarte wat teen die mure in die lesinglokale opgeplak was – dit het Duitsland se grense uitgebeeld soos wat dit na die Eerste Wêreldoorlog was (m.a.w., nie soos na WO2 nie), met die voormalige Oos-Pruise dus dienooreenkomstig nog as deel van Duitsland aangedui…

Die lesings was egter nie universiteit-styl klasse nie. Daar was baie gesprekke oor praktyk-ontleende voorbeelde, met die Duitsers wat hul vele onderonsies met die Sowjet-blok met ons gedeel het. Dit het praktiese inhoud en ‘n goeie dosis werklikheidsbewussyn gegee. Die Duitsers was miskien die beste geplaas van al die NAVO-lede om hierdie soort werklike ervaring rakende die Sowjets te deel, as gevolg van hul eerstehandse kennis wat terug gegaan het na die Duitse behoefte om die Oosfront tydens die oorlog te prioritiseer.

Een so ‘n werklike staaltjie was van ‘n paar BND tegnici wat gedurende die Koue Oorlog na Moskou gestuur is om die Duitse Ambassade daar deur te snuffel vir geplante Sowjet afluister-apparate. Soos verwag, het hulle toe ook wel sulke mikrofone opgespoor. Sommer so op hulle eie inisiatief besluit die verontwaardigde tegnici toe om die afluisteraars bietjie ‘n les te leer, en stuur toe ‘n baie sterk, skril kringfluit deur die mikrofone om die Russe se ore te laat tuit. ‘n Dag of wat later, voor hulle geskeduleerde terugkeer Duitsland toe, gaan die twee here toe gou eers op ‘n besigtigingstoer na die Rooi Plein, waar hulle die aanskoulike Sint Basil-katedraal besoek. So in die harwar van die skare se samedromming, voel elk van hulle toe skielik ‘n skerp steekpyn in die boud.

Spuitnaald!

Wat brand soos vuur, waar die spuitstof in die weefsel versprei. Vir dae daarna het hulle die KGB se weerwraak aan die lyf gevoel (gelukkig nie doodsake nie – net maar ‘n teen-boodskap, in die “spy vs spy” spel…).

OORSPRONG VAN DIE BND:

Die hedendaagse BND is in der waarheid gebore uit die oorlogtydse Duitse Wehrmacht se militêre intelligensie-afdeling wat op die Oosfront gefokus was, genaamd Fremde Heere Ost (wat letterlik “buitelandse leërs oos” beteken), met FHO wat deel was van die Abwehr, die Duitse militêre intelligensie-organisasie in oorlogstyd.

FHO was gedurende die laaste deel van die oorlog onder bevel van generaal Reinhard Gehlen, wat die versiendheid gehad het om sy manne en argiewe bymekaar te hou en dit toe aan die Amerikaners (wat die besettingsmag in Beiere was) as ‘n pakketooreenkoms aangebied het. Die Amerikaners het gespring hiervoor en die nuut-gedoopte “Gehlen Organisation – Gehlen Org” onmiddellik aan die werk gesit om aan te hou spioeneer op die Sowjets, vanuit die voormalige hoofkwartierkompleks van die Nazi-party in Pullach in die buitewyke van München, wat die Amerikaners aan Gehlen en sy manne beskikbaar gemaak het.

Gehlen het toe ‘n fop-korporasie, genaamd die Suid-Duitse Nywerheidsontwikkelingsorganisasie, gestig as dekmantel vir sy groep se aktiwiteite. Sy ooreenkoms met die Amerikaners was dat hy tydelik sou voortgaan om as Gehlen Org vir hulle te werk, maar dat sy organisasie onder beheer van die Duitse staat sou terug ressorteer sodra Duitsland as sulks weer as entiteit hervestig is. Toe die Algemene Ooreenkoms van 1955 die Bondsrepubliek (d.w.s. Wes-Duitsland) as soewereine staat erken het, het die Gehlen Org dus Duitsland se amptelike buitelandse intelligensiediens geword onder die naam Bundesnachrichtendienst (letterlik: federale intelligensiediens).

BESOEK AAN BERLYN:

‘n Uiters onthullende en insiggewende deel van ons besoek aan Duitsland was ‘n uitstappie wat die BND vir ons groepie na Wes-Berlyn gereël het. Ons moes op ‘n Amerikaanse passasiersvliegtuig invlieg wat streng binne die smal lugkorridor moes hou wat die Sowjets oor Oos-Duitse grondgebied toegelaat het (Wes-Berlyn was toe ‘n geïsoleerde enklawe diep binne kommunisties-beheerde Oos-Duitsland en dié se lugruim). Natuurlik is ons na die berugte muur geneem, en na Checkpoint Charlie (die kruispunt tussen die Amerikaanse en Russiese sektore). Hieronder is ‘n foto wat ek daar by die kontrolepunt geneem het.

“Checkpoint Charlie” die deurgang vanuit die Amerikaanse sektor deur die Berlynse Muur.

Die muur was nie net ‘n enkele muur wat die grens afgebaken het nie. Dit was ‘n breë versperringsone, tussen twee mure, wat ontwerp is om te verhoed dat Oos-Duitsers na die Weste vlug (die Ooste het ‘n groot deel van sy bevolking verloor voordat die versperring skielik oornag gebou is, wat diegene wat toe nog in die Ooste was, vasgevang het).

Die gebied tussen die mure is geploeg, besaai met landmyne sowel as met anti-tank staal-Xe, verder deurkruis deur doringdraad en snags verlig deur spreiligte. Wagtorings met masjiengeweerneste was volop. Aan die westekant is gedenk-kruise deur naasbestaandes opgerig teenoor die plekke waar Oos-Duitsers gesterf het, toe hulle probeer het om na die Weste oor te vlug (sien die foto hieronder).

Die Wes-Duitsers het uitkykplatforms aan hulle kant van die buitemuur opgerig, vanwaar ‘n mens ‘n uitsig na Oos-Berlyn kon hê. Die kommuniste het dit gehaat en ‘n falanks van hul vaal woonstel “commie blocks” aan hul kant gebou as ‘n soort skerm, waar die party-gelowiges gehuisves is.

Ons het een van hierdie uitkykplatforms besoek, waar ‘n uiters ontstellende toneel voor ons oë afgespeel het. ‘n Jong paartjie met ‘n baba het ook saam met ons op hierdie platform geklim en hul pasgebore baba omhoog gehou sodat ‘n ou egpaartjie aan die Oos-Duitse kant, natuurlik die grootouers, hul kleinkind kon sien.

Hulle het vir mekaar gewaai en gehuil. Skielik het ‘n paar VOPO’s (die kommunistiese Volkspolizei – “volkspolisie”) die ou egpaar genader en hul wolfhonde op hulle losgelaat. Die spontane woede, haat en walging, maar ook die hulpelose frustrasie van ons BND-kollegas (van wie sommige self uit die Ooste ontsnap het) toe hulle dit sien, het beslis by een en elk van ons ‘n snaar geraak. Ons het almal toe baie beter verstaan waarvoor ons veg – om ons onderskeie lande vry te hou van sulke barbaarse kommunistiese tirannie.

‘n Kenmerk van die Oos-Berlynse “skyline” was die hoë kommunikasietoring wat die kommuniste gebou het. Dit het  die bynaam “God se wraak” van die Westerse kant gekry.

Die rede vir hierdie bynaam was ‘n fout wat die kommuniste begaan het toe hulle die toring ontwerp het – naamlik om ‘n groot metaalbal naby die bokant in te sluit. Elke keer as die son op hierdie bal skyn, het dit veroorsaak dat ‘n weerkaatsing in die vorm van die kruis op die bal se metaaloppervlak pronk. Ten spyte van die ateïste se beste pogings, kon hulle nooit daarin slaag om hierdie weerspieëling van die kruis uit te skakel nie…

DUITSE TENKS:

Toe ons terug aanland in München van Berlyn, het ons BND-kollegas hul bes probeer om ons positief te beïnvloed met die doel dat Suid-Afrika wapens moet aankoop van Duitsland (hulle sou geweet het dat die leier van ons afvaardiging toevallig die destydse hoof van die DNV se militêre ontledingsafdeling was). Instede van na die wetenskap-museum te gaan, is ons geneem na die fabriek wat die “Leopard” hoof-gevegtenks en die “Flakpanzer Gepard” (“jagluiperd” lugafweertenk, gebaseer op die Leopard-onderstel) vervaardig het, waar ons letterlik in en oor hierdie reuse kon kruip. Die een BND-ou het vir my gesê: “Kyk, dit is seker – as Suid-Afrika 200 luiperds koop, sal niemand julle eers probeer pla nie.”

Feit is egter dat die Luiperd eenvoudig nie ontwerp is vir Suider-Afrika se harde, droë, stowwerige velde nie (dit is ontwikkel vir die Sentraal-Europese modder en sneeu) en dus nie as sodanig ideaal was vir ons toestande of vir ons behoeftes nie – en ons het in elk geval reeds meer as 200 van ons eie Olifant/Centurion HGT’s gehad.

INTELLIGENSIE-TEGNOLOGIE: SUID-AFRIKA AAN DIE SPITS:

Wat my ten besluite herinner aan ‘n ander hoogtepunt (vir ons as DNV-lede) gedurende hierdie opleidingskursus. Die hoof van die BND se tegnologiese insamelingsafdeling (dws kommunikasie-onderskeppings en dies meer) het na die veilige huis gekom om ‘n lesing te lewer oor die gebruik van rekenaars om elektroniese kommunikasies op groot skaal te onderskep (daardie jare was intelligensiedienste nog maar aan die begin van werklik die groot potensiaal van rekenaars as intelligensie-werktuie te begin benut, nie net vir die versameling van inligting nie, maar ook in die produseer van intelligensieprodukte soos die daaglikse rapporte wat aan top-regeringslui beskikbaar gemaak word).

Hierdie opsigtelik hoogs-geleerde, hoewel toe nog baie jong man het ietwat ongemaklik gelyk toe hy die lesingsaal binne gekom het (maar baie vriendelik en gretig om te behaag). Sy eerste woorde aan ons was iets ten effekte van: “Kyk, ouens, ek is baie geëerd om hier saam met julle te wees en ek is gereed om my bes te doen, maar ek vind dit ironies dat ek veronderstel is om vir julle oor hierdie onderwerp voor te lig, en nie anders-om nie, want julle diens is verreweg die erkende leier vandag op hierdie gebied…“.

Waarna hy verwys het, was die sukses wat die Buro/DNV toe reeds behaal het in die skryf van rekenaarprogramme vir die uitwinning (selektief uit die toe reeds enorme nuwe stroom satelliet-kommunikasie met biljoene stukkies inligting wat toe reeds op daardie nuwe manier oor die wêreld heen geflits het), van slegs die boodskappe wat sekuriteitsrelevansie gehad het – dus, om die korrels van die groot hoeveelheid kaf te skei. (Daar op die DNV se “plaas” buite Pretoria het ons almal reeds opgemerk gehad dat nie net die toekomstige Intelligensie-Akademie se kampus fluks aan die groei was nie, maar ook dat die landskap rondom versier was met wat ons die “groot ore” genoem het – reekse paraboliese skottels wat hemelwaarts wys…).

Dit was lekker om te hoor hoedat ons tegnologiese bekwaamheid deur ons eweknieë erken word…

'n Foto wat lyn, skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.