Die Vlieër
Anita van Aardweg
Dit is hoogwater
die wind waai
Die see spuug bloublasies uit
in bruin skuim
op die strand
Waar ʼn kind hardloop
met ʼn vlieër in haar hand
Die vlieër draai en swaai omhoog
tot die tou breek
Afgeknip soos ʼn naelstring
van ʼn pasgebore kind en
verdwyn in die wind
Na ʼn ander kontinent
Die skeiding tussen hulle
word die diep blou see
Wat neem en gee.
Soos die voëls uit Rusland
se oorwinteringsvlug
Na Geelbek by Langebaan
vertrek die vrou vir haar
oorwintering om na die ander
Kontinent te gaan
.
Sy word ʼn ontheemde
weet nie waar sy hoort
Daar of tuis by haar soort?
Telefoniese gesprekke
word lang stiltes
die spoeg droog
tussen lettergrepe ʼn
Verpligte skuldgevoel
word weekliks gedoen
Daagliks wag die vrou op die wind
wandel vegtend daarteen
na die strand steeds op soek
na die kind met die vlieër
In haar hand
Anita Hamman

Gebore op ʼn egte Hugenoot plaas in die distrik Malmesbury. Liefde vir die die natuur. Was getroud met Nederlander en reis veel na die buiteland, veral Franse platteland waar die voorouers vandaan kom. Ek het een dogter en kleindogter in Nederland. As kind graag stories vertel en sodoende ontstaan die publikasie van Anita se boeke en digbundel “Die Rooi kombers”.
*
Dis ‘n pragtige gedig, baie mooi beskrywing van die see en die vlieër. Ek dink die verbeeldingrykheid van die vers is baie deesal.