Waar is ons biografieë van Suid-Afrikaanse politici?
Emile Coetzee, historikus, Noordwes Universiteit
Abstrak: Emile Coetzee, Suid-Afrikaanse geskiedenis, geskiedkundige, politici, politieke wetenskap, akkurate geskiedskrywing, staatsleer, staatkunde, geskiedenis, geskiedskrywing, kultuurgeskiedenis.
Min navorsing, min publikasies
Ek het onlangs ‘n kopie van dr. Louis Bothma se nuutste boek oor dr. Hendrik F. Verwoerd aangekoop. Wat dit vir my ekstra spesiaal maak is dat ek Bothma se navorsing vir die boek persoonlik aanskou het. Ek was teenwoordig in die leeskamer van die Argief van Eietydse Aangeleenthede by die Universiteit van die Vrystaat toe hy bronne oor Verwoerd, uit die Verwoerd versameling natuurlik, aangevra het. Ek was daar met my PhD navorsing oor die staatspresident gedurende dr. Verwoerd se ampstermyn, C.R. Swart.
Vanselfsprekend sal enige eksaminator van my tesis beïndruk moet wees wanneer hy of sy sien dat ek van die oudste tot die nuutste bronne gebruik het om my narratief oor Swart te skryf. Steeds het die gedagte by my opgeduik dat dit nodig is vir belangstellende historici om ‘n bestekopname te maak oor die verskeidenheid van biografieë wat reeds oor Suid-Afrikaans staatslui en politici gepubliseer is.
Kennisleer van geskiedenis, staatkunde en politieke wetenskap
Dit is nie alleenlik nodig vir toekomstige studente se literatuurstudies nie maar ook vir die verdere uitbreiding oor ons kennis oor hoe die Suid-Afrikaanse politiek en staat ontwikkel het. Sekerlik is dit maklik om te glo dat wanneer dit by dr. Verwoerd kom is daar reeds oorgenoeg publikasies oor die ontslape Eerste Minister. Dieselfde kan geredeneer word oor BJ Vorster, JBM Hertzog, Jan Smuts, DF Malan en PW Botha.
Dit was vir my ‘n aangename ontdekking om te sien dat daar wel studies oor minder bekende figure soos Klasie Havenga, Tielman Roos en Oswald Pirow gedoen is. Oor C.R. Swart is daar net een publikasie wat in 1961 uitgereik is. Natuurlik was hierdie boek geskryf vir die ope mark om die inkomende staatspresident se publieke beeld verder te verfyn. Nog twee ongepubliseerde MA verhandelinge oor Swart het toe gevolg.
Aan die ander kant van die argument moet mens onthou dat die herskrywing van biografieë, nadat meer bronne oor die persoon beskikbaar gemaak word, net so noodsaaklik is. Die navorsing deur dr. Lindie Koorts oor dr. DF Malan bewys dit.
Politici en staatslui ontvang nie die navorsingsaandag wat hulle verdien nie
‘n Bestekopname van gepubliseerde biografieë, vir die akademiese en publieke mark, is deur prof. Alex Mouton gedoen en daaruit was dit duidelik dat die regerende partye van die 20ste eeu die meeste aandag geniet het. Mouton het die laaste twee dekades diep spore getrap in die bestudering van politici en staatslui wie nog nie die aandag ontvang het wat hulle verdien nie. Sy boeke oor FS Malan, Oswald Pirow, dr. Zach De Beer en die kort biografieë oor die leiers van die parlementêre opposisie is elkeen baie interessant. Deur sy werk kan mens die regering van die dag deur ander oë bekyk en ‘n breë gesprek oor Suid-Afrikaanse politici aanvoer.
Mouton en profs. Herman Giliomee en Albert Grundling het verdere bydraes gemaak met die studies oor 1980s opposisieleiers deur hul werk oor drs. Andries Treurnicht en Van Zyl Slabbert. Verdere studies oor drs. Andries Treurnicht en Ferdi Hartzenberg is broodnodig veral eersgenoemde se eie gepubliseerde skryfwerk wat nog nie die tema van ‘n intellektuele biografie is nie.
Biografieë nodig om die geskiedenis en politieke landskap beter te verstaan
Biografieë oor leiers uit die 1980s sal van groot nut wees om die Suid-Afrika van vandag beter te verstaan. Biografieë oor die leiers van die verskillende partye binne-in die Rade van Verteenwoordigers en Afgevaardigdes moet regtig op die radar van historici wees. Dink net wat kan nagevors word oor Eerwaardige Hendrickse en Jac Rabi. Alhoewel daar binnekort ‘n dokumentêr oor Armichand Rajbansi uitgereik sal word, is daar akademiese studies nodig oor die lede van sy raad se ervaringe in PW Botha se driekamerparlement.
Dan moet daar nie van die Verlinkse en Verregse lede van die politiek vergeet word nie. Toe Eugene Terre’blanche aktief aan die politiek deel geneem het was daar manuskripte oor hom en die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) gepubliseer. Ek dink byvoorbeeld aan Arthur Kemp se Victory or Violence: The story of the AWB. Minder militaristiese figure soos Jaap Marais verdien ook aandag.
Teen 2025 is die argument dat biografieë oor hierdie persone nie van pas is nie omdat dit nie streel met die politieke oortuigings van sekere mense, of selfs die regering nie, ‘n kleinlike siening. Dan kan mens net so wel vir Ian Kershaw en Robert Evans waarsku dat hulle nie oor Adolf Hitler moet skryf nie omdat die belediging “Nazi” so maklik deesdae gebruik word. Die realiteit dat Suid-Afrika se lys van politici en staatslui, elk met hul eie oortuigings, bestaan het is nie alleenlik nodig om aanvaar te word nie maar van groot noodsaaklikheid om te bestudeer. Dink net wat mens kan leer uit die outobiografie van Ben Schoeman en sien hoe hy die vervoerwese van Suid-Afrika tot in die 20ste eeu ontwikkel het.
Dit is sekerlik waar hierdie aanlyntydskrif die nodige rol kan speel. Indien ‘n navorsingstema se literatuur bondig kan gelys en verduidelik kan word, kan sulke bestekopnames handig wees vir navorsers, uitgewers en ook die breë publiek. Anders gaan ons maar moet rond beweeg om dieselfde berg met uiteenlopende studies oor dieselfde panteon van geselekteerde Suid-Afrikaans politici en staatslui. Daar is genoeg oor Verwoerd. Wat van ‘n revisie van Strijdom? Waaruit bestaan die lewensverhaal van Andries Beyers, Louis la Grange, Greyling Wentzel en Alwyn Schlebush? Goed, die fokus in hierdie relaas is op politici maar dieselfde beginsel kan oor enige tema van toepassing wees. Hoe dit ook al sy, ‘n bondige bespreking oor die publikasies van enige tema, soos ‘n biografiese studie oor ‘n Suid-Afrikaanse politikus, is goed en behulpsaam van aard.
*
Emile Coetzee is ‘n lektor in Geskiedenis by die Noordwes-Universiteit se Mafikengkampus. Hy dien ook as hoof van Geskiedenis by dieselfde kampus. Hy het sy BA en BHCS grade in Geskiedenis by die Universiteit van Pretoria voltooi, asook ‘n Nagraadse diploma in Museum en Erfenisbestuur. Sy MA in Geskiedenis was by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark kampus verkry waar hy ook sy PhD tans doen. Hy is ‘n opgeleide Nasionale Toeristegids, Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Heraldiekraad en lid van die Nasionale Erfenisraad.