Vrystaatstories – Spookasem, Henning van Aswegen
ABSTRACT: Children’s fiction stories, Children’s books, Fiction, Short stories for younger children, Stories in Afrikaans for kids, Vrystaatstories, Henning van Aswegen, Spookasem.
“Het jy al ‘n perd se stert getrek, Mossieman? En toe kleinkoppie getrek en stert tussen die bene weggehardloop?” Geronkie die Donkie loer onderlangs na Mossieman en sien dat sy boesemvriend dieper as gewoonlik dink. Geronkie is ‘n stoute rakker en hy hou daarvan om Mossieman se siel uit te trek, veral as Mossieman sit en dink terwyl hy aan ‘n heerlike Vrystaatse vy proe-proe.
Dit was misreëntjie-aand in die Vrystaat, en die dowwe maan het net-net agter die donker wolke uitgeloer om te kyk of hy spoke kon sien. So nou en dan kon mens hoor hoe ‘n wolf treurig in die maanlig sit en huil omdat jakkals sy kos gesteel het.
“Nee,” antwoord Mossieman besadig, “maar ek het al ‘n spook se stert getrek!”
“’n Spook? Nee wat, Mossieman, nou praat jy lààng stories. Spoke het mos nie sterte nie! Veral nie in die Vrystaat nie.”
“O ja hulle het! Ek het al een gesien. Met my eie twee mossie-oë.”
“Rêrig? Jok jy nie nou vir my nie, Mossieman?” mompel Geronkie bangerig en hy loer agterdogtig oor sy skouer. Spoke en spookstories gee hom koue rillings, en laat sy ore en tone sommer gelyk bibber. “Spoke het nie sterte nie soos wolwe en jakkalse nie, man. Of het hulle?”
“In die Vrystaat het hulle,” sê Mossieman in ‘n lae fluisterstem. “Die spoke roskam selfs hul sterte om aanvallig te lyk in die maanlig.”
Geronkie se oë word al hoe groter en hy loer na die donker maan agter die grou wolke. Verwonderd loer hy terug, want hy is seker die maan het vir hom geknipoog.
Mossieman sit sy poot saggies op Geronkie se skouer, en sy stem word al hoe sagter.
“Die spoke in die Vrystaat is baie slim spoke, Geronkie. Hulle maak net kinders bang wat self bang wil wees.”
“Is dit waar?” vra Geronkie en hy voel ‘n krieweling langs sy rugraat afloop, amper soos ‘n yskoue straaltjie water. “Wat van dapper kinders?”
“Veral dapper kinders,” fluister Mossieman geheimsinnig.
“Maar waarom Mossieman?” vra Geronkie benoude boude.
“Want kinders smaak so lekker.”
Geronkie skrik en sit sy pote oor sy oë. “Nee man, Mossieman, spoke eet tog nie kinders nie! Agge-nee, Mossieman. Eet spoke dan kinders?” Geronkie is só bang dat hy sy oë toedruk en net effens deur sy vingers loer. Hy kan voel hoe sy bloedruk al hoe laer opstyg.
“Darem nie àlle kinders nie,” antwoord Mossieman geheimsinnig en hy knip sy oë alwetend. “Net die stoutste kinders.”
‘Waarom eet spoke net stout kinders, Mossieman? En nie soet en gehoorsame kinders nie?”
“Want stout kinders smaak lekkerder as soetes.”
Geronkie kry so ‘n siddering langs sy rugraat af en dit voel vir hom asof ‘n koue windjie dwarsdeur sy donkie-ore waai.
“En… en… eet spoke net die stout kinders op?”
“Ja,” beaam Mossieman. “Die spoke gooi so bietjie sout by om die stout kinders lekkerder te laat smaak. Amper soos marinade.”
“M…Mossieman,” bewe Geronkie se stemmetjie en hy sidder van die koue. Waarom het jy dan die spook se stert getrek? Was jy nie bang hy eet jou op nie?”
Mossieman loer om hom rond en fluister in sy sagste stem: “Jy moet net wag vir die regte oomblik om ‘n spook se stert te trek, Geronkie. Anders kom hy agter wat jy doen en dan eet hy jou dalk lewendig op. Jou tydsberekening moet eksie-perfeksie wees. Mens moet wag vir die regte oomblik om die verkeerde ding te doen, want as jy die verkeerde ding op die regte tyd doen loop dinge verkeerd.”
“M .. maar .. hoe weet jy wat die regte oomblik is, Mossieman?” vra Geronkie bangerig. “Hoe weet jy die spook gaan jou nie sien en opeët nie?”
“Jy moet wag tot middernag” fluister Mossieman geheimsinnig, “want dit is wanneer die spoke rondloop. Presies wanneer die laaste spook by jou verbykom, gryp jy hom aan sy stert!”
“M…maar waar gaan die spoke dan nà middernag heen, Mossieman?”
“Hulle kom hiernatoe,” fluister Mossieman dramaties. Na Virginia toe. “Dan soek hulle deur al die huise om die stout kinders te kry.”
“En as jy die spook se stert trek? Wat gebeur dan?”
Mossieman loer geheimsinnig rond en fluister saggies in Geronkie se oor.
“Dan kom hulle eers môre-aand terug om jou te vang!!”
“Boe hoe!”
Geronkie balk kliphard van die skrik en druk sy oë toe. Na ‘n rukkie maak Geronkie weer sy oë oop en hy is sommer baie vies toe hy sien hoe lekker Mossieman in die maanlig vir hom lag.
*
Boekbestellings: Henning van Aswegen, 082-344-5641. Stuur ‘n Whatsapp, met naam van PEP naaste aan jou.
