SKRYWERS SE DINGE
Piet du Toit
Eienaardige groep mense om in ‘n klub saam te bind. Of in ‘n gilde as jy nou wil grênd wees. Die skrywersgilde, of die Boeke-klub, of die Lees-klub, of Skrywers- & Boekklub. Sien jy! Ons is skaars meer as tien en weet nie eens regtig wat ons genoem word nie. En dit is seker waarom ons ‘n klub/gilde/groep is. Omdat ons verskillend dink, en verskillend skryf, en verskillend praat en verskillend lyk ook! Nou moet ek bieg dat hierdie skryfie van my uit mý kop kom, wat in elk geval volgens my kinders raas. Met ander woorde, uit ‘n kop wat een
bladsy opsommings maak van situasies en geen verduideliking van enige aard aan enigiemand verskuldig is nie. ‘n Opinie wat sonder enige ernstige akademiese inligting en totaal sonder enige navorsing bloot gepen is omdat ek kan.
Die Gilde
Die gilde (Ek noem dit so want dit laat my goed voel om te kan sê ek behoort aan ‘n uitgelese gilde al weet ek nie waarom ‘n ens graag uitgelees wil wees nie), die gilde bestaan uit oorwegend skrywers, of mense wat met skrywers wil (of moet) assosieer. Om ‘n skrywer genoem te word moet jy noodwendig die een of ander skryfsel in ‘n aanvaarbare genre skryf of geskryf het. En die interessantste hiervan is dat ek dit geweldig baie geniet om tussen hierdie uiteenlopende denker/skrywers te wees. Met hulle te gesels. Na hulle te luister. As deel van die Skrywersgilde met hulle geassosieer te word. Ek is ‘n rubriekskrywer. Ek skryf een-bladsy goed vir tydskrifte sodat lesers daarvan kan ophou lees voordat hulle verveeld raak, en belangriker, voordat hulle die skryfsel begin ontleed. Taalkundig, sielkundig, literêr of feitelik. Die leser lees dit, staan op, trek die ketting en gaan aan met wat hy of sy ookal voor dit gedoen het.
Die Prosa-skrywers
Dan is daar die prosa-skrywers. Fiksie-skrywers, wat ‘n hele boek nodig het om hulle gedagte oor te dra. Hulle werk ‘n jaar of jare daaraan om iets wat nie eers regtig gebeur het nie, te vertel. Ag “shame” man. Hoeveel woorde moet hulle nie ken om dit te kan doen nie? En hoe onthou ‘n mens alles wat jy wil sê, skryf ‘n hele verhaal en, al weet jy dit van die begin af, hou die “punch line” geheim tot die einde? En ‘n ander ou lees dit binne ‘n dag alles klaar en bêre die boek in sy boekrak!
En die nie-fiksie-skrywers? Skrywers wat jare navorsing doen oor ‘n gebeurlikheid wat bes moontlik oor ‘n kort tydjie gebeur het en wat hy of sy nou in soveel detail en soveel agtergrond en bewysbare feite moet skryf dat dit ‘n boek volmaak! Geduld, seg ek jou. Baie geduld. Om nie-fiksie te skryf, meen ek. En die leser? Baie spesifieke mense wat hou van feite. Wat tyd vat om ‘n boek te lees. Wat bes moontlik die feite in die boek bevraagteken en nagaan. En dit is ook waarom die stomme skrywer van nie-fiksie groot bedrae geld moet betaal om die feite wat hy met moeite en in detail klaar nagevors het, deur ‘n “kenner” te laat nagaan!
Die Elite van die Skrywersgilde – die Digters
Dan is daar die elite van die Skrywersgilde. Die digters. Diegene wat dit regkry om met so min woorde as moontlik, binne ‘n byna onbereikbare stel reëls, gepaardgaande met ‘n spesifieke woord-ritme, ‘n gedagte in die leser se kop te plant wat hom of haar, die leser, ‘n enkele minuut of twee neem om te lees, maar daarna ‘n rubriek se edagtes daaroor te bedink, die verse weer oor te lees en ‘n boek se gedagtes daaroor gedurende die volgende ure of dae te bedink.
Nou wonder ek: Sou daar ‘n genre bestaan waar mens ‘n gediglike titel en gedagte, ‘n rubriek se kortstondige konsentrasie en ‘n roman se intrige met feitelike inhoud in een kon verweef?
Piet du Toit