‘n Aangename verrassing en herinneringe aan Centenary (Rhodesië)
Lt-genl Johan Ferreira

Lt-genl Johan Ferreira
Op 7 November 2025 ontvang ek die volgende WhatsApp-boodskap van genl.maj. André Venter, ons nuutste lid van die Generaalsklub:
“Generaal Johan, jy was my Peloton Bevelvoerder in 1975 in Rhodesië. Ek was ‘n 19 jaar-oue Konstabel. Ons het saam met jou en toe lt.kol. Stemmet by die Van der Westhuizen familie ‘n aandete gaan geniet”. André Venter
Ek was destyds ‘n luitenant en het “grensdiens” saam met Lima-kompanie in die toenmalige Rhodesië diens gedoen.
Vyftig jaar en ‘n polisie-loopbaan van veertig jaar, gevolg deur ‘n pensioentyd van 22 jaar, het intussen verbygevlieg.

Lt. Johan Ferreira ‘n jaar later in SWA

Konst. André Venter in die Polisiekollege
My gedagtes het weer teruggevlieg na ‘n paar vervalle sinkgeboutjies aan die buitewyke van die dorpie, Centenary, waar ons kompanie hulself ingegrawe het. Daar was ‘n vliegtuig aanloopbaan langs die kamp wat ek goed kan onthou.
Ons het aanvanklik in Salisbury (vandag Harare) geland en is toe met ‘n konvooi gekamoefleerde Bedford trokke na Centenary, aan die noord-ooste van Rhodesië, digby die Mosambiekse grens vervoer.
Aanvanklik was ons Bevelvoerder lt.kol. Gawie Myburgh van Springs met majoor Koos Kok van Pretoria as die offisier tweede-in-bevel. Kolonel Myburgh en majoor Kok is later afgelos deur maj. Le Roux Stemmet van Odendaalsrus (hy is tydens ons tyd in Centenary tot die rang van lt.kol. bevorder) en ‘n majoor Roberts van iewers in Natal. Dan was daar kaptein Koos Langeveld, drie pelotonoffisiere, kaptein Jan Viljoen van Halfweghuis, die uwe en luitenant Chappie Nortjé van Springs. Elkeen met ‘n paar onderoffisiere in sy peloton. Ook ‘n voorrade-offisier, radio-operateur, mediese ordonnans, werktuigkundige en ‘n kok.
Ek kan so vaagweg onthou dat ‘n Van der Westhuizen-familie, ‘n Afrikaanse gesin wat in die omgewing van Centenary geboer het, een keer vir lt.kol. Stemmet genooi het om een aand by hulle te gaan kuier. Ek en André Venter en nog ‘n lid het saamgegaan … waarom lt.kol. Stemmet juis óns saamgeneem het, sal net hy weet!
Tydens ons diensbeurt in Centenary is daar enkele insidente wat ek baie goed onthou.
Een van ons lede, konst. Izak Bester (ons was daardie dae saam op Silverton in Pretoria gestasioneer), het ‘n hewige tandpyn ontwikkel … hy is toe na die medic om pynpille te gaan soek. Die medic was ‘n ouerige sersant – ons het hom oom “Dad” genoem. Oom Dad het gesê hy kan ook die gat in die tand toestop en vir Bester beveel om sy mond oop te maak. Hy maak toe ‘n bolletjie met Pratley Putty en druk dit tot diep in die tand se “lewe” in. Arme Izak begin toe skree dat die pyn baie erger is en dat dit onuithoudbaar is.
Oom Dad kon toe nie die bolletjie putty uitgrawe nie, want dit was van die “Quickset” tipe” wat vinnig hard geword het. Hy het natuurlik ook nie die nodige tandheelkundige “gereedskap” gehad nie. Ondanks al die pyn, het hy nie kans gesien dat oom Dad die tand met ‘n tang uittrek nie! Die uiteinde van die saak was dat die arme Izak met ‘n helikopter na Salisbury “ge-casavac” is om die tand deur ‘n tandarts te laat trek.
Op Saterdagaande was dit ook die gebruik om, as omstandighede dit toegelaat het, ʼn “eensydige skietstilstand” te verklaar. Die manne kon dus na die week se aktiwiteite, so ʼn bietjie “R-and-R” (Rest and Recreation) geniet.
Ons het ons kwota van die voorgeskrewe twee biere elk ontvang en kon dan in die omgewing van die vlugbal baan ontspan. Ons is ook getrakteer met ‘n rolprentvertoning. Daar was ʼn soort “opelug-teater”, waar ʼn stuk witgeverfde weermagtent gespan was en heel skaflik as die “silwerdoek” gedien het.
Ofskoon daar ʼn gees van ontspanning in die kamp was, het elke lid natuurlik sy alomteenwoordige metgesel – sy R1-geweer – byderhand gehad. Ingeval die skietstilstand dalk deur die vyand geskend word.
Die adjunk-bevelvoerder, majoor Roberts, deeglik bewus van sy pligte en verantwoordelikhede, het wel die nodige voorsorgmaatreëls getref om ʼn paar gewapende wagte op strategiese plekke om die kamp te pos. (Gewoonlik was hiérdie wagdiens eintlik ligte strafdiens wat die wagte vir een of ander misstappie opgelê is.)
Watter fliek vertoon is, kan ek nie onthou nie. Die manne het gou verdiep geraak in die fliek. Ongelukkig ook een van die wagte, wat stilletjies, met sy R1-geweer oor sy skouer, al nader aan die vertoning geskuifel het om die fliek beter te kan sien.
Wat toe gebeur het, kon die wag nie eintlik bevredigend verduidelik nie. Dit het later aan die lig gekom dat sy duim per ongeluk in die snellerbeuel beland het en die ammunisie in die magasyn op “snelvuur” die lug in gevuur is. Gelukkig was daar geen ongevalle nie.
As ʼn polisieman die gekletter van outomatiese geweervuur in die “bos” gehoor het, het dit net een ding beteken …… en dit was om dekking te soek …. en vinnig ook!
Die majoor het nogal kop gehou. Hy het onmiddellik beveel dat almal “oppie double” na die sandsak-skuilings haas en stelling inneem. Hy het in dieselfde asem gebulder dat die kamp se ligte afgeskakel word.
In die skielike nag-donkerte het daar pandemonium in die kamp losgebars …. die manne het teen mekaar vasgehardloop, hier en daar kon mens sien hoe gloeiende sigaretkooltjies se vonke spat.
ʼn Paar lede het, terwyl die ander hulle na die skuilings gehaas het, nog kans gesien het om ʼn paar vinnige slukke te neem van die bier wat hul makkers agtergelaat het!
Die majoor het die hele tyd bevele geskree … terwyl hy hom self in die skielike donkerte gehaas na sy stelling. En in die proses in die “volleyball”-net vasgehardloop …. sodat die twee pale na binne getuimel het en hom daar vasgewoel het. Niemand sal seker weet wat in sy gemoed aangegaan het nie, maar mens sweer dat hy gedink het dat die Filistyne op hom was!
Lt.genl. Johan Ferreira – 50 jaar later

Genl.maj. André Venter – 50 jaar later
Dit was maar enkele ervarings wat ons, afgesien van die oorlog wat om ons gewoed het, beleef het.
In die jare wat daarna gevolg het, het baie water in die see geloop.
Deur die jare het my paaie dikwels met dié van generaal Stemmet gekruis, maar ek het nooit weer van generaal André Venter gehoor nie, tot die WhatsApp boodskap wat hy vir my gestuur het.
Ek dankbaar dat ek nog hier is om te kan getuig dat daardie dae agter die rug is. Al wat oorbly is die herinneringe.
Dit is ook baie lekker om te sien dat die 19-jarige jongman wat destyds in my peloton gedien het, hom sodanig in sy loopbaan onderskei dat hy ook ‘n generaal geword het.
Lt.genl. Johan Ferreira
2025
-ooOoo-
