Twee interessante ministers

‘n Humoristiese vertelling deur Chris Botha

TWEE INTERESSANTE MINISTERS

Chris Botha

A person with white hair and beard smiling

AI-generated content may be incorrect.

Genl-maj Chris Botha

En daar bars minister Louis le Grange uit van die lag.

Ek het hom nog net een keer sò sien lag. Dit was toe hy vertel het hoe hy vir mevrou Helen Suzman LP, sy formidabele politieke teenstander, ‘n stel kruisbande aangestuur het in die Raadsaal. Maar hierdie keer was die verleentheid syne. Al wat minister Le Grange eintlik kon doen, dink ek, was om te lag. Want aan die ander kant was die nimlike minister Hendrik Schoeman, toe die minister van vervoer en enige tyd net so ‘n formidabele politikus as mevrou Suzman.

Ons was in ‘n saal op Esselenpark waar die lede van die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie (SASP) se opleidingskollege gesetel was. Dit was net na die parade waartydens die oorplasing van lede van die SASP (of ‘Spoorwegpolisie’) na die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) formeel gedemonstreer is, en dit was eintlik die laaste dag van die Spoorwegpolisie se bestaan. Die gepubliseerde datum van die oorplasing van lede was die volgende dag, op 1 Oktober 1986.

Die proses het eintlik ‘n lang politieke aanloop gehad en navorsers behoort die beskikbare bronne interessant te vind, veral waar verwysings na amalgamasie beoordeel word aan die konteks van die tyd. Amptelik was dit ‘n staatsrasionalisasieproses, ‘n poging om dit wat bymekaar hoort, bymekaar te plaas. Die gewapende stryd was fel en die druk op Suid-Afrika groot. Onder die vel was daar egter verskeie beweringe van onmin en van magspel tussen magtige individue. Daar was dikwels gehoor dat die toevoeging van ‘n hele paar duisend lede tot die SAP, slegs die beeld en loopbaanmoontllikhede van die SAP-lede sou bevorder en niks sou beteken vir die voormalige Spoorwegpolisielede nie. Sommige lede van die Spoorwegpolisie was eenvoudig verslae, andere weer kwaad. Sommige (ook senior) offisiere het gevoel dat ‘amalgamasie’ of ‘oorplasing’ eintlik net ‘n rookskerm was vir ’oorname’. In die groter prentjie, was daar die alomteenwoordige mag- en finansiële spel tussen die polisie en die weermag, met die siviele intelligensiestrukture na bewering nie te ver weg van die wedstryd af nie. En natuurlik, onbekend aan Suid-Afrika, was ons net ‘n paar jaar weg vanaf 2 Februarie 1990 – en ‘n totaal ander land.

Teen hierdie agtergrond staan ons dus in die saal op Esselenpark na afloop van die parade. Ons spannetjie is klein, maar saam met Eddie van der Merwe en Riana Engelbrecht word die protokol, die pers en die funksie as geheel met gemak hanteer. Ons kyk met genoegdoening hoe die gaste gesels en die peuselhappies geniet, meestal met ‘n glas in die hand. Alles lyk goed en dit lyk of almal goed klaarkom. Die drie van ons kom al ‘n lang pad met die Polisiekollege in Pretoria-Wes as ons heimat. Ons werk lekker saam en daar is kundigheid en mooi respek alle kante toe.

Ons voel egter ook die hartseer rondom ons. Vir baie van ons nuwe kollegas is hierdie die laaste keer in die uniform waarvoor hulle baie lief was. Oral staan groepies en gesels. “Onthou jy die dag toe …”, en “Ons het gebukkend gaan staan tussen twee treine wat van teenoorgestelde kante by mekaar verbygaan” tot “Ons het sommer gesorg dat die stasies skoon is ook …” word algemeen gehoor. ‘Bouch’* kom staan by ons. “Gelukkig het ek darem ‘n paar maande by julle in julle Polisiekollege klasgegee. Dit gaan nie vir my heeltemal vreemd wees nie”. Tussenin skep hulle die klein bordjies wat oral beskikbaar is, vol met miniatuur worsrolletjies, gebraaide hoendervlerkies, klein (en-nie-te-warm-nie) samoesas, allerhande gekleurde uitjies en kaasblokkies en ander dingetjies aan klein hout tandestokkies … Daar is koeldrank, sap en water beskikbaar en jong manne pendel drankies aan vanaf verskeie kroegpunte wat oral in die saal opgerig is.

Op ‘n stadium stap minister Le Grange na die mikrofoon toe. Dis sy beurt, sê hy. Ons drie kyk na mekaar en glimlag: die minister het ‘n paar maande tevore, in Julie, as funksionaris opgetree by die laaste uitpaseringsparade van die Spoorwegpolisie op Esselenpark. Toe het hy al sy eerste beurt gehad, dink ons. By daardie geleentheid het hy ook die publiek ingelig dat die Spoorwegpolisie na sy ministerie sal oorskuif om tesame met die SAP die stryd teen misdadigers met volle en versterkte omvang te bedryf. Of so iets … Ewenwel, die minister maak ‘n kort toespraak en bedank almal wat vir die reëlings verantwoordelik was. Onder andere bedank hy dan ook diegene wat die peuselhappies so keurig en in oorvloed oral op oop tafels besorg het.

En toe, vanuit sy indrukwekkende hoogte, kyk minister Le Grange af na minister Schoeman en vra: “Het jy nog iets te sê, kollega?”. (Ek was dalk verkeerd, maar ek dink tog dat ek ‘n ondeunde glimlag om minister Le Grange se mondhoeke raakgesien het, en dat sy oë gelyk het soos die oë van ‘n ou poetsbakker wat besig was om iemand in ‘n lokval in te lei).

En dis waar die minister van vervoer, op die laaste dag van sy beheer oor die polisiëring van Suid-Afrika se vervoernetwerk, self ‘n innemende glimlaggie en poetsbakker-oë wys en sê: “Ja, wragtag, Louis is nog nie eers wetlik in beheer nie en ons is al klaar weg van ons braaivleisvure af en binne-in hierdie hôitie-tôitie-vingertjie-in-die-lug wêreld! Sterkte manne!”.

En dit is net daar waar minister Louis le Grange, in die middel van ‘n swanger stilte, uitgebars het van die lag …

(Hartenbos; 23 Desember 2025)

*Met die skryf hiervan kon ek vir ‘Bouch’ nie opspoor vir toestemming nie. Ek noem hom dus nie volledig nie.

Kommentaar deur Hennie Heymans

Ek was daar daardie aand! Ek was beïndruk deur minister Hendrik Schoeman se spitsvondigheid.

A black rectangle with white lines AI-generated content may be incorrect.