Tienie Cronjé

HULDEBLYK AAN GENL.MAJ. TIENIE CRONJÉ

Frans Kloppers, oud-kollega en vriend.

Dit is met groot hartseer dat ek verneem het van die afsterwe, na ‘n redelike lang siekbed, van generaal-majoor Tienie Cronjé.

Generaal Tienie was my Stasiebevelvoerder in Westonaria toe ek in 1975 van Hillbrow af na Westonaria verplaas is. Hy was toe ‘n Kaptein op die “jeugdige” ouderdom van 31 jaar.

Generaal Tienie het die fondament vir my loopbaan in die Polisie gelê deur my die waardes van goeie Polisieman en mens te leer. Deur sy voorbeeld en leiding kon ek toe ook later (na my mening) ‘n bekwame Bevelvoerder word.

Ek het in 1976 ontslag geneem en op die Swartklip Myn gaan werk maar ons het kontak bly hou. In my hart het ek ‘n Polisieman gebly.

Op ‘n dag in Mei 1977 het ek en my vrou Annatjie hom weer by Westonaria gaan besoek. Nadat ek hom vertel het dat ek terug verlang na die Polisie het hy só mooi met ons gepraat en my gevra hoekom ons nie terug kom nie. Ek het dadelik aansoek gedoen en is weer op 21 Junie 1977 ingesweer in die Mag. Na my herindiensneming het ek weer onder sy bevel gedien.

Hy is mettertyd tot majoorsrang bevorder en na die Polisie Kollege in Pretoria verplaas. Hy is toe by Akademiese Opleiding geplaas. Hy is later (ek dink as luitenant-kolonel) na die Afdeling Gevorderde Opleiding in Hoofkantoor oorgeplaas.

Ek het met hom kontak gehou en hom selfs by sy kantoor gaan besoek as ek raad by hom gevra het. Ek en my eggenote het selfs twee keer by hom en sy eggenote Annemarie aan huis gaan kuier.

Generaal Tienie was later verplaas na die kantoor van die Minister van Polisie, mnr Adriaan Vlok.

Na sy aftrede het ons vir ‘n ruk kontak met hom verloor toe hy naby Warden gaan boer het.

Toe hy later in Nylstroom (Modimolle) gaan woon het, het ons weer kontak gemaak en ons het by hom en Annemarie daar aan huis gaan kuier. Ek het op ‘n gereelde basis met hulle kontak gehou.

Rus in vrede, Generaal Tienie.

Daar waar jy nou is het jy nie meer ‘n suurstof masjien nodig nie.

Ek salueer u.

Nog ‘n seder het geval.

Frans Kloppers (Lt.kol. afgetree). 

-ooOoo-