THE CAMP ADJUTANT, THE COLOURS AND THE JUNIOR LIEUTENANT’S SABRE

'n Foto wat teks, skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Abstract

Humour in uniform – a member meets the sharp end of the sabre

DIE KAMP-ADJUDANT, DIE VAANDEL EN DIE JUNIOR LUITENANT SE SABEL*

Genl-maj Chris Botha

'n Foto wat persoon, buite, kar, klere bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

“Marsjeer op die vaandel!”

Met die lees hiervan sal ons ou klomp baby boomers waarskynlik hierdie bevel, en die stem van luitenant-kolonel Alwyn Lesch, deur ons breine voel skeur. En ons sal weer onthou hoe die kamp-adjudant en die twee sersante in die rol van vaandel-eskorts, dan die polisievaandel op parade sou bring. Dit was in die dae van die Suid-Afrikaanse Polisie (die SAP, ook ‘die Mag’ genoem) waar wit polisiestudente in die SA Polisiekollege in Pretoria-Wes opgelei is.

Sommige van ons, soos ek, sal onthou dat die junior luitenant van die drilafdeling hierdie vaandel parade-vir-parade moes dra totdat daar weer ‘n junior luitenant by die drilafdeling sou land. Nee, daar was nie ‘n rang soos ‘junior luitenant’ nie. Hierdie was ‘n interne ‘titel’, ‘n oorgelewerde stukkie sub-kultuurgebruik binne die polisiekultuur wat by die drilafdeling van die Polisiekollege sy ontstaan gehad het. Dit was die manier waarop na die nuutste luitenant by die drilafdeling verwys is. Die een wat die laaste uit die offisierskursus uit by die afdeling aangesluit het.

Die voormalige junior luitenante van die drilafdeling, en dus die voormalige amptelike vaandeldraers, sal onthou van die druk teen mislukking wat vooraf op hulle afgebring is, die spanning as gevolg van hierdie mislukkingsdruk, die pyn in die laer rug na afloop van die parade. Ons sal ook onthou dat die windjie die wapperende vaandelpunt presies net na die verbymars se saluut heeltyd uit die junior-luitenant-cum-vaandeldraer se vingers uit gehou het. Sodat hierdie junior kommissie-offisier allerhande bokspringe moes uithaal om daardie punte te vang. Elke keer, winter of somer. Aan die einde van die verbymars het die wind net op daardie plek gewaai waar die vaandeldraer die vaandel se wapperende punt moes vang, op geen ander plek op die ganse area wat as die paradegrond gedien het nie.

Die vaandel was belangrik in die paramilitêre polisie-historiografie van die SAP. Dit is vergelykbaar met die regimentsvaandel van militêre magte en die SAP se geskiedenis was nou verwant aan die militêre organisatoriese lewe. Tipies aan so ‘n militêr-georiënteerde vaandel was dat al die veldslae waaraan die regiment deelgeneem het, daarop aangetoon is. Die vaandel was dus ook in wese ‘n erkenning aan diegene wat hul lewens verloor het tydens hierdie gevegte. Die vertoon van die vaandel op ‘n parade was gevolglik ‘n plegtige saak wat met die nodige respek en verantwoordelikheid uitgevoer is.

Elke keer. Behalwe miskien die keer waarvan ek hier skryf. Die leser moet maar oordeel …

Luitenant-kolonel Alwyn Lesch, die paradebevelvoerder op hierdie dag, sou my in lewe vergeef as ek die leser sou vertel van sy bynaam, wat hy dan ook vroeg in sy instrukteursloopbaan verwerf het en tot vandag toe nog behou het al het hy ons al lankal in lewe verlaat. Die Kraai se stem kon deur murg en been sny. Dit laat nou nog (ek weet, want ek weet) net by die herinnering aan die skerp hoë oktaaf, ons ou lot regop trek. Maag in (moeiliker deesdae), bors uit (die het nou al maag se kant toe gesak), rug regop (ook moeiliker), skouers reguit (ek gaan dit nou nie weer sê nie), arms reguit gestrek langs die sye, hande in ‘n drilvuis gevorm. Sy regterhandman vir die parade was die kamp-adjudant, ‘n term wat dalk ietwat meer verduidelik sal moet word.

Die kamp-adjudant was ‘n adjudant-offisier in rang, en vergelykbaar met die rang van sersant-majoor in die militêre magte (in ons geval, die indertydse Suid-Afrikaanse Weermag, of die SAW). Tot vroeg in 1972 was die aanspreekvorm van ‘n persoon met hierdie rang ‘meneer’ gewees, maar dit is toe verander na ‘adjudant’. Die benaming ‘kamp-adjudant’ het verwys na die adjudant-offisier in beheer van die ‘kamp’ (menende die polisiekollege se opleidingsterrein) en kon vergelyk word met die regiment sersant-majoor (die RSM), die mees senior onder-offisier in die militêre omgewing. Hierdie adjudant het dus (naastenby, daar was tog verskille tussen die twee beroepsomgewings) die take verrig wat die RSM sou verrig in die militêre kamp. Dit sou dan ook bepaalde take rondom ‘n formele parade behels. Die kamp-adjudant sou byvoorbeeld die parade opmarsjeer, dit oorhandig aan die parade bevelvoerder (en sy offisiere-op-parade), die vaandel opmarsjeer, later weer afmarsjeer, dan die parade weer oorneem van die parade bevelvoerder, ensovoort.

Die kamp-adjudant in hierdie storie se polisienaam (ons het almal ook ‘n polisienaam gehad, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag) rym losweg met ‘ma-dollie’. Ek gebruik nie sy regte naam nie want ek het met hom op sy tagtigste verjaardag oor hierdie storie gekonsulteer en hy ontken alles wat ek verder hier gaan skryf. Die ontkenning was darem nie vyandig nie, vir ingeval die leser ongemaklik begin raak, maar eenvoudig omdat hy sedert die vroeë sewentigs minstens een maal per jaar van my weergawe van iets verskil het. (Hierin is natuurlik ‘n sagte stukkie nostalgie, ‘n sub-subkultuurding dalk, wat net ou SAP drilinstrukteurs sal verstaan). En hierdie jaar was dit die beurt van die storie van die kamp-adjudant, die vaandel en die junior luitenant se sabel om as punt van verskil te dien.

Met die twee vaandel-eskorts het ek nie so ‘n ingewikkelde verhouding gehad nie. Ons het reeds een van hulle verloor met die gekap in ons deel van die woud en ek kon dus nie met hom konsulteer nie. Met die ander een het ek ‘n ooreenkoms bereik vir doeleindes van die storie. Dus, vir hierdie storie, kan ons maar praat van ou Siebs en ou Ernie. Die leser moet tog asseblief nie sonder meer aanneem dat hulle hierdie twee name aan iemand wat hulle dalk geken het, of steeds ken, kan koppel nie. Dit mag dalk die verkeerde afleiding wees.

Met die aanhoor van die bevel dus, marsjeer die kamp-adjudant en sy twee vaandel-eskorts met die vaandel oor die skouer van die kamp-adjudant op parade. Reg agter die parade-bevelvoerder staan die junior luitenant van die drilafdeling en wag, sabel in die hand, in die ‘aandag’ posisie. Oor sy lyf hang ‘n spierwit band wat teen die maag rusplek kry in ‘n houer vir die vaandelstaf, die pragtige houtsteel waaraan die vaandel vasgeknoop is. Die kamp-adjudant en sy eskorts halt voor die luitenant en die kamp-adjudant salueer. Die luitenant erken die saluut met sy sabel, en plaas dan die sabel in die sabelskede wat teen die linkerbeen van die luitenant hang sodat hy sy hande los het vir die hantering van die vaandel. Hierop tree die kamp-adjudant een tree vorentoe, en oorhandig die vaandel aan die luitenant. Die luitenant ontvang die vaandel en plaas die vaandelstaf in die houer, wat tipies lyk soos ‘n rotshengelaar se visstokhouer. Hierna tree die kamp-adjudant een tree terug, salueer, en marsjeer na sy plek op die parade terwyl die vaandel-eskorts ook hul plek op parade inneem. Daarna volg die verloop van die parade volgens die spesifieke paradeplan.

Aan die einde van die parade word die vaandel weer afmarsjeer deur die omgekeerde prosedure van die opmarsjeerproses te volg. Die kamp-adjudant ontvang die vaandel van die luitenant af en drapeer hom oor sy skouer met die materiaal-gedeelte na agter, die luitenant trek sy sabel, die kamp-adjudant salueer, die luitenant erken die saluut met die sabel, die kamp-adjudant maak ‘n omkeer en marsjeer af saam met die vaandel-eskorts met die vaandel oor sy skouer.

Nou ja, dit is die prosedure, wat al baie as ‘vervelig’ beskryf is deur mense vir wie ek hierdie storie vertel het. En vervelig kan dit sekerlik wees vir die persoon wat nie so intens met die dril-omgewing saamgeleef het soos ons ou klomp baby boomers nie. Vir ons was dit belangrik om hierdie prosedures korrek, flink en met toewyding uit te voer.

Maar hierdie keer was daar ‘n voorval.

Junior Luitenant was ietwat senuweeagtig voor hierdie parade. Dit was die jaarlikse uitpaseringsparade van die Polisiekollege se studente. Daar was meer as twee-duisend studente op parade. Daarmee saam kom natuurlik baie trotse familielede, vriende, selfs eggenotes en kinders in sommige gevalle. Hierdie jaar was daar uitermate goeie pers-belangstelling aangesien daar wyd gespekuleer is oor die moontlikheid dat die minister van wet en orde, wat as funksionaris sou optree, ‘n belangrike aankondiging oor polisiëring sou maak. Dit was dus na verwagting ‘n baie groot parade – en dit op die nuutste junior luitenant se vuurdoop met die vaandel.

Alles het egter baie goed afgeloop. Selfs die wind was Junior Luitenant genadig, hy het die vaandelpunte sommer met die eerste poging vasgevang gekry. En daarmee was die stryd mos verby, of hoe? Die parade was ‘n sukses, en almal gereed om klaar te kry vir die parade-terugskou met die gebruiklike bier in die hand.

Junior Luitenant moes geweet het: die grynslag op die gesig van die kamp-adjudant moes vir hom iets vertel het. Hy moes gedink het aan die moontlikheid dat sy vuurdoop heeltemal te goed verloop het, dat iets gedoen sou word om Junior Luitenant aan hierdie vuurdoopdag te laat terugdink …

Tydens die omkeer nà ontvangs van die vaandel buig die kamp-adjudant sy knieë net so effe, net sò dat die vaandel vir Junior Luitenant deur die gesig vee en amper sy pet van sy kop af klap.

Later jare, as passasier van Sarel van der Merwe in ‘n renmotor op Kyalami, sou Junior Luitenant van ‘die rooi mis’ by Sarel leer: die mis wat oor Sarel kom wanneer hy in ‘n wedren is. Geen vrees nie, geen twee keer dink oor enige gevolge nie, ‘n woeste onbreekbare roekeloosheid wat soos mis oor hom daal. En dan moet maar kom wat wil.

Met die vee-deur-die-gesig, en die amper-pet-van-die-kop-af-klap daal die rooi mis oor Junior Luitenant neer. Woes, roekeloos, na dinges toe met die gevolge. Soos blits sak die sabel, en word die sabelpunt in die kamp-adjudant se regterboud ingestamp.

Die woord ‘chaos’ is eintlik heeltemal te sag vir wat sou volg. Die kamp-adjudant was geensins so ‘n ding te wagte nie. Hy was nog heel grinnikend knus by die punt wat hy die junior luitenant gesteek het. Die byt van die onverwagte ander punt laat ‘n rittel deur sy onderlyf gly, soos ‘n sonflits op ‘n blink sabellem.

Die kamp-adjudant spring met verstommende vermoë tegelykertyd regop in die lug in èn vorentoe. Terselfdertyd stroom onkeurige taal, om die minste te sê, teen die spoed van wit lig uit sy mond uit. ‘n Verbysterende Afrikaanse woordontwerp wat leksikograwe vir dekades sou kon besig hou, verskeur die lug in Pretoria-Wes. ‘n Stroom onwelvoeglikhede wat niemand hom sekerlik, tot vandag toe, sou kon nadoen nie weerklink teen die pawiljoen, spoel oor die persgalery, laat mense in hul spore versteen en oorreed die kapelaan op die podium om sy ore met sy vingerpunte toe te druk. Die vaandel maak ‘n sierlike boog deur die lug, tot die gewig van die geborduurde lap aan die voorkant dit soos ‘n spies in vlug sierlik na die aarde toe trek …

En ou Siebs en ou Ernie, die twee vaandel-eskorts?

Hulle lê spreekwoordelik vandag nog en skater van die lag, op die paradegrond van die ou Polisiekollege in Pretoria, terwyl die kamp-adjudant die vaandel sonder begeleiding afmarsjeer. Hinkepink, met sy pet skewering op die kop, ‘n verbaasde uitdrukking op sy gelaat …

 

*Geen mens of dier was tydens hierdie gebeure bloed-druppend beseer nie: die sabel waarna in hierdie storie verwys word, was die gewone puntige maar stomp seremoniële item wat aan kommissie-offisiere van die tyd uitgereik was. Soos in die teks vermeld, stem nie alle betrokkenes saam oor die inhoud van die storie nie. Nogtans word dit aangebied soos Junior Luitenant dit onthou, vir die bewaring van die polisiestories van ‘n vergange tyd en met die hoop dat die een of ander baby boomer dit met ‘n sagte glimlag sal lees.

(Hartenbos, 2 Mei 2025)