SAP Wierdabrug-herinneringe
BRIEF UIT THAILAND: SAP WIERDABRUG-HERINNERINGE
Lt Barry Taylor (Destyds SAP-KOD)

Toe ek op Wierdabrug gestasioneer was, het ek ’n luitenant in die beheertoring by Waterkloof leer ken — Nancy Jennings — en ook twee van die Majore daar: Pote van Schalkwyk en Jorrie Jordaan, wat met die operaster Barbara Veenemans getroud was.
Wanneer ek kans gekry het, het ek in die beheertoring gaan koffie drink. Destyds was daar baie NDP’s wat hul twee jaar diensplig moes doen. Hulle was soms stout, en party het maar skelm dinge aangevang.
Die Buccaneer‑storie
Een oggend was ek daar saam met twee vrouekonstabels in uniform wat nog nooit ’n vliegtuig van naby gesien het nie. Pote roep my eenkant toe en sê hy wil kyk hoe sterk die twee meisies se senuwees is. Hy vra toe vir hulle of hulle op die aanloopbaan wil staan wanneer twee Buccaneers opstyg.
Nou, twee dinge:
1. ’n Buccaneer lyk groot as jy langs hom staan.
2. Die enjins maak ’n ongelooflike lawaai. Wanneer hulle Dinsdagaande nagvlugte gedoen het, het hulle half Pretoria wakker gehou wanneer hulle oor Klapperkop opstyg.
Ons ry toe na die noordekant van die aanloopbaan en gaan staan net agter die vangnette, sowat honderd tree van die einde van die baan. Pote fluister vir my dat ek die een konstabel aan die arm moet vashou, en hy die ander een.

KI-gegenereerde illustrasie
Na ’n paar minute hoor ons die twee vliegtuie begin aanloop. Ons kon hulle nie sien nie, want die baan het ’n klein bult so 300 meter van ons af. Toe hulle uiteindelik verskyn, was hulle nog op die grond — en kom met ’n helse spoed aangejaag.
Net soos Pote voorspel het, begin die twee meisies van die aanloopbaan af hardloop, en ons moes hulle vashou. Sowat 200 meter van ons af trek die Buccaneers op, een na die ander, en kom seker 30 voet oor ons verby. Die meisies was amper histeries van vrees.
Toe hulle oor ons is, hoor jy die gekraak van die enjins en voel jy die hitte — gelukkig nie te erg nie. Albei vliegtuie het ons gegroet deur die vlerke van kant tot kant te rol. Ná die skrik was die meisies hoogs beïndruk en kon nie ophou vertel van die ervaring nie.
Ek het baie van die Buccaneers gehou. Hulle was kragtige vliegtuie, en die atoombomme wat Suid‑Afrika destyds gehad het, was ontwerp om in hul bombays vervoer te word.
Die vangnette en die Mirage‑dae
Soos alle ordentlike militêre lughawens het Waterkloof vangnette gehad vir vliegtuie wat nie betyds kon stop nie. Die nette is weekliks getoets met ’n bakkie wat teen ’n vasgestelde spoed oor die baan gejaag is om te kyk of die sensors werk — en dan moes die bakkie natuurlik betyds stop.
In 1975 het ek die voorreg gehad om die nuwe F1‑Mirages te sien kort nadat hulle uit Frankryk aangekom het. Een oggend sit ek in die toring toe ’n vlieënier sê hy gaan ’n vertikale opstyg doen. Hy trek op oor Pretoria, draai om, kom baie laag terug net onder die klanksnelheid, en styg toe reg voor die toring vertikaal op. Binne ’n minuut was hy op 50 000 voet. Ek kon hom net vir ’n paar sekondes sien voordat hy in die blou verdwyn het, maar die dreuning van die enjin het nog lank bly hang.
Die 747‑SP’s en die touch‑and‑go’s
SAA het destyds ’n paar Boeing 747‑SP’s gekoop, net soos Pan Am, omdat hulle Europa toe kon vlieg sonder om brandstof in te neem. Wanneer die vlieëniers touch‑and‑go‑oefeninge moes doen, het hulle Waterkloof gebruik omdat dit stiller was as Jan Smuts. Dan het hulle vir ’n halfuur of langer om die lughawe gevlieg — meestal oud‑lugmagvlieëniers.
Een dag was ek toevallig in die toring toe ’n 747 inkom. Die Kommandant in die bevel van die toring vra toe vir die vlieënier om op sy, sy te vlieg. Die vlieënier kom van die suide af, draai die vliegtuig, en toe hy oor die lughawe is, sien ek hoe ’n Boeing 747 letterlik op sy, sy vlieg, met een vlerk 90° na onder.
Min het ek geweet dat ek sowat agt jaar later self gereeld Zürich toe sou vlieg — met ongeveer R70 miljoen se diamante in die eersteklas‑kajuit, plus soms vyf tot tien ton goud, bewaak deur die Spoorwegpolisie. Ek het sowat twintig Zürich‑vlugte in ’n boekie aangeteken, plus ander vlugte na Londen met gewone 747’s.
Die Rhodesiese vlieëniers en die Hawker Hunter
Baie min mense weet dit, maar daar was sowat tien Rhodesiese vlieëniers wat opleiding op Mirage‑vliegtuie ontvang het. Hulle het elke oggend hul voertuie by Wierdabrug SAP geparkeer en met ’n VW‑Kombi lughawe toe gery.
Een dag sit ek in die toring toe ’n ou Hawker Hunter van die Rhodesiese Lugmag opstyg. Hy vra in sy stywe Britse aksent of hy ’n lae verbyvlug mag doen. Hy kry toestemming, maak ’n draai, en kom van Klapperkop se kant af. Hy kom toe verby die toring — nie net laag nie, maar donners laag — seker ses voet bo die baan. ’n Ent verder trek hy vertikaal op en verdwyn in die rigting van Rhodesië. Die ATC het hom uitgeskel, maar hy het net erken hy het die boodskap ontvang.
Die Galaxy en die “medici”
Een nag toe ek diens het, bel ’n ATC my en vra ek moet toring toe kom — sy was verveeld en wou koffie drink. Sy wag vir ’n vliegtuig om vrag af te laai. ’n Paar minute later hoor ons ’n Amerikaanse aksent op die radio, en toe land daar ’n Galaxy — die eerste een wat ek ooit gesien het, nog in sy ou kleure. Hulle het vrag afgelaai, party palette sommer direk op ’n C‑130, en ’n klomp mense het oorgeklim. Sy sê toe vir my dit is Amerikaanse “medici” oppad Angola toe.

KI-gegenereerde illustrasie
Die betrokke luitenant was vroeër mev. PW Botha se aide‑de‑camp, en haar pa was tweede‑in‑bevel by “Strike Command” onder my vriend Brig. Jan Blaauw. Sy is later met ’n Silwer Valk getroud en na Langebaan toe.
Die Mirage‑stoutgat
Daar was ’n Mirage‑vlieënier — ek noem nie sy naam nie — ’n regte mans‑man, baie gewild, maar moerse stout. Hy land een dag, kom die trappe op, en vra vir Pote: “Is daar klagtes?” Pote vra: “Watse k@k het jy nou weer aangejaag?”
Hy vertel toe hy het oor Wes‑Transvaal gevlieg, en toe hy oor Delareyville kom, besluit hy, hy wil die boere wakker maak. Sy woorde: “Ek vlieg toe op 100 voet oor die dorp teen Mach .95, maak ’n draai, en vlieg toe onderstebo oor die dorp teen dieselfde spoed.” Hy sê selfs die ossewaens op die hoofpad het omgedop van skrik.
Niemand het ooit gekla nie.
Cheers
