RADIKALISERING BINNE AFRIKANER-NASIONALISME: 1707–2011
Hennie Heymans
’n Historiese narratief oor identiteit, wetmatigheid, verset, en ideologiese vorming
Inleiding
Van 1970 tot ongeveer 1988 het ek as lid van die veiligheidstak op die sogenaamde “blanke lessenaar” gewerk. Die taak was altyd gedoen oor die boeg van wetstoepassing – naamlik, dat mense mag dink wat hulle wil, maar nie hulle politieke denke en doelstellings mag bevorder op onwettige manier nie (veral nie deur middel van geweld nie). Ons het gevolglik die radikaal-aktivistiese, ekstremistiese eindpunte aan weerskante van die politieke spektrum – dus beide na regs en na links – onder die oog gehou, vir identifisering en voorkoming van enige wetsverbreking.
Wat die regterkant van die politieke spektrum betref, het ons onderskei tussen die behoudende konserwatief-denkendes wat polities heeltemal wetties korrek opgetree het (en dus nie deur ons geteiken is nie), soos teenoor die klein reaksionêre regs-ekstremistiese faksie van radikaal-aktivistiese persone wat vermoedelik die wet verbreek het of beoog het om die wet te verbreek (soos byvoorbeeld met die plant van bomme, of gewapende aanvalle op politici of lede van die publiek soms gemotiveer deur ras).
Na my diens op die “blanke lessenaar” is ek na die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR) gesekondeer, en later na die Nodale Punt van die Suid-Afrikaanse Polisie by hoofkantoor, waar ek met die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel geskakel het.
Ek het my werk met diepe belangstelling en toewyding benader; dit was uiters boeiend en het my intellektueel en professioneel uitgedaag. As lid van die Nodale Punt het die SSVR en die SAP my gedurende 1988 na Taiwan, op ‘n drie maande-lange politieke oorlogvoeringskursus, gestuur. Dit was ‘n militêre kursus en geweldig interessant. Dit was een van die beste kursusse wat ek ooit bygewoon het.
Die primêre taak van die veiligheidspolisie was om inligting in te samel (met die oog op voorkoming, of andersins vervolging in die howe, waar nodig) oor politieke aktiwiteite wat die wet en orde kon bedreig. Daarom het ons beide ultra-linkse en ver-regse groepe, wat tot ongunstige aandag gekom het, gemonitor. Ons optrede was altyd hof-gerig, of andersins op bekamping-aksies soos deur die wet gemagtig, waartydens die beginsels van administratiewe geregtigheid toegepas is.
In hierdie artikel fokus ek uitsluitlik op die radikaal-regse kant van die Afrikaner politieke aktivisme.
Ter wille van volledigheid begin ek by Hendrik Biebouw — die eerste persoon wat homself as “Afrikaander” geïdentifiseer het.
Omdat duisende leggers intussen vernietig is, moes ek grootliks op my geheue staatmaak. Tog het ek ook gedurig breedvoerig oor die onderwerp gelees. Twee boeke deur Afrikaner oud-teoloë wat ek onlangs bestudeer het, verwys eksplisiet na die veiligheidstak en Nasionale Intelligensie se belangstelling in hul doen en late — die een teoloog verlig, die ander meer behoudend.
Vandag byvoorbeeld dra strate die name van dr. C.F. Beyers Naudé en prof. Johan Heyns.
Ek was betrokke by die ondervraging van aangehoudenes van die sogenaamde “Wit Kommando”. Hulle het nie die Afrikanersaak bevorder nie, maar eerder ’n ideologie van “wit superioriteit” op onwettige wyse probeer afdwing. As ek reg onthou, was daar drie Italianers en ’n dame betrokke.
Ek het talle gesprekke gevoer met lede van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB), en ons was dikwels verplig om teen hulle op te tree, ter bewaring van die openbare orde en veiligheid. Die veiligheidspolisie — ook bekend as die “politieke speurders” — was nie die gewapende vleuel van die Smuts-regering of van die Nasionale Party nie. Ons was ’n professionele orgaan wat die openbare vrede, die publiek se veiligheid en die behoud van wet en orde gedien het en wat ooreenkomstig konstitusionele konvensie uitvoerend deur die “regering van die dag” gerig is. Ons het hoofsaaklik inligting oor subversie en onwettighede ingesamel, met die oog op getuienis byeen bring vir voorlegging aan die howe. Op my lessenaar het dus ook die onregmatige bedrywighede van sommige Nasionale Party-ministers aandag geniet — sommige is dan ook krimineel vervolg.
Een voorval wat die praktiese kompleksiteite mooi illustreer en wat ek goed onthou, is toe die destydse staatspresident, mnr. P.W. Botha – reagerend op gerugte dat die SA Polisie op George hom polities vyandig gesind sou wees – op ‘n goeie dag afgesit het daarheen om, soos hy dit gestel het, “die kat-nes daar skoon te maak.” Die aangeleentheid is per teleks aan die veiligheidstak se hoofkantoor gerapporteer. Ons ondersoek het egter aan die lig gebring dat dit bloot skinderpraatjies was — mense het lede van die SA Polisie in George beskinder as sou hulle “regs” wees en teen die staatspresident gekant wees. Die saak is deur die president self hanteer, en natuurlik het die polisie ook ondersoek ingestel. Die bevinding was duidelik: die beweringe was van alle waarheid ontbloot. (Dit was groot pret om die ondersoek te volg — ’n ware storm in ’n teekoppie.)
Vroeë Verset en Ideologiese Ontwaking (1707–1895)
Die Afrikaner se politieke en kulturele bewussyn is nie in ’n enkele oomblik gebore nie, maar het oor drie eeue ontvou — gevorm deur rebellie, republikanisme, taalstryd, en ideologiese skeuring. Hierdie verhaal begin in 1707, toe Hendrik Biebouw in die Kaap uitgeroep het: “Ik ben een Afrikaander!”
Teen die laat 18de eeu het Kaapse patriotte hul stem begin verhef teen die gesag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie. In 1795 het die Republiek van Swellendam ontstaan — ’n kortstondige maar betekenisvolle poging tot selfregering.
Vanaf 1879 het Di Patriot begin pleit vir die oprigting van die Afrikanerbond, wat in 1880 gestig is en in 1882 formeel gekonstitueer is. In 1883 het die bond saamgesmelt met die Zuidafrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging (ZABBV) van J.H. Hofmeyr. In 1895 het ds. S.J. du Toit die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans gestig — ’n belangrike stap in die erkenning van Afrikaans as kultuurtaal.
Oorloë, Rebellie en Herinnering (1880–1938)
Die Afrikaner se politieke bewussyn is gevorm in konflik en opoffering:
- 1880–1881: Eerste Vryheidsoorlog
- 1899–1902: Tweede Vryheidsoorlog
- 1914: Boere-rebellie, met Kommandant Jopie Fourie verhef tot martelaar
- 1922: Randse Opstand teen kapitalistiese uitbuiting (Enkele Afrikaners is ook gedood).
- 1938: Herdenking van die Groot Trek — ’n herbevestiging van volksbestemming
Paramilitêre Mobilisering en Pro-Duitse Sentiment (1939–1945)
Die SA Polisie het in 1939 ’n beplande putsch in Suidwes-Afrika verhoed, en later is Nazi-spioene in Suid-Afrika en Mosambiek ontbloot.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het sekere Afrikaner-groepe hul verset gekoppel aan pro-Duitse ideologieë. Die Ossewa-Brandwag en Stormjaers het paramilitêre strukture ontwikkel. Radio Zeesen het propaganda uitgesaai, en Robey Leibbrandt se dramatiese Kyloe-landing aan die Weskus was ’n poging om Nazi-simpatie te vestig.
Nasionale Party en Ideologiese Konsolidasie (1948–1966)
Die NP se verkiesingsoorwinning in 1948 onder dr. D.F. Malan het ’n republikeinse ideaal gevestig, maar ook ’n ideologiese hegemonie. Die Afrikaner Broederbond en die NG Kerk het ’n invloedryke rol gespeel in kultuurpolitiek en staatsbeleid. In 1961 is die republiek verklaar en die RSA het die Britse Statebond verlaat. In 1963 het genl. H.J. van der Bergh die veiligheidspolisie oorgeneem.
Vorster-era en Regse Polarisasie (1966–1978)
Na die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd in 1966 het adv. B.J. Vorster oorgeneem. Sy pragmatiese styl het ’n skeuring tussen verligte en verkrampte Afrikaners verskerp. In 1969 is die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig as ‘n parlementêre opposisie deur dr. Albert Hertzog, Jaap Marais, en ander. Die HNP het Die Afrikaner as mondstuk gebruik.
Gedurende 1971 het “Scorpio” met sy regse bedrywighede begin en die saak het later suksesvol in die hof geëindig.
In 1973 word die AWB gestig.
Konserwatiewe Afrikaners en Volksmobilisering (1980s–1993)
Die 1980s het konserwatiewe Afrikaners toenemend polities begin organiseer en ook ‘n al groter deel van die Afrikaner-bevolking na hulle denke begin oorhaal – nie meer net ‘n politieke rand-element nie, maar van toe af as ‘n beduidende politieke minderheid; hierdie groeiende (wettige) politieke optrede het gepaard gegaan met ‘n groter potensiaal vir radikale optrede van die kant van sommige ekstremiste wat in hierdie kringe beweeg het (maar wie nie as verteenwoordigend van algemene konserwatiewe Afrikaner-denke gesien kan word nie). Voorbeelde van hierdie groei in konserwatiewe Afrikaner politiek-voering kan gesien word in die volgende:
- Die stig van die Konserwatiewe Party wat in die Volksraad politieke opposisie gebied het
- Die Afrikaner Volkswag is in 1984 gestig
- Die Boerestaat Party (BSP) is in 1986 gestig
- Die APK (kerk) is in 1987 gestig, tesame met die Afrikaanse Protestantse Akademie, as tuistes vir konserwatiewe Afrikaners
- Die Orania Beweging is in 1988 gestig as AVSTIG
- Die Orde Boerevolk is in 1989 gestig
- Die Afrikaner Volksfront (AVF) is in 1993 gestig
Die Boere-Vryheidsbeweging (BVB) as voorbeeld van radikale aktivisme
Onderhoud met Barry Swart:
“Die BVB is gedurende die laat 1980’s gestig en oud-AWB-lede was betrokke.
Ek was op die bestuur van die BVB – ons het “Kleinfontein” gestig en daar het Jan Groenewald die leiding verder geneem.
Ons het ook die CVO-skole gestig met prof Alkmaar Swart aan die spits.
Ons BVB-lede het bygedra tot die totstandkoming van die APK.
Ons het Radio Pretoria gestig.
Ek het die Pretoria-Noord Boere-Kommando gestig met die doel om meer kommando’s te stig met die oog op die totstandkoming van ‘n Pretoria Boere-kommando. Ons het selfs kans gesien om die Suid-Afrikaanse regering aan te durf sou hulle ons land weggee – ons was paraat….
Die gedagte om die Volksfront te stig is deur die BVB geïnisieer”.
-
Die simboliese besetting van Fort Schanskop
Onderhoud met Barry Swart oor die bepaalde onderwerp:
“Ek was ook betrokke by die simboliese besetting van Fort Schanskop op 7 Desember 1993 saam met kmdt. Willem Ratte. Ek het ‘n paar keer deur die SAP en SAW se kordonne geglip om water vir ons te kry.
Met die totstandkoming van die Oorgangsraad (NP + ANC) wou ons protes aanteken teen die stap en vir die doel het ons die Fort beset. Ons doel was om simbolies tot 16 Desember daar te protesteer met die doel om die Boerevolk te aktiveer en te mobiliseer
Ons was drie nagte in die fort en selfs die kommissaris van polisie het opgevlieg van die Kaap af om deel te neem aan die onderhandeling. Die hele wêreld se media was daar! Ons het die media in die fort toegelaat. Ons doel was propaganda en die poging was ‘n groot verleentheid vir die NP-regering en die staat”.
“Genl. Constant Viljoen (oud-Hoof van die SAW) en leier van die Afrikaner Volksgfront (gestig 1993) was teenwoordig asook die kommissaris van polisie en die afdelingskommissaris.
Genl. Viljoen was die bevelvoerder van ons “soldate”. Hy het ons oorreed om die fort te verlaat en op te ruim. Dit was in die nag – ons is toe na die SAP-operasiesentrum – in teenwoordigheid van genl. Viljoen is daar met die polisie onderhandel. Die SAP het egter nie woord gehou nie …. Van my mense was aangekla vir betreding, maar nie ek nie… Van ons leierskap wou nog voortgaan met die besetting van die fort – maar ek wou nie die lewens van die jong mense teenwoordig onnodig in gevaar stel nie ….”
-
Bophuthatswana-inval
Onderhoud met Barry Swart:
“Ek was daagliks in kontak met genl. Constant Viljoen en met die Bophuthatswana-inval wou hy hê ons moes ongewapen Bophuthatswana binneval waar ons dan in Bophuthatswana met wapens uitgereik sou word. Ek het geweier om ongewapen in te gaan. Al die Boere-kommando’s, AWB en ander magte was paraat en gereed. Ek was toe in bevel van die BKA te Brits”.
-
Uittreksel uit genl. JV van der Merwe se manuskrip is aan Barry Swart getoon.
Ek het ‘n onderhoud met Barry Swart gehad en ek het hom genl Van der Merwe se manuskrip getoon en hy stem saam met die inhoud maar verskil oor wat tussen die besetters van die fort en die polisie ooreen gekom is.
Hy lewer kommentaar tussen hakkies:
DIE polisie het weer met regses slaags geraak toe kmdt. Willem Ratte en ongeveer 30 lede (22-lede – Barry Swart ) van ʼn beweging wat as die Boerekommando bekend gestaan het, op 7 Desember 1993 Fort Schanskop naby die Voortrekkermonument beset het. Fort Schanskop is deur die Weermag as museum gebruik.
Kmdt. Ratte was voorheen lid van die Special Air Services (SAS) van die voormalige Rhodesiese veiligheidsmagte. Hy het hom ná die onafhanklikwording van Rhodesië (nou Zimbabwe) by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit. Hy het as lid van Bataljon 32 in Angola diens gedoen. (Bataljon 32 het uit Angolese burgers bestaan wat deur die SAW in diens geneem is.) Kmdt. Ratte is in 1990 tot kommandant bevorder en het die volgende jaar uit die Weermag bedank. Hy het daarna die Boerekommando gestig en begin met versetbewegings teen die staatkundige onderhandelinge.
Kmdt. Ratte en sy manne het die wagte by Fort Schanskop ontwapen en toegelaat om te vertrek en met gewere en pistole in die fort stelling ingeneem.
Lede van die onlusbestrydingseenheid en Weermag het hulle na die toneel gehaas en stelling ingeneem. Genl. Bertus Steyn, afdelingsbevelvoerder van die veiligheidstakke in Noord-Transvaal, het my telefonies oor die voorval ingelig. Ek was in Kaapstad en het op my beurt min. Hernus Kriel in kennis gestel, wat mnr. De Klerk ingelig het.
Mnr. De Klerk het ná 1990 ’n Veiligheidskomitee tot stand gebring wat uit die hoofde van die Weermag en die Polisie, die Minister van Verdediging, die Minister van Justisie, die Minister van Wet en Orde, asook die Minister van Buitelandse Sake, bestaan het. Mnr. De Klerk het gewoonlik as voorsitter opgetree. Mnr. Kobie Coetsee, Minister van Justisie, het gereël dat die lede van die Veiligheidskomitee nog dieselfde dag bymekaarkom om die besetting van Fort Schanskop te bespreek. Hy het as voorsitter opgetree.
Al die lede van die Veiligheidskomitee het besef dat die toestand in die land gespanne was en dat die saak met groot omsigtigheid gehanteer moet word. Soos gewoonlik het ek en mnr. Coetsee heftig verskil oor hoe opgetree moet word. Mnr. Coetsee het voorgestel dat die water en krag na die fort afgesny word. Dit sal die besetters binne ʼn dag of twee dwing om hulle oor te gee. Geweld moet tot elke prys vermy word. Ek het daarop gewys dat die water en krag reeds afgesny is. Kmdt. Ratte en sy manne is geharde soldate wat hulle op so iets sou voorberei het. Hulle weet maar te goed dat die Regering uit alle oorde onder druk geplaas word en dat blanke steun vir die Regering drasties afgeneem het. Hul optrede is juis daarop gemik om dié situasie uit te buit. Hoe langer die besetting duur, hoe sterker gaan die besetters glo dat die polisie bang is om geweld te gebruik. Indien die indruk in die openbaar sou posvat dat die polisie nie so ʼn situasie in die kiem kan smoor nie, gaan dit soortgelyke optrede aanmoedig. Onmiddellike en daadwerklike optrede is nodig. Ons sal alles moontlik doen om geweld te vermy, maar die besetters moet uit die staanspoor besef dat ons nie sal skroom om geweld te gebruik as hulle met die besetting volhard nie. Die Veiligheidskomitee het besluit dat ons die situasie moet dophou en die volgende dag oor verdere optrede sou besin.
Ek het genl. Steyn versoek om intussen alles moontlik te doen om kmdt. Ratte en die lede van sy Boerekommando te oorreed om hulleself oor te gee. Toe genl. Steyn my later bel en vertel dat hulle nog geen vordering gemaak het nie, het ons ooreengekom om die hulp van die afgetrede genl. Kobus Visser in te roep. Genl. Visser was een van genl. Constand Viljoen se adjudante. As voormalige hoof van die speurafdeling en iemand wat gesag inboesem, was hy by uitstek vir so ʼn taak geskik. Hy was lank en fors gebou en het vir niks gestuit nie. Ek het met genl. Steyn gereël dat ons kmdt. Ratte en sy manne sou verseker dat ons hulle nie in hegtenis sal neem as hulle hulleself vrywillig oorgee nie, maar dat hulle beslis vervolg gaan word. (Die besluit was dat ons self sou onttrek en opruim maar dat ons nie vervolg sou word nie – Barry Swart.) Hulle sal gedagvaar word om voor die hof te verskyn. Weier hulle om saam te werk, sal ons die taakmag instuur om hulle met geweld in hegtenis te neem.
Ek het laat die middag, terwyl ek en nog ʼn lid van die Veiligheidskomitee sit en wag het vir ʼn vorderingsverslag, besluit om self na Pretoria te gaan. Ek het met die polisie se vliegtuig na Pretoria vertrek, maar by ons aankoms het ʼn geweldige storm gewoed. Terwyl die vliegtuig besig was om te daal vir landing by die lugmagbasis Waterkloof, het die weerlig die landingsligte uitgeslaan. Die vlieënier moes haastig styg en ons het op die Wonderboom-lughawe geland. Ek het daarvandaan per motor na Fort Schanskop vertrek.
Genls. Visser en Steyn het lank ná middernag met ’n groepie lede van die Boerekommando uit die fort gekom. Volgens genl. Steyn het hulle ure lank met kmdt. Ratte en die ander onderhandel. Genl. Visser het by hulle gepleit om hul onbesonne optrede te staak en hulle oor te gee. Hy het hulle by herhaling verseker dat hulle nie in hegtenis geneem sou word nie, maar dat vervolging deur dagvaardings sou geskied. (Dit is nie waar nie: Ons sou self onttrek en opruim en ons sou nie vervolg word nie. Ons het geweet ons het “goed” wat ons moes ontruim en wegsteek – Barry Swart.) Die alternatief was dat die taakmag hulle met geweld in hegtenis gaan neem. As ervare soldate behoort hulle te besef dat hulle geen kans het om hulle teen die taakmag te verset nie. Telkens as van die manne ingewillig het om hulle oor te gee, het kmdt. Ratte tussenbeide getree en alle vordering ongedaan gemaak. Genl. Visser het geduldig gebly, maar nadat kmdt. Ratte die soveelste keer alles halsstarrig beduiwel het, het hy hom toegesnou: “Willem, jy is so balhorig soos ʼn donkie! Ek het lus en skop jou gat!” Genl. Visser sou dit met gemak kon doen. Die manne het toe ingestem om hulle oor te gee en het die fort saam met die twee generaals verlaat. Ons het hulle besonderhede buite aangeteken en hulle is toegelaat om te vertrek. Kmdt. Ratte het geweier om saam te kom en ongemerk in die donker weggesluip en verdwyn. Ons was nie oor sy verdwyning begaan nie, want ons het geweet dat hy weldra in hegtenis geneem sou word. Tydens die deursoeking van Fort Schanskop is op wapens, ammunisie en springstowwe beslag gelê.
Kmdt. Ratte het op 10 Desember in ’n uitsending oor Radio Pretoria die volgende eise vir sy vrywillige oorgawe gestel:
• Eerstens moet die ANC-jeugleier, Peter Mokaba, in hegtenis geneem en aangekla word weens volksmoord.
• Tweedens moet Joe Slovo, leier van die Kommunisteparty van Suid-Afrika, en Joe Modise, militêre hoof van die ANC, aangekla word weens terrorisme, veelvuldige moord en die bomontploffing in 1983 in Kerkstraat, Pretoria, waarin 19 mense omgekom het.
• Derdens moet al die betrokkenes by die moord op die Amerikaanse uitruilstudent Amy Biehl in hegtenis geneem en tereggestel word.
• Vierdens moet die ANC-ondersteuners wat in die openbaar verbode wapens dra, soos ʼn video-opname van die Inkatha Vryheidsparty bewys het, krimineel vervolg word.
• Ten slotte moet dieselfde oordrewe en ongeregverdigde maatreëls wat die veiligheidsmagte by Fort Schanskop gebruik het, teen moordenaars, brandstigters, rowers en ander kriminele ingespan word.
Die veiligheidstak het dadelik by Radio Pretoria gaan navraag doen, maar kmdt. Ratte het intussen weer spoorloos verdwyn. Daar is geen ag op sy eise geslaan nie.
Die Boerekommando-lede wat hulle vrywillig oorgegee het, het skuld beken op die aanklagte teen hulle en afkoopboetes betaal.
Kmdt. Ratte is in 1996 in hegtenis geneem. Regter M.C. de Witt het hom op 3 Mei 1996 in die hooggeregshof in Pretoria tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis weens die onwettige besit van wapens, ammunisie en springstowwe.
Kmdt. Ratte het later vertel hoe hy deur die kordon veiligheidslede wat die fort omsingel het, ontsnap het. Daar was glad nie so ’n kordon nie. Indien die Boeremaglede wel sou ontsnap het, sou dit nie ’n probleem gewees het nie omdat hulle bekend was. Die belangrikste oorweging was om die besetting sonder geweld te beëindig en sonder dat die toepassing van die reg in die slag bly.
Post-Apartheid Regse Militante Verset (1994–2002)
Na 1994 het ver-regse Afrikaner-groepe hul verset teen die nuwe demokratiese bestel verskerp:
- Die Boere-aksie Krisis-komitee (BAKK) het plaaslike veiligheidstrukture probeer vestig
- Die Boeremag se verhoor het in 2002 begin — die langste in Suid-Afrikaanse geskiedenis
Die WVK-verslag het in 1982 die eerste skakel tussen regse terrorisme en buitelandse agente ontbloot — die sogenaamde White Commando en hul betrokkenheid by bomaanvalle en skietvoorvalle, insluitend die Donkerhoek-voorval in 1994.
Slotbeskouing: Ekstreem-regse Afrikaner-nasionalisme in die post-1994 era
Die insident by Paardekraal op 19 Februarie 2011—waar Piet “Skiet” Rudolph en ‘n ander persoon gearresteer is ná ’n gewelddadige konfrontasie tydens ’n vergadering oor ’n Boererepubliek—verteenwoordig die fragmentasie, frustrasie en radikalisering wat dikwels regse Afrikaner-nasionalisme ná 1994 gekenmerk het. Hierdie gebeurtenis, soos berig deur IOL en News24, toon hoe ideologiese verdeeldheid en militante optrede die beweging se openbare beeld en politieke effektiwiteit ondermyn het.
Kenmerke van die beweging:
- Historiese nostalgie: ’n Strewe na die herstel van die Boererepublieke en die Vierkleur as simbole van selfbeskikking.
- Politieke marginalisering: Ná die oorgang tot demokrasie het baie ver-regse groepe gevoel dat hul stem en identiteit verdring is.
- Ideologiese versplintering: Verskeie klein groepe en individue het hul eie agendas en strategieë gevolg, dikwels in konflik met mekaar.
- Militante retoriek en aksie: Die gebruik van geweld, wapens en intimidasie het sommige groepe se optrede gekenmerk, soos gesien met Rudolph en die Boeremag.
Strategiese Balans in die Politieke Laboratorium
’n Effektiewe regering neutraliseer die pool-uiterstes deur sy eie beleidskeuses pragmaties te toets en sodoende ’n goue middelpunt te vestig wat stabiliteit bewerkstellig en breë steun verseker.
Hierdie metafoor van ’n politieke laboratorium tref die kern van die saak: partye en bewegings bevind hulself dikwels aan verstewigde uiterstes, waar ideologieë ver uit mekaar uitdryf. Tussen hierdie pole lê inderdaad ’n pragmatiese sentrum—’n goue middelpunt—waar regerings hul strategieë moet vorm om stabiliteit te bewaar en die wye stilswyende meerderheid tevrede te stel. Deur te veel na links of na regs te skuif, loop ’n regering die risiko om sy steunbasis te versplinter en konflik aan te wakker. (Ons kan die teorie toets aan die hand van die praktyk – beweeg die regering meer na links spring regse organisasie soos paddastoele op – en omgekeerd.) Die kuns van staatsmanskap bestaan dus daarin om die spannings tussen idealisme en realisme te balanseer, om in daardie polsende laboratorium ’n balans te vind wat demokratiese waardes versterk en sosiale kohesie bevorder.
’n Weg vorentoe?
Hoewel ekstreem-regse (blanke) Afrikaner-nasionalisme steeds bestaan, sal realiteite van die hede en toekoms hulle waarskynlik noop tot ’n herbesinning oor taktiek, doelwitte en morele gronde. In die breë gesien, is die uitdaging vir alle nasionalistiese politieke bewegings om:
- Ons geskiedenis eerlik te konfronteer,
- ’n konstruktiewe rol in die breër samelewing te speel, en
- om identiteit en kultuur te vier sonder uitsluiting of geweld.
Bronne
- “Piet ‘Skiet’ Held after Bloody Fight.” IOL, February 19, 2011. https://www.iol.co.za/news/2011-02-19-piet-skiet-held-after-bloody-fight.
- “Fistfight Breaks Out at Right-Winger Meet.” News24, February 19, 2011. https://www.news24.com/news24/fistfight-breaks-out-at-right-winger-meet-20110219.
- “Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB).” The O’Malley Archives, Nelson Mandela Foundation. https://omalley.nelsonmandela.org.
- https://omalley.nelsonmandela.org/cis/omalley/OMalleyWeb/03lv02424/04lv02730/05lv03188/06lv03191.htm
- https://af.wikipedia.org/wiki/Constand_Viljoen – afgelaai op Augustus 2025.
- Onderhoud met Barry Swart op 5 Augustus 2025.
- Dr WP Steenkamp – advies
1990 – 1991: ‘n Nabetragting deur ‘n SAP-Uniform offisier: Stryd tussen Plig en Gewete in ’n Verdeelde tydperk het voort gegaan.
Hennie Heymans
Om polisieman te kon word moes mens eers trou sweer – met ‘n eed – aan die republiek van Suid-Afrika. My kollegas wat ‘n dekade en ouer was, het nog trou aan die Britse monarg gesweer – ons was tot 31 Mei 1961 nog lid van die Britse Statebond. Wanneer jy lid van die veiligheidstak word, word jy eers gekeur en daarna weer “ingesweer” as lid van die veiligheidstak. Destyds was mens nog trots om lid van die veiligheidstak te word.
Maar om ’n polisieman te wees, veral in die konteks van die veiligheidspolisie, was nooit bloot ’n administratiewe of tegniese rol nie—dit was ’n roeping wat diep in ons wese ingeweef was. Die SAP-uniform het nie die individu van sy gemeenskap losgemaak nie; inteendeel, elke lid van die mag het self deel gevorm van ’n bepaalde kultuurgroep, geloofstradisie en taalgemeenskap. Politieke strominge het nie in ’n vakuum ontstaan nie—hulle was gevorm deur die waardes, norme en historiese ervarings van verskillende sektore. In hierdie landskap moes die polisie nie net wettige opposisiepartye erken nie, maar ook waak teen ultra-regse en ultra-linkse radikale groeperings wie se optrede dikwels die grens van wettigheid oorskry het. Die uitdaging het ontstaan wanneer die bedreiging van rewolusionêre of reaksionêre aksies uit eie geledere gekom het—wanneer die “vyand” nie ’n vreemde figuur was nie, maar iemand met wie jy kerk toe gegaan het, of wie se taal en kultuur jou eie was. Selfs die kerke, draers van morele gesag en verkondigers van die “Blye Boodskap”, het soms in die visier gekom. In daardie spanning tussen plig en gewete het menige polisieman geworstel: hoe handhaaf jy die wet sonder om jou gemeenskap te verraai? Hoe onderskei jy tussen lojaliteit aan die staat en lojaliteit aan die waarheid? (Dink vir ‘n oomblik hoe aktief eers UDF en toe die ANC onder ons swart lede was – veral na die ontbanning van die ANC.)
Gedurende Januarie 1990 het president FW de Klerk senior offisiere van beide die SA Weermag en die SA Polisie afsonderlik toegespreek. (Ons het mnr FW de Klerk se toespraak in ‘n spesiale Nongqai publiseer.) Hy het die polisie gevra om uit die politieke geveg te tree en die politieke oorlog aan die politici oor te laat. (Hierin het die NP klaaglik misluk.)
Toe die NP-regering sy nuwe beleid op 2 Februarie 1990 aangekondig het, het daar ‘n groot beroering onder die wit publiek ontstaan.
Gedurende 1990 en 1991 was ek te Welkom as distrikskommissaris gestasioneer. Daar was groot getalle mynwerkers aanwesig. Meeste van die swart en wit mynwerkers het aan vakbonde behoort. Sommige vakbonde het hul lede geradikaliseer – emosie het hoog geloop.
Die aankoop van wettige vuurwapens het die hoogte ingeskiet en ‘n spiraal van geweld het ontstaan: Die AWB was aktief en het veral politieke vergaderings ontwrig. Vigilante groepe soos Blanke Veiligheid – gestig deur Hennie Muller – en die Flaminke het ‘n soort van tuiswag hul beslag gekry.
‘n Wit mynwerker is ondergronds in die myn vermoor. Daar was ook ander rassistiese moorde. Die predikant van die Engelse Kerk het my kom sien. Die uiteinde van sy besoek was dat ons die “Welkom Forum” gestig het waar alle politieke groeperinge en vakbonde by aangesluit het behalwe die AWB. (Hulle het my eerder tuis kom spreek.) Wedersydse gesprekke het plaasgevind Ek het ook vir die AWB-leier Eugene Ney Terre’Blanche te Venterstad amptelik gaan spreek – met goeie gevolge.
Minister Adriaan Vlok het my opdrag gegee om saam met die plaaslike veiligheidstak gemeenskapsleiers te nooi na ‘n gemeenskapsberaad in Welkom. Mnr Ramaphosa – die huidige president – en destyds leier van die National Union of Mineworkers (NUM) en mnr Arrie Paulus van die Blanke Mynwerkersunie (BMU) was ook teenwoordig. Ons het ‘n daglange beraad gehou en die AWB het die nie bygewoon nie – hulle het my die aand by die huis kom sien.
So gaan di met die polisieman… geswore plig eerste …..
Dankie Brigadier Heymans vir die artikel Radikalisering binne Afrikaner Nasionalisme. Dit gee ‘n interessante blik op die belewenisse en ervarings van ‘n binneman in diens van die SAP in ‘n baie moeilike tyd. As buitestaanders was baie Suid Afrikaners tydens hierdie moeilike jare aangewese op die Media en moes baie maar self probeer om die dinamika van gebeure te verstaan. Hierdie artikel gee ‘n goeie blik van wat werklik in sommige binnekringe aan die gang was. In besonder som u die doelwit van die veilgheidsafdeling mooi op met die volgende:”Ons was ’n professionele orgaan wat die openbare vrede, die publiek se veiligheid en die behoud van wet en orde gedien het en wat ooreenkomstig konstitusionele konvensie uitvoerend deur die “regering van die dag” gerig is. Dankie vir u en u kollegas se bydrae tot die behoud van vrede gedurende hierdie jare.