Parole: An Anecdote about Brig Piet Byleveld by Chris Botha
PAROOL
Chris Botha
“Ek is steeds seker hy was by nog moorde betrokke. Ons sal dit nog uitvind, ons moet net lank genoeg lewe …”.
Aan die woord is Piet Byleveld. Ons sit in die Duine, op die grondpad na Ystervarkfontein wat by Albertinia uit die N2 uit draai. Die son sak saggies en rooi-geel in die Weste en die Langeberge het vanmiddag een van daardie mooiste bloue aan hulle. In die hand het ons elk ‘n kristalglas. Een van Jantjie Jonker, die jong baas-en-wynmaker van Jakkalsvlei, se lekkerste wittes in ‘n bottel in die koelsak. (Wel, goed dan, daar was nie net een nie. Ek meen, dit was ‘n wonderlike dag in die Duine en dit is die beste wyn in die wêreld, dan nie?).
Piet praat met my oor Leigh Matthews, en oor Donovan Moodley wat vir Leigh se moord tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is. Hy (Piet, natuurlik) is op Albertinia vir die Aalwynfees van 2012. Oorspronklik sou Piet ‘n voordrag lewer op die Saterdag van die fees. In ons vooraf-gesprekke egter vra hy of ek nie eerder ‘n onderhoud met hom sal voer op die verhogie nie. Sodra hy dan meer gemaklik raak sal hy self met die gehoor in gesprek tree. So gesê, en so sou ons dan ook doen.
Maar eers het ons die geleentheid om deur die Duine te ry. Vir hierdie ekskursie leen my vriend Boy Janse van Rensburg vir my sy Toyota Hilux viertrek bakkie. Vir die laai van die koelsak met sy inhoud, en die kristalglase, neem ek volle verantwoordelikheid en daar gaan ons. Piet is in vervoering oor die Duine, hierdie amper magiese stukkie wit sand en bossies in die vierkant tusssen die Gouritsrivier, die N2, die pad wat die N2 naby Riversdale verbind met die pragtige dorpie Stilbaai en die see. Die enigste plek in die wêreld waar ‘n spesifieke klein skilpadjie voorkom. Dit is ook die tuiste van die raaiselagtige putte van die Kanka en ‘n verskeidenheid wildslewe. Teen die een kop is daar ‘n ou olifantspad. Die visvywers anderkant die seerant naby Boy se duinehuisie is stille getuienis van die eerste mense van ons land se teenwoordigheid langs hierdie pragtige kus. (Terloops, Marìe Heese, inwoner van Stilbaai en dogter van Audrey Blignaut, het ook by ons fees kom kuier. ‘n Jaar later kon ek ‘Vuurklip’, haar historiese roman oor ons eerste mense, eenvoudig nie neersit nie).
Miskien moet ek eers klaar praat oor Piet se optrede by die Aalwynfees, en dan weer terugkeer na die gesprek tussen Piet en ek. In kort, dit het goed gegaan. Ek het die gewone onderhoud gevoer: waar kom jy vandaan, hoe het jy in die polisie beland, watter saak was die een wat jou die meeste bekommerd gehad het, ensovoort. En toe het Piet opgestaan, na die voorkant van die verhogie gestap en met sy gehoor begin gesels. Hy het vrae geantwoord, opinies uitgespreek, raad gegee, hier en daar aan tegniese aspekte van misdaadondersoek geraak. Hy was ’n ster – die gehoor het aan sy lippe gehang. Agterna sou mense op straat, in die winkel, by die slaghuis of by Boy se Engen vulstasie vertel dat hulle vir Piet baie geniet het.
Maar intussen sit ek met hierdie man in die Duine, en ons verwonder ons aan die skepping rondom ons. En Piet praat. Het ek geweet dat hy daaraan gedink het om ‘n predikant te word? (Ek het nie, ek sou dit eers in sy boek – wat hy vir my by die fees geteken het – raaklees). Die geheim van goeie speurwerk lê opgesluit in die toneel, en hang af van die opvolg van elke stukkie detail (“Ek het trollies vol ‘lever arch’ lêers in die hof ingestoot”, het hy gesê). Eerder meer inligting as minder. ‘Oorbewys’ eerder die saak as wat ‘n klein dingetjie ‘n moordenaar vry kan laat uitloop. Die ondersoekbeampte moenie sonder meer ‘n pleit van skuldig aanvaar nie – laat al jou feite as getuienis gelei word en aan kruis-ondervraging onderwerp word. Eendag gaan jy hoor van ‘n parool-aansoek deur die oortreder. Dan moet jou oordadige feite die paneel, die paroolraad en ander besluitnemers bystaan om te besluit of hierdie gevangene ‘n gevaar sal wees vir die gemeenskap indien hy op parool vrygelaat word. Onthou, parool is nie ‘n reg nie, dit is ‘n voorreg. En juis daarom moet die gevangene alle besluitnemers, en die familie van die oorledene, oortuig dat sy of haar gedrag in die gemeenskap aanvaarbaar sal wees en dat daar sukses was met die oortreder se rehabilitasie.
‘n Bietjie minder as vyf jaar later het ons vir Piet aan die dood afgestaan. Ek sou nog baie met hom wou gesels. In die Duine, langs ‘n ou maar steeds goeie Hilux (wat mos eintlik nie ‘n bakkie is nie …) met ‘n glasie yskoue wit van Jantjie in die hand. Maar die gesprek het gebly.
Net gister hoor ek op die nuus dat Donovan Moodley aansoek gedoen het om parool. Ten tye van die skryf hiervan, is die nuus steeds vol daarvan. Kenners praat oor parool. Die Minister (na die idee van ‘Regering van Nasionale Eenheid’ – wat dalk ‘n oksimoron is) is genadiglik dr Pieter Groenewald van die Vryheidsfront+ . Hy lig ons in met sy goed-beredeneerde kundigheid wat ‘n welkome afwisseling is van die gewone kader-gebrabbel. Almal van ons, die gemeenskap wat eintlik die siviele oorsig oor die politieke ampsbekleders moet hanteer, het waarskynlik nou ‘n ingeligte beeld van parool in ons samelewing.
En tog het ek nog vrae. Ek hoor in die nuusberigte dat Leigh se ouers nie oortuig is van Donovan se gedragsverandering en rehabilitasie nie. En ek dink aan Piet (“Ek is seker hy was in nog moorde betrokke …”). Waar laat dit my, hierdie ding van parool? Ek gaan soek waar ek maar altyd gaan soek, in die Bybel. Die verhaal van Saggeus trek my aandag, so ook die verhaal van die vrou wat van owerspel verdink word, en ook die verhaal van die vrou by die put. Die sentrale figuur in al drie stories is Jesus. Vir my is Hy betroubaar, dus lees ek weer deur die stories. As ‘n navorser is ek gewoond daaraan om tematiese ontledings te doen en ek identifiseer drie temas. Ek moet kragtig kan bely dat ek iets gedoen het wat nie aanvaarbaar is nie. Daarna sal dit help as ek op ‘n manier kan vergoed. Saggeus het geld aangebied, ons hoef dikwels net ‘n eerlike verskoning aan te bied. Laastens moet ek kan sê dat ek dit nooit weer sal doen nie. Bely, maak reg, moenie weer nie …
Toe skryf ek ‘n klein gediggie, en ek wonder wat Piet daarvan sou gesê het – hy wat daaraan gedink het om ‘n predikant te word.
En ek wonder of hy meer sou uitgevind het oor Donovan Moodley. Dalk sou hy wel, hy het net nie lank genoeg gelewe nie …
Die gediggie volg hieronder:
PAROOL
(Chris Botha)
die tollenaar het die mense besteel
die vrou het na bewering haar man verneuk
‘n ander vrou was verwerp en alleen by die water
ek wonder wat ek keer op keer
uit hierdie drie stories kan leer
en skryf die volgende neer:
ek bely my verkeerd (of ek word nooit heel)
ek maak my verkeerd reg (of aanvaar immer die reuk)
ek moenie weer nie (en eerder drink van die ware Water)
anders bly ek in die tronk (en dit bly seer)
(Hartenbos; 16 September 2025)