OOM BOKKIE, DIE TANNIETJIE EN OUWÊRELDSE RESPEKTE *

(Chris Botha)

Kaptein NM Breedt

“‘n Doppie vir ‘n man, en ‘n doppie vir ‘n dame asseblief ‘sant Boorap”, sê die waardige ou man. Met onteenseglike gesag maar ook met baie respek.

Die waardige het in die binneklubgedeelte van die offisiersklub by die Suid-Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria-Wes ingestap met so ‘n effense windmakerige skuifeltjie, linkerhand in die broeksak en ‘n sigaret tussen die wys- en middelvingers van die regterhand. Hy is kort, sy hare is netjies gekap en gekam, die snorretjie perfek versorg en die oë wakker aan’t rondkyk rondom hom.

Om aan te dui hoeveel vloeistof daar onderskeidelik in die man en die dame se glase geskink moet word, versit hy die sigaret na sy mond en wys met die vingers van sy regterhand: vir ‘n man is die spasie tussen sy wysvinger en die pinkie die aanduiding; vir ‘n vrou die dikte van die wys- en middelvingers wat teenmekaar gehou word. My van het hy om die een of ander rede nooit korrek uitgespreek nie – dit het immer uitgekom as ‘Boor – ap’. Dalk was dit as gevolg van sy probleempie met ‘n uitglippende gebit, iets wat hy op parade hanteer het deur een hand se vingers vertikaal voor sy lippe te hou. Hoe dit ookal sy, ‘sant Boorap’ het gou ook my somtydse roepsein onder my kollegas geword.

Kaptein NM (Bokkie) Breedt was ‘n polisielegende. Polisiestudente onder opleiding by hierdie polisiekollege (in die algemeen na verwys as ‘Polkol’) tot so ongeveer ‘n halwe eeu gelede het hom in persoon geken. Hy was veral bekend as die kamp-adjudant van die polisiekollege, eers in die rang van hoofkonstabel, en nadat die rangbenamimg verander het, in die rang van adjudant-offisier. In sy later jare is hy bevorder na die kommissie-offisiersrang en het die rang van kaptein beklee by sy aftrede. Nà aftrede het hy nog ‘n paar jaar diens verrig in die polisiekollege as ‘n tydelike werknemer van die Suid-Afrikaanse Polisie (die SAP). Alhoewel ons hom nooit as ‘oom’ aangespreek het nie, het kapt Breedt onder ons klomp bekend gestaan as ‘oom Bokkie’.

Die ry klingelende medaljes op sy bors tydens formele parades het die doel van ‘n curriculum vitae gedien. Dit was eintlik, in klinkende metaal en kleurvolle lint, ‘n gedetailleerde geskiedenis van sy loopbaan en die tydvak waarbinne hy geleef en gedien het. Hy was ‘n veteraan van die tweede wêreldoorlog en het in die geselskap gestaan van mede-polisiemense soos brigadier Louis Snyman (by baie Suid-Afrikaners bekend as die ruiter van Fleur, die wit perd tydens Parlementsopeninge in die vorige bedeling), sersant Claude Sterley (in sy tyd ‘n Gemenebes-swaargewigbokskampioen), en kaptein Louwtjie Roothman wat baie jare later deur die Kommissaris van die SAP, generaal Hennie de Witt, na die rang van majoor bevorder sou word uit erkenning vir sy bydrae tot polisiëring).

Maar terug na die offisiersklub.

Ek was die hofmeester van hierdie instelling waar kommissie-offisiere bymekaar kon kom om saam ‘n drankie te geniet, wat natuurlik meestal alkoholies van aard was. Die manne wat drank bedien het by die onderoffisiersklubs was ‘kroegmanne’ genoem. Om die kommissie-offisiere (in die algemeen na verwys as ‘die offisiere’) te kon bedien het mens egter ‘n ‘hofmeester’ nodig gehad. Want sien, ek was gekeur vir hierdie werk; een van die offisiere – hy was ‘n majoor – het my daarop gewys dat dit eintlik ‘n roeping was, met ‘n hoë graad van uitsonderlikheid. Mens moes immers seker kon wees dat die hofmeester nie die belangrike sake wat deur die offisiere bespreek word binne hierdie plek, ongekunsteld sou oordra aan andere nie. Dit kon immers staatsveiligheid sterk benadeel, het die majoor gesê. (Op hierdie punt sal ek erkenning moet gee aan my vriend en kollega Erwin Schwella, wat bes moontlik van my, en aan my, sou gesê het dat “vals beskeidenheid u ook nie sal pas nie”).

“Natuurlik kaptein”, sou die beskeie ek dan sê en, terwyl ek die twee spesiale glase uithaal wat slegs vir oom Bokkie en die tannietjie eenkant gehou word, onmiddellik vra na die welstand van die kaptein en die tannie.

Hier is ‘n verduideliking nodig: die normale aanspreekvorm vir die kaptein se vrou sou ‘mevrou’ wees. In hierdie geval egter het ‘mevrou Breedt’ daarop aangedring dat ek haar ‘tannie’ noem. “My liewe kind” (het sy eendag, heel aan die begin van my hofmeester-loopbaan, vir my gesê) “jou mense woon so ver hiervandaan. Noem my liewer tannie, dit sal goed wees vir jou”. Ek het hierdie aanbod met dank aanvaar en die tannie (wat in my kop, maar nie in aanspreekvorm nie, ‘tannietjie’ geword het – ‘n sekere teken van ‘n regte Wes-Transvaalse – toegeneentheid) van toe af sò aangespreek.

“Goed, dankie ‘sant Boorap” sou oom Bokkie dan sê en voortgaan met “gaan dit nog goed met jou ouers? Wanneer laas was jy by die huis?” Natuurlik sou ek dan nie vir oom Bokkie daarop wys dat hy die vorige keer vir my dieselfde vraag gevra het, en dat ek eintlik min huis toe kan gaan nie (gegewe my Woensdag- en Saterdag-verpligtinge in die offisiersklub). Dit sou erg disrespekvol wees, en sou in elk geval ‘n mooi tradisie van vraag-en-antwoord tussen my en oom Bokkie sterk benadeel. Ek antwoord dus dat dit nog goed gaan met my ouers, dankie kaptein, en dat ek beplan om binnekort weer ‘n slag huis toe te gaan. Soos wat ek elke Woensdag en elke Saterdag antwoord …

En dan, terwyl oom Bokkie hom gereed maak vir klein geselsies met die ander offisiere by die toonbank, kom die volgende stukkie tradisie (met my aan die woord): “sal ek die drankies uitbring kaptein, en dan sommer vir tannie ook groet?” Waarop die bekende, twee-maal-per-week-antwoord sou wees “dit is baie gaaf van jou ‘sant Boorap, die tannie sou jou ook graag wil groet”.

Uitbring, vra jy my? Wel, oom Bokkie en die tannietjie het nooit binne die binneklubgedeelte van die offisiersklub, daar waar ek agter die toonbank staan, gesit nie. “’n Dame sit nie in ‘n kroeg nie ‘sant Boorap” sou oom Bokkie sê. Buite die toonbankgedeelte was ‘n groot sitkamer met sulke klein ronde tafeltjies en sagte stoele. Baie van die offisiere, veral ook die wat hul metgeselle met hulle saamgebring het, het hier gesit. Ook oom Bokkie en die tannietjie, en hulle het ‘n spesiale tafel gehad teen die muur waarin die deur van die binneklubgedeelte was, net soos mens by die trap uitkom in die sitkamer in. Niemand, nie eens baie senior offisiere nie, het ooit by hierdie tafeltjie gaan sit nie. Oom Bokkie en die tannietjie het gewoonlik net so effe na die aankomstyd (‘n gepaste tyd nadat ek die deure oopgemaak het) by die klub aangekom. Hy sou sy spesiale gentleman’s jacket (bruin, met materiaal van ‘n besondere patroon en leerflappe op die elmboë) aanhê, en ‘n das, natuurlik. Die tannietjie sou keurig aangetrek wees, in lyn met die seisoen, met ‘n netjiese handsak oor die arm. Net soos die koningin van Engeland. By aankoms sou hulle direk na hulle tafeltjie stap. Die ander offisiere (en offisiersmetgeselle) in die sitkamer sou dan kom groet, selfs al was hierdie offisiere van ‘n meer senior rang as kaptein Breedt. Die twee waardiges sou groet en gesels, met die tannietjie wat teen hierdie tyd reeds haar stoel (van slegs twee by die tafel) ingeneem het.

By die tannietjie aangekom, met ‘n doppie vir ‘n man en ‘n doppie vir ‘n dame in twee spesiale glase in my twee jong-instrukteur-hande, het die tradisie ook by wyse van die groetery, wedersydse gesondheid, ouers se gesondheid, wanneer was ek laas by die huis, ensovoorts verloop. En, soos altyd, sou die tannietjie dan kom met “jy bederf ons twee oues so mooi, baie dankie”.

Deur die verloop van die middag en vroegaand sou ek dan gereeld omstap en gaan uitvind of alles by die tafeltjie nog voor die wind gaan. En dan, vir oulaas, kom oom Bokkie my toonbankgedeelte binne en sê (terwyl hy die twee leë glase by my op die toonbank neersit) “dankie weereens ‘sant Boorap, dit was baie lekker. Ons gaan nou huis toe”. Die tradisie-antwoord was: “Ek is bly dat u en tannie dit geniet het kaptein. Wag, ek stap saam uit”. “Dit is nie nodig nie ‘sant Boorap, maar die tannie sal dit waardeer as jy tot by die trappe sal saamstap”.

Waarop ‘sant Boorap dan saam met oom Bokkie om die draai stap, en van hom en die tannietjie – haar arm netjies by oom Bokkie se linkerarm ingehaak – met mooi groetery afskeid neem. En kyk hoe sy twee spesiale gaste versigtig met die trap afstap …

Tot volgende keer.

Die ander dag sit ek in ‘n restaurant hier in ons dorp. By ‘n tafeltjie naby sit ‘n oom Bokkie en ‘n tannietjie, keurig, regte baadjie, handsakkie. En ‘n goed-gemanierde jong man vra vir die twee waardiges of hulle dalk ietsie sou wou drink.

En amper antwoord ek “n Doppie vir ‘n man, en ‘n doppie vir ‘n dame asseblief ‘sant Boorap” …

(Hartenbos; 28 Julie 2025)

*Baby boomers van die voormalige SAP sal hierdie een verstaan …

'n Foto wat skermskoot bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.