ONS BRING HULDE AAN DIE POLISIE SE LAASTE KOMMISSARIS. EN DIE VROU AGTER HOM ANS VAN DE MERWE.
ONS BRING HULDE AAN DIE SA POLISIE SE LAASTE KOMMISSARIS EN DIE VROU AGTER HOM, ANS VAN DE MERWE.
Sarie van Niekerk en Zelda Conradie.
Agter elke suksesvolle man staan ‘n suksesvolle vrou.
Ans van der Merwe.
Hy het op 16-jarige by die polisie aangesluit en het sommer met die intrap slag vir homself gesê hier bly ek totdat ek die heel hoogste sport in die polisie bereik het. Hy het sy hierdie stille belofte waarvan net hy geweet het elke jaar weer hernu en as dinge in die polisie so bietjie moeilik geraak het, het hy maar net weer aan sy mikpunte gedink. Hy het gegaan waar hulle hom gestuur het sonder om teen te praat en alles wat hom opgelê is met alles tot sy beskikking uitgevoer. Hy was slegs 20 toe met die liefde van sy lewe getroud is wat bank agter hom gestaan het en op 1 Januarie 1990 is sy droom bewaar toe kommissaris van die Suid-Afrikaans Polisiemag geword het met sy geliefde Ans die “suksesvolle vrou wat agter hom gestaan het. Hy die aan die einde van 1997 kom kommissaris swaard neergelê, steeds my Aan sy sy.
Dit is genl. Johan van der Merwe!
Die egpaar is op 25 Augustus 1956 op Springs getroud. Twee dae na Johan se 20ste verjaarsdag en Ans was net 18 jaar oud
Maar hier wil ek hulde bring aan genl. Johan van der Merwe en die vrou wat al die jare deur sy loopbaan die vrou agter hom was. Die jong konstabel Van der Merwe en die vrou agter hom is iemand wat nog die outydse rits name het, Anna Catharina Badenhorst, of Ans, Anna of Antjie, soos sy allerweë bekend geword het. Ans is vandag die enigste oorlewende vrou van enige kommissaris. Genl. Johan is etlike jare gelede oorlede.
Ans van der Merwe is in die Ermelo-distrik gebore en het die eerste paar jaar van haar lewe deurgebring op ‘n plaas naby die destydse Swaziland-grens in die Ermelo-distrik. Sy was die jongste van twee dogters en haar suster was vyf jaar ouer as sy.
Ans was omtrent ses jaar oud toe hulle verhuis het Ermelo toe, waar hulle ‘n groot rondawel gehuur het. Haar pa moes gaan veg in die Tweede Wêreldoorlog en daarom het haar ouma by hulle kom bly. Vir baie jare daarna sou dit net die vier vrouens wees – Ans, haar ma, suster en ouma.
Ans en Johan ontspan ‘n bietjie by die see.
Geld was maar skaars en Ans se ma moes voltyds werk om die pot aan die kook te hou, wat beteken het dat haar ouma meer die rol van haar ma vervul het. Ans het dan ook eerder met haar probleme na haar ouma as na haar ma toe gegaan.
Omdat haar ma en pa mekaar so min gesien het, is hulle vervreemd en ‘n egskeiding was onvermydelik. Ans en haar suster het daarna bitter min kontak gehad met hul biologiese pa en sy was nog in die laerskool toe hulle getrek het na ‘n klein sinkhuisie, ook in Ermelo. Hulle bure was die Van der Merwes.
Die Van der Merwes was ‘n groot gesin. Die ouerpaar het vyf seuns en twee dogters gehad. Johan was die oudste. Soos dit maar gaan op so ‘n klein dorpie, het die kinders van die gemeenskap dikwels saamgespeel. Ans het wel nie baie kontak met Johan gehad nie en was meer vriende met sy jonger broer, Dolf, wat min of meer dieselfde ouderdom as sy was. Sy kan wel onthou hoe onhebbelik stout die Van der Merwe-broers was en hoe hulle die dorp behoorlik op horings geneem het. Ans vertel met ‘n glimlag hoe Johan se beste vriend se ouers hom verbied het om maats te wees met Johan omdat hy kwansuis so ‘n slegte invloed is. Maar dit was net onskuldige kattekwaad en nie een van die broers was ooit lelik stout nie.
Toe Johan 16 jaar oud was, is hy polisiekollege toe vir opleiding en sy gesin verhuis kort daarna Springs toe. Nie lank daarna nie het Ans se ma weer getrou en hulle trek ook Springs toe. Dié keer het hulle nie naby die Van der Merwes gebly nie en hulle het ook nie veel kontak gehad nie. Intussen het Johan sy opleiding voltooi, daarna vir ‘n rukkie in die destydse Sutherlands (nou Plessislaer) gewerk en is kort daarna verplaas en was gestasioneer by Marshallsplein, Johannesburg Hy het toe weer by sy ouers in Springs gebly.
‘n Mans vriend van Ans het haar bitterlik teleurgestel en sy was baie ongelukkig. Haar ouma het haar jammer gekry en ‘n plan beraam om Ans weer te sien glimlag. Sy het vir Johan gebel en gevra hy moet asseblief kom kuier om Ans op te beur. Ans se ouma het nog altyd ‘n sagte plekkie vir Johan gehad. Daardie aand het Johan kom kuier en die koeël was deur die kerk!
Albei was gou smoorverlief en Johan het elke dag die lang afstand met sy fiets afgelê om by Ans te kuier. Nie lank daarna nie trou die twee op 25 Augustus 1956 in Springs, op Johan se 20ste verjaarsdag. Ans was 18 jaar oud gewees. En so het hulle ietwat ongewone, maar ook opwindende huweliksreis van 66 jaar en twee dae begin!
Die egpaar was lief vir die buite lug, tuinmaak en het graag gereis.
Vir eers het die paartjie in Springs gebly en albei moes daagliks Johannesburg toe en terug pendel waar hulle albei gewerk het. ‘n Paar maande later het die paartjie eers ‘n woonstel en later ‘n huis in Johannesburg gehuur waar hulle oudste seun, Len en hulle dogter, Zelda, gebore is.
Die gesin sou daarna maar gewoond moes raak daaraan om gereeld te verhuis. Vir Ans was dit nie altyd maklik nie, want sodra sy haar voete gevind en vriende gemaak het op ‘n nuwe plek, moes hulle weer trek. Ná Johannesburg is hulle Standerton toe waar hulle tweede seun, Armand, gebore is. Johan het ‘n offisierskursus gedoen en hulle is Pretoria toe verplaas waar hulle vir die eerste keer ‘n huis kon koop. Skaars ‘n jaar later, op 1 Februarie 1966 word Johan verplaas Ficksburg toe as grenspos bevelvoerder.
Ans dink vandag met heimwee terug aan die vier jaar op Ficksburg. Hulle het die plattelandse lewe, waar die kinders nog vry kon rondhardloop en die koppies klim, baie geniet. Ans het Johan ook dikwels vergesel op sy besoeke aan die grensposte en verder het sy haar besig gehou met brei, hekel, klere maak ensovoorts. Ans was altyd lief om te skep en sy sou deur die jare haar hand waag aan vele kunsvorme soos houtsneewerk, macrame, mosaïek, pewter, kruissteek en vele meer.
Saam met ander offisiere by ‘n polisie-geselligheid. Johan en Ans staan heel regs.
Die egpaar in ligte luim.
1 April 1970 is Johan Bloemfontein toe verplaas as hoof van die Vrystaatse veiligheidstak, waar hulle nege jaar gebly het. Vir Ans was dit wonderlik om soveel jare op een plek te kon bly en sy het heimlik begin glo en hoop dat Bloemfontein hulle permanente tuiste sou wees. Hulle jongste seun en laatlam, Werner, is hier gebore. Teen die einde van 1979 is die mat onder Ans se voete geruk toe Johan vir haar die nuus gee dat hulle weer eens moet trek. En dié keer sommer landuit, Windhoek toe, waar hy hoof van Suidwes-Afrika (nou Namibië) se veiligheidstak sou word. Sy was bitterlik ontsteld en hartseer, maar daar was geen ander uitweg nie, trek moes hulle trek en sy moes dit maar gelate aanvaar.
Ans was glad nie gelukkig in Windhoek nie. Sy het daar min vriende gehad en Johan was gereeld en vir lang tye weg van die huis, terwyl sy by die huis gesit het met die voortdurende vae onrustigheid dat haar man se lewe moontlik in gevaar kon wees. Haar familie was ver en boonop het Johan, wanneer hy wel tuis was, in die aande voor die boeke gesit om te studeer vir sy B Juris-graad. Daarom was dit vir haar ‘n reuse verligting toe sy hoor dat hy terug verplaas is Pretoria toe.
Op 1 April 1983 het Johan by die veiligheidstak in Pretoria begin en Ans het sommer weer tuis gevoel. Haar lewe het weer sy normale gang gegaan. In 1989 word Johan aangestel as adjunk-Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie en op 1 Januarie 1990 as kommissaris. En weer eens het Ans se lewe ‘n nuwe rigting ingeslaan.
Familie kuier saam. Oumas, oupas, kinders, skoonkinders, kleinkinders en agterklein kinders
Ans het altyd verkies om die vrou agter die man te wees, maar tydens dié tydperk moes sy die vrou lángs die man word. Hulle het vir ses maande in die Kaap en dan vir ses maande in Pretoria gewoon wat beteken het dat sy twee huishoudings gehad het. Hulle het gereeld gevlieg en moes baie gesellighede bywoon. Van haar was verwag om by gesellighede die dames toe te spreek, in Afrikaans én Engels. Vir dié stil, teruggetrokke tuisteskepper was dit verskriklik erg, maar sy het gedoen wat van haar verwag is om Johan in sy posisie te ondersteun. Maklik was dit nie, maar daar was darem ook voordele aan verbonde en sy het die geleentheid gehad om met tye saam met Johan oorsee te reis. Verder het sy ook interessante mense ontmoet.
Toe Johan op 31 Maart 1995 aftree, was Ans verheug en het uitgesien na ‘n rustiger fase in hulle lewens met minder stres. Maar sy was so verkeerd… Kort daarna is die Waarheid-en-Versoeningkommissie tot stand gebring en Johan sou voltyds besig wees om hiervoor inligting bymekaar te kry. Hy het ure voor die rekenaar deurgebring om verslae te skryf en het gereeld met verskillende mense vergader. Van ‘n rustige aftrede was daar nie sprake nie. Nadat die verhore afgehandel is, het die vervolging van polisiemanne begin en toe het Johan weer ‘n ander missie gehad en het hom beywer om hulle te help. Hy het nog harder as vantevore gewerk en was vasbeslote om die betrokke polisiemanne met hulle verdediging by te staan. Verder was hy ook nog voorsitter van sy kompleks se beheerliggaam en was net so besig daarmee. As Ans nou terugdink aan daardie tydperk, moet sy erken dat alhoewel dit nie die aftrede was wat sy vir hulle voorsien en op gehoop het nie, dit ‘n goeie ding was dat Johan toe so besig was. Hy was nooit een wat net kon stilsit nie en hy sou andersins vreeslik verveeld gewees het.
En nou is haar geliefde Oubaas nie meer met haar nie.
Op 7 Julie 2022 het Ans en Johan se lewens onherroeplik verander toe hy net voor sewe die aand ‘n beroerteaanval gekry het. Vir sewe weke was hy in die hospitaal en aanvanklik het dit gelyk of hy genoegsaam sou herstel om huis toe te kon gaan. Hy het elke dag fisioterapie en arbeidsterapie gekry en het gedetermineerd sy oefeninge gedoen, sonder om te kla, want hy was vasberade om weer normaal te kon loop en eet. Maar daar was telkens een of ander terugslag en dit was later duidelik dat sy toestand elke dag bietjie meer versleg het. Dit was ‘n bitter tyd vir Ans. Sy was skielik alleen tuis en het elke dag hospitaal toe gegaan met nuwe hoop in haar hart dat dinge beter sou gaan, net om telkens weer te wanhoop as daar nog ‘n terugslag was.
Op 25 Augustus 2022 was dit Johan se 86ste verjaarsdag en hulle 66ste huweliksherdenking. Twee dae daarna, op 27 Augustus het Johan die stryd teen dié siekte verloor. Ans se wêreld het in duie gestort. Maar sy moes aangaan sonder haar geliefde Oubaas. Sy was nou aangewese op ander mense se hulp en die huis was groot en leeg sonder Johan. Besoeke van vriende het al minder geword en dit was later net ‘n paar oud-kollegas van Johan wat gereeld kom kuier of van hulle laat hoor het. Sy het ‘n outomatiese karretjie gekoop en weer leer bestuur omdat Johan die bestuur werk gedoen het vandat hy afgetree het.
Die uitgebreide huisgesin. Johan, Ans, kinders en skoonkinders.
Aanvanklik was die gedagte om die huis te verkoop waarin sy en Johan vir baie jare so gelukkig was en wat gewemel het van mooi herinneringe, vir haar ondenkbaar. Maar sy moes uiteindelik bes gee, want die trappe in die huis en die groot swembad het ‘n probleem geword. Sy het vir haar ‘n huis met ‘n tuintjie in Bougainvillea aftreeoord in Montana gekoop, haar groot huis verkoop en getrek.
Johan en Ans.
Ans bly nou al amper ses maande in haar nuwe huis en is baie gelukkig daar. Omdat sy nou nie meer daagliks so baie trappe hoef te klim nie en die huis heelwat kleiner is, is alles makliker vir haar. Sy geniet dit ook baie om in haar tuin te werk en omdat sy nog in dieselfde, bekende omgewing bly, kan sy ry en gaan inkopies doen of kuier.
Die gemis en verlange na Johan sal nooit weggaan nie, maar Ans is gelukkig en tevrede in dié nuwe hoofstuk van haar lewe.
Daar is altyd vir almal ‘n tweede lewe. Wat jy met jou tweede lewe aanvang hang van jou self af maar daar is definitief ‘n keuse om te maak. Of jy gaan aan soos voor jou man se dood of jy onttrek jou geheel en al uit die samelewing. Dit verg baie wil en deursettingsvermoë om weer op jou eie ‘n nuwe lewe vir jou self te begin. Ans is die sprekende voorbeeld van iemand wat op 86 jaar ‘n heeltemal nuwe lewe vir haarself gevind het maar die herinneringe van 66 jaar se saamwees, vergaan nooit nie.