ONGULAMBASHE

DIE SLAG VAN ONGULAMBASHE: 26 AUGUSTUS 1966

Paul Els & Hennie Heymans

Inleiding: Die Slag Van Ongulambashe: 26 Augustus 1966

Hennie Heymans

Die “Slag van Ongulambashe” het nie sommer uit die bloute ontstaan, asof ’n towerfeetjie haar towerstaffie geswaai het en die geskiedenis met een swiep verander het nie. Inteendeel, dit was die klimaks van ’n langdurige, boeiende en komplekse historiese proses — een wat uiteindelik gelei het tot die onafhanklikheid van Suidwes-Afrika, en wat later tot ’n onderhandelde politieke skikking in Suid-Afrika gedurende 1994 gelei het.

Geskiedenis kan in isolasie gesien word nie. Alles moet ook in konteks gesien word.

Die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) was van meet af aan ’n vegtende mag, selfs al was sy lede formeel vredesbeamptes en sy offisiere vrederegters. Die SAP het oor ’n unieke vaandel beskik wat sy identiteit en geskiedenis beliggaam het. Ons voorgangers sluit in die Zarp’e, die OVS Rijdende Dienst Macht, Frontier Mounted and Armed Police, Cape Mounted Police, Cape Mounted Rifles, Natal Mounted Police, Natal Police, Orange Colony Police, SA Constabulary, Transvaal Police en SA Mounted Rifles.

‘n Ongewapende konstabel Johan Viktor op rondtediens

Ek sê dikwels: die publiek bepaal die aard en wese van sy polisiemag. In dorpe en stede was die voetpolisie geklee soos die Britse “Bobbies” en toegerus met slegs ’n knuppel. Daarteenoor was die berede polisiemag — te perd en selfs te kameel — wat in die veld, bos en woestyn diens gedoen het, tot die tande gewapen om onder moeilike omstandighede wet en orde te handhaaf.

Tydens die tweede wêreldoorlog was daar ‘n SAP-brigade gewees. Talle lede van die Mag was veterane van daardie oorlog. Bekende offisiere soos genl IP de Villiers (kommissaris), genl RJ Palmer (later kommissaris), genl PJ Dillon, brig CC von Keyserlingk en ander was offisiere in die SAP-brigade gewees.

Enkele punte word uitgelig:

  • Na die Tweede Wêreldoorlog bevind ons onsself in ’n nuwe konflik, die sogenaamde “Koue Oorlog”, tussen die kommunistiese Ooste en die kapitalistiese Weste. Die wit regering van Suid-Afrika kies kant by die Weste. Tegelykertyd val Pandit Nehru generaal JC Smuts aan by die Verenigde Nasies, en die stryd teen apartheid begin.
  • Ons beskik oor die tweede oudste kommunistiese party in Afrika – die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Die party is egter verbied, maar dit gaan voort met ondermynende aktiwiteite. Voorlopers van die SAKP sluit figure in soos Bill Andrews. Intussen word KGB-spioene in die land in hegtenis geneem.

'n Foto wat klere, teks, buite, skoene bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

  • Die Zulu/Indiër-onluste in Durban. Polisiemanne word vir die eerste keer per vliegtuig van Pretoria na Durban ingevlieg. Lt-genl JJ Viktor was een van die lede wat afgevlieg was.
  • Witsieshoek: Moord op polisie – een van die laaste optredes van die beredepolisie in onrus/onlus. Luit Jonker en ‘n konstabel Erasmus word vermoor. Maj IPS Terblanche was in bevel – ons lees later van hom en sy prysenswaardige optrede te Caledon-plein toe hy vrede met ‘n groot skare bewerkstellig het.

'n Foto wat teks bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

  • Bergville: Moord op polisie tydens ‘n dagga-uitroei operasie.
  • Die Pondoland-opstand.

'n Foto wat teks, koerant bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

  • Cato Manor – moord op 9 polisiemanne. (Ek was ‘n polisieman se kind en die moord op polisie te Witsieshoek, Bergville en Cato Manor het die polisiemanne en hul gesinne geruk.)
  • Winde van Verandering-toespraak in die parlement (vier weke na Cato Manor): Harold Macmillan het op 3 Februarie 1960 in Kaapstad o.m. verklaar: “Die wind van verandering waai deur hierdie kontinent, en of ons daarvan hou of nie, hierdie groei van nasionale bewussyn is ‘n politieke feit.” Die swart reus in Afrika het ontwaak en die winde van verandering waai oor Afrika met slagkreet: “Uhuru”.
  • Sharpeville-voorval. Die African National Congress (ANC) en die Pan Africanist Congress (PAC) word in die ban gedoen.
  • Ons word ‘n republiek in 1961 – ons verlaat die Britse gemenebes.
  • Rewolusionêre oorlog begin met formele stigting van Umkhonto we Sizwe (MK) op 16 Desember 1961. Hier is die bekamping nog hof gerig. Maar vir ons word die oorlog van koud na warm gestel!
  • Die saak in die wêreldhof in Den Haag oor die Suidwes-Afrika-kwessie.
  • Die begin van die bosoorlog (teeninsurgensie) op 26 Augustus 1966 met Swapo-insurgente.

https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/85/2025/06/paulelspic_96756-e1750838197158.jpg

Ek het Paul Els (foto bo) gehelp met sy boek oor Ongulambashe en hy het goedgunstiglik ingestem dat ek ‘n deel uit sy boek aanhaal. Ek het ‘n deel aangehaal en weer ‘n bietjie geredigeer om die stuk meer toepaslik te maak. Ek het foto’s wat ek in my argief gehad het, bygesit.

FOTOS UIT HBH SE ARGIEF

'n Foto wat klere, person, leëruniform, persoon bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Genl IP de Villiers

'n Foto wat klere, person, persoon, teks bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Genl RJ “Bobby” Palmer

'n Foto wat person, klere, persoon, teks bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Genl PJ “Pat” Dillon

'n Foto wat klere, binnenshuis bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Genl Dillon se pet

Genl Dillon se Medaljes

'n Foto wat person, klere, persoon bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Majoor (later lt-genl) FLC Engels

'n Foto wat klere, person, persoon, leëruniform bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

“Die Rooi-Rus” – Maj (brig) TJ Swanepoel

'n Foto wat persoon, person, klere, hemp bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Lt-genl JJ Viktor

'n Foto wat persoon, klere, person, leëruniform bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

AO (brig) Sterk-Gert Smit saam met sers (kol) S Pillay

'n Foto wat klere, leëruniform, person, persoon bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Sers DH Welthagen

'n Foto wat klere, leëruniform, persoon, buite bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Destydse konstabel Johan Visagè

Kapt (Kol) Jan Breytenbach (Foto Alex Faria)

'n Foto wat persoon, hemp, klere, bril bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Brig-genl (dr) WS “Kaas” van der Waals en lt-kol HB Heymans destyds lede van die sekretariaat van die staatsveiligheidsraad

Uittreksel met vergunning van Paul Els uit sy boek Ongulambashe met redigering deur Hennie Heymans

VOORBEREIDING VIR TEENINSURGENSIE

Olv offisiere soos majoor FLC Engels het die eerste praktiese opleiding in Port Natal plaasgevind. Dissipline onder Engels en sy junior offisiere soos bv lt AJ de Villiers op die Mobiele Eenheid was van die hoogste gehalte. Die rol van kapt Louis Heap (SAW) sal ‘n mens ook altyd bybly. (Heymans)

Die rol van die Port Natalse polisie in die geskiedenis moet ook nie buite rekening gelaat word nie. Baie lede is tweede en derde geslag polisiemanne, hulle ken die Zulu en sy kultuur, baie het in WO2 geveg, ander weer in die Indiër-en Zulu-onluste van 1947, baie was gewoond aan stamgevegte. Port Nata- polisie het ook sy spore in die Pondolandse Opstand van 1960 verdien, Cato Manor en opvolgende onluste was suksesvol afgeweer. Talle dade van terreur het ook in die vroeë 1960’s in Port Natal voorgekom. Die manne was dus al blootgestel aan gevaar. Kol Dillon was op sy dag [c1963] DK van Pietermaritzburg en het ook in Natal afgetree. Persoonlik dink ek die Durban-manne is gekies agv die sg Natal-‘konneksie’ en die ‘Johannesburg’ veiligheidsmanne agv die sg Johannesburg-‘konneksie’ (Heymans).

Aan die anderkant was “Rooi-Rus” Swanepoel en sy span deurwinterde speurders, ondervraers en ondersoekers. Dit was algemeen bekend vanaf speurder-hoofkonstabel WB “Bill” Joyner en ander bekende speurders se dae, dat Marshall-plein se speurders nooit teruggedeins het vir gevaar en moeilike sake nie. Hulle kon aanhou ondersoek totdat die saak opgelos is. Soos alle ou-Marshallplein speurders was hulle ook goed bekend vir hul onverskrokkenheid. Later het Brixton se moord- en roofeenheid gedurende die laat 1960’s – 1980’s dieselfde status verwerf. Dit moet onthou word dat hulle oa blootgestel was aan die mees berugte en gevaarlike moordenaars en rowers in Afrika. (Heymans)

Vroeg in Augustus 1966 word opdrag uitgereik dat gekeurde SAP-lede fiks gekry moes word vir ‘n kursus wat in Pretoria gehou sou word. In Durban is die lede aan strawwe toetse onderwerp. Hulle was bv by die Nagledam afgelaai en hulle moes dan na Durban terughardloop. Onder die Durban-manne was konstabels Jacobs en Anton Zowitsky. Die eienaardige bevel dat die manne nie mag skeer nie, is ook gegee. (Zowitsky)

PRETORIA

Onder bevel van Adjudant-Offisier ‘Sterk Gert’ Smit (SAP Durban) arriveer twee troepedraers by die Pretoria Kollege met lede van die SAP vanaf Durban [lede van pelotons 7 en 8 van die SAP se Mobiele Eenheid ook bekend as Oprukeenheid, Port Natal], vir voorbereiding vir die aanval. So ook het lede van SAP Pretoria by die groep aangesluit. Die lede het nie geweet waarvoor hulle na Pretoria gaan nie en daar is slegs aan hulle vertel dat hulle op ‘n kursus gaan, genaamd die ‘Blouwildebees-kursus.’ Hulle sou wel later agterkom waar die naam vandaan kom. So ook arriveer nog twee groepe manne; een vanaf Johannesburg en die ander vanaf Bronkhorstspruit, en word onder bevel van maj Frikkie Engels, geplaas.

’n Mag van ongeveer 130 polisielede het saamgetrek onder die oorhoofse bevel van kol Dillon, ‘n gebore ‘n Suid-Afrikaanse Ier en Tweede Wêreld Oorlog-veteraan. (Sy Vader, ‘n Vrystaat burger, het aan Boerekant teen die Engelse tydens die Anglo-Boereoorlog geveg. Hul plaas Waterfall is in die Vrystaat op die Natal-grens by Van Reenen.) Hy het in 1973 afgetree as generaal-majoor. (Heymans)

OPERASIE DIKMELK

Op 8 Augustus 1966 is ‘n span SAW-lede afgedeel na die SAP, met die opdrag van die kommandant-generaal van die SAW. ‘n Span bestaande uit, 1 Valskerm Bataljon se valskermsoldate het per trein en pad vanaf Bloemfontein in Pretoria aangekom, om as instrukteurs op te tree vir die opleiding aan die groep SAP-lede.

Die wat per pad gereis het, het in kapt Jan Breytenbach se bruin 1965 Opel Rekord stasiewa gery. Voor hul vertrek het al die SAW-lede ‘n mediese ondersoek by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein ondergaan.

Die span se opdrag, volgens kmdt J Fourie, toe die bevelvoerder van 1 Valskerm Bataljon, het direk vanaf die eerste minister H F Verwoerd gekom en het gelui: Om die SAP op te lei in Teeninsurgensie (TEIN)-operasies en om die SAP advies en ondersteuning in ‘n operasie te verskaf. Dr Verwoerd het dit kategories gestel dat nie een van die SWAPO-lede moet ontsnap nie. Hier reeds is die Valskerm lede in breë trekke ingelig waaroor dit gaan.

Nota: Volgens ‘n dokument oor die geskiedenis van 44 Valskerm Brigade ged. 1 April 1989, is die operasie as ‘Operasie Dikmelk’ gekenmerk.

Met die aankoms van die SAW-opleidingspan by die SAP Kollege is elk van die lede as ‘n polisie offisier/onderoffisier ingesweer, juis vanweë SWA se sensitiewe internasionale posisie. Hulle is met polisie-uniforms uitgereik. Die span vanaf 1 Valskerm Bataljon het bestaan uit die volgende offisiere:

  • kaptein J D Breytenbach,
  • luitenant WS ‘Kaas’ van der Waals en
  • kmdt (dr) Anton Klomp.

Die onderoffisiere was sersante

  • ‘Jogi’ Potgieter,
  • ‘Tilly’ Smit,
  • ‘Ray’ Burgess,
  • ‘Johnny’ Kruger,
  • Wouter Hugo en
  • korporaal ‘Snakes’ Snyman.

Stafsersant R (Lionel) Slade vanaf 1 Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte (nou Thaba Tshwane) is as die mediese ordonnans ingebring om dr Klomp by te staan. [Dr Klomp het sy valskermkursus minder as twee jaar voor die ontplooiing en op die ouderdom van 33 jr voltooi.]

Die ontstaan van 1 Valskerm Bataljon het begin op 27 September 1960, toe 15 vrywilligers van die SAW na Brittanje gestuur is om as valskermspringers en valskerminstrukteurs, by die Abingdon ‘Royal Air Force’-basis, opgelei te word. Die kursus eindig op 15 Desember 1960 en die SA Leër se lede het die Britse Leër se vleuels ontvang en die lugmaglede die ‘Royal Air Force’ valskermvleuels.

Daar is begin om SAP-lede op te lei, waar hulle vroegoggend moes opstaan vir fiksheidstoetse. Nie een van die kursusgangers het ‘n idee gehad waaroor die kursus gaan nie. Daar was baie bespiegelinge oa dat hulle bek-en-klou-seer op Botswana grens moes gaan voorkom. Ander het bespiegel dat daar bek-en-klou-seer in die Kruger Wildtuin was en dat hulle diere daar van kant moes gaan maak. Ander bespiegelinge was dat Russiese duikbote by die Zoeloelandse kus voorgelê moes word.

Nota: Op dieselfde tydstip was die skrywer (Paul Els) deel van ‘n +-600 troepe mag van 5 SAI Bn, Ladysmith, in Julie 1966 op die strand van Richardsbaai, Zoeloeland, Natal se Noordkus, besig met maneuvers om die inval van vreemde magte vanaf die see te beoefen.

Die beplande opleiding was dat die SAP aanvalsmag opgelei sou word in kompasmars, om die vyandelike basis te voet te bereik en daarna aan te val. Die afstand wat hulle sou loop was so 35-40km. Die groot troppe olifante en plaaslike bevolking sou ‘n probleem wees en toe is besluit dat die basis aangeval moet word met voertuie.

Drie Bedford-trokke word toe voorberei, grys geverf en die woorde ‘Pasco Civil Engineering’ word op die deure geverf. Aan die agterkant van die trokke is vals houtpanele aangebring, wat soos kratte lyk, soos die van meubelvervoertrokke. Dit het die indruk geskep dat die voertuie volgepak is. Voor in die trokke was lugverkoelers. Die dekkingstorie sou wees dat daar ‘n pad gebou moes word in die gebied waar die terroristebasis geleë is en die SWAPO-lede wat in die basis teenwoordig is, dan uit te nooi om as arbeiders te kom werk. Indien hulle belangstel sou hulle die voertuie moes af laai. Op dié wyse sou hulle binne en op die vragmotors gelok word waarna hulle dan gearresteer kon word. ‘n Moderne soort meganiese Trojaanse perd! Die omgekeerde taktiek was egter in die vooruitsig gestel, ipv om soldate in te smokkel moes die ‘perd’ prisoniers vang!

Die plan was geoefen maar laat vaar toe daar besluit is om die basis aan te val. Die opleiding is weer verander en daar is toe finaal besluit op ‘n luglandingsoperasie. Almal moes leer om teen 20mm dik toue vanuit helikopters af te gly (daar is gesê dit is ‘absailing’, maar dit was nie).

'n Foto wat buite, helikopter, vervoer, gras bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

SAP Alouette. (Foto: Francois Gunter).

Op 5 Augustus 1966 word drie Alouette III (34, 38 & 67) van 17 Eskader, B vlug, na Pretoria versend vir voorbereidings vir ‘n toekomstige operasie en is gevolg deur nog ‘n Alouette III (no 66) op 22 Augustus 1966. (Bosman)

Aanvanklik is die SA Polisiekollege se gimnasium gebruik, aangesien hulle daar toue gehad het wat van hoë dakbalke gehang het. Later is die helikopters en toue by Zwartkop Lugmagbasis gebruik, in die een hoek van die lughawe naby die bekende ‘Snake Valley’ gedeelte, wat afgesonder was vir die publiek. Die opleiding het op 17 Augustus 1966 by 17 Eskader, A-vlug, begin met toetse om troepe, deur middel van ‘n tou, vinnig uit ‘n Alouette neer te laat terwyl daar oor bosse stilgehang word. Die dik tou het ‘n knoop elke paar sentimeters gehad het. Die vlieëniers moes self die toue in die Alouette terugtrek voordat hulle vorentoe kon vlieg. Dit was baie moeiliker as wat verwag is, die prosedure het ‘n paar skouspelagtige “stilhang vlugte” tot gevolg gehad.

Met die terugtrek van die tou het lt J Cloete, die vlieënier, tydens een van die oefeninge amper sy helikopter afgeskryf, gelukkig kon hy die ongeluk as ervare vlieënier voorkom.

Tydens een van hierdie oefensessies toe sers Desmond Welthagen (SAP) die laaste man uit is, het die vlieënier vergeet om Welthagen se gewig te kompenseer en het die helikopter wild begin kantel, en toe die vlieënier die vliegtuig weer gelykstel, verloor Welthagen sy handgreep op die tou en begin val. Terwyl hy val, gryp hy weer na die tou en gly grond toe. In die proses stroop hy die velle van sy hande af, in sommige plekke tot aan die been.

Hy land op die beton en sy horlosieband breek op drie plekke in die proses. Hy het sy rug ook beseer en is onmiddellik per ambulans na die polisiekollege-hospitaal vir behandeling geneem. Vanweë die beserings aan sy hande is hy aangesê dat hy nie aan die operasie sou kon deelneem nie. ‘n Dag of twee later ontvang hy besoek van ‘n SAW-sersant wat die SAP-lede in boskuns (veldkuns) onderrig het. Dié man sê dat hy sal die hande gou-gou met ‘n ‘bos medisyne’ tegniek genees deur oorryp tamaties uit te druk en die hande daarin te week. Die volgende dag het die hande begin beter lyk en Engels het later Welthagen se hande geïnspekteer en hom fiks vir operasionele diens verklaar.

Die neerlating per tou vir die operasie is toe gestaak en verdere opleiding is gedoen hoe om uit ‘n Alouette te spring. Die oefeninge het tot die 22ste plaasgevind. Uit die oorspronklike 130 SAP manne is daar net 35 manne gekies om as aanvalsmag te dien. (Dit sluit nie die offisiere en SWA-lede in nie).

Op Dinsdag 23 Augustus is almal volledig ingelig waaroor al die opleiding gegaan het en nie een van die lede het geweet waar Ongulambashe in Ovamboland is nie. (Moontlik het die meeste van hulle nie eers geweet waar Ovamboland is nie). Die volgende dag is lede afgegee om families wat in Pretoria omtrek woonagtig is, te gaan besoek. Natuurlik is die lede deur die familie ondervra waarheen hulle op pad was. So het konstabel Johan Visagè sy Pa verwittig dat hy op ‘n geheime sending gaan en dat hulle teen die einde van die naweek sal weet waaroor dit gaan. Min het hy geweet dat hy in die kol was met sy voorspelling.

Tydens die hele opleidingsfase by Elandsfontein is die Weermaglede gereeld deur Renfree op hoogte gehou van die jongste verwikkeling in Ovamboland. Hulle was dus bewus van wat aangaan. Die SAP-lede op die kursus is nie ingelig nie, omdat daar nog nie besluit is watter lede ‘bos’ toe sou gaan nie. Die opleiding het tussen 11 en 15 Augustus plaasgevind. Intussen is die manne ook ander dinge geleer bv om die A60 radio’s te gebruik.

Op 23 Augustus word al die vlieëniers oppervlakkig deur Blaauw ingelig dat hulle ‘n kamp oor 3 dae gaan aanval. Eerste vraag wat aan Blaauw gevra was, is of die vyande enige lugafweer wapens besit. Die aand is al die Alouette gelaai vir die vertrek die volgende dag. Blaauw het dadelik na die vergadering na Windhoek vertrek.

SAAMTREK VAN AANVALSMAG

Op 24 Augustus vertrek 6 Alouette III’s met bemanning, per C130 Hercules, na Rooikop (die lughawe by Walvisbaai). Hier word die helikopters dadelik hermonteer en toetsvlugte word onderneem ten einde 25 Augustus na Ruacana te vertrek. Op pad word te Kamanjab (daar is ‘n grond vliegveld by Kamanjab) herbunker waar nog twee Alouette van Beneke en Van Buuren, by die groep aansluit via Omaruru vanaf Windhoek. Maj WHJF Paetzold, GS02 SWA Kommandement (later genl-maj), is in een van die helikopters om ook by die groep aan te sluit. Blaauw het vooruit gevlieg met ‘n Cessna 310 van die SAP, wat hy self gevlieg het.

Die agt helikopters vlieg met ‘n ompad na Ruacana, om die operasionele gebied te vermy. Hulle het in ‘n los formasie, so ver as moontlik van mekaar af gevlieg, sodat niemand sou kon aflei dat hulle op pad was om ‘n operasie te gaan uitvoer nie. Die vlugplan was vanaf Kamanjab, was wes van Kaokoveld se berge, langs Marienfluss, tot Kunene, toe oos tot by Ruacana.

Op pad het Maj Loubser en Stacey tot bo-op die Brandberg gevlieg waar Loubscher vir Stacy ‘n vliegtuig gewys het, wat jare tevore probeer het om daar bo-op te land maar ‘n ‘bietjie kortgekom het’. Die vlieënier het egter ongedeerd daarvan afgekom. Die Konigstein, wat op die berg is, is ook die hoogste punt van die hele SWA.

Naby die wrak merk hulle ‘n volstruisnes op, wat vol eiers is en hulle besluit om van die eiers te kaap. Loubser het naby die afgrond geland en toe merk hulle die wyfievolstruis op naby die nes. Stacey vra toe dat die helikopters op volle gereedheid geplaas sodat hy maklik kon ontsnap, terwyl hy met ‘n spoed na die nes toe is en het toe daarin geslaag om vier van die witste eiers, wat in die middel van die nes was, te gryp. Die ander was almal donker en vermoedelik vrot. Hy het die helikopter, met sy vrag, veilig bereik. Die eiers het later baie handig te pas gekom. (Stacey)

Op 25 Augustus 1966 om 09h10 uur het drie C130’s, veiligheidsmagslede, toerusting, wapens en drie 4 x 4 drie ton Bedford-trokke van die SAW, wat soos siviele voertuie vermom is met PASCO daarop geverf, vanaf Pretoria gevlieg en toe om ongeveer 14h00 op Ruacana geland. Die drie vragvliegtuie het weer dadelik, nadat die vrag afgelaai is, na Rooikoplughawe te Walvisbaai vertrek. Walvisbaai was destyds in die Kaapprovinsie en dit was nie in stryd met die mandaat om daar te oornag nie. Die C130’s se vlieëniers was

  • G C H Freeman,
  • A L Jones en
  • J Z Eloff.

Vir meeste van die jong konstabels was dit vir hulle verbasend om te sien dat ‘n vrag vliegtuig ‘n Bedford trok, ‘n watertenk op wiele en lede met uitrusting kan dra, en van hulle seker hul eerste vlug per vliegtuig. Die Pasco-groep was reeds by die lughawe.

“EENDRAG MAAK MIELIEPAP”

Die helikopters arriveer by Ruacana, om 16h00. Die uitrusting in die helikopters word toe afgelaai en die helikopters is deur die tegniese span nagesien. Die helikopters wat nie polisiekentekens gehad het nie is toe aangebring. In die middel van die polisiekenteken van een van die helikopters, waar daar in fynskrif moes staan ‘Eendrag maak Mag’, het daar geskryf gestaan ‘Eendrag maak Mieliepap’. Die tegniese span het maar seker so ‘n bietjie humor ingewerk. Die manne het dit wel amusant gevind en lekker daaroor gelag.

Om 17:30 25 Augustus het alle lede van die aanvalsmag finale opdragte ontvang en is die indelings gedoen. Visagè was ingedeel as kapt Jan Breytenbach se radioman en hy het vir Visagè opdrag gegee om by hom tydens die hele operasie te bly. So ook is kpl Snakes Snyman (SAW) as lyfwag aan kol Dillon toegesê en konst Zowitsky is die radioman wat vermoedelik verantwoordelik was vir die deur gee van boodskappe na die voorspan vir verdere uitsending na Pretoria.

Nota: Volgens onderhoude is bepaal dat die finale aanvalsplan deur Breytenbach uitgelê is.

Hier het Dillon die opdrag gegee dat daar wetmatiglik opgetree sou word nl dat daar nie onmiddellik op die vryheidsvegters geskiet sal word nie. (Die bekamping van die aanslag was toe nog hof-gerig.) Hulle moes eers op die gebruiklike wyse itv die strafproseswet gewaarsku word dat hulle gearresteer sou word. Breytenbach was glad nie met die bevel geneë nie en uit ondervinding geweet dat dit, tydens sulke aanvalle, nie uitvoerbaar is nie. Dillon het die bevel uitgereik, volgens die opdrag wat hy van die SAP Hoofkantoor ontvang het en dit duidelik gestel dat almal die opdrag sou uitvoer.

Onder die aanvalsmag lede was ene Adjudant-Offisier ‘Lang Ben’ Badenhorst vanaf SAP Johannesburg. Hy het die ‘ratpacks’ beheer. Viktor het hierdie tyd al ‘n baard gedra en toe die bruin gebrande ‘baardman’ op Badenhorst skree dat hy ook ‘n ‘ratpack’ wil hê, het hy nie besef wie die bebaarde man is nie. Maar toe hy eers vir Viktor herken, is Viktor sommer twee pakkies gegee. Dit was ‘n heerlike afwisseling van springbokvleis, pap, rys en aartappels-twee maal ‘n dag. (Viktor)

RESERWEMAG (VOORSPAN)

Om 18:15 is die SAP se reserwemag van negentien lede, [wat die radio-seksie (twee man) en die mediese-seksie (drie man) ingesluit het], onder bevel van AO Labuschagne met twee Bedford vragmotors en van PASCO Willy’s Jeeps deur maj Engels aangesê om na Ongulambashe te beweeg en hulself dan 18 km oos van die basis te versteek.

Hierdie was ‘n hoë prioriteit sending. Die seksie sou naby die terroriste se kamp wees waar hulle vir direkte uitsendings oor die aanval na Pretoria verantwoordelik sou wees.

Omdat militêre radio’s nie juis van die beste vir dié tipe operasie was nie, is die spesiale nie-militêre radio deur sers G Norval van die Lugmag, beman, wat meer effektief was en hy het geweet wat hy doen. Die tweede radioman was kapt Viktor. Hy is vir ‘n burgerlike aangesien – vanweë sy baard en klere wat hy aangehad het. Dit was sy taak om die radio-operateur te ondersteun en alle verslae na die SAP HK in Pretoria deur te stuur, wat die berigte weer na die parlement in Kaapstad sou herlei. Omdat daar nie kaarte van die gebied was nie, is die groep met Viktor as gids, na hul aangewese bestemming.

By die tydelike basis is daar stelling ingeneem en deur die nag is bewegings gehoor wat die groep, vir ‘n moontlike aanval, op hul hoede geplaas het. Daar is saggies gefluister tydens kommunikasie tussen die basis, die aanvalsmag en Pretoria.

By die lughawe het die aanvalsmag vir die nag gereed gemaak. Omdat die SALM-personeel verwittig is dat hulle net een aand daar sou deur bring, het niemand daaraan gedink om warm klere saam te bring nie. Daar is vergeet dat die nagte baie koud word. Van die manne het toe ‘n wye, vlak sloot gegrawe waarin hulle die aand kole gegooi het en weer toegemaak is. Toe almal gaan slaap het was dit lepel lê – dit was lekker maar die bo-deel het nog steeds koud gekry. Daar was ook maar min geslaap in afwagting vir die aanval. (Stacey)

Die vliegveld, nog onder konstruksie, het bestaan uit ‘n aanloopbaan van grond en daar was geen geboue nie en nog minder bewoners in die omgewing. Daar was ‘n hut of twee wat deur die bosgod gebruik is, wanneer hy die gebied besoek het.

AANVALSMAG STERKTE

Die aanvalsmag het uit die volgende bestaan:

  • vier SAP Offisiere (drie offisiere van die uniformtak en ‘n lid van die veiligheidstak),
  • nege onder-offisiere (waarvan een ook ‘n lid van die veiligheidstak was) en
  • 17 ander range.

Daarbenewens is

  • vier Leër-offisiere waarvan een ‘n geneesheer,
  • twee valskerm-offisiere
  • een inligtingsoffisier en
  • vier onder-offisiere, tot die aanvalsmag toegevoeg.

Agt lugmagoffisiere het die helikopters beman en Blaauw van die SALM, was verantwoordelik vir die lugmagpersoneel en uitrusting.

‘Die Majoor’ was die 48ste lid. (Hy was die geheime bron van die Rooi-Rus).

Om maksimum troepe (vyf per helikopter) te kon dra, is besluit dat geen boordtegnici gedra sou word nie. Hulle sou by Ruacana bly as bystand-personeel, vir enige noodgeval.

Nota: In die operasionele sentrum van Bevelvoerende Generaal Gesamentlike Gevegsmagte (BGGGM), te Leër HK, is ‘n radio ingerig, sodat die operasie gevolg kon word, deur te luister na die radio gesprekke wat plaasvind.

AANVAL OP ONGULUMBASHE

Met majoor TJ “Rooi-Rus” Swanepoel as aanvalsleier, vertrek die gevegspan op 26 Augustus 1966 om 06:45 vanaf Ruacana in die aanvalsleier se helikopter (SAP 14) na die terroriste se opleidingskamp. Blaauw was lugbeheer, Paetzold was waarnemer, konstabel Holiday was fotograaf en ‘die Majoor’ was die gids met Loubser as die Vlieënier, in die aanvalshelikopter.

Daar was ses manne in elk van die agt helikopters met inbegrip van die vlieënier. Die aanvalsmag was onder die algehele bevel van kol Dillon, as missieleier.

Die aanvalsleier/lugbeheer en grypspan het voor gevlieg en daarna het drie helikopters met die veespanne onder bevel van Breytenbach gevolg, terwyl die stuitspan in drie helikopters die agterhoede, onder bevel van Engels, gevorm het. Al die SAP-lede was in donker siviele klere geklee en die SAW-lede het Rhodesiese of Portugese uniforms gedra, wat hulle op hul eie manier gekamoefleer het, deur met spons in Jik te druk en daarna op die uniform kolle te druk. Tot nog toe was kamoefleeruniform in die SAP nie nodig nie. Elke lid het ‘n skouer knapsak en ‘n waterbottel gedra. Kol Dillon was in die veespan helikopters.

VLUGPLAN

Die helikopters vlieg toe eers na die kaplyn, net oos van baken 3 en toe vlieg hulle vir ongeveer 15km in linie agtermekaar in ‘n oostelike rigting al met die grens/kaplyn tot waar die kanaal begin. (Oos van baken 5). Toe volg hulle die kanaal deur suid-oos te vlieg vir ongeveer ses km tot waar ‘n pad en bruggie die kanaal kruis. Vandaar vir ongeveer 20km vlieg hulle suid-suid-oos al met die pad wat later ‘n voetpad word. Toe die voetpad later verdwyn word daar toe staat gemaak op ‘die Majoor’ se instink en hy sorg dat hulle regoor die terroristebasis vlieg terwyl die terroriste wild rondskarrel (dit was ongeveer ‘n afstand van 15km). Die rede hoekom so gevlieg is, is omdat daar nog nie kaarte van die omgewing vir die vlieëniers beskikbaar was nie.

Blaauw, die missieleier, het ‘n rooi Verey-patroon regoor die basis afgeskiet waarop die sewe helikopters hul troepe op landingsplekke naaste aan hulle aangewese posisies aflaai, in ‘n sirkel om die basis. Terselfdertyd is die stuitseksie onder bevel van Engels 360 meter suid van die kamp neergelaat. Terwyl die vee- en stuitseksies op die basis afgemarsjeer het, het Blaauw oor die basis bly sirkel.

Toe die eerste helikopters bo die kamp arriveer is daar op hom geskiet terwyl die aanvalsmag op die grond ontplooi het. Die geweervuur op die helikopters het die begin van die 23-jaar stryd/bosoorlog in SWA ingelui. ‘n Kordon van ongeveer 400 meter is om die kamp ontplooi en die seksies van die aanvalsmag was gedurig met mekaar per radio in verbinding. Hewige vuur is na die helikopters gerig en die enigste skade wat aangerig was, is dat een rotorlem van ‘n helikopter effens beskadig is. Deur die skietery op die aanvalsmag het die terroriste hul posisie weggegee en wonder bo wonder, met al die vuur, was daar geen meer skade aan die helikopters aangerig nie.

Die kordon is deur die SAP ontplooi en die drie veespanne, wat deur sewe van die valskermsoldate uitgemaak is en aangevul is deur SAP-lede, is aan die weste kant van die basis neergelaat. Aan die linkerkant was Breytenbach in beheer en regs Lt Van der Waals, met die nodige manne. Die helikopters het onmiddellik van die reserwemag-lede gaan optel.

Kol Dillon het aangedring dat hy die derde seksie beheer, hy was in die middel van die twee ander seksies.

Onwetend is hulle neergelaat met die verdedigingsloot agter hulle. ‘Die Majoor’ het versuim om die verdedegingsloot uit te wys of die SAP(V) daarvan te sê. Indien die verdedegingsloot beman was, sou hulle die lede van agter uitgewis het. Hier het lede van die reserwemag by hulle aangesluit, wat deur die helikopters opgetel is. Hugo het by Breytenbach se groep aangesluit.

Om die moreel van sy manskappe te bou, het Dillon besluit om homself aan die hoof van sy veeseksie aan te stel. Breytenbach en Van der Waals het hom afgeraai om sy helikopter te verlaat. Desnieteenstaande spring hy toe uit die helikopter dit was veel hoër as wat dit gelyk het en hy het hard met die grond kennis gemaak. Dit moet onthou word dat Dillon nie opleiding gekry het om uit die helikopters te spring nie. Hierdie stap van Dillon het heelwat inisiële wanorde veroorsaak. Snyman, wat aangestel was om Dillon te beskerm, moes noodgedwonge ook uit die Alouette spring en hy het ook hard met die aarde kennis gemaak. Hy het ‘n Bren-masjiengeweer gedra met twaalf magasyne. Hy sak op sy knieë neer toe die gewig hom grond toe ruk en gelukkig het hy weggerol. (Tipies die aksie van ‘n valskermspringer). Hy het sy wind uitgeval, maar hy het dadelik reggekom; met die hardste wat hy nog ooit geval het! Tyd om te bepaal of hy seergekry het was daar nie en hy storm agter Dillon aan, wat al so vyftien tree voor hom in ‘n voetpaadjie hardloop, met ‘n wapen in die hand.

EERSTE SLAGOFFR

Skielik fluit daar patrone tussen Snyman en Dillon deur. Snyman skree na die kolonel: “Hulle skiet op ons, Kolonel,” maar Dillon hoor niks tussen die lawaai van geweervuur, helikopters se motore en die geskree van die manne nie. Toe Snyman links kyk, sien hy ‘n stomp so dertig meter van hom, waaronder Agapepe Ipangelwa met sy PPSH na hulle vuur. Hy swaai sy wapen in die rigting en vuur ‘n sarsie skote voor die stomp – uit die heup, maar Agapepe vuur nog steeds en Snyman lig sy wapen effens en tref Agapepe noodlottig. Die een koeël is deur sy een oog en die helfte van sy kop agter was weggeskiet. Snyman storm verder om by Dillon aan te sluit, maar toe hy deur die bosse breek hoor hy net ‘n geskree en wanorde het daarna geheers. Die lawaai van die helikoptermotore en geweerskote, was oorverdowend en tog het die manne geskree dat hulle SAP-lede was en maar gehoop dat die vryheidsvegters hulle sou kon hoor deur al die lawaai. Dit was te betwyfel of iemand iets in die lawaai kon gehoor het. Met Dillon op die grond, moes Breytenbach noodgedwonge beheer oorneem.

EERSTE ARRESTASIE

Toe Breytenbach uit sy helikopter spring het Potgieter hom gevolg en ook hard met die aarde kennis gemaak en sy wind uitgeval. Gelukkig rol hy weg, anders sou Visagè bo op hom gespring het. Visagè, was Breytenbach se radioman en het ‘n A60 radio, gedra. Met sy uitspring het Visagè agter Breytenbach aangehardloop om by hom te bly. Daar is toe op hulle geskiet en die blare het op hulle geval. Toe Visagè om ‘n ruigte hardloop, loop hy hom vas teen een van die vryheidsvegters met ‘n wit hemp aan, wat hy met die aankom oor die basis uit die helikopter gewaar het. Die het toe ‘n geweer met ‘n drommagasyn by hom gehad. Wie die grootste geskrik het, sal niemand weet nie, maar die vryheidsvegter het toe nie sy wapen by hom gehad nie en kon hy sonder probleme deur Visagé gearresteer word. Daar is dadelik op sy spoor terug gehardloop en die wapen is in ‘n mik van ‘n boom gekry. Visagé se arrestasie is die eerste wat gedoen is, tydens ‘n aanval.

Met Dillon en al die ander, op die grond het Blaauw beheer oor die helikopters geneem en hulle in ‘n sterstraal soektog ontplooi. Die het hy ook aan Pretoria, per radio oorgedra.

Breytenbach het Dillon aangeraai dat dit beter sou wees as hy weer in die lug is en daar is vir hom plek ingeruim in die helikopter met die vangspan, waarna hy beter beheer oor alle operasionele seksies kon uitoefen. Snyman is op die grond gelos en is by die ander lede ingedeel. Lug-tot-lug en lug-tot-grond radioverbindings was egter op dieselfde frekwensies en dit tesame met die feit dat sommige seksies nie radiokontak behou het nie, het samewerking bemoeilik.

VERWARRING

Die helikopters se aanwesigheid het aanvanklik verwarring in die vyandelike kamp veroorsaak. Die klank van die helikopters kon seker al 4 +- minute al gehoor gewees het voordat die basis bereik het. Die aanval uit die lug was onverwags – daar is nie daarvoor beplan nie. Johnny Otto Nankudhu het ‘n bevel geskree dat almal wapens moet gryp en skuiling soek. Toe het die vryheidsvegters in alle windrigtings laat spaander, want hulle was geleer om tydens ‘n lugaanval skuiling te soek en om dan hul geleentheid af te wag om deur die vyandelike kordon te breek.

NOG SKOTE

James Hamowayo, die man wat die Portugese winkelier doodgeskiet het, het met ‘n masjiengeweer op die SAP losgebrand. Swanepoel het ‘n klompie waarskuwingskote oor hom geskiet waarna Hamowayo sy submasjiengeweer in die bos gooi en ‘n pistool uitgepluk het. Nadat hy eers na ‘n helikopter gemik het, het lede van die vangseksie in die helikopter enkele skote op James Hamowayo met FN-gewere geskiet om hom te waarsku. Met dié het hy die pistool na Swanepoel gedraai, en begin skiet. Blaauw skree aan Swanepoel om vir die bene te mik. Swanepoel het op hom losgebrand uit die helikopter met sy handmasjienkarabyn en hy is getref met twee patrone deur die bors. Die vangseksie het geland en Hamowayo ontwapen. Hy was ernstig gewond aangesien twee skote hom in die bors getref het. Sy eerste woorde aan die manne wat by hom aankom is: “I am SWAPO and I will not talk,” asook “I know I am going to die for my Country.” Die woorde het hy aanhoudend herhaal.

In die ooste weer het Ferreira en sy manne vorentoe beweeg en hy het toe ‘n verdagte onder ‘n bossie sien wegkruip. Die vryheidsvegter is beveel om uit te kom, en daar is ‘n submasjiengeweer en ‘n pistool gekry waar hy weggekruip het. Die vryheidsvegter, Julius Israel Shilongo is toe deur Ferreira gearresteer.

Vanuit die lugbeheerhelikopter het Blaauw ‘n voortvlugtige ten noorde van die basis en buite die kordon gewaar. ‘n Vangseksie is neergelaat en met behulp van Breytenbach se veeseksie is die voortvlugtende in ‘n hoek gedryf en gearresteer nadat hy op die vangseksie geskiet het. In die stadium het Blaauw ook uitgrawings buite die kordon gewaar. Die boswêreld, ofskoon redelik yl vanuit die lug gesien, het ernstige observasie probleme op die grond veroorsaak. Daarby het gras tot heuphoogte gegroei. Tussen plantegroei en erdvarkgate het ‘n moeilike soektog (met te min manne) gevolg, wat ook nie daarin kon slaag om die geweer wat Hamowayo neergegooi het, op te spoor nie.

Dillon het met sy helikopter verder weg van die basis gevlieg en op drie verskillende plekke in die digte bosse ‘n handgranaat gegooi. Dit was gevaarlik, want die het in die lug ontplof, nog voordat dit die bosse bereik het en gelukkig het geen skrapnel die helikopters getref nie. (Die lont tydperk van handgranate was toe 3 sekondes) (Snyman)

Cloete, een van die vlieëniers, merk drie manne onder ‘n boom staan. Hy besluit om naby te land en hulle te ondervra. Toe hy poog om te land ongeveer 15 meters van hulle, begin een van hulle op die helikopter skiet. Cloete styg op en volg die wat weghardloop in ‘n noordwestelike rigting. Drie seksies is opgelaai om hulle aan te keer. Die vryheidsvegters het met masjiengewere op die helikopters geskiet waartydens een, Kaingi, deur Smit en Van Dam doodgeskiet is, wat gelyktydig op hom geskiet het. Ndjaula Shaningwa het verskeie pyle na die helikopters geskiet. Later is gevind dat die pylpunte ‘n dodelik gif bevat het.

Twee helikopters word toe na die tydelike basis (TB) gestuur om lede van die TB-seksie en houers toerusting op te laai. Klomp, die sjirurg, wat aan boord van een van die helikopters was, is ingevlieg na ‘n veilige plek oos van die basis, waar alles afgelaai is.

PARLEMENT

‘n Casavac-punt (afvoerpunt van verliese) is opgerig waar die groep afgelaai is. Welthagen, asook die vlieënier, Klomp en Slade maak ‘n klein area skoon en wag op verdere bevele. So ook moes Viktor na die basis gaan om uit te vind wat aangaan, want die radioverbinding vanaf die TB na die basis was nie goed nie. Sy opdrag was dat hy ‘n deurlopende verslag aan Pretoria moes doen, van wat aangaan. Met sy aankoms in die basis loop hy hom vas teen Dillon en diè merk op dat Viktor geen wapens dra nie. Met sy haastigheid om by die basis uit te kom het Viktor vergeet om sy HMK te gryp en die voorval het daarna vir jare op ‘n gespottery uitgeloop. Daar kon Viktor die nodige informasie bekom om vir Dillon te gee, wat toe direk gepraat het na die parlement in Kaapstad.

Hierna het Dillon sy manskappe op die grond in soekgeselskappe georganiseer, nadat hy gesien het die aanval oor was.

Meeste van die seksies is weer opgelaai en elders afgelaai om as moontlike stoppergroepe op te tree. Later daardie oggend gaan Welthagen na die terroriste kamp om die offisier-in-bevel te wys in watter rigting die casavac punt geleë is. By die gevegslyn wat gevorm was, is hy ingedeel in die veelyn om die gebied te vee vir agtergeblewenes. Daar was nog ‘n bietjie kleingeweervuur en toe is alles verby. Engels sluit later by die groep aan en sê Welthagen aan om een van die manne te vat en na die casavac punt terug te keer om ‘n verdedigende rol daar te speel, daar hulle ‘n tekort aan mannekrag gehad en hy ‘n teenaanval gevrees het.

Daar is ‘n paar PB’s in die direkte omgewing ook gearresteer, omdat hulle jaggewere in hul besit gehad het. Hulle is later vrygelaat toe daar vasgestel is dat die PB’s die wapens wettig besit, ten einde hulself teen wildediere te verdedig.

MAY DAY

‘n ‘Noodgeval’ vir die lede by Ruacana het gekom toe Cloete met sy helikopter met ‘n spoed daar aankom en versoek dat die helikopters deurgesoek word vir enige koeëlgate. Daar was op sy helikopter geskiet en tydens die skietery hy het “May day” oor sy radio geskree. Dit is seker die eerste keer dat iemand van die SALM die woorde “May day” gebruik het. Na ‘n deeglike ondersoek is geen gate gekry nie en is sy helikopter brandstof hervul waarna hy terug na die basis is. (Stacey)

Een van die helikopters se motore het gaan staan en Brits is van Ruacana af gaan haal om die nodige herstel werk te doen. ‘n Nuwe battery is ook ingevlieg.

ONGEVALLE

Die twee lyke is deur die SAW-lede na die vergaderpunt gedra. Die gevangenes is ondervra en die gewonde is deur Klomp en Slade verpleeg.

Die mediese span het wonderwerke verrig en uiteindelik die swaar gewonde vryheidsvegter se lewe gered. Ten einde binneaarse behandeling toe te dien, kon Klomp nie ‘n aar op die gewonde kry nie. Uiteindelik het hy ‘n aar op die man se voet gekry.

Die helikopters het weer na Ruacana vir herbunkering teruggevlieg. In opdrag van Engels word die gewonde onder Welthagen se sorg geplaas en hy vergesel die twee lyke en pasiënt na Ruacana. Die twee lyke is deur Brits op Wesley se helikopter gelaai.

Verder gee Engels opdrag dat geen bespreking aangaande die operasie, of enige inligting oor die gevangenes, onder geen omstandighede uitgelap mag word nie. By hul terugkeer was die grootste probleem vir die vlieëniers van die helikopters om weer die Ongulambashe-basis te vind.

KAARTLOOS

By Ruacana aangekom is daar opdrag gegee dat die gewonde gevangenes na Windhoek afgevoer moet word. Op daardie tydstip het die lugmag se kaarte nie Oshakati daarop aangedui nie. Die vlieëniers van die C130’s was nie bereid om “blind” rond te vlieg om te soek na Oshakati nie. Met die landing by Eros lughawe is die groep deur senior offisiere van die veiligheidspolisie ingewag, wat onmiddellik navrae by Welthagen oor die operasie gedoen het. Hulle wou oa hoor wat gebeur het en hoeveel vryheidsvegters gewond en gedood is. Met streng opdrag van Engels is geen inligting verskaf nie.

JAMES HAMOWAYO

James Hamowayo is na Windhoek hospitaal en toe later na ‘n hospitaal in Pretoria waar hy herstel het. Hy het homself later opgehang in die Pretoria gevangenis. Die medici by Windhoek hospitaal was verstom oor die manier hoe goed Hamowayo medies versorg is, en dit deur die mediese manne ter velde. Hulle was onbewus dat ‘n geneesheer die groep vergesel het.

ROOIKOP NA RUACANA

Welthagen en sy span is vanaf Eros na Rooikop buite Walvisbaai gevlieg waar hulle oornag het en is weer terug Ruacana toe. Die volgende dag, 27 Augustus, sluit hulle weer by die res aan en vlieg met 8 gevangenes terug Waterkloof toe.

Na alles verby is en die basis is deurgesoek het een van die helikopters bier vanaf Ruacana gebring vir die manne. Dit was maar bra warm bier gewees.

SNYMAN

Snyman is verwittig dat hy aangekla gaan word omdat hy die terroris geskiet het. Dit het hom vreeslik geskok. Hy het eenkant gaan sit. A/O Ben Badenhorst het na hom gekom en gesê; “Man, hulle kan jou niks doen nie, ek sal daarvoor sorg” en hom ‘n bier oorhandig. Dit het Snyman gerus gestel en by die res van sy manne aangesluit, waar meeste hom geluk gewens het vir die kopskoot wat hy geskiet het. Daar het toe niks van die saak gekom nie.

RUACANA

Met die vertrek van die aanvalsmag die oggend het die tegniese personeel en ander by Ruacana agter gebly. Met die beplanning van die hele operasie, is die belangrikste aspek uitgelos, naamlik kos vir die lugmagpersoneel. Die oggend is rondgeskarrel vir iets om te eet en gelukkig het Stacey daardie vier groot volstruis eiers gehad.

Hy het daar rondgevra en ‘n pot, drie uie en een tamatie versamel. Met groot gesukkel was die een eier oop gebreek in die pot, saam met opgeknapte uie en tamaties gemeng en op die altyd beskikbare vuur geplaas. Na ‘n lang en deeglike geroer, het hulle een ‘moeviese gescramblede eier’ gehad. 10 van hulle het aan die mengsel geëet, en kon dit nie klaarmaak nie. Dit het hulle honger gestil. (Stacey)

  • Dankie Paul Els!

'n Foto wat skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.