‘n Situasiekamer vir die Staatspresident: ‘n Persoonlike Belewenis

DIE STAATSPRESIDENT SE SITUASIEKAMER

Johan Mostert

Deel 1

Met die verslegting van die veiligheidsituasie in die land in 1984 het die aandrang van die veiligheidsmagte om ‘n noodtoestand af te kondig al sterker geword. Kort voor die einde van die jaar roep die direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensiediens (NI), dr. Niël Barnard, my in: “Maak jou reg om Kaap-toe te gaan. As ‘n noodtoestand afgekondig word moet jy ‘n situasiekamer vir die President in Tuynhuys van die grond af kry. Die president het gesê hy wil so iets hê.” Op daardie stadium was ek hoof van die afdeling in NI wat rewolusionêre organisasies analiseer het en terselfdertyd ook NI se tydelike verteenwoordiger by die Tak Nasionale Vertolking (TNV) van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR).

A person wearing a sweater and glasses

AI-generated content may be incorrect.

Johan Mostert

My eerste taak was om uit te vind wat presies ‘n situasiekamer vir ‘n staatshoof is. Ek doen navraag, maar niemand kan help nie. Ek formuleer dit vir myself soos volg:

• ‘n Situasiekamer is ‘n “vertoonkamer” vir inligting/intelligensie wat in ‘n oogopslag ‘n beeld bied van die stand van ‘n ontwikkelende veiligheidsituasie;

• ‘n Fasiliteit wat die intelligensie-/inligtingsvloei vanaf die bron na die President bespoedig (dit produseer nie self die intelligensie/inligting nie maar dien bloot as ‘n kanaal). Onder geen omstandighede mag ‘n situasiekamer selfstandig vertolking onderneem nie; en

• ‘n Kanaliseerder van Presidensiële versoeke. Die situasiekamer doen nie selfstandig insamelingswerk nie, maar wanneer ‘n versoek van die President ontvang word, is die situasiekamer in die beste posisie om te identifiseer watter departement of departemente die beste in staat sal wees om die inligting te voorsien.

‘n Situasiekamer moet nie verwar word met ‘n operasiekamer nie. ‘n Operasiekamer (opskamer) is ‘n plek vir operasionele beplanning en besluitneming en daarom is omvangryke inligtingsmateriaal daar beskikbaar waar besluitnemers besluite kan neem. Dit is ‘n plek van aksie; ‘n situasiekamer beslis nie.

My navorsing oor soortgelyke fasiliteite elders in die wêreld het min opgelewer. Die enigste voorbeeld wat ek kon kry, was die situasiekamer van die Amerikaanse president, en dié was nog maar in sy kinderskoene. Vandag is dit die senusentrum van besluitneming oor kritieke veiligheidsake. Dit is egter nie wat ek in gedagte gehad het nie. Ek het ook gekyk na die Britte, maar op daardie stadium het hulle nog nie oor ‘n situasiekamer beskik nie. Dit is eers heelwat later ingerig vlakby die kabinetskamer in Downingstraat 10. Dit was eers in die negentigerjare toe ek die geleentheid gehad het om dit te besoek.

Niemand kon my leiding gee oor presies hoe ‘n situasiekamer bedryf behoort te word nie. Ek besluit om meer uit te vind by kundige bestuurslui en raadpleeg twee hoogleraars in Bedryfsekonomie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. “Hoe behoort ‘n sentrum vir inligtingsteun aan die president in sy hoedanigheid as oorhoofse bestuurshoof van die land ingerig te word?” vra ek hulle. “Watter soort materiaal moet vertoon word? “ Hulle is stom van verbasing. Hoe is dit moontlik dat Suid-Afrika nie oor so ‘n fasiliteit beskik nie. Hulle onderneem om so gou as moontlik hulle voorstelle aan te stuur. Hoeveel jaar later en ek wag steeds.

So vertrek ek en my gesin in Januarie 1985 sak en pak Kaap-toe. Ons bly in Akasiapark, die verblyf vir Parlementslede en staatsamptenare van Pretoria wat vir die duur van die Parlementsitting diens doen by die Parlement. Akasiapark bestaan uit ‘n ou basis van die Weermag wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer. Ons wooneenheid was die destydse lykshuis van die basis en die mure was so dun dat jy elke woord van die bure in aangrensende vertrekke kon hoor. Daar was ‘n laerskool met ‘n Transvaalse leerplan in die “dorp” en die kinders en hulle honde het heerlik daar skool gegaan.

Ek word van NI na die SSVR gesekondeer. Ons kantore is in die HF Verwoerd-gebou, reg oorkant die ou Volksraad waar meeste staatsdepartemente se Parlementêre kantore gevestig is. Die Sekretaris van die Staatsveiligheidsraad was lt. genl. André van Deventer, ‘n veteraan van die bosoorlog en ‘n man met ‘n heerlike humorsin. Min het ek kon dink dat ek skaars vyf jaar later self as Sekretaris aangestel sou word.

Van meet af aan is ek deur Barnard en ander direkteurs-generaal die dood voor die oë gestel om onder geen omstandighede toe te laat dat die President die sitkamer as ‘n operasiekamer gebruik nie. Generaal Magnus Malan het my eendag spesiaal ontbied om my die leviete voor te lees en generaal Constand Viljoen het my in die gange voorgekeer om te verneem of ek die verskil tussen ‘n operasiekamer en ‘n sitkamer goed verstaan. Daar was ‘n algemene vrees dat die president verlei sou word om dit wat hy in die sitkamer hoor of sien te gebruik om besluite te neem en opdragte te begin uitdeel. Dit het beteken dat ‘n balans gevind moes word om hom gelukkig te hou met genoeg inligting, maar nie soveel dat hy sou begin om beheer te wil oorneem nie. Ek haas my onmiddellik om te sê dat in die lig van latere verwikkelinge PW die konsep goed verstaan het en nooit probeer het om die situasiekamer te misbruik nie. Maar reg in die begin het ‘n mens se broek maar gebewe oor dit wat verkeerd kon gaan. Ek was nie gewoond daaraan om op top vlak te opereer nie.

Met groot afwagting en senuwees wat knaag maak ek my reg vir my eerste onderhoud met “die Baas”. My afspraak was agtuur die oggend. Ek is in gietende reën uit Akasiapark weg. Net toe ek op die N1 wou indraai, vrek die Alfa Romeo. En dit reën. Wel wetende dat PW die reputasie het dat hy ‘n moeilike man is, spring ek pak klere en al uit die motor en probeer iemand voorkeer. Ek reën sopnat. ‘n Barmhartige Samaritaan stop. Sy is op pad Seepunt toe. “Juffrou”, sê ek, “Jy moet my maar glo, maar ek het ‘n afspraak met die Staatspresident in Tuynhuys. Dit is my eerste ontmoeting met hom. Ek kan nie laat wees nie.” Sy glimlag. “Goed, ek sal die draai ry.” Sy het darem nie tè onwillig gelyk nie maar tot vandag toe nog wonder ek of sy die storie geglo het van die ou wat voorgegee het dat hy ‘n afspraak het met die President van die land.

Die onderhoud (ek in my nat pak klere) was kort maar nie onvriendelik nie. Hy het net gesê hy is bly dat daar uiteindelik gehoor gegee word aan sy versoek en wens my alles van die beste toe.

Later praat ek met die sekretaris generaal in sy kantoor, Dr Jannie Roux, en vind geen entoesiasme vir ‘n sitkamer van sy kant nie. Dit versterk die indruk wat ek sedert my aankoms in Kaapstad gekry het; as dit van sommige politici en departementshoofde afhang, gaan PW Botha nie sy situasiekamer kry nie.

Roux deel my mee dat daar eenvoudig geen plek in Tuynhuys is om ‘n sitkamer in te rig nie. Hy wys my ‘n klein vertrekkie sonder vensters in die middel van Tuynhuys. “Dis al wat ek het”, sê hy. Vir my lyk dit na ‘n stoorkamer. As ek my arms uitstrek kon ek byna die mure in die breedte raak. Dit was ook nie veel langer nie.

Daar was geen ander keuse nie – ek moes dit maar aanvaar. Ek behou egter my kantoor in die Verwoerd-gebou. Geen mens sou dit ‘n dag lank in daardie vensterlose engte kon uithou nie.

Ek staan voor ‘n dilemma. Dit is vir my duidelik dat amptenare en sommige politici nie wil hê dat die sitkamer van die grond af moet kom nie, maar die President het gesê ‘n situasiekamer wil hy hê. Daar is egter niemand wat bereid is om vir PW trompop te sê dat hy dit nie gaan kry nie. Ek probeer kontak maak met die mense in die agentskappe en departemente wat inligting produseer en vra hulp, maar die gees van onwilligheid van hulle base het reeds deurgesyfer.

Ek sit in die middel van die wêreld. Wat nou? Stoksielalleen kan ek nie ‘n situasiekamer bedryf nie. Ek het inligting nodig en daar is nie ‘n manier waarop ek dit kan kry nie. Ek het reeds die President amptelik ontmoet en hom vertel ek is hier om sy situasiekamer op die been te kry. Moet ek nou terug gaan na hom toe en sê ek kry geen samewerking nie, of moet ek maar stilbly, oë toeknyp en kyk of die probleem homself gaan oplos? Na baie gewetenswroeging besluit ek op laasgenoemde. Om hom te vertel van wat aan die gebeur is sou net lei tot ‘n burokratiese storm van enorme proporsies, was my evaluasie. Dit het my darem gemoedsrus gegee dat Barnard met my saamgestem het. Ek hou dus my lyf skraal en sorg dat die President my nooit te siene kry om te vra hoe ek vorder nie.

Ondertussen was ek gelukkig om deur Van Deventer, wat volle begrip vir my dilemma getoon het, betrek te word by die werksaamhede van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR). Dit het my in staat gestel om staatsbestuur en die binnewerking van die veiligheidsgemeenskap op topvlak eerstehands te leer ken. Dit het my later, toe ek hoof van die Tak Nasionale Vertolking (TNV) word, baie handig te pas gekom. Ek het vergaderings van die Werkkomitee van die SVR, wat uit ‘n kerngroep direkteurs-generaal bestaan het, as ‘n staf-offisier van Van Deventer bygewoon asook talle ander interdepartementele komitees namens die Sekretariaat. Ek was ook gelukkig om blootgestel te word aan die werkinge van die Staatsveiligheidsraad as proefleser van die notules.

Dit was veral die werkgroep vir die opruiming van Kruispad wat my oë geopen het vir staatsbestuur in die praktyk. Kruispad was ‘n baie groot plakkerskamp naby die Kaapstadse lughawe. Daar het groot ellende geheers en opstande was ‘n alledaagse verskynsel. Hierdie besondere knelpunt was nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal prominent in die media kollig. Die werkgroep, onder voorsitterskap van die direkteur-generaal van Samewerking en Ontwikkeling, het planne beraam om Kruispad “op te ruim” deur eenvoudig alle plakkershuise van ‘n kant af met stootskrapers plat te stoot en die inwoners te verskuif na die nabygeleë Khayalitsha. Die beplanning het in die geheim geskied want die inwoners het net eenvoudig botweg geweier om te verskuif. Dit moes ten alle koste van die pers weerhou word. Maar die tafel was besig om gedek te word vir ‘n internasionale plofpunt.

Namate die beplanning gevorder het, het steeds meer stemme in die vergadering opgegaan teen die beoogde optrede. Van veiligheidskant het ons gewaarsku dat sulke optrede ‘n vonk in die kruitvat kon wees wat die revolusionêre klimaat die hoogte kon laat inskiet. Die voorsitter was egter vasbeslote. Die minister het opdrag gegee dat Kruispad opgeruim moes word en ons as amptenare moet opdragte uitvoer, en daarmee basta. Dit is nie vir amptenare om die besluite van die politici te bevraagteken nie.

Daar is heen en weer geredeneer, maar die voorsitter kon nie beweeg word nie. Daar is nie sprake van teruggaan na die minister om vir hom te sê die amptenare is van mening dat die risiko te groot is nie; ‘n amptenaar bevraagteken nie ‘n minister nie. Ondertussen het van die plaaslike en oorsese media begin agterkom wat aan die gang is. Namate D-dag naderkom en die stootskrapers en ander voertuie van Pretoria aankom om met die opruimingsaksie te begin, is die spanning aan die oplaai.

Ek was van oordeel dat dit op ‘n ramp afstuur. Maar die werkgroep stu voort. Uit frustrasie gaan praat ek met dr. Daan Prinsloo, ‘n adjunk-sekretaris-generaal in die Kantoor van die President. Hy was self reeds bekommerd oor die situasie en ons besluit dat ‘n plan gemaak móét word om die optrede te stuit. Ons was daarvan oortuig dat PW na rede sou luister en die meriete van die saak sou kon insien.

In sy biografie oor PW Botha, Stem uit die Wildernis, verwys Prinsloo soos volg na ons gesprek: “Reeds teen die middel van 1984 het ‘n senior lid van die Nasionale Intelligensiediens sy diepe kommer hieroor teenoor personeel in die Kantoor van die Staatspresident uitgespreek. Hy het versoek dat alles moontlik probeer moes word om die deurvoering van die ondeurdagte gedwonge verskuiwings te voorkom. Na sy mening sou dit ‘n bloedbad in die Kaap kon veroorsaak wat in die onrustige binnelandse klimaat ook na ander dele van die land kon uitkring.” (Prinsloo, 1997, p 269)

Prinsloo het daad by die woord gevoeg en met die president gaan praat. Opdrag is ter elfder-ure gegee dat alle optrede gestaak moes word.

Wat ek hier waargeneem het, was vir my ‘n leerskool in burokratiese politiek. Aan die een kant was daar die amptenare wat gedienstig opdragte van die politici uitgevoer het, en aan die ander kant daardie amptenare wat bereid was om krities te dink en hulle nie van stryk te laat bring deur politici nie.

Die volgende staaltjie moet teen die agtergrond van die tyd gesien word. Die amptenare van destyds was uiters hiërargies bewus. Senioriteit was belangrik en seniors is slegs in gevalle waar mense mekaar goed geken het op die voornaam aangespreek. Uiterlike respekbetoning soos opstaan wanneer ‘n senior ‘n kantoor binnekom of eerste te groet is van juniors verwag. Ministers en hulle adjunkte is deur baie amptenare as verhewe beskou en baie van die politici het dit ook verwag. Hulle moes volgens hulle status hanteer word. Dit dan die agtergrond tot hierdie episode.

Op ‘n dag sit ek in my kantoor in die HF Verwoerd-gebou toe Adjunk-minister Adriaan Vlok vervaard my kantoor binnestorm. “Kom saam. Ons vlieg Pretoria toe. Die Baas wil ‘n noodtoestand afkondig.” Ek het nie eens kans gehad om my goed by die huis te gaan haal nie. Ons is reguit lughawe toe. Nadat ons in die Polisie se straler tot rus gekom het, vertel Vlok my dat hy aangesê is om die gedeeltelike noodtoestand wat eersdaags afgekondig sou word, te bestuur. My taak was om te help om ‘n beplanningsvergadering vir die volgende oggend te help reël.

Die vergadering begin agtuur op die sewende vloer van die Polisie se hoofkantoor, Wachthuis. Al die hoogwaardigheidsbekleërs en hulle stawwe sit langs ‘n meters-lange tafel. Die adjunk minister sit in die middel met die hoofde van die Polisie, Intelligensie, en die Weermag neffens en oorkant hom. Soos te wagte, was daar baie en uiteenlopende menings en die debat hou aan en aan. So skuins voor middagete sien ek ‘n polisie generaal staan stadig op. Hy steek sy hande in die agtersakke van sy uniform en rustig bekyk hy die tafel op en af terwyl die gesprek rondom hom met drif voortgaan. Terwyl hy alles so rustig staan en betrag, vra die adjunk-minister “En nou generaal? Hoekom staan jy so?” Die generaal antwoord: “Minister, julle praat nou so baie k@k, ek net nie meer langer sit nie.” ‘n Lang stilte voordat daar gedemp gelag is. Dit was my eerste kennismaking met genl. Hennie de Wit wat later kommissaris van Polisie sou word.

Die gedeeltelike noodtoestand is op 21 Julie afgekondig. Teen daardie tyd het die regeringsaktiwiteite reeds Pretoria-toe begin skuif en was ek op pad terug NI-toe.

Die sitkamer het toe nooit gerealiseer nie, maar ek was baie dankbaar vir die blootstelling aan die regering-in-aksie.

Ek is terug NI toe

‘n Situasiekamer vir die Staatspresident

Deel 2

A coat of arms with animals

AI-generated content may be incorrect.

Die veiligheidsituasie in die land het ondertussen drasties versleg. Radikale teenkanting teen die status quo het ‘n hoogtepunt bereik. Op daardie stadium was ek een van NI se vaste verteenwoordigers by die TNV onder voorsitterskap van genl. maj. Tienie Groenewald.

Op Maandag, 2 Junie 1986, kry ek ‘n oproep van Barnard se sekretaresse, Irene. “Klim op die eerste vliegtuig Kaap-toe”, sê sy. Ek het nie ‘n idee waaroor dit kan gaan nie. Ek is vinnig huis-toe en vir die wis en die onwis pak ek klere in vir drie dae. Ek groet my vrou – min wetende dat ek haar eers oor drie maande weer sou sien.

In die Kaap aangekom is ek na Barnard se kantoor. “Daar gaan volgende week ‘n nasionale noodtoestand afgekondig word. Jy moet dringend ‘n situasiekamer vir die President inrig. En hierdie keer móét dit werk,” het hy gesê. Barnard was van meet af aan ondersteunend en het deurgaans alle hulp verleen wat nodig was. Hy het ‘n baie goeie begrip gehad vir die burokratiese politiek van die dag.

Ondertussen is ‘n nuwe Sekretaris van die SVR, lt. genl. PW van der Westhuizen, in die plek van Van Deventer aangestel. Die sitkamer sou onder hom ressorteer en hy was gretig dat dit ‘n sukses moet wees.

Ek het inderwaarheid twee base gehad, Barnard en Van der Westhuizen. Formeel het ek aan Van der Westhuizen gerapporteer (ek was soontoe gesekondeer) vir die bedryf van die sitkamer, maar vir die inhoud van die intelligensie wat aan die President oorgedra is, was ek aan Barnard verantwoordelik. Die sitkamer was per slot van sake ‘n verlengstuk van die intelligensiegemeenskap soos verteenwoordig deur die Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK), waarvan Barnard die voorsitter was.

Ek is die dag nadat ek in die Kaap aangekom het na Jannie Roux se kantoor. Hierdie keer was dit ‘n ander storie. ‘n Yslike groot vertrek in Tuynhuys naby die kantoor van die President en die kabinetskamer word tot my beskikking gestel. Barnard was bereid om geld en personeel beskikbaar te stel en Sanet Anderson, van my vorige afdeling in NI, het binne ‘n dag of twee by my aangesluit. Ek het ook dankbaar gebruik gemaak van die Weermag se aanbod om hulp en kol. Gagiano (wat later deur kolonel Mos Grobbelaar vervang is) van die Leër sluit kort daarna by ons aan.

Die groot werk begin. Die binnekant van die vertrek word gestroop en terwyl hulle werk probeer ons om dit wat ons uiteindelik gereed wil hê, in plek te kry. Dit was ‘n groot deurmekaarspul maar die wete dat die President ‘n persoonlike belang hierby het, het dinge laat gebeur.

Die spanning het met die aanloop tot die verklaring van die noodtoestand hoog geloop in Tuynhuys en in die veiligheidsdepartemente. Humeure was maar dun geskaaf. Toe die Nasionale Noodtoestand op 12 Junie 1986 afgekondig word, was ons op ons pos.

‘n Rukkie voordat hy die afkondiging gedoen het, het PW die situasiekamer binnegekom, gegroet en stilswyend staan en kyk na die kaart van Suid-Afrika waarop die verspreiding van onlusverwante insidente aangeteken is. Nadat hy lank na die kaart gestaar het, het hy ons ‘n rukkie lank woordeloos aangekyk, omgedraai en uitgestap, reguit Volksraad toe.

Om die sitkamer in gereedheid te kry was aan die begin ‘n agtien uur per dag aktiwiteit, sewe dae van die week. Hierdie pas is volgehou tot etlike weke na die noodtoestand afgekondig is. Soggens sesuur het ons begin en selde saans voor tien huis-toe gegaan. Dikwels eers kort voor middernag. Huis was die Dorpshuis Hotel in Mostertstraat, ‘n hanetreetjie weg van die Parlementêre kompleks.

Die voorbereiding van die sitkamer was ‘n reuse uitdaging. Heel eerste die konseptualisering. Kol. Gagiano het voorgestel dat ons, soos met militêre opskamers, groot kaarte teen die mure aanbring om inligting te vertoon. Hy het dadelik aan die werk gespring om kaarte by die Weermag in die hande te kry en ander het ons by die Staatsdrukker aangeskaf (die kantore was langs die Verwoerd-gebou).

Die hoogste prioriteit was om die inligting wat vertoon moes word te bekom. Daarvoor moes ek, nadat ek eers die departementshoofde se persoonlike toestemming verkry het, ‘n netwerk vir inligtingsvoorsiening vestig en ooreenkomste met die produksie-eenhede in die intelligensie-departemente aangaan om die inligting spoedeisend deur te stuur. Makliker gesê as gedaan. Die produksiemense was maar halsstarrig. Die probleem met ‘n instansie soos die situasiekamer is dat die produksie-eenhede versoeke van die situasiekamer sien as “daardie mense “ wat nou weer inligting wil hê. Hulle kan of wou net nie insien dat dit nie die situasiekamer is vir wie hulle dit doen nie, maar vir die President. My nodale punt met die departemente was die hoof van die TNV, genl. maj. Dolf van Vuuren, maar weens die spoedeisendheid, is ek gedwing om ook direk met die departemente te skakel.

Een van die belangrikste nodale punte waarmee ons geskakel het, was die operasiekamer van die Onlusbeheer-eenheid van die SA Polisie. Hulle was onder bevel van brig. (later generaal-majoor) Bert Wandrag en kol. (later brigadier) André Pruis en was nie deel van die Veiligheidstak van die SAP, met wie ons ook nou geskakel het, nie. Hierdie operasiekamer het uiteindelik ‘n besondere bydrae gelewer tot die sukses van die President se situasiekamer omdat hulle, dikwels in-tyd, inligting direk van die grond af ontvang het.

Die volgende uitdaging was kommunikasie. Hoe sou ons die inligting so spoedig moontlik vanaf Pretoria by ons kry sonder om sekerheid te kompromitteer? Oop teleksmasjiene was buite die kwessie en om elke item te kodeer sou ‘n onmoontlike werklas op die kommunikasie personeel plaas. Sanet het na kommunikasies omgesien. Sy vertel my die wonderlike nuus dat daar ‘n nuwe masjien op die mark gekom het wat dokumente binne minute kan versend. Ons het die faksmasjien ontdek! En dit kon boonop gestel word om aan sekerheidstandaarde te voldoen. Die klein vensterlose kamertjie wat aan my beskikbaar gestel is toe ek die eerste keer probeer het om die sitkamer van die grond af te kry, het Sanet as kommunikasiesentrum ingerig.

Met die inligtingsnetwerk en kommunikasiekanale in plek, was die volgende taak om ook nie-veiligheidsdepartemente soos Swart Onderwys (om skoolbywoning en –boikotte te help monitor) asook die Reserwebank, te betrek. Ons het onder meer gereël dat die goewerneur van die Bank, dr. De Kock, die President persoonlik elke dag sou bel om hom in te lig oor die jongste stand van die wisselkoers van die Rand. Hierdie inligting is ook by wyse van ‘n grafiek teen die muur aangebring.

Ons moes ook dringend aandag skenk aan oop inligting. Daarvoor het ons ingeteken op alle koerante wat ons moontlik kon en ook die departemente gevra om ons te laat weet van kwessies in die media wat onder hulle aandag gekom het. Televisiekanale soos CNN, BBC en andere was destyds nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.

Die belangrikste oop bronne was nuusagentskappe soos SAPA, Agence France Press (AFP), Deutche Presse Agentur (DPA) en Reuters. Ons het teleksmasjiene geïnstalleer wat die oorweldigende inligtingstroom van die agentskappe 24 uur van die dag ontvang het.

Terwyl die sitkamer in gereedheid gebring was, moes ons tussen al die bedrywighede deur in bedryf gaan. Kort voor die verklaring van die noodtoestand het ons reeds rapporte oor onrus insidente landwyd van die departemente ontvang en aan die President beskikbaar gestel. Die dag met die afkondiging was dit soos ‘n inligtingsontploffing. Inligting het soos ‘n tsunami aangerol gekom. Die teleksmasjiene van die nuusagentskappe het onophoudelik gekletter soos berigte van oor die hele wêreld ingestroom het. Ons moes ‘n papierstorm hanteer. Daar was teleksberigte van al die nuusagentskappe en van die departemente, koerantberigte, handgeskrewe aantekeninge van dringende telefoonoproepe, en veral berigte van die Polisie se opsentrum wat oor lopende gebeure gerapporteer het, ens. Alles moes behoorlik georden word.

Dit was ‘n onmoontlike uitdaging om al die inligting te prosesseer. Ek moes dringend hulp van die departemente inroep. Die werksmense was steeds besig met die inrig van die sitkamer maar ons het geen alternatief gehad anders as om midde in al die bedrywighede te werk nie. Ek het ‘n lang tafel teen een muur laat plaas en ‘n “voerband” vir prosessering geskep. Ervare analiste (intelligensie-navorsers) van die departemente het langs die tafel stelling ingeneem, elkeen met sy of haar spesifieke taak. Al die inligting wat van die departemente, nuusagentskappe en ander bronne ontvang is, is by een punt ingevoer. Die eerste twee analiste moes al die teleksverkeer van die nuusagentskappe en ander bronne sif met die oog op relevansie: hou dit verband met die noodtoestand? Die vloei van die berigte was van so ‘n omvang dat dit nie vir die “sifters” moontlik was om in enige detail na die inhoud te kyk nie. Hy of sy moes bloot die korrels van die kaf skei en dit aanstuur na die analiste wat verantwoordelik was vir die evaluering van elke item. Daardie analiste se taak was om te oordeel of die berigte sinvol gebruik kan word vir rapportering aan die President. Nadat die berigte geëvalueer is, is dit aan my oorhandig om die finale “bulletin” vir die President saam te stel.

Ons moes gereed staan om wanneer die President of enige ander minister of DG die vertrek binnekom, onmiddellik die heel jongste gegewens beskikbaar te hê. Dit was die dae voor die rekenaar. Vanweë die spoedeisendheid kon die berigte nie eers getik word nie. Hoe om die “bulletin” prakties in gereedheid te hou, was ‘n uitdaging.

Die “bulletin” het dus bestaan uit los berigte van die telekse en koerantberigte, en ander items wat mondelings aan die President oorgedra moes word. Vir dié doel het ek van ‘n knypbord (“clip board”) gebruik gemaak. Die berigte wat finaal vir verspreiding uitgesoek is, is gesny en geplak, op die knypbord geplaas en volgens prioriteit van bo na onder gerangskik. Die jongste inligting is deurlopend op die knypbord aangebring en voriges wat nie meer benodig was nie, is verwyder. Dit het my in staat gestel om wanneer die President die sitkamer binnekom, net die knypbord te gryp en selfs sonder enige voorbereiding, dadelik te begin lees. Ons het ‘n “lopende” bulletin bygehou; dit was in-tyd opgedateer! Dit was ‘n duidelike sukses.

Die President het gedurende die eerste paar weke na die verklaring van die noodtoestand elke oggend wanneer hy by Tuynhuis aangekom het, eers by die situasiekamer aangedoen voordat hy na sy kantoor toe gegaan het. In die middae met huis-toe gaan tyd, het hy vir oulaas weer ‘n draai by die sitkamer gemaak. Die eerste paar dae na die verklaring het hy ook dikwels gedurende die dag onverwags opgedaag. Die kere toe ek nie daar was nie, het Sanet die voorligting hanteer. Ons het spoedig ‘n aangename informele verhouding met PW opgebou en was mettertyd nie meer so versigtig vir hom soos aan die begin nie.

Behalwe om die mondelinge bulletin te ontvang, het die President ook tyd in die sitkamer verwyl om na die visuele voorstellings te kyk. Ons het groot kaarte van Suid-Afrika teen die mure aangebring waarop ons die voorkoms van onluste met gekleurde spelde aangebring het. Op een kaart was die geografiese verspreiding voorgestel met ‘n aanduiding van die historiese verloop en op ‘n ander kaart die aard van die onluste, byvoorbeeld die verspreiding van onwettige betogings, klipgooi, “necklacing”, optogte, faksiegevegte, ernstige intimidasie, wegbly aksies, gewelddadige stakings, ens. Die President het altyd baie hierin belang gestel. Dan het ons ook nog ‘n lys bygehou van die getal arrestasies ingevolge die noodregulasies wat saam met die kaarte teen die muur aangebring is.

Die aantekening van die statistieke en die skakeling met die departemente is deur Sanet hanteer. Ons het veral staatgemaak op die opskamer van die Onlusbeheer-eenheid van die Polisie om die inligting te voorsien. Kolonel Jos Brummer het baie moeite gedoen om die inligting so volledig en spoedig moontlik aan te stuur. Hy het verstaan dat hy die President, nie die sitkamer nie, op die hoogte hou.

Baie jare later het Sanet die ervaring soos volg onthou: “Ons het elke oggend inligting ontvang van die Polisie en die Weermag en die verskillende Staatsdepartemente se inligting is weekliks opdateer. Die President en Ministers kon enige tyd in die situasiekamer inkom en vra wat die huidige situasie is. Die situasiekamer is aanvanklik gestig om die noodtoestand wat afgekondig is, se effek te monitor. Daar was veral groot belangstelling onder die Ministers oor hoeveel persone aangehou word onder die noodtoestand se spesiale noodmaatreëls – aanhouding sonder verhoor. Die President het amper daagliks ingekom vir ‘n voorligting en later in Pretoria by die Uniegebou, is van die kabinetsvergaderings in die situasiekamer gehou. Die lokaal in die Kaap was baie indrukwekkend en het ‘n lang tafel gehad met die borde aan weerskante wat toegetrek kon word om die inligting te beskerm.”

Die primêre doel van die sitkamer, naamlik om die President ingelig te hou oor die lopende veiligheidsituasie, het vlot verloop. Met verloop van tyd het die daaglikse stroom inligting minder geword en het die President dit nie meer nodig gevind om daagliks ‘n draai by die sitkamer te maak nie. Ons het toe die berigte wat vir sy aandag bedoel was aan hom in sy kantoor besorg. Daarna het ek dit net nou en dan mondeling aan hom oorgedra.

Die sitkamer was egter binne die staatsopset in omstredenheid gehul. Baie het ‘n totale wanbegrip gehad van wat daar gedoen is en wat die doel van die fasiliteit was. ‘n Illustrasie hiervan is die uitlatings van ‘n senior lid van Buitelandse Sake, André Jaquet, wat in die teboekstelling van die departement se geskiedenis, die volgende kwytgeraak het: (Wolfaardt, Wheeler, Scholtz, ed., 2010 From Verwoerd to Mandela – South African Diplomats Remember, volume 1, p 299)

“Some [lede van die veiligheidsgemeenskap] chose to bury their heads in the sands of statistics, reckoning that if you fed enough detail to the bosses, they would have to come up with a more workable strategy.

For instance, the structures of the State Security Council went into extraordinary detail in situation reports that were discussed each morning by senior members of the intelligence community. Incidents under such rubrics as ‘stone-throwing’, ‘stone throwing with fires’, ‘stone throwing by schoolchildren’, ‘demonstration with violence’, ‘without violence’, ‘with shots being fired’, ‘with wounded’, ‘without wounded’ and so on would be listed. They also ended up on the mother of all Lego boards in the situation room in the Union Buildings and Tuynhuis. Each had a Lego base spread over an entire wall and such incidents were reflected by constructing many columns of different colours. But there was remarkably little analysis of what it all meant, no description of the real grievances, no suggestions for other approaches. Negotiating with the enemy was not on and in fact negotiations themselves were the enemy, the strategy of cowards and defeatists.”

Jaquet se totale onkunde oor die werking van die intelligensiegemeenskap en die sitkamer is ongelukkig wyd gedeel in die staatsektor. Jaquet is reg wanneer hy sê dat vertolkte inligting merkwaardig afwesig was. Dit was presies in ooreenstemming met die ooreenkoms met alle departemente dat die sitkamer hom geheel en al daarvan sal weerhou om vertolkte inligting aan die President oor te dra. Dit was juis een van die grootste vrese van sommige senior amptenare en ministers dat dit kan gebeur. Die President was daarvan bewus en in al die tyd wat ek as hoof van die situasiekamer met die President geskakel het, het hy my nooit daarom gevra nie. Wat hy wel gevra het, was dat ek met departemente moet skakel om hom van vertolkte inligting oor ‘n bepaalde kwessie te voorsien.

Vertolkte intelligensie is direk op ‘n gereelde basis deur die TNV aan die President voorsien. Daarbenewens was daar die tweeweeklikse voorligting deur die TNV aan die President en die SVR wat in die sitkamer gehou is.

Hoewel dit nie direk te make het met die sitkamer nie, kan daar egter nie nagelaat word om te reageer op die laaste opmerking van Jaquet nie.

“But there was remarkably little analysis of what it all meant, no description of the real grievances, no suggestions for other approaches.” Klaarblyklik was Jaquet onbewus van die omvangryke professionele analitiese produkte wat die intelligensiegemeenskap juis hieroor aan die owerheid beskikbaar gestel het.

Dan sê Jaquet verder: “Negotiating with the enemy was not on and in fact negotiations themselves were the enemy, the strategy of cowards and defeatists.” Hierdie is ‘n growwe veralgemening en skep daarom ‘n totaal foutiewe persepsie. Dit was onder meer juis gedurende hierdie tyd dat Niël Barnard en andere begin het om met Mandela gesprek te voer. Hy was ook totaal onbewus van die sogenaamde Mells Park gesprekke. Hieroor meer in ‘n latere hoofstuk.

Die Lego teen die mure is ‘n ander storie. Nadat die ergste storm verby was en ‘n mate van kalmte neergedaal het, is ons deur Van der Westhuizen aangesê om die sitkamer meer aantreklik te maak en om meer algemene inligting te vertoon. Hy het ‘n militêre situasiekamer in Spanje gesien wat hom erg beïndruk het en hy wou hê dat ons iets soortgelyks moes skep. Volgens sy beskrywing het dit egter nie vir my gelyk of dit vir ons doel geskik sou wees nie, maar ons het ons bes probeer om te kyk wat ons kon uitrig.

Na baie kopkrap het ons besluit dat die uitstallings teen die mure so aantreklik moontlik aangebied moet word. Daar was druk op ons om alles so gou moontlik gedaan te kry. Ek weet nie waar sy die idee gekry het nie, maar Sanet noem toe die gedagte dat ons Lego kan gebruik om die inligting te vertoon. Dit sou die situasiekamer professioneel laat vertoon. Dit moet in gedagte gehou word dat dit in die dae voor rekenaars was en groot elektroniese skerms soos wat vandag gebruiklik is, was nog iets vir die toekoms. Die foto hieronder illustreer hoe dit vandag gebruik word in die situasiekamer van die Amerikaanse president. Ons wou iets soortgelyks skep in ‘n era toe die elektroniese toerusting nog nie beskikbaar was nie, en dit is waar Lego in die prentjie gekom het.

/var/folders/r0/3_rjpngj1jj141sq3k18w_x80000gn/T/com.microsoft.Word/Content.MSO/2B4F28E5.tmp

Die situasiekamer van die Withuis in die VSA. Let op die elektroniese vertoonskerms wat teen die mure aangebring is.

Dit het vir my na ‘n goeie idee geklink. Ons kon aan niks anders dink nie. Sanet het onderhandel met die verskaffers en ons doen een van die grootste aankope van Lego in die wêreld; altans so het die verteenwoordiger ons destyds meegedeel. Nadat ons klaar was, het dit uiters indrukwekkend gelyk. Daar was ‘n veelkleurige uitbeeldings van inligting wat dadelik die oog getref het met die binnekom van die siuasiekamer. Die Lego was ook baie nuttig omdat die inligting op die muurborde baie vinnig verander kon word deur net die boublokkies te verskuif.

Terwyl Sanet alles in orde kry, spook ons met die vraag: wat sit ons op die borde? Die onlusverwante statistieke en uitbeeldings moes bly, maar wat nog? Ek vra die President en hy sê “Julle moet kyk wat alles nodig is vir my om te weet”. Sy enigste spesifieke versoek was om ‘n grafiek aan te bring waarop die stand van damme in die land aangedui word. Niemand anders wie ons raadpleeg kan help nie. Ons gebruik toe maar eie inisiatief om nuwe inligting te identifiseer en te vertoon. Dit het onder meer inligting ingesluit soos grafieke wat die skommelinge van die wisselkoers van die Rand aangedui het, die tronkbevolking (wat abnormaal was gedurende die noodtoestand), swart skoolboikotte, arbeidswegbly-aksies en ander. Van die ministers het ook soms kom kyk wanneer hulle Tuynhuys-toe gekom het. Sanet het al die besoekers ontvang en met grasie rondgewys.

Die situasiekamer was egter nie besonder gewild by sommige ministers en die departemente nie. Die hoofoorsaak was dat hulle self hulle inligting aan die president wou oordra. Dit het hulle gegrief dat die president húlle inligting in die sitkamer moes sien terwyl hulle nie die geleentheid gehad het om dit self oor te dra nie. Ek was dit eens, maar ‘n opdrag is ‘n opdrag. Ek het ministers uitgenooi om self voorligtings oor hulle departemente te doen of te laat doen in die situasiekamer, maar nie een het van die uitnodiging gebruik gemaak nie. Die situasiekamer was uitstekend ingerig om voorligtings te hanteer. Vandag nog is ek oortuig dat dit staatsbestuur baie sou baat indien al die burgerlike departemente, net soos die intelligensie instansies, gereelde persoonlike voorligtings oor hulle portefeuljes aan die president van die land sou doen. Die enigste voorligtings wat gereeld in die situasiekamer aangebied was, is dié van die TNV wat elke tweede Maandag aan die SVR voorgehou is.

Tussen die situasiekamer en die kabinetskamer was ‘n klein komiteekamer. Dit is na die afkondiging van die noodtoestand deur ‘n kerngroep hoofde van die veiligheidsdepartemente gebruik om met burgerlike departemente oorleg te pleeg oor hulle departemente se hantering van die noodtoestand. Afsprake is met departementshoofde gemaak om te kom gesels. Dit het dikwels gebeur dat die gesprekke die tydstoekenning oorskrei het met die gevolg dat die volgende departementshoof sy beurt moes afwag. Omdat hulle in die gang voor die deur van die komiteekamer moes rondstaan, het van die departementshoofde by die siuasiekamer ingekom om tyd te verwyl. Menige keer moes ons hoor hoe hulle kla dat hulle soos skoolkinders behandel word wat op en af voor die skoolhoof se kantoor moes paradeer voordat hulle ingeroep word. Daar het ek vir die eerste keer bewus geword van ‘n gegriefdheid by burgerlike departemente oor die veiligheidsdepartemente wat, soos van hulle dit ervaar het, aan die burgerlikes wou voorskryf oor wat hulle moet doen. Later jare sou hierdie houding ‘n belangrike rol speel met die herskikking van die veiligheidsgemeenskap in die oorgang van die Botha-era na die De Klerk-era.

Omdat die Parlement destyds meestal die eerste ses maande van die jaar in die Kaap gesit het, is ons opdrag gegee om ‘n soortgelyke fasiliteit in die Uniegebou in Pretoria in te rig. In Pretoria is nie so mildelik van Lego gebruik gemaak nie. Terwyl ek in die Kaap was het Sanet die taak op haar skouers geneem. Voorligtings vir die SVR-vergaderings in Pretoria is voortaan in daardie situasiekamer gehou. Benewens die TNV voorligtings is hierdie sitkamer egter weinig gebruik.

Wat ek voorsien het, het uiteindelik gerealiseer. Die vloei van inligting ná die afkondiging van die noodtoestand en die voortspruitende reaksie, het begin afneem.

In Augustus, bykans drie maande nadat ek van die huis af weg is, sien ek my gesin vir die eerste keer weer. Dit was ‘n uitmergelende tyd.

Na my termyn by die situasiekamer is ek terug NI-toe waar ek as direkteur skakeling aangestel is en later in die jaar hoof van die TNV in die plek van genl. maj. Dolf van Vuuren geword het. Ek is opgevolg deur André Botha van NI.

Terugskouend was die situasiekamer ‘n duidelike sukses gemeet aan die oorspronklike doel waarvoor dit geskep was, naamlik om die President dag-vir-dag op hoogte te hou van veiligheidsgebeure in die land. Die sitkamer het gedoen wat hy moes doen toe die President dit nodig gehad het. Daarna het sy gebruikswaarde verminder. Dit is dus nie verbasend nie dat president De Klerk besluit het dat die situasiekamer net na sy bewindsoorname in 1990 toegemaak moes word.