My beginjare in die Mag.

MY BEGINJARE IN DIE MAG.

Daniel Putter

Ek is op 1976-01-07 te Boksburg-Noord geattesteer en het die volgende dag as Student Konstabel by Boksburg begin werk.

A group of police cars parked outside a building AI-generated content may be incorrect.

Ek het in Witfield, ongeveer 14km vanaf  Boksburg SAPD, gewoon. Aangesien daar geen openbare vervoer beskikbaar was nie moes ek per trapfiets werk toe ry.

Met my eerste oggend aan diens was ek aangesê om die vlag te hys. Die polisiestasie was in Commissionerstraat, geleë. In die hoek net buite die Aanklagkantoor en die Stasiebevelvoerder, lt.kol. Schoeman, se kantoor was die vlagpaal langs ‘n ou klok wat destyds as “aandklok” gedien het om die aandklok reëls aan te kondig. Daar was aan my verduidelik hoe ek die vlag moes hys en daarna die klok vyf keer moes lui. Boksburg Radiobeheer was direk langs die polisiestasie geleë.

Voor ek die vlag kon hys was almal aan diens verwittig dat ‘n nuwe student oppad was om sy naam gat te maak. Tot almal, buiten die SB, se vermaak het ek presies dit gedoen.

Nie lank daarna, terwyl ek dagskof gewerk het, was ek deur kapt Nortje, wat Misdaadvoorkoming gewerk het, genader. Hy het my fiets opgemerk en wou weet of hulle die fiets kon leen. Ek het ingestem alhoewel ek nie geweet het wat hulle beplan het nie.

Ek  het eers later uitgevind, toe hulle by die Aanklagkantoor aangekom het met ‘n prisonier, dat my fiets gebruik was as “aas” om die fietsdief vas te trap. Van daardie dag was my fiets gereeld gebruik om arrestasies uit te voer. Die bewysstuk moes natuurlik altyd tydens die hofsaak beskikbaar wees. Ek was natuurlik baie beïndruk dat my fiets sy doel gedien het in die bekamping van misdaad.