Christo (Chris) Erasmus – ‘n Pionier van Suid-Afrikaanse Lugvaart
Chris Wilken via Dawie du Plessis
Christo Erasmus het grootgeword op die plaas Charlton, bo-op die Bosberg naby Somerset-Oos. Van kleins af het hy ‘n intense belangstelling in tegnologie gehad – veral motors en vliegtuie. Boerdery het hom glad nie aangetrek nie, en dit het gou duidelik geword dat hy ’n ander pad sou volg. Reeds as jong man, gedurende die Depressiejare, het hy twee vliegtuie self gebou op sy pa se plaas, tussen die koeie en kalwers. Hierdie vliegtuie het nie net bestaan uit drome nie – hulle het werklik gevlieg.
In 1925 het sy vader hom ’n kaartjie gegee om na Amerika te reis. Daar het hy aan die Michigan State Automobile School gestudeer en later in Detroit gaan werk vir die bekende Stromberg Broers, vervaardigers van vergassers. Hy het sy eksamens met lof geslaag en gou sy rigting verander van motor ingenieurswese na lugvaartkundige ingenieurswese. In dié tyd het hy bevriend geraak met Ed Heath – ‘n invloedryke figuur in die lugvaartbedryf. Saam het hulle gewerk aan die ontwerp van die Heath Parasol – ’n vliegtuig spesifiek ontwerp vir gewone mense. Die vliegtuig kon in ’n motorhuis gebêre word, en die vlerke kon losgeskroef word sodat dit per motor getrek kon word.
Chris het later die hoof toets vlieënier van die Heath-maatskappy geword. Hy was ook betrokke by die ontwerp van die Baby Bullet – een van die kleinste, maar vinnigste vliegtuie in sy tyd. Die vliegtuig het groot sukses behaal in pylonsresies en het bekend geword as ’n simbool van tegnologiese vernuf. Die vlerk ontwerp van hierdie vliegtuig was later selfs gebruik as basis vir die beroemde Spitfire se vlerke tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Chris was een van die pioniers wat die gevaarlike lugroete van Amerika na Alaska oopgevlieg het – ’n roete wat baie ander vlieëniers hul lewens gekos het. Sy vaardighede as loods is wyd erken, en sy naam is op ‘n Amerikaanse ererol geplaas. ’n Vliegveld by Des Plaines naby New York is selfs na hom vernoem. Hy was lid van die American Society for the Promotion of Aviation en het persoonlik vriende gemaak met die stigters van wêreldbekende vervaardigers soos Piper, Cessna en Stinson.
Sy loopbaan in Amerika het egter ’n dramatiese wending geneem toe ’n leerling vlieënier teen sy vliegtuig vas gevlieg het. Hy was vir twee weke bewusteloos en sy vriende het geglo hy sou nie oorleef nie. Maar Chris het op wonderbaarlike wyse herstel en besluit om na Suid-Afrika terug te keer.
Terug in Suid-Afrika het hy saam met sy broer The Erasmus Aircraft Company of South Africa gestig. Sonder groot fabrieke of enige ander ingenieurs het hy op sy familieplaas sy eie vliegtuie gebou – die NA-40 en die verbeterde SNA-40. Hierdie vliegtuie is aangepas vir plaaslike omstandighede en het indrukwekkende prestasies gehad: die NA-40 kon binne 375 voet opstyg en binne 100 voet land. Een van sy vliegtuie is selfs gebruik om pos tussen Oos-Londen, Port Elizabeth en Kaapstad te vervoer.
Ten spyte van sy indrukwekkende prestasies het die Suid-Afrikaanse regering geweier om vir hom ’n bou lisensie te gee. Die owerhede het volgehou dat alle vliegtuie van Engeland af aangekoop moes word. Teleurgesteld het Chris in 1939 sy vliegtuie gedemonteer en in die skuur gehang. Hy het daarna in Benoni gaan werk, waar hy motor suiers met die hand op draaibanke vervaardig het vir ‘n motor maatskappy.
Sy lewe as vlieënier het hom na verskeie plekke geneem. Op een van sy reise van Duitsland na Suid-Afrika het die enjins van ’n Junkers-vliegtuig bo die Middellandse See gefaal. Met die kranigheid waarvoor hy bekend was, het hy die vliegtuig veilig tot op die Egiptiese kus gesweef. Hy het die probleem herstel en sy reis na Suid-Afrika voortgesit.
In Arusha, in die destydse Tanganyika, het hy Lena Boshof ontmoet, die dogter van kommandant Alex Boshof. Hulle is in 1939 getroud en het twee seuns gehad: Philip en Lex Erasmus. Chris is in 1957 oorlede, maar sy nalatenskap het voortgeleef. Sy seun Lex het later die SNA-10, een van Chris se oorspronklike vliegtuie, gaan haal en saam met sy broer herbou. In 1969 het dit weer die lug ingegaan – as ’n eerbetoon aan ’n man wie se lewe aan die vlerke van drome vasgebind was.
Die oorblyfsels van sy eerste vliegtuig word vandag bewaar by die Suid-Afrikaanse Lugvaart museum, met planne om dit vir die SAL-museum te herbou. Volgens Lex het sy pa se vroeë ontwerp-innovasies vandag nog toepassing in moderne lugvaart – of dit nou straalvliegtuie is of kleiner skroef modelle.
En in Somerset-Oos, die plek waar alles begin het, leef sy gees steeds voort. Die ou vliegveld word opgeknap, vlieg loodse verrys, en die dorp droom weer van ligte vliegtuie wat tussen wildparke en stede beweeg. En iewers daar tussen die wolke – sweef die nalatenskap van Christo Erasmus, pionier, uitvinder en held van die lug.
—————————————————————————————————————
Hierdie verhaal van ‘n uitsonderlike man wat my verbeelding aangegryp het, was saamgestel uit inligting verskaf deur Chris Wilken. Baie dankie Chris ! Tikwerk Mej S Nel
Ek sal graag meer inligting oor Chris Erasmus wou hê en indien u kan help sal dit waardeer word.
Dawie du Plessis
20/6/2025
