GN Erasmus

HULDEBLYK AAN GENERAAL MAJOOR GN ‘GERRIT’ ERASMUS

Genl Maj Johan Burger

7 Maart 2026

Geagte familie, Anna, vir jou, Nick, Alida, Suzanne en vir die kleinkinders, namens die Generaalsklub van die SA Polisie weereens ons innige meegevoel met julle verlies. Baie dankie ook dat julle my genooi het om namens die generaalsklub hierdie huldeblyk te bring. Dit is vir ons ‘n baie groot voorreg.

Ek gee ook graag erkenning aan almal hier teenwoordig wie se paaie op een of ander tyd en op een of ander wyse met die van generaal Gerrit Erasmus gekruis het.

Generaal majoor Erasmus was ‘n baie goeie polisieman en ‘n geëerde lid van die generaalsklub. Ek sal hom altyd onthou vir daardie fier en regop houding van hom al was hy reeds byna 90 jaar oud. En hy het nooit sy belangstelling verloor in dit wat om ons gebeur nie. Ek en hy het dikwels tydens ons byeenkomste lewendige gesprekke hieroor gevoer.

Maar voor ek verder gaan wil ek net so ‘n bietjie agtergrond oor hierdie besonderse generaal gee. Hy is gedurende 1936 in die mooi ou Karoodorpie, Fraserburg, gebore en het op 3 Januarie 1957, op 21-jarige ouderdom, by die SA Polisie aangesluit. Ek het gewonder hoekom eers toe hy 21 was? Maar volgens Anna wou sy Pa nie hê hy moes polisie toe nie en het hy eers by die Weermag aangesluit, maar polisieman dié wou hy word.

Hy het reeds vroeg in sy polisie loopbaan al sy bevorderingseksamens suksesvol afgehandel en is daarna, gedurende 1965, tot die rang van luitenant bevorder. Daarna het bevorderings gereeld gevolg tot hy uiteindelik gedurende 1985 tot generaal majoor bevorder is.

Hy is soos die meeste polisiemanne van sy tyd dikwels verplaas en was gestasioneer in plekke so wyd uitmekaar as die huidige KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en wat voorheen bekend was as die Witwatersrand. Dit is juis aan die Witwatersrand waar hy in 1992 afgetree het as Streek-kommissaris van die SA Polisie.

Hy is reeds vroeg in sy loopbaan opgelei as ‘n speurder maar sy talente is gou deur die Veiligheidstak raakgesien en gedurende 1963 het hulle hom nader getrek. Dit was in daardie moeilike jare van politieke verset en geweld nadat Suid-Afrika in 1961 ‘n republiek geword het. Die Veiligheidstak was aan die spits van die polisie se taak om orde te handhaaf en om diegene wat geweld aangeblaas het te identifiseer en te arresteer. En uiteindelik was dit veral in die Veiligheidstak waar hy hom mettertyd onderskei het.

Ek het nooit direk met generaal Erasmus saamgewerk nie maar nadat ek gedurende 1983 na Veiligheidshoofkantoor verplaas is het ek hom van tyd tot daar in die gange raakgeloop of tydens vergaderings met hom te doen gehad. Hy was destyds as kolonel Afdelingshoof van die Veiligheidstak in Johannesburg. Ek was nog ‘n junior offisier en het meesal eerder na die ouer en meer senior lede geluister as om, soos ons in polisietaal sou sê, te probeer slim wees!

Ek het gou agter gekom dat Gerrit Erasmus nie iemand was wat doekies omgedraai het nie. Kollegas van sy tyd het hom nie verniet as ‘n ‘yster’ beskryf nie. Hy het nooit gehuiwer om sy sê te sê nie of om sy standpunte te verdedig nie. Ek is bewus van ten minste een geval waar hy ‘n opdrag van hoofkantoor verontagsaam het omdat hy daarvan oortuig was dat daardie opdrag verkeerd was. Hy is later reg bewys.

Ek is dankbaar vir die jare saam by die generaalsklub waar ek generaal Erasmus op ‘n persoonlike vlak ook baie beter leer ken het. Ek is ook dankbaar vir die kosbare insigte wat hy in hierdie tyd met my gedeel het. En ek is dankbaar vir sy aktiewe betrokkenheid by die generaalsklub met Anna aan sy sy en vir die wete dat sy nog by ons betrokke sal bly.

Generaal Gerrit Erasmus was ‘n hoogs gerespekteerde lid van die Suid-Afrikaanse Polisie en ook van die Generaalsklub en ons bring graag vandag aan hom hulde vir dit wat hy vir ons en so baie ander mense beteken het en ook vir dit wat hy vir ons nagelaat het.

Ons eer sy nagedagtenis!

Baie dankie

Genl maj Johan Burger

Voorsitter: Generaalsklub van die Suid-Afrikaanse Polisie