Eulogy: Brig IJ “Sakkie” Bosman by Faan Etsebeth
HULDEBLYK BRIGADIER IZAK JOHANNES BOSMAN
Faan Etsebeth
Brigadier Sakkie, soos hy alom bekend gestaan het onder ons as sy kollegas, was ñ geliefde en hoogs gerespekteerde offisier. Hy was die takbevelvoerder van die Veiligheidstak te Witbank en Middelburg onderskeidelik tydens verskillende tydperke in die voormalige Oos-Transvaal, afkomstig vanaf Katima Mulilo, waar hy vir ongeveer agtien jaar gestasioneer was. Dit was voorwaar ñ redelike aanpassing vir hom, soos hy dit gestel het. Hy het ons vertel van sommige unieke ondervindings en ervarings in die Caprivi!!! Oom Sakkie was ñ besonderse, gerespekteerde en geliefde persoon, en ook in die gemeenskap.
Hy word gekenmerk as ñ baie sterk en voorbeeldige leiersfiguur saam met wie ons as sy manne, saam met hom deur die vuur sou stap, en glo my, somtyds was dit deur uiters moeilike en gevaarlike omstandighede soos wat dit maar met tye was.
Oom Sakkie, soos ons hom genoem het ná sy aftrede, het die besonderse vermoë gehad om alles wat hy aangepak en gedoen het, altyd op ñ objektiewe wyse te benader, te implementeer en deur te voer, en daardeur sy manne met sy oorvloedige wysheid en lewenservaring op ñ positiewe wyse te beïnvloed en te lei.
Oom Sakkie sal onthou word as ñ wonderlike, vriendelike en lojale kollega en vriend. Oom Sakkie het altyd ons braaie en dan ook die lekker kos wat ou Wessie altyd vir ons tydens veldwerk elders in die bos voorberei het, geniet. Absolute nostalgiese tye!!! Ons gun oom Sakkie die ewige rus. Baie sterkte vir Susan en kinders Nico en René, en die kleinkinders. Rus sag oom Sakkie, tot dáárdie dag!