YES MINISTER
Ja Minister, nee Minister
Fanie Bouwer
Ná April 1994 het dinge vir ons staatsamptenare redelik verander soos jy jouself kan indink.
So kry ek as ‘n relatiewe jong polisie-offisier toe kort daarna opdrag om die nuwe, jong polisieminister, Sidney Mufamadi, in sy kantoor – ek dink dit was die ou Hendrik Verwoerd-gebou – te gaan spreek oor een of ander kwessie met optogte.
Op daardie stadium van mý lewe het ek nog nie aan ‘n swartman gerapporteer of ge-“ja meneer” of ge-“nee meneer” nie.
Hoe dit ook al sy; kort voor die afspraak stap ek sommer na sy kantoor, so ‘n paar blokke van myne af.
Ek wonder toe hoe ek ontvang sal word? Ek dink toe aan enkele scenario’s. Soos, onder andere, hoe gaan ek reageer as hy ongeskik is met my, gegewe my kort lont partykeer.
Op die gegewe tyd klop ek aan Mufamadi se sekretaresse se kantoordeur, stel myself voor en sy nooi my vriendelik in en verneem of ek daar is vir die afspraak met die minister?
Op daardie selfde oomblik kom Mufamadi uit sy kantoor en sluit by ons aan. Uiters vriendelik vra hy my of sy – die sekretaresse – my al tee en koekies aangebied het? Hy nooi my toe in sy kantoor in.
Jô, dink ek, maar die klompie is naais. Ek weet nie wat ek presies verwag het nie, maar Mufamadi se jentelman-houding en nederigheid het my beïndruk. Ook die respek wat hy teenoor my getoon het.
Mufamadi wou toe weet oor die regsposisie met optogte en wat daaromtrent gedoen kan word. Hy nooi my toe na ‘n vergadering wat hy sal belê.
Ons het dié vergadering etlike dae daarna met sy nuut-aangestelde adviseur, advokaat Peter Gastrow, opgevolg.
Nou, ‘n stuk wetgewing wat ons advokaat Gastrow sou bespreek, het ‘n ‘geskiedenis’ wat ek goed geken het.
Ewenwel, tydens die bespreking oor probleme met die aansoeke en regulering van byeenkomste, sê ek toe vir Mufamadi dat die konsepwet beskikbaar is, maar dat dit net deur president Mandela as wet geteken (en gepromulgeer) moet word.
Hy vra toe aan sy adviseur, advokaat Peter Gastrow, “Do you know what he is talking about?” Ek het toe vir Gastrow die 1993-konsepwetgewing soos dit in ’n staatskoerant gepubliseer was, gewys.
Die praktiese gevolg hierna was dat Mufamadi se kantoor die nodige gedoen het en is hierdie wet toe deur die staatspresident onderteken en word dit sedertdien steeds toegepas.
Hierdie ontmoeting met Mufamadi was my eerste met ‘n lid van die nuwe bewindhebbers. Selfs die ander het verbasend op ‘n aangename manier afgeloop, soos van die Nasionale Party in die Wes- Kaap.
In persoon is mense meesal heel gaaf en toeganklik, maar word baie keer deur die ideologieë binne partyverband negatief gekontamineer.