Government Expenditure and Corruption
Abstract
State Expenditure and Corruption – A Personal Reflection on Police Integrity
This reflective essay juxtaposes the staggering irregular expenditures reported in the 2024/25 audit outcomes of the South African Police Service (SAPS) with the author’s lived experience of integrity and accountability within the former SAP. Drawing from a Facebook post by Brigadier Fanie Bouwer, the author highlights R3.2 billion in irregular spending, including unresolved cases from previous years. Against this backdrop, the narrative recalls a time when the SAP operated with frugality, discipline, and meticulous record-keeping—from weighing lucerne bales to maintaining tire registers. Through vivid anecdotes, the author contrasts the Spartan conditions of police service with the relative luxury of other state departments, emphasizing the erosion of expertise, command, and accountability in contemporary governance. The piece serves as both a lament and a call to remember the values of honesty, stewardship, and public service once held dear.
STAATSUITGAWES EN KORRUPSIE
Hennie Heymans
Ek het die volgende op brig. Fanie Bouwer se Facebook-blad gelees en die oorspronklike Engels na Afrikaans vertaal:
Ouditverslae – Ouditeur-Generaal – SAPD en Ander Vandag het die Portefeuljekomitee oor Polisie die Ouditeur-Generaal se verslae oor die 2024/25-oudituitkomste vir die SAPD, PSiRA, IPID en die Burgerlike Sekretariaat ontvang.
Die SAPD het ’n verstommende R3.2 miljard in onreëlmatige uitgawes aangeteken, bestaande uit:
- R649 miljoen in nuwe onreëlmatige uitgawes vanjaar,
- R56 miljoen steeds onder assessering, en
- R2.49 miljard van vorige jare wat reeds ondersoek is, maar nooit vir aksie verwys is nie.
Bron: Facebook-groep
’n Polisie-erfenis van Eerlikheid
Ek is trots op my herkoms. Ek is ’n polisieman se kind. Ons ou SAP was ’n onpretensieuse, maar deeglike en eerbare departement.
My pa het vertel dat konstabels en tweede-klas-sersante in die “ou dae” met hul polisie-komberse per trein moes reis — tweede klas, natuurlik. Toe ek in 1964 na die SAP-kollege per trein vertrek het, het ek ook tweede klas gereis, maar gelukkig sonder komberse — ek het darem ’n bed gekry!
Destyds was die staat en die polisie uiters noukeurig. Byvoorbeeld: Ons beredemanne in die kollege moes perdevoer aflaai. Elke baal lusern is afsonderlik geweeg, gemerk met ’n kaartjie waarop die gewig aangedui is, en alles is in die “Lusernboek” aangeteken. Tydens inspeksie moes die totale gewig van al die bale en ander voer soos mielies presies ooreenstem met die register. Niks meer, niks minder — net reg.
Afgekeurde perde is na die Nasionale Dieretuin geneem as voer vir die leeus en ander roofdiere. ’n Onwaardige, maar nuttige einde. Wat vandag gebeur, weet ek nie.
Ons het ’n ou kollege-grappie gehad: As ’n perd jou geskop of gebyt het, het die sersant eers na die perd gekyk — staatseiendom! — om seker te maak hy is nie beseer nie. Dan het hy verlig gesê: “Gelukkig het die perd niks oorgekom nie!” Die student moes maar die pyn verduur.
SAP King’s Rest: ’n Spartaanse Diens
Geen luukshede nie. Ons het gehad:
- Drie voertuie (een met ’n radio) vir klagtes en uniformnavrae
- ’n Horlosie in die aanklagtekantoor
- ’n Wapenkluis vol wapens
- Stoele, tafels en kabinette
- ’n Urn vir warm water vir prisoniers soggens
- Later: sanitêre doekies vir vroulike gevangenes
Geen krammasjiene of fotostaatmasjiene nie. Ek het my eie flits en batterye gekoop — ek het nie geweet die staat moes dit voorsien nie. Die SB het dit nooit uitgereik nie. Sover ek onthou, was daar geen verwarmers of waaiers nie… dalk onthou ek verkeerd?
Ons was tevrede met min.
Prisoniers se Maaltye
Karig: 8 onse mieliemeel, 1/3 ons vet, en 1/16 ons sout. Ek onthou die rympie — ons stasiebevelvoerder het vereis dat ons dit presies so neerskryf. Die bandiete het met ’n bak kamboemmielies opgedaag wanneer hulle die stasie en kampterrein skoongemaak het.
Ons het nooit geëis vir “tee” of telefoonoproepe as ons uit die distrik was nie. Reis en verblyf was eenvoudig: kaserne of vriende — nooit hotelle nie.
Voertuie en Verantwoordbaarheid
Alle voertuie was staatstender-uitreikings — geen lugversorging, verwarmers of siviele radio’s nie. As dit warm was, het jy die venster oopgemaak; as dit koud was, het jy dit toegemaak.
As jy jou vuurwapen verloor het of ’n prisonier laat ontsnap het, het ons geglo ’n geskiktheidsraad sou volg.
Later, toe ek na Pretoria verplaas is, het ’n kontak by Buitelandse Sake vir my ’n krammasjien gegee. As kolonel het ek my gesubsidieerde voertuig in Port Elizabeth gaan afhaal — per trein, tuis by ’n kollega, en oorgeslaap by die SAP Akademie op Graaff-Reinet. Geen hotelle nie. Dis hoe dit was.
Rekenskap en Regverdigheid
Die distrikskommissaris was die rekenpligtige vir die hele distrik. Finansies, verlof, voorraad, voertuie — alles is beheer en gereeld geïnspekteer. Die Ouditeur-Generaal het ons weer kom inspekteer. Selfs elke voertuig het ’n bande-register gehad. Alle registers, fondse en sigwaarde-vorms is nagegaan. Daar was nie plek vir skelms nie.
Ek het eendag aan genl. Van der Merwe genoem dat dit seker “lekker” moes wees om kommissaris te wees — alle rekenpligtigheid was immers op distriksvlak aangespreek. Hy het bevestigend geantwoord. Alle vlakke het saamgewerk en inspeksies in die mag op alle vlakke was endemies. Daar was bevel en beheer met gepaardgaande kundigheid en lojaliteit.
Kontraste met die SAW en NI
Toe ek by die Staatsveiligheidsraad se sekretariaat kom, was ek verbaas oor die SAW en NI se geriewe. Ek is gevlieg na spanbousessies, het heerlike etes en goedkoop drank in SAW-menasies ontvang. In Simonstad het ek ’n kursus gedoen en in die vloot se “hotel” — Rhodesia-by-the-Sea — tuisgegaan teen minimale koste. In vergelyking met die polisie het die SAW en NI in weelde gelewe.
Finansiële Klerke: Die Ysterhande
In my tyd was die finansiële klerke — sersante of adjudant offisiere — mense wat geen nonsens of uitspattige eise geduld het nie. Mens was versigtig vir die ou korrelkoppe. Hulle het hul afdelings met ysterhande regeer. Hulle het die regulasies geken.
Natuurlik was alles nie 100% reg nie, maar ons het teen laksheid en oneerlikheid opgetree.
Vandag se Gebrek
Die groot gebrek vandag is verlies aan kundigheid, bevel en beheer. Daar is geen aanspreeklikheid of verantwoordbaarheid nie.
INSIGTELIKE KOMMENTAAR DEUR BRIG FANIE BOUWER
Die onderwerp wat jy hier aanraak is nie net belangrik nie, maar ook van uiterse aktuele belang.
Ek wil ook graag onder vergelykings maak.
Die huidige begroting van die SAPD is tans ongeveer R120-biljoen.
Die 1993 begrotingsoorsig van die ou SAP gee ʼn direkte syfer: die polisiërings-funksie was R 6,452 miljard vir 1993/94 — dit was ’n nominale groei van 14,3% op 1992/93. Dit het natuurlik die ou tuislande uitgesluit.
As mens inflasie, bevolkingsgroei ens. in ag neem, is dit moeilik om ‘n sinvolle, finansiële vergelyking te maak, behalwe om te sê dat die syfers drasties verskil.
Begrotingsuitgawes in die destydse SAP was grootliks gesentraliseer in Hoofkantoor. In die SAPD is die begroting na die kantore van die provinsiale- en stasiekommissarisse gedesentraliseerde met ‘n gemiddeld van +- R13-biljoen.
Het die SAP se finansiële offisiere en generaals dalk té konserwatief gewees met hulle voorleggings aan die Tesourie rondom die SAP se jaarlikse, finansiële behoeftes? Vandag kan mens net raai.
Hoe dit ook al sy; die gevolg was dat ons destyds in die SAP – soos jy dit so interessant vertel – met net die minimum uit die begroting tevrede moes wees. Maar, eienaardig genoeg, het ons nié gekla nie, maar nogtans staatmakersdiens probeer lewer.
Nou hoekom is daar deesdae sulke blatante onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes?
Die eerste rede is omdat die ouditeur-generaal jaar na jaar die vermorsing en onreëlmatighede uitwys, maar dat daar gewoon geen gevolge vir die verantwoordelikes volg nie.
Klagtes word gereeld uit SAPD-geld ere gehoor van die nie-beskibaarheid van geld. Maar as mens kyk na die oordadige spandering deur provinsiale kommissarisse met etlike groot en duur byeenkomste – intern en met gemeenskaps-imbizo’s, ens. – en die motors, die vyfster- hotelverblyf, oortyd, ens. vir byvoorbeeld die PKTT-taakspan in KZN, is daar dan te min geld beskikbaar vir dag-tot-dag polisiëring by polisiestasies. Daar is baie meer voorbeelde.
Die korrupsie en wanbesteding deur ontplooide kaders is oral endemies in die staatsdiens. Die SAPD, waar mens dit die minste verwag het, het ongelukkig ook ‘n slagoffer daarvan geword. Dit is dus bloot ‘n geval waar die algemene kultuur van staatsamptenare wat nie positief getransformeer het nie.