Die Luiperd van Maleoskop*

DIE LUIPERD VAN MALEOSKOP

Genl-maj Chris Botha

“Wat het julle vanaand gerook sersant? Ons kan dalk geld maak daarmee”, kom dit sarkasties van ondersersant Tom Spies, instrukteur aan diens by die hoofbasis. Ek verstaan vandag sy reaksie op my radioboodskap ten volle. Tot op daardie stadium, sou ek later verneem, het niemand eens geweet dat daar ‘n luiperd los rondloop op Maleoskop nie.

Maar wag, ek loop nou die ding vooruit.

Vroeg in 1978 beland ek op Maleoskop, die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) se opleidingsterrein naby Groblersdal in die hedendaagse Limpopo Provinsie (alhoewel op die grens met Mpumalanga en eintlik vir alle praktiese doeleindes deel van die ‘Mpumalanga Kulturele Hartland’), om ‘n kursus by te woon. Soos die res van die bevelselement op die kursus kom ek vanaf ‘n standplaas iewers in die land (in my geval, Oos-Londen) terwyl die konstabels op die kursus direk vanaf basiese opleiding af op die plaas aanland. ‘Die plaas’, soos ons die plek daardie jare genoem het, was mooi van die wildheid. Dit was ‘n pragtige stuk grond, goed opgepas en mooi ingerig vir opleiding in teeninsurgensie, asook in stedelike terreur. Die administrasieblok, sommige huise (in polisietaal na verwys as ‘getroude kwartiere’), enkelkwartiere, die water-reservoir, motorhawe en die groot skietbaan was reeds voltooi en in gebruik. ‘n Ou dubbeldekkerbus het as kantien gedien, en daar kon die kursusgangers aan die einde van die dag se opleiding elk twee biere koop. Die basis waarin ek geplaas is, was tussen die administrasieblok en die getroude kwartiere. Die ander basis was agter die administrasieblok, aan die kant van die kantien. Die twee basisse het bestaan uit klein voorafvervaardigde hutte met gate in vir vensters en deure. Die kantore (van die Bevelvoerende Offisier af regdeur tot verby die nimlike sersant Pellie Fourie met sy administrasiepersoneel) en die menasie het die administrasieblok uitgemaak. Aan die voorkant van die administrasieblok was ‘n klein paradegrond, met die motorhawe aan die oorkant van die pad. Kollektief was alles hier ‘die hoofbasis’ genoem in die omgangstaal van die plaas.

En die plek was vol slange. In die ruie veld was daar mambas, Mosambiekse spoegkobras en pofadders, om maar net te praat van die verskriklike giftiges wat daar rondgeseil het. Een van die klipperige koppies op die plaas was selfs “Slangkoppie” genoem. Die koppie was net so duskant die Populierdam (waar na bewering die een of ander waterslang geskuil het) nogal nie ver van die hoofbasis af nie. Daar was volop kleinwild, ‘n mooi voëllewe en baie mooi bome. ‘n Waterval, iewers op die pad tussen die hoofbasis en die skietbaan, het vir my gelyk of dit deur ‘n meesterontwerper-bouer daar geplaas is (wat dit, terugskouend, sekerlik was).

Die waterval was netso knap verby Boleu, ‘n magtige stuk kop wat soos ‘n versteende dinosourus daar gelê het, groot middellyf, stert, en al. Dis hier waar die Bakopa-mense se geskiedkundige plek was. Hul statte was hier rond, hul vee het hier gewei, hul afgestorwenes is hier begrawe. Dit was hulle besondere plek.

Dit was ook ‘n baie warm plek. Om daar te land gedurende die eerste paar maande van ‘n nuwe kalenderjaar is geen speletjie nie. Dit is asof die hele plaas, fauna sowel as flora, tot stillstand kom onder die geweldige hitte. Dit was baie kere vir my so doodstil in die middel van die dag dat ek gereeld gevoel het dat ek heeltemal alleen op die aarde was. My vriend LM Pieterse het vir hom ‘n kierie uit ‘n afgebreekte boomtak gesny “want as die son ons alleen kry, brand hy ons dood”. (Terloops, baie jare later het LM, wat ‘n bekende opleier op die plaas geword het, vir my ‘n kierie gegee wat hy spesiaal vir my gaan soek het. Ek het dit vandag nog en gaan stap graag daarmee). En dan, natuurlik, die sonbesies … Die lawaai van die sonbesie laat my vandag nog verlang na Maleoskop – ‘n plek wat uitgekerf is in my menswees. En die plek wat ek moes gaan toemaak, baie jare later, nadat die grond aan die Bakopa oorhandig is.

Want, op hierdie plek het ek baie geleer van goed waarvan ek nog nooit in my lewe eens gehoor het nie. Onthou, ek was eintlik ‘n polisieman, nie ‘n soldaat nie – my polisie-opleiding was een van minimum geweld. Op die plaas was ek egter getuie van die verstommende gewelddadige aard van ‘n handgranaat of ‘n geweergranaat. Wanneer ek my oë toemaak hoor ek steeds die skrikwekkende stotter van die ligte masjiengeweer en sien ek die ammunisiebande gedrapeer oor Groot Bok Helberg se skouer. Ek het ook leer dink oor strategie, eie sowel as dìe van die vyand. Daarby kom diepliggende lewensvrae oor mens se pad as jy gekonfronteer word met die oorsake van die konflik waarin ons ou klomp baby boomers beland het. Opleiding en ontwikkeling het gevolglik nie slegs plaasgevind in die een of ander gestruktureerde sessie nie, maar ook (met interessante impak op die versnelde leerervaring) na-ure, soms in die kantien, soms in die eetsaal, soms eenvoudig gedurende die normale gang van dinge …

En uit hierdie plek uit, het ek iets van Suidwes-Afrika (vandag Namibia) beleef. Gedurende ons opleiding op die plaas, is ‘n vertroueling (en lyfwag, is ons vertel) van mnr Clemens Kapuuo van die woongebied Katutura by Windhoek met klippe doodgegooi terwyl hy op ‘n ou motor-sitplek voor ‘n huis gesit het. Mnr Kapuuo was ‘n politieke leier van die tyd en van die Herero-mense. Die Herero’s en die Ovambo’s van daardie land was politieke teenstanders van mekaar en die regering (Suid-Afrika het Suidwes-Afrika bestuur) wou moontlike grootskaalse geweld voorkom. Ons is dus gemobiliseer en soontoe gestuur om die aangeleentheid te help hanteer. Inderdaad is mnr Kapuuo self net na ons terugkeer uit Suidwes-Afrika ook vermoor. Daardie paar dae in Windhoek behoort die onderwerp te wees van ‘n storie op sy eie want, behalwe vir die swaarmoedigheid van daardie spesifieke konflik, is daar die storie van ek, LM, en Mike Jansen, ‘n hotelkroeg in die Kaiserstrasse (vandag Independence Avenue) en ‘n kroegmeisie met uitstaande kenmerke …

Die praktiese implikasies van hierdie ontplooiing egter, het beteken dat ons nog nie die finale praktiese assessering van ons opleiding (die sogenaamde ‘veldweek’) voltooi het nie. Ons moes, by ons terugkeer, dus eers hierdie deel van die opleiding slaag om as behoorlik opgelei beskou te kon word.

Op ‘n mooi en warm oggend dus, ry ek met ‘n ou groenerige oopkap sessilinder Land Rover na my basis tussen Slangkoppie en Boleu, naby die grafte van die Bakopa se voormense. My seksie van jong konstabels, en al die goed wat ons vir ‘n week in die veld sou nodig hê, is op die Land Rover. Net voor die Populierdam, dwarsoor die tweespoorpad, lê ‘n swart politeen-waterpyp. Ek neem aan dat die pyp daar vergeet is na die een of ander waterleiding, stop die voertuig en versoek konstabel O’Connor wat links voor by my sit om die pyp op te laai. Die instrukteurs sou dit dan kon terugneem na die hoofbasis wanneer hulle die Land Rover by ons basis kom haal, meen ek. O’Connor klim uit en klap die blikkerige halflyf-deurtjie van die voertuig toe.

En daar lig die swart politeen-waterpyp sy kop bokant die gras langs die pad op. Die langste en dikste swart mamba wat ek ooit gesien het, kyk vir ons met sulke koue oë en ‘n wapperende tongetjie. Sy bolyf wieg stadig heen-en-weer, so asof hy besluit watter kant van die voertuig hy eerste sou wou bereik. En dit sou dalk aan my kant wees … In daardie doodse stilte, selfs die sonbesies het nie geraas nie, styg O’Connor op, regop in die lug in. Iewers bokant die grond skuif sy lyf na regs en plof in sy sitplek neer. Aan my ander kant. Ek stamp die ou Land Rover in trurat en skop die versneller teen die vloer vas. Agterna sou Tom Spies vertel dat hy nog nooit in sy lewe weer ‘n ou groenerige oopkap sessilinder Land Rover sò vinnig sien ry het nie, nie agteruit nie, en ook nie eens vorentoe nie.

Terug by die hoofbasis, vergesel van die instrukteurs, ry ons weer en kry hierdie keer ons basis opgeslaan. Die week verloop soos beplan. My ‘terrorisnaam’ is Spên-hur (om geen dramatiese rede nie, behalwe dat ek op daardie tyd van my lewe ‘n ieder en elk wie se naam ek nie kon onthou nie, as ‘ou spênner’ aangespreek het). Op elke wit stukkie toiletpapier (ons ‘spoor’) wat die fiks jong manne regoor Boleu en ander onbegaanbare plekke aan bossies en takkies vasmaak sodat die ‘veiligheidsmagte’ ons kan agtervolg, staan Spên-hur, die naam van die vervloekte ‘terroris’ wat die manne laat sweet en swets.

Teen die einde van die veldweek verwag ons enige oomblik ‘n aanval op ons basis deur die veiligheidsmagte. Maar ons oortree ook ‘n paar reëls: een van die instrukteurs was ‘n student van my toe ek ‘n pelotonsersant/drilinstrukteur in die SA Polisiekollege in Pretoria was. Hy reël vir ons ‘n paar biere en ook boerewors wat ons die laaste aand in ons basis braai. Die inhoud van die oorblywende blikkies in ons rat packs word as bykosse gebruik. Ons begrawe nie die blikkies soos gewoonlik (en voorgeskrewe) nie, maar gooi dit sommer op ‘n hopie eenkant. Ons hou die vuurtjie nog bietjie aan die brand, net vir die saligheid van ‘n vuurtjie in die bos.

Laatnag is daar ‘n geluid van die blikkies se kant af. Iets peuter daar. Ek hoor die manne se asemhaling verander. Ek luister so goed ek kan. “Is dit die begin van die aanval, ‘sant?”, vra een van die manne.

Ek wou nog antwoord, toe kyk die aanval vir my. Stip. Met groot geel oë. In die skalkse lig van ons vuurtjie maak ek die buitelyne van ‘n luiperd uit. Vanuit die lê-posisie lyk dit vir my na ‘n onmoontlike groot luiperd. Dis alweer doodstil op die plaas, in die middel van die nag.

Toe trek ses manne los, met al die loskruit ammunisie tot ons beskikking. Toe ons weer tot verhaal kom, is die luiperd weg.

In daardie donker stilte, toe die hele plaas asem ophou, kom Groot Bok Helberg se stem krakerig hier van my linkerkant af: “…. en ons het teen ‘n moerse spoed gereverse vir ‘n ou mambatjie …”

(Hartenbos; 25 September 2025)

*Min polisiemense, selfs baby boomer – oud-kollegas, sal hierdie storie ken – alhoewel hulle dalk ‘n soortgelyke een mag ken. Terwyl ek hier skryf, tel ek ‘n paar mense wat moontlik sal weet, en wat dalk nog leef (ek het niks tot die teendeel gehoor nie). Hulle sal antwoord op name soos Lollo, Kallie, Fires, Tom, Faan, Marralich en so meer. Of hulle egter hierdie hele storie net soos ek het, weet ek nie. Ek hoop maar O’Connor, Groot Bok Helberg en Mike Jansen, indien hulle hierdie stuk ooit onder oë kry, is nie ongemaklik dat ek hulle noem nie. Ek kon hulle nie in die hande kry nie, anders sou ek gevra het. Ek weet LM sou die storie geniet het. Nogtans neem ek volle verantwoordelikheid vir dit wat hier staan, krom en skeef ‘of te not’. (Met laasgenoemde sal die oud-kollegas kennis neem van die feit dat ek darem nie my handewasfunksie met ‘finish en klaar’ beskryf nie – dit is immers die domein van die man wie se besluit my in die onbenydenswaardige posisie geplaas het om die plaas te gaan toemaak, baie jare later).

En in elk geval, al is die storie op ‘n bepaalde feitelikheid gebaseer, behoort mens tog nooit ‘n goeie storie met te veel feite te belas nie, of hoe?