Key Words: Zimbabwe, Elim Mission.
Abstract: Elkarien Fourie writes in Nongqai about a forgotten atrocity committed against missionaries in Zimbabwe.
GODGEGEWE OPDRAG, OF MISPLAASDE WELSYN
Elkarien Fourie
Op ’n winderige herfsdag in 1980 tel ek en my man Tienie ’n briefie op ’n klein enkel-velletjie papier tussen die murasies van ’n sendingstasie in Zimbabwe op. Tienie het na die onafhanklikwording van dié land, ’n kantoor in Harare vir die destydse Nasionale Pers geopen.
Die Elim Sendingskool in die Bvumbaberge
Die sendelinge aan wie hul gelowige vriendin in Engeland dié geselsbriefie gerig het, is ’n paar jaar tevore in die laaste stuiptrekkings voor onafhanklikwording, grusaam vermoor by die Elim Sendingskool in die Bvumbaberge. Saam met ’n handvol moorde op ander plekke in die finale jare van oorlogsgeweld, is Westerse kerklikes in die konflik tussen terroriste (of vryheidsvegters) en Rhodesiese veiligheidsmagte vasgevang met grusame gevolge. Soos elders in Afrika het die einde van kolonialisme baie onskuldige slagoffers gehad.
Dié brief is gedateer Februarie 1977 en ek het dit vir amper vyftig jaar gebêre. Dit het baie rondtrek oorleef en toe die klein velletjie papier oplaas weer by my aanmeld tydens ’n noodgedwonge vermindering van besittings voor hopelik die laaste trek, het ek gevoel ek kan nie langer wag om sy stil getuienis te deel nie. Met die gehate lied Kill the boer kort-kort weer op die voorgrond in Suid-Afrika en die ANC wat bly weier om dit amptelik te veroordeel, is dit dalk relevant om die tragedie agter die br, ’n oomblik in die kollig te plaas. Daarby is dit op 18 April 46 jaar sedert Zimbabwe onafhanklik geword het. Met net twee staatshoofde die afgelope 45 jaar lyk dit asof daar min variasie tussen onafhanklikheidstryders in Afrika is wat regeerders geword het.

Bladsy Een van die brief
Hierdie is die verhaal van ’n jong getroude paartjie uit Engeland, Sue en Phil Evans, wat geroepe gevoel het om met hul klein dogtertjie, Rebecca, by ’n sendingskool in Afrika hul Christelike evangelisasie-opdrag te gaan uitleef.

Bladsy Twee
‘Guerrillas slay 12 at Rhodesian Mission School
Met die hulp van die internet wat ek destyds nie gehad het nie, soek ek die gebeure vir die skryf van die artikel op kry die joernalis David Ottaway se berig in die Washington Post van 25 Junie 1978 onder die opskrif Guerrillas slay 12 at Rhodesian Mission School. Hy noem dit die ergste massamoord van blanke kerkverteenwoordigers in die wrederwordende oorlog.
Die sekondêre skool is bestuur deur die Elim-missie van ‘n pinksterkerk met sy basis in Cheltenham, Engeland. Hierdie sendinggenootskap was in tien lande bedrywig, met vier sendingstasies in Afrika waarvan drie in die destydse Rhodesië.
Een oggend vroeg is vier van die vyf vroulike personeellede verras, verkrag en vermoor en nog een tot in bosse gesleep en vir dood agtergelaat, maar is later in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem. ’n Man, wat nie ’n woord kon uitkry nie, het net-net oorleef. Die twaalf lyke is in die middag gevind, maar dit het geblyk dat hulle die oggend oorval is en met onder meer bajonette doodgekap is. ’n Byl is in een vrou se rug gelaat en vier klein , onder meer klein Rebecca, het saamgebondel in hul kamerjassies rondom ’n ander een gelê. Nog ’n man, dalk die 29-jarige Phil Evans, se hande is agter sy rug vasgebind voordat hy doodgesteek is.
Die moorde was een van ’n reeks aanvalle wat altesame 33 sendelinge en hul gesinne uitgewis het. Ottaway skryf dit lyk of die terroriste se oogmerk was om die regering van Ian Smith se beheer in die landelike gebiede te ondermyn. Maar baie sendelinge het geglo die guerillas was Marxiste wat daarop uit was om die Christelike invloed in die land ’n nekslag toe te dien.
Daar was geen ooggetuies van die slagting nie, hoewel van die leerders vertel het hulle is ’n paar dae gegee om die terrein te verlaat en het opdrag gekry om huis toe te gaan. Dit het later geblyk dat die sendelinge binne dae na ’n veiliger plek verskuif sou word, maar die dringendenheid van die stap is skynbaar nie besef nie. Rhodesiese veiligheidsmagte het die aanvallers agterna gesit, maar die sendingstasie en skool was geleë in die mistige, bosbegroeide berge suidoos van die destydse dorp Umtali (nou Mutare) op die oosgrens van Zimbabwe naby Mosambiek. Die skuldiges, lede van ZANLA (Zimbabwe African National Union) het in die buurland verdwyn. Die Elim Pentecostal Church het sy werk voortgesit in Zimbabw en later is ’n gedenkkerk in Mutare opgerig ter ere van die slagoffers.
Die skool se naam? Emmanuel – “God met ons”. Maar hoe kry ’n mens, veral gelowiges, sin gemaak van so ’n uitdelging van Christen-weldoeners? Meer nog, as leser van die folteringsverhaal ervaar jy self trauma wat jou lank bybly. Om berusting te probeer vind vir die misterie van God se wil, wonder jy of die oogpunt waaruit hierdie aanvalle beplan en uitgevoer is, bloot boos was. Of kom die motivering dalk uit ’n ingebore wrewel teen koloniale onreg of iets anders meer verstaanbaar as blote bloedlus?
Sendelinge was nie altyd verhewe bo onderduimse verskuilde agendas nie, soos byvoorbeeld die Spaanse veroweraars na Suid-Amerika. In 19de eeuse China was sendelinge dikwels kop in een mus met handelaars wat die Britse regering se beleid van handel in Indiese opium na China bevorder het, welwetend dat dit ’n ’n hoogs verslawende dwelm is. Maar die opbrengs was nodig om Chinese tee te kon koop. Tot vandag toe word sendelinge in China nie geduld of vertrou nie en Westerse kerke word slegs in die land toegelaat op voorwaarde dat geen Chinese burger bearbei mag word nie. Die Chinese regering hou streng toesig oor sy eie vertolking van die Christelike geloof wat as onskadelik genoeg geag word om nie die sosiale orde (kode vir staatsveiligheid) te bedreig nie.
Maar wat van die ondubbelsinnige sendingopdrag aan Christene wat met integriteit en gehoorsaamheid die Woord verkondig waarvan ons self produkte is? Die geskiedenis van die sending is deurspek met weerstand van gasheerlande en selfs ernstige vervolging en moord, maar vandag is Christelike kerkplanters, landboukenners en medici wat in Afrika steeds besig is met eerstens praktiese hulp en tweedens met sending, hopelik sensitief en opreg met die plaaslike bevolking se welsyn op die hart.
Die Kommunistiese Party in Sjina
Die Kommunisteparty in China is vandag steeds baie gevoelig vir die Westerse eksploitasie wat China se deel was toe die Qingdinastie te swak en uit voeling met destydse vooruitgang was om weerstand te bied. Een bewys hiervan is die ongemaklike verhouding tussen Christene en die Chinese regering wat vandag nog bestaan. Die kerk wat ek in Beijing tydens my verblyf daar bygewoon het, was baie versigtig om nie ’n Chinese burger toe te laat om ‘n erediens by te woon nie, omdat die Westerse kerk dan die vergunning sou verbeur om weekliks ’n plaaslike konsertteater vir dienste te gebruik. Behalwe expats, is uitgeweke Chinese met paspoorte van ander lande toegelaat, maar net as hulle hul paspoorte kon wys, en dit moes jy doen selfs al was jy ooglopend nie ’n Chinees nie.
Zimbabwe met sy groot potensiaal aan erfenis, hulpbronne en veral menslike kapitaal, is na amper ’n halfeeu van onafhanklikheid steeds nie op die wenpad nie. Sendelinge in Zimbabwe word nie meer vermoor nie en die motief vir die moorde was gekoppel aan die vryheidstryd. Maar is Zimbabwiërs nou beter af as destyds? Ons ken hulle as van die beste werkers in Suid-Afrika wat voordeel trek uit ‘n onderwysstelsel wat in baie opsigte ons eie oortref. Diegene wat nog daar uithou omdat hulle moet, ondanks tekorte en poltieke onderdrukking, wag soos baie ander Afrikalande steeds (of nou weer?) vir hul magshebbers om eiebelang ondergeskik te stel aan ’n beter lewe vir hul burgers.
Elkarien Fourie
