The Bomb: 20 May 1983
Rev. Fanie Vermaak
THE BOMB: 20 MAY 1983
Rev. Fanie Vermaak
Abstract
Certain events in human experience remain indelibly imprinted on the mind — the precise place, date, and time, the individuals present, and the conversations or activities shared. The bomb explosion in Church Street, Pretoria, on 20 May 1983 constitutes one such defining moment. The incident not only sent shockwaves through South Africa’s domestic sphere but also precipitated a significant transformation at all border bases administered by the South African Police.
At the time, I was serving as a young visiting conscript police chaplain on the Eastern Border. Within the ranks, speculation persisted regarding when the first landmine might detonate inside South Africa’s borders. Until then, the conflict had been largely confined to the territory then known as South West Africa, as well as Ovamboland and Angola.
The South African Police maintained deployments across three operational regions: two internal borders — the Eastern and Western Borders — and one external, in northern Namibia. During the early weeks of May 1983, relative calm prevailed along these borders. Policemen stationed there experienced boredom due to the absence of operational activity and often occupied themselves with peripheral tasks, such as taming local wildlife or engaging in minor recreational pursuits.
Following the Church Street (20 May 1983) bombing, however, circumstances changed dramatically. Discussions among personnel assumed a far more serious tone, and border security was intensified. Seasoned policemen undergoing refresher training at the Police College were immediately mobilised, in double strength, to reinforce the South African border positions.
The first part of these memoirs provides an account of the calm and at times monotonous conditions on the internal police borders prior to the Pretoria bombing. The second part analyses the developments following the explosion — events that profoundly altered the operational and emotional landscape of those serving at the border bases. In its aftermath, a range of psychological, pastoral, and social difficulties emerged, often escalating beyond manageable levels, while permanent remedial measures remained elusive.
![]()
Abstrak
DIE BOM : 20 MEI 1983
DS FANIE VERMAAK
Daar is sekere gebeurtenisse in `n mens se lewe wat jy baie helder onthou, die plek, datum en tyd, wie almal by jou was en waaroor julle gesels het of wat julle saam gedoen het. Die bomontploffing in Kerkstraat van Pretoria op 20 Mei 1983 het nie net die binneland geskok nie, maar al die grensbasisse wat deur die SA Polisie beheer is, het `n totale omwenteling ondergaan. As `n jong besoekende diensplig-polisiekapelaan aan die Oosgrens, was daar op daardie stadium nog net bespiegelinge oor wanneer die eerste landmyn binne die grense van Suid-Afrika sou ontplof. Die oorlog was toe eintlik nog net in die destydse Suidwes-Afrika en dan natuurlik in Ovamboland en Angola.
Die polisiemanne het op drie gebiede grensdiens gedoen, twee grense binnelands, Oosgrens en Wesgrens en dan natuurlik buitelands, noordelike Namibië. Die eerste deel van Mei 1983 was daar heerlike stilte op die Suid-Afrikaanse grense. Die grensmanne daar was verveeld omdat daar feitlik geen aksie was nie. Hulle het hulle net besig gehou met ander aktiwiteite, soos om wilde diere en voëls mak te maak en toertjies te leer.
Toe skielik na die bomontploffing het alles verander. Die gesprekke het al hoe ernstiger geraak. Die grense moes nou beter bewaak word. Die vars manne wat opknapping in die Polisie-kollege gedoen het, moes dadelik in dubbel sterkte die Suid-Afrikaanse grense beman. Die eerste deel van hierdie memoires vertel net van die rustige en soms vervelige dae op die binnelandse polisiegrense voor die bomontploffing in Pretoria. Die tweede deel probeer verwoord wat na bomontploffing op die grensbasisse gebeur het en almal se lewens verander het. Sielkundige, pastorale en maatskaplike probleme het orals kop uitgesteek, soms handuit geruk, sonder dat permanente oplossings beskikbaar was.
![]()
DIE BOM
“Ons gaan julle kom haal”
1. INLEIDING

Na legitimasie as predikante was geen teologiese student of sogenaamd tokkelok verskoon na sewe jaar se teologiese studie nie. Almal moes weermag of oorlog toe, al was dit na sewe jaar se volgehoue studie. As mens nie sou opdaag by Voortrekkerhoogte nie, sou hulle jou kom uithaal, het die kapelaan-generaal van die weermag toe aan al die aspirant-predikante vertel, by die verskillende teologiese skole oftewel kweekskole in die land.
Gedurende die jare 1981 en 1982 het die NG Kerk se teologiese fakulteite in die land ongekende groot getalle admissante en tokkelokke oftewel dominees opgelewer. Daar was bespiegel dat dit die uitvloeisel was van die NG Kerk se Jeug-tot-Jeug-Aksie wat tydens 1973-1974 die hele land deur getoer het. Aangesien die twee groepe van Stellenbosch en Pretoria so groot was, kon die weermag nie al die nuwe predikante ten volle benut nie. So was van die 1981- en 1982-groepe finale jaar proponente oorgeplaas na die polisie-geledere om daar diens te doen as deel van hulle twee dienspligjare wat net die blankes moes doen.
Die uwe word toe na die polisie oorgeplaas as gevolg van sy sportbetrokkenheid, waarskynlik sonder dat die weermag daarvan kennis geneem het. Die predikant was toe al na twee maande besig met sy bosopleiding in Maleoskop saam met al die ander polisiemanne, toe die SA Weermag ewe by sy skoonouers in die Noord-Kaap opdaag om hom te kom haal vir sy kamstige wetsoortreding van ontduiking van verpligte wit diensplig. Dit het sweet gekos van die skoonouers op ’n plaas in die Noord-Kaap om te verduidelik dat die predikant lankal daar by die polisiekollege in Pretoria aangekom het.
Saam met al die jong predikante van die SA Polisie moes die polisiewette vir ses weke by die polisiekollege in Pretoria-Wes geleer word. Hulle moes leer dril, skiet, bed opmaak en skoene spoeg tot hulle blink. Heelwat ander items was óf onnodig óf oordadig. Om van die gevloek en geskellery van die sersante en al die ouens met die pips op hulle skouers nie eers te praat nie. Dit het vir die meeste predikante gevoel of hulle nog ’n nuwe taal, behalwe Grieks en Hebreeus, moes aanleer waarvan hulle meestal nog net gehoor het. Die gelegitimeerdes het almal ’n nuwe wêreld betree, van die heilige kweekskool tot by die sogenaamde grassroots. Nogal ’n aanpassing; vir party predikante was dit moeiliker as ander. Die manne wat in pastorieë groot geword het, het dit as ’n effense aardskudding ervaar. Die manne wat vanuit spoorweghuise of ander staatsomgewings gekom het, was dit effens makliker, soos die uwe.
Na die ses weke lange stedelike terreur-opleiding in die Polisie-kollege in Pretoria was daar nog ses weke bos-opleiding in Maleoskop, naby Groblersdal. Die predikante was vermeng oftewel versprei saam met al die ander beroeps-polisiemanne in die verskillende pelotonne. Daar het hulle van die bosoorlog en die stedelike terreur geleer tot dit by almal se ore uitpeul. Hoewel Maleoskop in ’n plaasomgewing geleë was, was die opleiding meestal in die bosveld gedoen wat eintlik ’n aangename ervaring was. Baie vrugbare kontakte is gemaak met die beroeps-polisiemanne vanaf die polisiestasies. Maleoskop was ’n mooi plaas met heelwat wilde diere, jakkalse en hiënas, wat ook gedurende die nagte gehoor kon word. Met elke rookbreek het ons predikante bietjie “brug” of “poker” met die kaarte gespeel. Eintlik was dit vreemd vir die oorlog en stedelike terreur in die bosomgewing.
Die kapelaan-generaal van die polisie het van die begin af gepraat dat die uwe by die polisiekollege na basiese opleiding moes aanbly, sodat hy met die sport ook daar doenig kon wees. Na drie maande se opleiding by die polisiekollege sowel as in die bos by Maleoskop, is daar besluit dat ’n ander predikant daar by polisiekollege sou werksaam wees vir die tweejaar diensplig-tydperk. Die uwe moes toe eers van die eerste week af in Mei 1983 grens toe gaan sodat hulle kon tyd kry om te besluit waar die uwe moes op eindig vir sy twee verpligte jare vir volk en vaderland. Op 20 Mei 1983 het die bomontploffing in Kerkstraat in Pretoria se middestad plaasgevind.
Gedurende daardie tyd van die bomontploffing het die weermag nog hoofsaaklik in Ovamboland geveg, terwyl die polisie die Suid-Afrikaanse grense bewaak het. Daar was toe nog die heeltyd bespiegel wanneer die eerste bom of landmyn in die land Suid-Afrika afgetrap sou word. Dit sou dan kwansuis teen die grense van Mosambiek, Swaziland, Zimbabwe of Botswana kon gebeur.
Die SA Polisie het alle buitelandse grense gepatrolleer bykans soos hulle dit in die stede en platteland gedoen het, selfs in die Nasionale Kruger-wildtuin. Die binnelandse grense was verdeel tussen die Oos- en Wesgrense. Die Oosgrens het die gebied teen Mosambiek, Swaziland en ’n suidelike gedeelte van Zimbabwe uitgemaak. Die Wesgrens het hoofsaaklik die grenslyne van Botswana bewaak tot by die suidwestelike deel van die Namibiese grens. So het al die dienspligkapelane beurtelings in die polisie vir ten minste ’n maand per jaar in of Oos- of Wesgrens vertoef vir bediening. Naas hierdie twee-jaardiens was die predikante ook jaarliks vir ’n maand opgeroep Weermag of Polisie toe, om meestal net grensdiens te doen, om die grensmanne geestelik te versorg. Die kapelane het so twee of drie dae op ’n grensbasis vertoef en dan voortbeweeg na die volgende grensbasis. Daar was te gelyke tyd een kapelaan wat op die Oosgrens diens gedoen het en een wat op die Wesgrens beweeg het om die polisiemanne te bedien.
Direk na die basiese opleiding is ’n polisiemotor aan die dienspligkapelaan verskaf om die polisiemanne op die Oosgrens te bedien gedurende Mei 1983. Die dienspligkapelane het tussen die grensbasisse soos Muzi, Manguzi, Ndumu en Oshoek en vele ander beweeg wat almal of aan Mosambiek, Zimbabwe, Botswana of aan Swaziland grens sowel as die basisse wat diep in die Krugerwildtuin gesetel was.
Die eerste deel is diens gedoen langs die grense van Mosambiek en Swaziland voor die bomontploffing in Kerkstraat, Pretoria.
Op 20 Mei 1983 gesels die kapelaan met die polisiemanne op die Amsterdam-grensbasis wat so effens in die dorp geleë is, nou nie in Nederland nie, vir ingeval iemand so vra. Die boodskap kom toe deur met ’n teleks dat daar ’n groot bomontploffing in Kerkstraat in Pretoria was. Die hele land was in rep en roer, heelwat mense is dood of vermink gevind wat binne of buite die gebou was.
Daar was toe ’n effense buzz wat by al die Suid-Afrikaanse grensbasisse plaasgevind het. Niemand het toe nog geweet wat regtig aan die gang was nie, maar iets vreemd was aan die gebeur.
By elke polisiegrensbasis het daar vreemde insidente plaasgevind wat waarskynlik nooit vir die publiek vertel sou word nie. Die kapelaan moes hierdie manne bedien terwyl hy aan beweeg, en twee tot drie dae op ’n grensbasis vertoef. Die situasie op elke grensbasis het elke keer meer kompleks geword en ent-ent hand uitgeruk.
Die SA Polisie Hoofkantoor was nie eintlik bewus van wat hier op die grensbasisse aangegaan het nie. Elke basis het ’n storie of drie gehad om te vertel wat mens byna nie kan oorvertel nie. Maar dit moes tog seker uit, een vir een moet ons dit oorvertel. Noudat die grootbase niks meer aan ons kon doen nie, na ’n paar dekades. Hulle is hoeka ook nie vandag meer in beheer of selfs lewendig nie.
Elke grensbasis het sy eie karakters opgelewer wat glo gehelp het om die SA Polisiemanne se drie maande van grensdiens geriefliker te maak; party grapmakers, party ernstige manne, ander wispelturig en karakters in eie maat. Na drie maande se grensdiens was party grenspolisiemanne boesemvriende vir altyd, maar ander wou mekaar nooit weer sien nie. Hulle loop toe so twee-twee of drie-drie saam patrollie langs die grense, die hele tyd om terroriste te vang. Dag- en nagskofte is soms uitgeruil om saam te werk of nie saam te werk nie.
So wrintiewaar, ongeveer vier dekades het al verloop voordat die uwe kans gesien het om dit effens vir die gewone burgers te verwoord. Maar uit moes dit uit, al word derms effens uit gewurg. Die idee van veertig jaar was glad nie in gedagte met die beplanning van hierdie skrywe nie, later wel. Die kern van hierdie skrywe is reeds tussen twee tot drie dekades gelede geskryf en laat lê om ryp te word. Sekere insidente kon onbewustelik daartoe aanleiding gegee het. Rare gebeure het die naby-families getref en niemand kon onaangeraak bly nie.
Die lees van die novelles van Frans-Algierse Nobelpryswenner, Albert Camus, was seker die grootste inspirasie vir die neerskrywe van hierdie geheuedruppels. Na elke hoofstuk se lees van “Die Buitestaander” of “Die Pes” het die grensverhale in die geheue weer verhelder asof dit gister gebeur het, sonder dat daar enige noemenswaardige ooreenkoms was. Die inspirasie van Camus is hier onbeperk.
Die eerste deel van hierdie memoires vertel net van die rustige en soms vervelige dae op die binnelandse polisiegrense voor die bomontploffing in Pretoria. Die tweede deel probeer verwoord wat daarna op die grensbasisse gebeur het, nadat die bom afgegaan het en almal se lewens effens verander het, na watter kant toe ookal. Dit bly steeds ’n subjektiewe belewing daarvan en daar word nie gepoog om enige historiese kronologie of regstelling te maak nie.
2. JOZINI
(Voor die bom)
“Jy sal weet wat om te doen en te sê as jy daar kom.”
Jozini in Noord-Natal het as hoofgrensbasis gedien vir die hele Oosgrens van die RSA. Jozini is baie hoog geleë met ’n besondere uitsig oor die Makatini-vlakte, met goeie sig tot diep in die suide van Mosambiek.
Alledaagse voorrade is op groot skaal na Jozini vanuit Natal se stede en dorpe gekarwei en dan van die hoofbasis in Jozini af na die satelietbasisse versprei soos Ndumu, Muzi en Manguzi, wat almal om die suidelike Mosambiekse grens ingegrawe was. Direk na die drie maande basiese SA Polisie-opleiding word die uwe toe eerste van die nuwe dienspligkapelane na RSA grense gestuur.
Met die aankoms hier op Jozini as die eerste dienspligkapelaan op die Oosgrens van die RSA, was vir die Polisie-manne ook ’n nuutjie. Vroeër het die permanente polisiekapelane so ses-maandeliks of slegs jaarliks by hierdie grensbasisse uitgekom. Aangesien die polisiemanne ’n drie-maandelikse diens op die grens moes doen, het baie van hulle nooit ’n kapelaan daar op die grens gesien nie. Die gangbare teerpad het tot by Jozini gestrek en was nie eintlik toeganklik vir ’n gewone motor nie. Die kapelaan se motor moes ook nou hier bly staan vir die hele tyd in die effens bosserige gebied rondom Jozini. Fanjan se polisiemotor het toe ook vir meer as ’n week hier gestaan en is per bakkie vervoer tussen die subbasisse soos Ndumu, Mkuze en Manguzi.
Daardie heel noordelike deel van Natal was aan hom glad nie bekend nie, aangesien hy in Durban groot geword het. Maar met ’n goeie kaart in die hand, is hy toe vort op hierdie opwindende tyd in sy lewe. Meer as ’n maand in die boendoes, en hy sou dit jare daarna weer en weer doen soos wat hulle elke jaar vir ’n maand opgeroep is, net die blankes. Maar omdat Fanjan van mense en hulle dinge hou was dit nooit ’n las nie, die bos- en veldlewe was in sy bloed. Die polisiemanne wat grensdiens hier gedoen het, was ook uit hulle daaglikse bestaan uitgehaal en op die grens geplaas, met geliefdes tuis.
Jozini kon mens van die eerste oomblik af waarneem as die hoofbasis waarvan al die operasies uitgevoer en ontplooi is. Dit is nie eintlik ’n dorpie nie, net die asbeshuise of -kamers waarin alles gebeur het, slaapvertrekke, kuierplekke, voorraadstore, kombuis, ontspannings- en speelvertrekke. Van die huisies moes wel seker vroeër aan privaat persone behoort het.
Ja, elke basis op die grense het wel speelvertrekke gehad, om ontspanning te verskaf vir die kort tydjies wat die manne af was na ’n dag- of nagskof in die veld; poeltafels, veerpyltjieborde, tafeltennis-blaaie, speelkaarte en ’n verskeidenheid ander bordspele en natuurlik ook Monopoly. Almal het mos ’n begeerte om een of ander tyd ryk te word en sake te bestuur. Dan moes hierdie rykdom bestuur word en Monopoly het goeie geleenthede gebied om jou eiendomme onder jou beheer te hou.
Toe die uwe meer inligting wou inwin wat om daar te gaan maak is hulle net gesê: Hulle het ’n motor verskaf en is aangesê om na Jozini toe te gaan, hulle sal jou daar alles vertel wat om te doen. Mens moes maar by die polisiestasies gaan aanklop as die brandstof op die pad in gedrang is.
3. NDUMU
(Voor die bom)
Ndumu is geleë aan die suidwestelike kant van die Mosambiekse grens, een van die ontoeganklikste dele in die omgewing. Daar was eintlik net een pad om daar uit te kom, die res van die grenspatrollies moes op voet aangepak word. Maar dit het ’n rustige omgewing gevorm met die Ndumu-wildtuin aan die suidelike deel van die grensstrook. ’n Mens sou amper kon sê die smal grensstrook om die Ndumu-wildtuin en die suidelike Mosambiek kon net sowel as ’n wildtuin self beskryf word. Die voël- en dierelewe het ook ’n eenheid met die grensbasis gevorm, dit het met die natuur saamgesmelt. Dit het ook afgevryf op die mense wat vir ’n kort tydgleuf daar gebly het, die polisiemanne inkluis. Die grensbasis was die rustigheid self. Soms het dit geklink asof die mense wat daar geland het, eintlik meer vir terapie daar was, party van vrou-moeilikheid, ander van ongehoorsame kinders, sommige net finansiële moeilikheid. Elkeen het sy eie verhaal waarmee hy Ndumu toe gekom het. Ndumu het vir drie maande ’n tonikum geword.
Die kalmering wat Ndumu op die grenspolisiemanne gehad het, kon sekerlik ook as onparaatheid beskryf word. As daar skielik iets vreemds in die omgewing sou gebeur, sou niemand regtig voorbereid gewees het nie. Elke grenspolisieman hier het sy gunsteling dier gehad wat hy mak gemaak of hans groot gemaak het.
Konstabel Jans het nêrens sonder sy blouapie gegaan nie, selfs op patrollies was ta altyd saam met hom en in die veld saam met hom uitgeslaap. Maar op die basis het Jans vir die apie ’n tuisgemaakte hok aanmekaar geslaan sodat die res van die groep nie hierdeur gesteur sou word nie.
Sersant Johan het weer baie van bokke gehou, sy maatjie was Bennie die bosbokrammetjie. Niemand kon enige oorskietkos sommer net weggooi nie, die kombuis het natuurlik blaarkosse eenkant gelaat vir Bennie die bosbok, blaarslaai en koolkoppe was sy gunstelinge. Hy is sommer met die hand gevoer wat natuurlik met Johan ’n besondere verhouding opgebou het. Daar is meermale gewonder wat met Bennie die bosbok sou gebeur as Johan se drie maande op die grens ten einde sou kom, maar dit was nie toe ter sake nie. Die bosbok was Johan se maatjie wat nie kon terugpraat nie, blykbaar meer as wat hy van sy vrou kon sê.
Adjudant-offisier Willie was ’n befaamde voëlkyker, niks het sy oë en ore gemis nie. Selfs in die nag het hy opgespring as hy een of ander uil gewaar het. Hy ken elke voël se habitat, wat hulle eet en waar hulle meestal wegkruip en gevind kon word. Hy sou maklik sy geweer op ’n plek kon vergeet, maar nie sy verkyker nie. Wanneer Willie in die veld uitgeslaap het vir ’n paar dae sou sy keuse nie wees waar stukkende grensdrade was nie, maar waar daar watergate was, om sy geveerde vriende dop te hou en op te skryf. Hy het altyd geloop en vertel die terroriste sal eerste na skoon water soek as hulle inkom, voordat hulle diep in Suid-Afrika inbeweeg. Op dié manier het hy altyd sy patrollies uitgeruil gekry om naby die watergate te wees. Sy groot beloning was altyd wanneer hy rare spesies raakgesien het wat nie in hulle habitat inpas nie en migrasie-voëls wat van ver af gekom het.
So het elke grenspolisieman op Ndumu ’n noue verbintenis met een of ander lewende gedierte gehad. Die basisbevelvoerder Hans was ’n reptielman, slange, akkedisse en vreemde ongediertes wat mens meestal net in dieretuine raakloop was deel van sy repertoire. Die luislang genaamd Satan het Hans soos ’n vriendelike duiwel grootgemaak. Hy het toertjies met hom uitgevoer vir grensmaats en besoekers wat van tyd tot tyd daar aangedoen het vanaf Jozini of Mkuze. Net vir brigadier Wangedrag is Satan weggesteek en vir nog ’n kolonel van hoofkantoor wie se bynaam nie polities reg sou klink om te noem nie, maar al die polisiemanne het hom “kleintjie” genoem. Seker omdat hy effense korterig was en ’n blas vel gehad het. Maar elke polisieman wat op een of ander tyd by die grens aangedoen het sou weet van wie Fanjan nou skinder. Dit was ’n mannetjie vir wie almal skrikkerig was, maar ek kon nooit presies agterkom waarom nie. Die manne het gesê hy was net vriendelik met die kapelane, maar vir al die ander was hy ’n vuurvreter. Die reptiele van Ndumu is altyd weggesteek vir iemand wat hulle moontlik kon aangee teen ’n grenswet. Die groot brigadier en die klein kolonel sou hulle verseker beskuldig en iets aangedoen het, omdat almal se aandag op die grens kwansuis afgetrek sou word en hulle eintlike doelwitte sou vervaag. Gevolglik sou niemand alle aandag aan hulle groot taak sou kon skenk nie as gevolg van Satan en sy ander reptiele. Genadiglik was die grensspanning in hierdie omgewing nie so streng aan die orde van die dag nie en Ndumu was die simbool van vrede en rustigheid.
Dit was hoeka dieselfde kolonel wat eendag ’n rondte moes kom doen op die grensbasis van Ndumu, en selfs ’n week vooruit kennis gegee dat hy sou kom. Daardie oggend raak Satan toe mos nou net weg en toe is die duiwel los. Almal is die hele werf vol om te soek na die luislang, behalwe die locals wat in die kombuis gewerk het. Vir hulle word hierdie soektog weggesteek. ’n Slang is vir hulle erger as die tokkelosse, dis vreesaanjaend. Hulle het vir Satan orals gesoek asof dit ’n kleinood is, ’n mens kon nie glo dat die duiwel so in aanvraag is nie. Toe die slang nêrens gevind kon word nie, het hulle begin slangkos soek, duiwelskos. Lewende rotte en dassies moes dit toe ontgeld. Slange eet mos nie dooie diere nie, dit moes ook warmbloedige diere wees, maar rotte en dassies sit mos ook nie stil om gevang te word nie. So moes toe kammakastig hokke gemaak word om as lokaas te dien, party is met toue vasgemaak. Nes hulle dink die tafel is nou gedek vir ta om uit te kom en uitgevang te word, knaag nie rotte en dassies die toue af en vat die hasepad. Dan moes daar weer van vooraf gesoek word, want elke keer is hierdie gediertes meer uitgeslape en word hulle moeilik ’n tweede keer gevang. Dit raak ’n uitmergelende missie wat nooit einde kry nie. Die kolonel kon enige tyd hier opdaag. Gelukkig het dit gelyk asof die kolonel iewers vertraag was en hulle is toe soektogtyd gespaar.
Toe die kolonel uiteindelik daar aankom, merk hy op daar is ’n slang in die gras op Ndumu, maar Satan is nog weg. Almal lyk aangedaan of verskrik asof die grenspolisiemanne die duiwel gesien het. Die kolonel was effe uit die veld geslaan om op hierdie ontspanne basis soveel spanning te ervaar, so of hy in die leeu se bek ingeloop het. Hy wou hulle juis ook kom aanpraat oor hulle so ’n lui-lekker lewe op Ndumu het. Hulle moes meer opgeskerp wees en op meer grenspatrollies gaan, want die grensdrade met Mosambiek was al hoe meer geknip en dit wou voorkom asof die immigrante by verskeie plekke deur geklim het.
Die kolonel sê toe uiteindelik: “Onthou verveeldheid is die duiwel se oorkussing.” Op daardie stadium trek daar toe ’n geruis deur die basis. Asof elkeen van hulle toe hond se gedagtes kry en vermoed die luislang kon onder sy eie kopkussing wees, met daardie aand ’n verrassingspakkie in die bed, ’n slaapmaatjie. Hans, die slangman, kom toe agter elke polisieman is besig om lootjies te trek in hulle eie gedagtes. Onder wie se kopkussing of in wie se bed sou die duiwel nou lê, die wintersonnetjie sou mos baie lekkerder vir hom gewees het. Dit was ook nie lank na middagete nie of die kolonel vra of hy net effens kan gaan skuins lê nie. Dis so asof almal gelyktydig hulle beddens aanbied net sodat die slangtoets in hulle bed gedoen kon word. Eintlik het die kolonel reeds agtergekom die oor vriendelikheid was effens vreemd, dalk geforseerd. Hy het snaaks genoeg nogal vermoed dat hy meer gewild onder die polisiemanne was as wat hy homself voorgestel het. Almal bied hulle beddens amper so gelyk aan. Die kolonel was tegelyk die lokaas en die proefkonyn. Die een op wie se bed die kolonel op gaan fiesta sou ten minste weet hy sou daardie aand rustig kan slaap.
Twee voormalige Springbokke het ook hulle grensdiens in Ndumu verrig, een bekend in stoei en die ander een in atletiek. Albei was groot helde twee dekades vantevore. Hulle kon met glorie vertel van die tyd toe sportmanne nog nie in die wêreldarena kon deelneem nie. Albei het geleenthede gehad om van te droom, maar nou was hulle afgeleef, amper opgeleef in hulle middeljare. Eintlik behoort hulle nog vol energie te gewees het, maar iets het Fanjan laat agterkom dat hulle klaar geleef het. Dis nie hulle sportpassie wat hulle gepla het nie, maar hulle sin in die lewe het min geword. Albei het te diep in die bottel gekyk, mens kon dit aan hulle velle agterkom, afgeleef. Ndumu het natuurlik bygedra tot hulle verdriet, dit was net te stil en die stilte was ongelukkig nie goed vir hulle nie. Hier het niks sinvol aangegaan nie, hulle kon net sit en sit en sit… en gooi… Met die dag van die kolonel het hulle besef gaan hulle droog slaap, en sou dit nie droog wees nie.
“Satie, Satie”, weergalm dit deur die kamp, terwyl die kolonel net effens ingesluimer het. Willie se African-Grey was toe daardie dag baie spraaksaam, een van die voëls wat ontvlug het vanaf die Ndumu-wildtuin langsaan. Die kolonel was effens onkant gevang, die manne het in die soektog na die slang heeltemal van die voël vergeet, maar niks gesê nie. Dit was sy ou laai daardie, om later boodskappe na die basis te stuur en hulle fyn te kou, soms oor onbenullighede. Willie het sy geveerde vriend Grysie baie woorde geleer, nie altyd gevleuelde woorde nie, soms bietjie rof. Grysie kon nie ’n “n” uitspreek nie, hoekom weet niemand nie. Hy kon dus nie Satan uitspreek nie, dit was net Satie. Wanneer Grysie “Satie” uitgeskreeu het weet almal die duiwel is in die omgewing en almal is op hete kole, maar dit moes vir die kolonel weggesteek word. Dit was nie maklik nie, hy is ook nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hoe meer hulle vir Grysie wou stil maak, hoe meer het hy “Satie, Satie” gerasper. Maar die kolonel het geweet hier is ’n slang in die gras, maar die aard van die slang kon hy nooit agterkom nie. Skielik was die kolonel se moegheid ook toe iets van die verlede en het nie meer ’n bed gesoek nie, iets was te onheilspellend vir hom. As hy in dié rigting probeer uitvra het, het die polisiemanne almal net poker-gesigte getoon.
“Hoekom is julle so oorhoeks oor die slang”, byt Albie die manne op die basis. “Julle hardloop so agter die duiwel aan, en ek soek my kind al vir ’n paar maande hier rond en niemand help my soek nie” volg Albie byterigheid op, maar die kolonel kom agter hier is iewers ’n skroef los. Dis soos hulle in vanmelewe se tyd gesê het toe die kinders in die Oos-Kaap nog bokke opgepas het. Die kolonel het ’n klok hoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie. Hy kon nie verstaan dat sersant Albie nou uit die bloute van ’n slang en ’n duiwel in dieselfde asem praat nie, maar hulle het toe later aan die basisbevelvoerder voorgestel dat Albie iewers by ’n sielkundige moes uitkom. Die basisbevelvoerder Hans beaam toe maar die kolonel se vermoede dat daar iewers ’n slang in die gras is oor Albie, terwyl Albie se vreemdheid hulle nou eintlik uit ’n helse penarie gered het. Skielik is dit asof daar ’n groot verligting in die kamp ingekom het. Nou moet ta net nie iewers uitpeul nie.
Sersant Albie het kort voor hy grenstoe is uitgevind dat hy al amper twee jaar pa was, maar die kind se ma het die hele affêre goed weggesteek tot ’n familielid eendag met die hele sak patats na vore gekom het. Albie en die meisie het ’n kortstondige verhouding gehad, want sy werk as speurder in die Kaap het sy hele lewe ingesluk. Waar die speurders normaalweg aan so dertig sake te gelyk gewerk het, moes hy verantwoordelikheid neem vir meer as sestig lêers en sake op ’n slag hanteer. Die moeilikheid op die Kaapse vlakte het so in momentum toegeneem, dat hy net nooit kon voorbly met al die moeilikheid nie.
So het sersant Albie sy geliefde afgeskeep, hy kon nooit sy woord hou nie, want die senior kollegas kon hom nooit uitlos nie, hy was net goed in sy werk en is by alles betrek. Sy meisie wat nie sekuriteit by hom kon kry nie, het weggetrek Noord-Kaap toe om haar nuwe status as toekomstige moeder weg te steek vir Albie. Sedert hy sy status as kits-pa agterkom het, kon hy homself nooit weer bymekaar kry nie. Hy kon dit eenvoudig nie aanvaar dat hy nie toegang tot sy eie liefdeskind kon kry nie. Sy eks-meisie het sy eie bloedkind weggegee vir aanneming omdat sy nie alleen vir hom kon sorg nie. Nadat sersant Albie alle moontlike kanale gebruik het om toegang tot sy kind te verkry, het alles op niks uitgeloop.
Ndumu was vir sersant Albie ’n ontvlugting uit ’n onmoontlike wêreld, selfs uit die werklikheid. Die koppies en klippe van Ndumu het baie van sy trane opgevang, hy het met die rotse gepraat asof hulle mense is. Hy het geen erg gehad aan die ongediertes soos al die ander op die grensbasis nie. Albie het sy kind orals gesoek. Hy het die klippe en bome probeer wakker praat. Selfs die kapelane wat daar op Ndumu aangedoen het kon nooit Albie se drome waar maak nie, maar niemand wat met Albie te doene gehad het, kon onaangeraak bly deur sy passie vir sy ongesiene seun nie. Ndumu kon hom ongelukkig nie volledige vrede gee nie. Gelukkig was daar ook nie aktiewe terroriste in die omgewing nie, anders kon Albie se ongesonde oordeel effens verkeerd uitgeloop het. Na drie dekades is Ndumu se rustigheid en Albie se onrustigheid nog altyd deel van Fanjan se gedagtewêreld.
4. MKUZE
(Nog voor die bom)
Mkuze is ’n baie verlate plek in die verre Noord-Natal, vandag KwaZulu-Natal, area van die Zulus; vanaf spookberg kan die hele plek bespied word. Mkuze is egter baie goed geleë, vir die grensbasis, feitlik in die middel op die suidelike grens van Mosambiek. Daar was eintlik net ’n klein gemeenskappie wat daar in die omgewing gewoon het, die grensbasis was net ’n verlate huisie wat ’n strategiese punt was om die Mosambiekers dop te hou. Daar was toe soveel moeilikheid in Mosambiek dat hulle in groot getalle oor die grensdraad deurgekom het, nie net vir veiligheid nie, maar eintlik net om werk hier te soek. Suid-Afrika was hulle Utopia, dis blykbaar nog steeds so na drie dekades.
’n Baie besondere verhouding het tussen ons grenspolisiemanne en die Mosambiekse soldate ontwikkel sodat hulle gereeld oor die grensdraad saam gesels het op patrollies. By meer as een geleentheid het die uwe gewonder waarom ons eintlik daar was. Dit was dan so ontspanne, die Mosambiekse soldate het gereeld probeer om net sigarette van die Suid-Afrikaners te bekom, te koop of te ruil vir iets. Ons jong polisiemanne daar het feitlik almal Texan gerook, maar op die grens moes hulle maar rook wat hulle in die hande kon kry, hulle het ook graag die Mosambiekse geure probeer. Fanjan het ook hier ’n ou bruin twee-rand noot geruil vir ’n Mosambiekse noot waarvan die uwe nou nog nie die waarde van weet nie. Dit was meer vir sentimentele waarde wat nou nog ’n ereplek in sy versameling uitmaak.
Mkuze was natuurlik olifantwêreld, beide kante van die grensdraad. Olifante was eintlik daar ook die groot gevaar. As mens tussen ’n olifantkoei en haar kalfie op patrollie kom het jy groot moeilikheid. Die amptelike kok van Mkuze-basis, was die Shangaan Juba, van die lokale gemeenskap. Sy gesig het vyf en veertig grade na links gestaan, eiesoortig, iets wat mens net eenmaal in jou lewe sien. Dit was ’n grootvoet wat hom getrap het omtrent vyftien jaar vantevore. Hy het by die dood omgedraai. Eintlik het hy daar omtrent ’n halfdag vir dood gelê voor iemand by hom uitgekom het. Daar is natuurlik verskeie weergawes rondom hierdie gebeure, elke keer vertel hy dit anders. As hy nie lus het om te praat nie, kry jy die korter weergawe, maar as sy gemoed hoog draai ontvang jy die langer uitgerekte weergawe. Die feit is sy gesig vertel ’n rare storie en dit kon net ’n olifant gewees het wat hom karnuffel het. Blykbaar was sy bekken en ander bene op verskeie plekke gebreek en as die pyn te erg was moes hulle hom verskeie knertse injaag as hy beserk van pyn raak, hy’t nie aan pille geglo nie.
Juba het geen ouderdom gehad waarvan ons weet nie, sy ma en pa het hom nie laat opskryf nie, maar hy kon daardie tyd hoeka al lankal ’n senior burger gewees het. In sy kleintyd was die grensdrade verflenter en het hulle beide kante van die drade gespeel, gejag en gevry. Almal het hom geken, maar met die koms van die polisiemanne na hierdie grensbasis kon hy homself as kok aanbied en is dadelik aanvaar. Nie net omdat hy kon kosmaak nie, maar ook vir veiligheidsredes, hy het almal geken en hulle hom, hy kon dus handige kosbare inligting inwin, duskant en oorkant. Sy kamstige spyskaarte was maar beperk tot die gewone. Soms het die manne hulle vingers afgelek en hom omgekoop om nog daarvan te maak, maar ander kere het hulle weer gesukkel om die kos in te kry. Sy kruie het maar so van die veld af gekom, soms lekker, soms vreemde reuke en geure.
Die polisiemanne het vir Juba opgelei om te dril en wag te staan. Aan die begin was daar blykbaar ’n basis bevelvoerder wat baie streng was en almal moes aantree en uittree op die regte manier met hulle R1 gewere. Toe moes hulle vir Juba ’n plank kerf en die buitelyne van ’n geweer uitsny. Nie amper soos ’n geweer gelyk nie, maar dit was sy trots, hy kon daarmee ook wagstaan voor hy die huis skoonmaak en dan sy maaltye voor te berei. Juba en Mkuze was sinoniem, hy het na almal hier gekyk en hulle soos sy familie laat voel. Oor die grenslyn was dit rustig en het daar selde onheil daar uitgekom.
By meer as een geleentheid het daar iets rondom olifanttande by Mkuze gebeur waarvan die saak seker tot vandag onopgelos sou bly. Suid-Afrika het ’n oop verhouding met die weerstandsbewegings in Mosambiek gehad, meer as met die amptelike regering van die dag self. So het ek dit uitgewerk met die paar vreemde dinge wat daar op die grens gebeur het. Daar het berigte deurgekom na die hoofkantoor in Pretoria dat die polisiemanne op die Mkuze-basis ’n olifant geskiet het en die tande afgesny het oorkant die draad, omtrent so honderd meter binne die Mosambiekse grens. Dit word my toe vertel dat generaal Wandrag binne ’n paar dae by Mkuze opgedaag het, dis voordat ek daar was. Soos te wagte het die polisiemanne natuurlik alles ontken. Van konstabel tot by polisieoffisier het hulle natuurlik alles ontken. Die generaal was egter nie met hierdie antwoorde tevrede nie en begin toe met sy trawante die omgewing deeglik deursoek, dat daar maar geen spoor wat iewers gevind is nie. Maar hierdie storie eindig toe by die ministers-vlak. Die weerstandsbeweging in Mosambiek het toe wel by die groot base laat val dat die Suid-Afrikaners op Mkuze nie die olifant geskiet het nie, maar wel net die tande afgekap en iewers versteek het. Toe is daar weer ’n helse soektog op tou gesit na die twee tande, die generaal het gesweer dat die tande nie ver van die Mkuze-basis kon wees nie. Dit was van die begin af duidelik dat geen oorlogspanning die rondte gedoen het nie.
Eintlik het die moderne grensdraad eintlik families ook middeldeur geskeur soos wat in baie lande oor die wêreld aan die einde van die negentiende eeu gebeur het. Hier was almal Shangaans, noord en suid van die grens, byna soos wat in Oos- en Wes-Berlyn gedurende die kommunistiese era gebeur het.
5. MANGUZI
(Voor die bom)
Manguzi was nie regtig ingerig vir ’n grensbasis nie, dit was eintlik net die afspringplek vir die suidoostelike hoek van Mosambiek sowel as boonste deel van die Natalse ooskus en Kosi-meer, eintlik ’n baie moeilike deel om dop te hou en by al die plekke gelyktydig te wees. Die hele operasie het hier maar oneffektief voorgekom. Die grensbasis was gekoppel aan die gewone polisiestasie in Manguzi binne in die dorp Manguzi. Fanjan se eerste kennismaking met Manguzi was met ’n bitterpil gesluk. Die polisiemanne wat die gewone polisiestasie bedien het, het die heeltyd die polisievoertuie as taxi gebruik vir die plaaslike bevolking van Manguzi. Dit was korrupsie uit ’n ander wêreld wat moeilik is om oor te vertel sonder om te lyk of jy nie baie bylieg of vergroot nie. Hulle het die brandstof wat uit die polisiepompe getap is vir die taxi gebruik en hulle privaatvoertuie ook volgemaak. So twintig stuks het gemaklik agter in die polisiewa ingepas en so twee of drie het voor saam by die bestuurder ingekom.
Die buitegrensposte van Manguzi was eintlik heel anders, met houthuisies langs die Kosi-meer. Net om te dink ’n grenspos langs ’n gewilde meer, grenspolisiemanne het so vir ’n week hier in die bos, oftewel langs die see gebly. Met hoogwater het die riviermond plek gemaak vir seewater en daarmee ook die vislewe in die meer verryk met seewatervis. Die polisiemanne aan grensdiens het hierdie ekskursie as ’n effense vakansie beleef. Hoewel generaal Wandrag hulle die dood voor die oë gesweer het dat hy elke visstok persoonlik sou breek wat in of naby die basis gevind sou word. Maar ’n boer het altyd ’n plan gemaak. In die aande is die vislyne uitgegooi op so ’n wyse dat niemand dit sou agterkom nie. Waar daar ’n lyn uitgegooi is, was daar vis.
So was daar behalwe hulle gesamentlike patrollies langs die meer en oop strande ook die gereelde visvangkompetisies tussen die grenspolisiemanne. Hulle het nie sommer openlik daaroor gepraat nie, net vir ingeval. Sersant Emgee en konstabel Louis het meestal ’n onregverdige stryd gevoer. Emgee het as ’n Transvaler net koffiemeule-viskatrolle saam met ’n visstok geken met mieliepitte en erdwurms as sy gunsteling aas tesame met sy bekende mieliebom wat nogal altyd langs die dam en riviere uitstekend gewerk het. Al sy varswatertegnieke waarmee hy baie kompetisies in die binneland gewen het, het niks hier gewerk nie. Louis wat in Durban groot geword het, het die seewaterlewe goed geken en gereeld saam met die Indiërs langs die viswater gestaan en elwe vang, die Engelse “shads”. Te verstane was Louis baie gelukkig met die vangste, hy het raak gevat. Hy het ook ’n slag gehad met knorhane soos dit in die Afrikaanse visboeke bekend gestaan het, maar vir hom was die Engelse woord “grunters” vir dieselfde vis meer bekend. In daardie tyd was die oorgrote meerderheid van mense in Natal Engelssprekend, die Afrikaanse name van die visse was ook net soms in woordeboeke te vinde.
Beide Emgee en Louis het goeie verhoudinge met die plaaslike bevolking en die boerderygemeenskap gemaak. Dit was egter beskou as gemeenskapsdiens en eintlik deel van hulle daaglikse plig om ’n oop verhouding te hou sodat hulle maklik en gouer inligting kan bekom sodra daar vreemdelinge of terroriste in die gebied inbeweeg. Daarom het die locals ook veiliger gevoel as die polisie nader aan hulle huis en werkplek beweeg het. Dit was ’n wen-wen situasie. Die plaaslike bevolking was maar arm en het eenvoudige bestaan gevoer, maar hulle was baie suksesvol met hulle visboerdery en vangstegnieke in die Kosi-meer. Met ’n netwerk van stokke en toue het hulle die visse in ’n doolhof laat inswem waar daar dan geen omdraai kon wees nie. Dit was blykbaar ’n baie antieke tegniek om die visse aan te keer, groot en klein. Selfs die visboerdery is goed uitgewerk dat die visse in die natuurlike water gebroei en groot gemaak is.
Kosibaai was so ’n pragtige natuurwonder dat dit as ’n gewilde aftreeplek en naweekrusplek gebruik was. Van hierdie welaf mense het ook meestal bote en duikgereedskap besit. Daarom was dit vir hulle lekker om die grenspolisiemanne hiermee te trakteer. So het Emgee en Louis die drie maande tydperk op die grens heel vervullend omgekry. Nodeloos om te sê dat hulle ook weer swaar hiervan sou afskeid neem. Die mense met die bote het ook visstokke, aas en al die nodige visgerei gehad sodat hulle net kon klim en die laatmiddags lekker kon kuier en effe ontspan.
Manguzi se buite grensposte was rustig en ’n aangename atmosfeer is geskep wat die grensmanne te veel op hulle louere laat rus het en eintlik nie voorbereid sou wees as grensmoeilikheid skielik na vore sou kom nie. Fanjan kon homself net indink wat hier sou gebeur indien ’n bom of iets dergeliks hier sou afgaan en hierdie area skielik afgekordon sou word. Dit sou egter ook nie te lank wees voor die poppe hier sou begin dans nie. Maar dis ’n lang storie wat iemand anders verder kan vertel.
6. PONGOLA EN PIET RETIEF
(Nog voor die bom)
Pongola, in die noorde van KwaZulu-Natal, was ’n klein dorpie, en die eerste plek wat weer effens uit die bos is. Om die eerste keer na `n paar weke in die bos weer `n kerkklok te hoor lui was iets besonders. Hier was weer beskawing met gewone winkels en mense met gewone privaat klere. Hoewel dit nog diep in die winter was, het dit hier soos somer gevoel in die laagliggende dele naby die grens. Piet Retief was heelwat hoër bo seespieël geleë. Pongola was die heeltyd heelwat hittig, maar honderd kilometer wes van Pongola was Piet Retief altyd bibberkoud.
Beide van die grensbasisse was anders as die grensplekke, albei onderdeel van die onderskeie polisiestasies. Dit was slegs die grensmanne se afspringplekke en was daar geen werklike grenskultuur gevestig nie. Gedurende die dag moes hulle op die grenslyne beweeg. Piet Retief was reeds gefokus op Swaziland, maar Pongola moes nog die Mosambiekers in toom hou. Dit was eintlik ironies want al die plase in die omgewing het feitlik net Mosambiekers gehad wat op die plase en suikerrietlande gewerk het. Die dienste was ook heel anders as die res, die grensmanne se diens het amper soos gemeenskapsdiens voorgekom. Hulle moes gereeld by die boere aangaan en hoor van moontlike vreemde spore of verdagte kalante wat dalk daar op die plase rondhang.
Die grensmanne van Pongola en Piet Retief het die boere se plase net so goed geken soos die grenslyne self. Daarom was dit effens moeilik om grenspolisiemanne se bewegings te monitor. As kapelaan het ek dikwels saam met die manne by boere en ander verwante bedrywighede rondbeweeg en het amper soos huisbesoeke uit die 1970’s gevoel. Die rustigheid op die grense het ‘n kalm atmosfeer geskep, sodat sommige van die polisiemanne dit maklik as verreikende drie maande ervaar het, met min van die intense bosatmosfeer. Die tipiese boomplantasies was ’n algemene gesig in die omgewing. In plaas van bosvoertuie het die manne in oop bakkies gery, dikwels gelaai met groente en vrugte uit die omgewing vir die “arme” polisiemanne ver van die huis. Die plaaslike gemeenskappe het goed na die grensmanne omgesien met kos en geskenke. Sommige ma’s het selfs hul ongetroude dogters voorgestel in die hoop dat die manne in uniform sou opmerk.
Hierdie noue kontak met die gemeenskap het egter ook ruimte vir onheil gegee. In tye van min aksie op die grens het die gebrek aan opwinding – veral vir dié wat gewoond was aan die intense bosoorlog in Angola – frustrasie veroorsaak. Sommige manne se oë het begin dwaal, soms na minderjarige meisies. Gerugte het die ronde gedoen oor die adjudant, tweede in bevel, wat in die omgewing betrokke was by sulke gedrag. Die saak was sensitief en goed weggesteek, maar die grensmanne het onder mekaar begin praat. Toe ek die moed bymekaarskraap om dit met die basisbevelvoerder te bespreek en hom te vra om ’n oog te hou, het ek nie geweet dat hý die een is wat dopgehou moes word nie.
Later, terwyl ’n sersant my elders heen vervoer, het hy terloops opgemerk dat ek nie pas by die stories wat oor my vertel is nie. Ander het dit ook genoem. Dit blyk dat die basisbevelvoerder en sy adjudant, wat met minderjarige meisies geflirt het, ’n boodskap na ander basisse gestuur het om die kapelaan te “wantrou”.
Van al my besoeke aan die grense oor die jare was dit een van die grootste laagtepunte. Te veel offisiere kon nie vertrou word om die basiese reg te doen nie. Diplomasie was duidelik nie deel van hul opleiding nie. ’n Kapelaan se boodskap is goed ontvang as dit bemoedigend was, maar sodra euwels uitgewys is, moes hy uitbly. Hoofkantoor was selde bewus van hierdie probleme en kon weinig doen, want niemand wou openlik praat nie. Op die basisse was daar meningsverskille, maar as groot moeilikheid dreig, het die manne saamgestaan. Of dit beter was om saam te staan of euwels reg te maak, is ’n debat op sigself. Die kuns om te weet wat om wanneer te sê of te doen, word nie oornag aangeleer nie.
Die ouer mense het gereeld gesê verveeldheid is die duiwel se oorkussing. Die eentonigheid van die Oosgrens – Mosambiek, Swaziland en Zimbabwe – het hierdie aksielose tydperk veroorsaak. Dit het die deur oopgemaak vir gedrag wat die diens en die gemeenskap benadeel het.
7. AMSTERDAM
(Die dag van die bom)
Daar is gebeurtenisse in ’n mens se lewe wat so helder in jou geheue bly dat jy die plek, datum, tyd, die mense om jou en die gesprekke nooit vergeet nie. Soos die dood van Dr. Verwoerd, die 9/11-aanvalle in New York, of ander persoonlike oomblikke wat vir jou familie betekenis dra – sulke gebeurtenisse bly vir altyd by jou.
Die bomontploffing in Kerkstraat, Pretoria, op 20 Mei 1983, het nie net die binneland ontwrig nie, maar het die grensbasisse onder polisiebeheer totaal verander. Dit was soos ’n jagluiperd wat sorgeloos met haar welpies in die gras speel, maar die oomblik dat sy ’n bok gewaar, skiet haar fokus na die prooi, en haar kleintjies hou haar fyn dop.
Fanjan was die besoekende polisiekapelaan by die Amsterdam-grensbasis (deel van die Oosgrens) toe die bom in Pretoria ontplof het. Hy het reeds die Mosambiekse grensbasisse besoek, elkeen met sy eie unieke verhaal. Tot op daardie stadium was daar nog net bespiegeling oor wanneer die eerste landmyne in Suid-Afrika sou afgaan. Die oorlog was hoofsaaklik beperk tot Namibië (toe Suidwes-Afrika), Owamboland en Angola.
In vergelyking met die Okavango-gebied, waar die ou manne van gepraat het, was die binnelandse grense stil. Die polisiemanne het op drie gebiede grensdiens gedoen: die Oosgrens en Wesgrens binnelands, en buitelands in Namibië. Die binnelandse diens was vir die manne maar vervelig – daar het nie veel gebeur nie. In Namibië, daarenteen, was daar volop aksie.
Die Kerkstraat-bom het die stilte verbreek. Dit het vir die grensmanne aksie beteken. Die ouer ouens, wat al in Namibië en Angola was, het wilde stories vertel, maar sulke gebeure was nog nie in die binneland ’n groot storie nie. Die kommuniste, so is geglo, moes van buite af deur die grense insypel. Nou moes die grense strenger bewaak word. Die binnelandse grense was die polisie se verantwoordelikheid, nie die weermag s’n nie, om te verhoed dat dit na oorlog in die binneland lyk, veral naby die wildtuin. By die polisiekollege in Pretoria, Verdrag en Maleoskop is daar baie gefokus op stedelike terreur en hoe om dit ordelik te hanteer. By Amsterdam het die geharde ouens die jonges begin vertel van hulle ervarings in die noorde en wat hier nog alles kon gebeur.
’n Groot gesprekspunt op die Oosgrens was die drie terroriste wat ’n ruk tevore naby Piet Retief gevang is. Niemand wou egter openlik daaroor praat nie, want daar was gerugte dat drie linkerore van die terroriste in omloop was, maar weggesteek moes word toe die grootkoppe daarvan hoor. Die ore – almal van dieselfde kant – was bewys dat terroriste uitgeskakel is. As die ore nie ooreenstem nie, was dit ’n verneukspul.
Die jong ouens, wat vir volk en vaderland grensdiens gedoen het, het dit swaar gevind om dit te verwerk. Baie van hulle het nog nie eens ’n bestuurslisensie gehad nie, maar wel ’n lisensie om te skiet en dood te maak. Dit was absurd, maar so was dit nou maar.
Die grensmanne van Amsterdam was in die dorp gehuisves, skaars onderskeibaar van die gewone polisiemanne by die polisiestasie. Hulle is vir drie maande op een plek geplaas en het min met die publiek te doen gehad. Hulle moes net die grense patrolleer om die veiligheid van die binneland te verseker. Die twee groepe – grensmanne en polisiestasie-manne – was soms jaloers op mekaar. Af en toe het die grensmanne saam met die stasie se ouens gaan kuier om ’n bietjie in die gewone samelewing te kom. Sommige jong grensmanne het meisies in die dorp probeer ontmoet om die lewe op die grens op te vrolik, ver van hulle gemaksone af.
Die kokke by grensbasisse naby dorpe het uit die dorp gekom, daar gekook en dan weer huis toe gegaan. Dit was selde aantreklike vroue – meestal ouer “soustannies” wat in die nag skrikwekkend kon lyk. Maar na twee maande van die huis af, het selfs húlle aantreklik begin lyk vir die grensmanne, en na drie maande amper onweerstaanbaar. Smaak het verander na gelang van tyd weg van die huis.
Onheil het gereeld op die basisse uitgebreek. Uit verveling het party probeer drank insmokkel vir die koue nagte. In die laat Mei-koue van Piet Retief, Amsterdam en Oshoek het die manne se oë begin dwaal. Vir die jong ouens, vars uit die skool, was die skoolmeisies pragtig. Vir die ouer ouens het die tannies in die dorpswinkels glad nie sleg gelyk nie. Albei groepe sou enigiets doen om voorrade in die dorp te gaan koop, net om ’n bietjie skoonheid te sien.
Vir ’n polisiekapelaan was dit nie maklik om hierdie euwels te stuit nie. Van lae tot hoë range het die grensmanne saamgestaan teen enigiets wat op die basis gebeur het. Hulle het dit lokaal probeer oplos, of glad nie. Na die grensdiens het niemand gepraat oor wat in die drie maande gebeur het nie. ’n Kapelaan, as buitestaander, het nie maklik alles agtergekom nie en is nie in die binnekring vertrou nie. Jy moes óf diplomaties wees óf om hulle ’n streep te trek, soos Fanjan meer as een keer gedoen het.
Die aand van die bomontploffing het die grensverhale al hoe vuriger geword. Elkeen had sy storie; sommige het nog nie een gehad nie en moes net luister. Party het aangedik, ander was te skaam om te praat, veral dié wat al maats in grenskontak verloor het. Adjudant-offisier Jos was die groot trekpleister in die selfgemaakte grenskroeg in Amsterdam. Almal het aan sy lippe gehang. Hy het vertel van sy mal tjomme in die noorde, soos die Casspir-bestuurder wat na elke kontaksessie “Another One Bites the Dust” gespeel het. Jos het gespot met die varsmanne wat in die noorde aangekom het en ná die eerste rowwe kontak koekoes geraak het.
Jos was meer tuis in Angola se bos as koevoet op die voorste linies. Nou moes hy drie maande op die rustige Oosgrens verwyl, waar niks gebeur het nie. Sy lang baard, iewers tussen Osama bin Laden en Hashim Amla s’n, was netjies getrim. Hy het ’n vierkantige kepsie gedra, soos Fidel Castro s’n. Maar Jos se oë was sy kenmerk – rond, effe uitpeulend, met klein pupille wat soms deur jou kyk. As sy oë dwaal, moes jy weet dis een van dáárdie dae. Niemand moes dan met hom skoor soek nie. Jos het dan iets vreemds begin soek, maar niemand het geweet wat nie. Dié wat wys was, het stilgebly of dom gespeel.
Sweis, die grenskroegman en Jos se ou koevoet-maat, het geweet hier kom nou iets. “Sweis, kan jy nie vir my nog ’n dubbel en ’n ietsie daarby gooi nie?” begin Jos. Sweis ken sy bestellings en moedig hom aan: “Ja, vertel vir die varsmanne hoe dit in die Noorde lyk.” Dit was duidelik Jos was in ’n ander bui, en Sweis beaam: “Dis gepas, nou dat die bomme nader kom.”
“Jos, hulle sê dit was een groot bom wat Kerkstraat geruk het,” korrigeer Sweis. “Hulle het begin met een, toe volg die res kort op hul hakke,” mompel Jos. “Ek wil môreoggend by ou Pieta in die lokasie gaan hoor of daar vreemde immigrante rondloop,” sê Jos, skielik verantwoordelik. Sweis knik asof dit normaal is. “Sweis, is jy nie lus vir varsvleis nie?” vra Jos sag. “Gaan kry vir ons lewende hoenders in die lokasie, ek’s moeg vir hierdie gevriesde pakkies,” por Sweis hom aan. “Ek het juis so gedink,” stem Jos met ’n huppel in sy stap.
Sweis en Jos het lank saam in Angola gewerk. Sweis was die selfaangestelde kok, en Jos altyd op die voorste linies. Die Pretoria-bom het iets in Jos losgemaak. Die drie maande se rondsit op die Oosgrens het hom lui gemaak, maar die bom het nuwe lewe in hom geblaas, asof hy weer ’n doel gehad het. “Sê groete vir Pieta, ons het groot hoenders nodig om almal te voed,” sterk Sweis hom. Gewoonlik het ’n sersant of konstabel saam met Jos gegaan, sodat dit na ’n amptelike besoek lyk. Die bakkie was vol hoenders, in kartondose of met vasgebinde pote. Soms het een ontsnap, wat ’n gemors veroorsaak het. Jos kon dit nie agterop laai nie – dit sou soos handel dryf lyk. Maar die hoenders was nie vir kos nie; hulle had ’n “hoër doel”.
“Met gister se bom sal ons meer paraat moet wees. Ons moet gaan skiet oefen,” beveel Jos die oggend ná hy die hoenders gekry het. “Die oorlog is nou nader, nie meer net in Angola nie,” verdedig hy. Sweis, wat Jos se planne ken, sê: “Ek sal die kokke sê om nie middagete te maak nie.” Die polisie se skietbaan was skielik ongeskik, so kry hulle toe ‘n boer se plaas waar geen diere of plaaswerkers was nie. Alles is sorgvuldig gereël vir die oggend, wanneer kinders op skool is.
Jos gee opdragte vir die skietoefening en vra sersant Antonie om toesig te hou. “Ek gaan kyk vir ’n plek om te braai ná die skietery,” stel hy almal gerus. Terwyl die manne skiet, glip Jos weg met die hoenderdoos. Hy het vier hoenders, maar drie is genoeg vir kos. Die eerste hoender word “geoffer”. Met sy haelgeweer jaag hy die hoender ver, en toe dit onder ’n bos inkruip, skiet hy – vere spat oral. Dit was om sy kop skoon te maak. Die ander drie hoenders word kopskote geskiet om die lywe vir kos te spaar. Jos is bedrewe hierin; hy deursoek die vleis vir haelkorrels.
Toe die manne by Jos aankom, is die hoenders amper gebraai. Hy maak asof hy hulle bederf met braaivleis, broodjies en papierborde. Jos eet nie – hy het “geproe” tydens die braai. Hierdie ritueel maak sy gemoed skoon. Om die hoenders in beweging uit te skakel, ruk sy kop reg. Hy’s dan vir ’n paar weke “gesond”. Absurd, maar waar.
Jare later, toe Fanjan Jos by sy familie raakloop, vertel sy vrou dat Jos ná drie maande tuis almal mal maak. Die kinders wens hy gaan terug koevoete toe.
8. OSHOEK
(Naweek ná die bom)
Oshoek was die grensbasis wat die hooftoegang na Mbabane en Manzini in Swaziland beheer het. Die doeane het in- en uitvoer hanteer, maar die polisie moes terroriste dophou wat moontlik insluip. Hulle moes die grens tussen die Nerston- en Komati-riviere wyd patrolleer.
Die Oshoek-grensbasis was ’n gewone drieslaapkamerhuis, waarskynlik privaat gehuur, met ’n paar ekstra vertrekke. Van hier af is alle operasies bedryf. Gerugte was dat die manne soms na die Badplaas-mineraalbronne verdwyn vir afleiding. ’n Permanente dominee daar kon ’n goeie alibi verskaf. Drie maande weg van die huis was nie maklik nie, en vakansiegangers by die bronne was ’n verposing vir die oog.
Gesprekke oor die Pretoria-bom was Saterdag in Oshoek nog in hul vroeë stadiums. Niemand het presies geweet wat gebeur het of wat vorentoe sou gebeur nie. Maar toe dit Maandagoggend berig word dat die Suid-Afrikaanse Lugmag in Maputo bomme gegooi het, was dit duidelik: iets groots was aan die gang.
Teen teetyd Maandag kom ’n teleks van hoofkantoor deur, maar net die derde paragraaf is opgevang en uitgedruk. Kommunikasie was primitief – fakse was nog jare weg, en telefoonverbindings was beset. Die derde en vierde paragrawe is aan elke groep voorgelees soos hulle van patrollies terugkeer. Die derde paragraaf meld dat ’n nuwe aflossing vanaf die Pretoria-polisiekollege op pad is. Die grensmanne raak opgewonde, hoewel voortydig. Volgens die skedule sou die aflossing eers oor tien dae arriveer, maar die nuus laat almal jubel. Die vooruitsig van vroeër huis toe gaan, na drie maande se grensdiens, was aanloklik.
Teen die aand word die feesviering luidrugtig, met meer as net koeldrank. Teen middernag sing almal, selfs die falsetto’s, met oorgawe. Die varsmanne was glo op pad, en die ou manne begin al inpak. Maar toe die nuwelinge vroegoggend arriveer, is daar nie genoeg plek nie. Die kapelaan se kamer neem ook ruimte in beslag, en hy voel half in die pad. Die ou manne was in hul harte al tuis, terwyl die nuwelinge, wat hul opknapping in Pretoria nie kon voltooi nie, nou nêrens plek gehad het om in te rig nie. Die werklikheid tref almal: niks nuuts gaan gebeur nie.
Toe kom die eerste twee paragrawe van die teleks deur: “Geen omruiling van grensdienste vind plaas nie. Weens omstandighede buite ons beheer benodig ons dubbesterkte op alle grensbasisse in die Republiek van Suid-Afrika…”
Stilte daal neer in die oorvol huis. Moeilikheid loer, en die kapelaan voel al hoe meer in die pad. Fanjan besef hy sal korter as beplan moet bly om spanning te verminder. Die ou grensmanne klou aan hul knus plekke, terwyl die nuwelinge uit bulsakke leef sonder om uit te pak. Die Pretoria-bom het alles holderstebolder gegooi, en die basis was nie gereed om die land te verdedig nie. Hierdie chaos het op alle grensbasisse gespeel, elk met sy eie probleme en karakters naby breekpunt.
Die basisbevelvoerder, luitenant Ossie, ’n middeljarige voorrade-offisier, was sy lewe lank gewoond aan bokse, klere en gewere bestuur. Nou moes hy ’n plofbare situasie met jongmanne hanteer, sonder ondervinding in menseverhoudings. Die nuwe groepleier, adjudant-offisier Jerry, ’n laerrang-offisier wat rugby by ’n skool afgerig het, was nader aan die jongmense. Dit was ’n gemors: Ossie was nie opgewasse nie, en Jerry kon nie sommer oorneem nie, want hy ken nog nie die grense of slaggate nie. Ossie wou net huis toe, en niemand wou leiding neem nie – ’n patroon wat op ander basisse ook gespeel het.
Fanjan het gevrees dat vuisgevegte sou uitbreek. Nie almal was vars uit die skool soos in die weermag nie. Hy het gebid dat alles sou uitwerk, maar in sy hart geweet hoofkantoor het nie die maatskaplike impak van hul besluite oorweeg nie.
Te midde van die spanning worstel adjudant-offisier Bertie met ’n persoonlike krisis. Sy vrou se kraamtyd was binne ’n week tot tien dae. Hy het alles beplan om betyds terug te wees vir sy eersteling se geboorte. Polisiemanne moes elke twee tot vier jaar grensdiens doen, en Bertie het sy diens só gereël om by sy vrou te wees. Maar die bom het alles ontwrig. Hy kon nie sy vrou vertel van die vertragings nie – sy trots en huisvaste natuur het dit verhoed. Kommunikasie per tiekieboks was beperk, en hoofkantoor was onverbiddelik: geen uitsonderings nie. Lojaliteit aan volk en vaderland was nou doodsake.
Bertie, een van die getrouste polisiemanne, begin slinkse planne beraam – iets wat hy nooit voorheen sou oorweeg het nie. Hy moes uitkom, maar ontslag was nie ’n opsie nie; sy mediese fonds was te belangrik. Die bom het sy gedrag verander. Die kapelaan kon nie al die persoonlike probleme in ’n paar dae oplos nie. Met gemengde gevoelens moes Fanjan aan beweeg na die volgende basis, wetende dat die volgende kapelaan eers oor ’n maand sou kom. Dit bly ’n berader se hartseer om te vertrek sonder om alles op te los. Oshoek het Fanjan nooit heeltemal verlaat nie, maar hy moes vertrou dat dinge sou regkom.
9. JOSEFSDAL
(Kort ná die bom)
Josefsdal is vandag bekend vir bergfietsroetes, staproetes en 4×4-avonture, maar was destyds ’n grensbasis vir die deurgang na Swaziland se Piggs Peak. Geleë in ’n diep kloof, ry jy vanaf Barberton af in die “dal van doodskaduwee”, omring deur imposante broodbome. Die grondpad, vol draaie, was nie vir vinnig ry nie. Voor donker moes jy daar uit wees, want hulp was skaars, veral voor selfone se tyd.
Josefsdal was eens ’n asbesmyndorpie, maar ná navorsing bewys het asbes is gevaarlik, is die dorp verlate. Leë huise in strate soos Paul Kruger- en Voortrekkerstraat staan met verwaarloosde tuine. Die polisiegrensbasis, in een van die mooiste huise met ’n uitsig oor die dorpie, was soos ’n sprokie. Dit het gelyk of ’n landskapargitek die erf ontwerp het, en die polisiemanne het tuis gevoel, al was dit ’n vreemde omgewing.
Troeteldiere het vrylik rondgeloop, en ’n “voëlman van Alcatraz” het eens vreemde en inheemse voëls aangehou. Volgens oorlewering het die myners die voëls, wat gasvlakke gemonitor het, aan die polisie oorhandig toe hulle weg is. Voor die bom is eendedam bygevoeg, maar ná die bom was sulke aktiwiteite verbode. Elke nuwe groep grensmanne moes iemand aanstel om die voëls te versorg – werk wat niks met landsveiligheid te doen had nie, maar dalk terapeuties was. Tuin- en diereversorging het gemoedere gekalmeer, soos speletjies op ander basisse.
Die grootste voorval voor die bom was die verpligte dood van die basishond, Gatsha, vernoem na ’n bekende Zuluman (sommige sê ’n bynaam vir Mangosuthu). Gatsha, ’n geliefde stêffie wat saam patrollies geloop het, moes weens die naam afgeskiet word op bevel van die minister van polisie. Dit was ’n hartseer storie vir ’n hond vol lewe.
Ná die bom het Josefsdal gevaarlik geword. Toe Fanjan arriveer, was daar al koeëlgate in die asbeshuis en buitegeboue. Die nuwe en ou groepe se staaltjies het spanning verlig, maar die bom se gesprekke het intens geword. Die kapelaan voel ’n nuwe skietery kom, veral met die vars nuwelinge wat lus was vir aksie, terwyl die ou manne huis toe wou gaan.
Kapelane is eers vertrou as hulle nie inmeng nie. Die basisbevelvoerder en sy adjudant was geestelik al tuis, leef op “klippies en coke”, en het nie omgegee vir die chaos nie. Gelukkig was daar ’n sersant met ruggraat wat leiding geneem het. Ná dae se wroeging besef Fanjan hy kan niks doen nie. As die manne weer op mekaar skiet, sou dit op sy gewete wees.
Die nuwe aflossing se bevelvoerders het apart gebly in oop huise, minder kloustrofobiese as Oshoek. Maar die groepe het by mekaar verbygeleef, apaties teenoor mekaar. ’n Majoor of kolonel het vier of vyf basisse gekoördineer, maar alles het nie vanself gebeur nie. Fanjan loop die majoor raak voor sy vertrek en gebruik al sy diplomasie om hom in te lig sonder om skade te doen. Dit was tevergeefs. Later hoor hy die majoor het die bevelvoerders ongevoelig ingelig oor die kapelaan se vermoedens – ’n groot teleurstelling vir die polisie se hantering.
10. KOMATIPOORT
(Gevolge van die bom tref die basis)
Komatipoort was ’n bruisende miernes. Mense het heen en weer beweeg tussen Mosambiek en Suid-Afrika, met oorlaaide bakkies en wrakke. Jy het nooit geweet wie kom of gaan nie. Dit was ook ’n oornagplek vir Krugerwildtuin-besoekers. Grenspolisiemanne moes nie net die grensdrade bewaak nie, maar ook die grenspos en verdagte tale soos Russies opspoor. Ná die Pretoria-bom is veiligheid verskerp.
Die basis, langs die Krokodilrivier, was pragtig, soos ’n verlenging van die wildtuin. Maar die probleem was nie die omgewing nie. Toe Fanjan arriveer, ’n week ná die bom, is die ou manne, wat moes huis toe gaan, teruggehou. Dit het spanning veroorsaak, want gesinne tuis wou nie verstaan nie.
Sersant Jan se vrou was oortuig hy het ’n meisie in Komatipoort ontmoet en ’n “stoute vakansie” beplan. Sy wou niks weet nie en het begin pak om na haar ma te trek. Fanjan moes verduidelik dat die bom die hele land raak, ook die grensmanne, wat langer moes bly. Jan se vrou, via die tiekieboks, skel hom uit: “Julle is almal kop in een mus! Gaan jy ook saam met my man see toe vir ’n skelm vakansie? Het jy ook ’n Mosambieker raakgeloop? Julle mans is almal dieselfde!” Sy wou nie kop gee nie. Jan huil snot en trane, bang sy vrou gaan loop. As Engelssprekende kon sy nie verstaan dat Afrikaners só vir volk en vaderland veg nie.
Jan was tussen twee vure. Generaal Wandrag was onverbiddelik: geen uitsonderings nie. Plig kom bo familie. Baie ouens het probeer uitkom met “vrouestories”. Selfmoorddreigemente het toegeneem, van beide die manne en hul gesinne. Kinders het glo nie meer hul pa’s geken nie, en “vreemde pa’s” het by ma’s begin kuier, kamstig om te help. Dinge het handuit geruk.
Dit was moeilik om die waarheid te bepaal. In die kweekskool leer jy om mense te vertrou, nie te wantrou nie. Jan het nie gelyk of hy toneelspeel nie, maar Fanjan was nie ’n speurder nie. Hoe langer die bom se nagevolge aanhou, hoe meer het mense kanse gevat. Die kapelaan was dikwels die slagoffer van hierdie menslike dramas.
11. NWANETSI
(Ná die bom besoek die generaal die grens)
Nwanetsi lê diep in die Krugerwildtuin, langs die Nwanetsi-rivier, naby die Mosambiekse grens. Vir ’n eerste besoeker was dit besonders – afgesonder van toeriste wat diere soek. Polisiemanne moes ’n lae profiel handhaaf om die wildtuin nie soos ’n polisiestaat te laat lyk nie. Hulle moes die grensdraad met Mosambiek bewaak, met gereelde patrollies. Vanaf sekere punte kon jy Maputo se hawe sien.
Die Nwanetsi-Satara-pad was ’n “leeupad”. Op goeie dae sien jy leeus, luiperds en hiënas; op mindere dae koedoes, kameelperde, sebras en wildebeeste. Op slegte dae was dit doodstil. Fanjan arriveer op so ’n dooie dag om die grensmanne te bedien.
Een aand ná ete wou die manne hom die leeus wys. In die winter bly teerpaaie warm, en roofdiere soek die hitte op. Toeriste word ná sononder in kampe toegesluit, maar wildbewaarders mag nagritte doen. Die polisiemanne neem Fanjan in ’n Casspir om die leeus te wys. ’n Trop lê uitgestrek, dik gevreet. Vir ’n wildtuin-nuweling was dit groots. Die Casspir se geraas laat die leeus stadig die bos inloop.
Die Nwanetsi-kamp was pragtig, met ’n groen tuin en winterblomme, anders as die droë wildtuin-winter. Die permanente bevelvoerder, ’n middeljarige, ongetroude majoor, het daar huis-huis gespeel. Hy het ’n vreemde verhouding met jong polisiemanne gehad, wat Fanjan ongesond gevind het, maar dit was nie sy taak om in te meng nie.
Die majoor was selde daar, altyd rondry vir voorrade, met ’n verfynde jongman in sy bakkie. Hy was hatig op die macho-ouens wat oor meisies of vrouens praat. Ná die bom moes almal langer bly, wat soos weke gevoel het. Die jongmanne om die majoor het nie huis toe gehaas nie, en geniet sy bakkie-ritte om kos na die veld te neem.
Polisiemanne het beurte gemaak om ’n week in die veld te slaap, twee-twee, om die grensdraad dag en nag dop te hou. Hulle mog nie stort of seep gebruik nie, om soos die bos te ruik. Konstabel Werner het elke dag grondboontjiebotter-en-stroop-toebroodjies bestel, wat hom huis toe laat verlang het.
In die veld moes hulle mekaar oppas vir roofdiere, met nagsig-apparate. Hulle taak was om onwettige immigrante uit Mosambiek aan te keer. Sommige soek werk, ander vleis. Werner vertel van ’n nag toe leeus ’n Mosambieker voor hul oë opgeëet het. Hy en sy maat het in angs gekyk, maar stilgebly, bang die leeus stel in húlle belang. Hulle het nie geslaap nie, dankbaar dat die leeus hulle nie vroeër geruik het nie.
Die Nwanetsi-kok, Johnnie, was ’n meesterkok, waardig vir MasterChef. Elke maaltyd was ’n fees, en niemand wou dit mis nie. Hoofkantoor was bewus hiervan, en Generaal Wandrag kies toe Nwanetsi vir ’n middagete tydens sy besoek aan wildtuin-basisse ná die bom. Die manne, wat al ’n week moes huis toe gewees het, was nie bly om hom te sien nie. Hulle het hul plig gedoen, terwyl hy elke aand tuis slaap.
Toe Generaal Wandrag aansit, het hy ’n feesmaal verwag: voorgereg, hoofgereg, nagereg. Fanjan, toevallig daar, hou hom geselskap saam met die helikoptervlieënier en adjudant. Johnnie bring net ’n bakkie rooi druiwe. Ná ’n uur gebeur niks verder nie. Die generaal word stiller. Toe hy wil vertrek, is daar “toevallig” nie genoeg brandstof vir die helikopter nie. Alles was vooruit beplan. Wat daarna met Johnnie, die bevelvoerder en ander gebeur het, weet Fanjan nie. Hulle sê ’n polisieman kry ’n boodskap as jy hom ’n streep trek, maar wie laaste gelag het, bly ’n raaisel.
12. PAFURI
(Gevolge van die bom rafel uit)
Pafuri is sinoniem met Crook’s Corner, in die noordelike Krugerwildtuin, waar die Limpopo- en Luvuvhu-riviere ’n driehoek vorm tussen Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek. Gedurende reënseisoen was en is die riviere gevaarlik. Pafuri was groen, vol waterbokke, njalas, koedoes en kremetartbome, met hiënas op die leeus se hakke.
Tydens die bom was daar geen formele grensbasis nie, net veiligheidsmanne wat spioene en wilddiewe moes stuit. Toe Fanjan tien dae ná die bom arriveer, was die atmosfeer vreemd. Niemand dra polisie- of bosklere nie – almal is in privaatklere. Die nuwe ouens, van Eenheid 19 in Pretoria, was vars uit die skool en skielik na Pafuri gestuur. Hulle arriveer ná ’n chaotiese nagrit vanaf Phalaborwa, waar die Casspir-bestuurders per ongeluk tien kilometer in Mosambiek verdwaal het.
By Pafuri was daar toe net een wakker veiligheidsman wat ’n paar wildtuinhuisies bewaak. Generaal Wandrag het besluit dis nou ’n grensbasis. Die Eenheid 19-ouens had niks by hulle nie – geen seep, tandeborsels of huishoudelike items nie. Hulle is uit Pretoria se polisiekollege gehaal, waar hul motors oopgelaat is, sonder kans om geliefdes te bel. Pafuri had geen tiekiebokse nie, en daar was geen vorige grensgroep om leiding te gee nie. Die veiligheidsmanne het anders geopereer, as voogde, met ’n sersant as hoogste rang.
Die kapelaan se Bybel sou hier geen indruk maak sonder om basiese behoeftes aan te spreek nie. Geloof en lewe was onlosmaaklik verbind. Fanjan moes beloftes maak om hul geliefdes te kontak, wat skelm moes gebeur. Sy Oosgrens-roete was amper klaar, en in Pretoria sou hy hoofkantoor probeer oortuig om die ouens se situasie te verlig.
Die veiligheidsmanne het Fanjan fassineer. Hulle was vaag maar soms spraaksaam rondom die vuur, nooit grootpraterig nie. Hulle was die polisie se oë en ore, maar hul missie was onduidelik. Hulle het geweet die Casspirs het in Mosambiek verdwaal, maar kon niks doen nie. Hulle het goed met plaaslike mense oor die grense omgegaan, inligting gekry vir gunsies, en vreemde bewegings aan die oorkant gemeld. Krokodille was ’n gevaar, met kinders wat soms verdwyn het tydens swem of water haal.
Die veiligheidsmanne het verhoudings met buurlande opgebou om inligting te kry sonder om self daar rond te loop. Fanjan hoor later van Pik Botha se motorfietsrit in Mosambiek. Die meeste veiligheidsmanne het vroeër in Rhodesië ondersoeke gedoen, maar Fanjan was te kort daar om meer te hoor. Ná drie dekades is die meeste waarskynlik afgetree of oorlede.
13. BEITBRUG
(Ná die bom kom die wiele af)
Soms arriveer jy by ’n plek met die verkeerde klere, nie passend vir die geleentheid nie. Jy’t die uitnodiging misverstaan of nie geluister nie. Jy voel uit plek, wil weghardloop, maar moet maar die beste maak van ’n slegte saak. So voel Fanjan toe hy by Beitbrug se noordelike polisiegrensbasis aankom, deel van die Oosgrens-eenheid. Ná die Pretoria-bom het die polisie ’n weermagbaadjie aangetrek wat nie pas nie.
Beitbrug was bekend as die weermag se noordelike basis, naby Rhodesië, maar ná Zimbabwe se onafhanklikheid is dit ’n spookbasis. Die bom laat die polisie hier intrek, in ’n basis wat honderde kon huisves. Nou moes ’n handjievol polisiemanne nes skrop in ’n plek vol spinnerakke en goggas, gelukkig te koud vir slange. Bruin sandsakke was oral, asof ’n aanval verwag is. Die polisiemanne, gewoond aan blou klere in stede, moes in groen-gevlekte kamoeflering werk, soos in ’n ou cowboy-fliek.
Fanjan vind die manne heeltemal uit hul gemaksone. Hulle is ná die bom in ’n verlate weermagbasis geplant, waar die kapelaan se geestelike diens sekondêr was aan fisieke en morele behoeftes. Die weermag noem die publiek “civies”, maar die polisie noem hulle “hase” – dalk omdat skelms gejaag word. Fanjan kon die oorsprong nie naspeur nie.
Die weermag se Recce’s, jong ouens vir vuilwerk, verskil van die polisie se koevoete – ouer, beter opgelei. Vergelykings was onregverdig. Op pad terug na Pretoria ná ’n maand se grensdiens, evalueer Fanjan alles. By die kapelaanskantoor moes hy verslag doen, maar die kapelaangeneraal was besig, en afsprake was skaars. Telekse het berig van ’n toename in selfmoorde onder polisiemanne, gekoppel aan dubbelskofte en driedubbele eise. Die bom het die weermag in Kerkstraat getref, maar die polisie landwyd, van Kaapstad tot Beitbrug, het die grootste slag gekry.
Die bom het geboue en mense uitmekaar geskud, maar op die grense het dit die manne se koppe en lewens geskud, waarskynlik onherstelbaar.
Was die jong kapelaan, vars uit die kweekskool, gereed vir die “bom” op die grens? Waarskynlik nie.
Was dit ’n taak vir ’n sielkundige? Waarskynlik wel.
Niemand het die regte klere vir hierdie makietie gehad nie – nie die polisiemanne, hul gesinne, of die kapelaan nie.
Beitbrug, waar almal “verkeerde klere” gedra het, het almal laat nadink.
Die Oosgrens het waarskynlik ’n groter impak op die uwe gehad as wat hy op die grensmanne gehad het.
Wie kon voorbereid wees vir die onwaarskynlike? Niemand.
Kan jy altyd die regte klere aantrek of die regte mens op die regte plek wees? Nie maklik nie.
![]()
NAWOORD: BRIG HB HEYMANS
Ons leef inderdaad in ‘n klein wêreld – die dominee het ongeveer 10-jaar na my by die Hoërskool Dirkie Uys in Durban gematrikuleer. Skielik het ons land en sand aanmekaar gesels. Ons ken baie van dieselfde mense.
In al die jare wat ek aan die Nongqai verbonde is, is dit die eerste keer dat ons ‘n in-diepte verslag van ‘n SAP-kapelaan ontvang. Mens kan sien hy was jonk en idealisties en soos alle jong manne. Maar, hy moes eers die kat goed uit die book kyk! Hy het sy taak ernstig opgeneem was in ‘n moeilike bedieningsveld.
Hy is lojaal aan sy roeping as predikant en pleeg glad nie ‘n vertrouensbreuk nie, dit het ek uitgeklaar met dr Willem Steenkamp ons bedryfsbestuurder en regskenner. (Dr Steenkamp is ook oud-Dirkie Uyser en die doktor se suster was saam met die dominee op skool.)
Ds Fanie vertel op sensitiewe wyse van sy ervaring as polisiekapelaan. Hy besef hy werk met mense en nie met robotte nie. Van oudsher af is die mens maar geneig tot sonde en die polisieman is geen uitsondering nie. Hy vertel op deernisvolle wyse van hoe hy waargeneem, opgetree en sake hanteer het. Ons het natuurlik alle name verswyg.
Hierdie is een van die mees deernisvolle en interessante artikels oor die geestelike lewe van lede op die grens (en in die bos) wat ek ooit gelees het.
‘n Besondere bydrae tot ons kultuur-historiese erfnis en polisiegeskiedenis. Ja daar is niks nuuts onder die son nie. In die veld van bediening aan uniformpersoneel voorspel ek dat hierdie artikel ook baie nuttig gaan wees as daar weer oorlog kom – elk geslag kry sy kans vir oorlog.
Ek is diep dankbaar dat ds Fanie Vermaak die eerste stap geneem het om Nongqai te kontak en hierdie unieke ervaring met ons te deel.
