NUWE BOEK

DIE UITVAART:’N ONWERKLIKE WERKLIKHEID

Wilhelm van Deventer

In haar nuutste boek, Die Uitvaart, laat Carla van der Spuy reggeskied aan die teoloog Karl Barth se woorde toe hy geskryf het dat die dood ’n onwerklike werklikheid is. In hierdie boek, uitgegee deur Protea Huis, kyk die skrywer die dood vierkantig in die oë want, alhoewel ons almal weet dat die dood ’n werklikheid is, leef ons asof dit nooit met ons gaan gebeur nie.

No photo description available.

Carla van der Spuy

Carla skryf oor ‘n verkeidenheid etiese, godsdienstige, kulturele en praktiese dimensies van die dood en verskillende maniere van afskeid neem. Sy ondersoek hierdie en ander aspekte in diepte en gesels met ’n verskeidenheid professionele persone wat kundiges is op die gebied van sterflikheid, doodsbegeleiding en gespesialiseerde mense wat betrokke is by begrafnisse, verassing en ander vorme van na-doodse prosedures. Verskillende wyses van sterftes, die verband tussen geboorte en die dood, maniere waarop mense rou, en selfs die dood van troeteldiere en dat diere ook rou, word verduidelik. Carla ondersoek ten slotte ook sekere makabere tradisies rondom die dood en hoekom tiktoks van begrafnisse deesdae al hoe gewilder raak.

Is ons werklik voorbereid op die dood? Gelukkig het die Romeinse filosoof Seneca wat van net voor Christus tot na Christus geleef het gesê: ‘’Die feit van die dood inspireer ons om voluit te leef!”

Carla van der Spuy is ‘n bekroonde vryskutjoernalis en skrywer en het al agt boeke geskryf (meestal waremisdaad-niefiksie) waarvan verskeie topverkopers was en in Engels vertaal is. Haar vorige boeke sluit in: Mens of monster (2012), Plaasmoorde (2014), Bloed op haar hande (2015), Mishandel, misbruik, misken: Joey Haarhoff was my ma en Liefde agter tralies (2019).