‘GRAZIE’ VIR ITALIAANSE KRYGSGEVANGENES EN HUL NALATENSKAP
PETRONEL FOURIE
Met erkenning aan Maroela Media, waarin hierdie besondere artikel vir die eerste keer verskyn het.
Key Words: Zonderwater POW Camp, Zonderwater, Rayton, Pretoria, Italian Prisoners of War in South Africa
Duskant Cullinan en sy beroemde diamantmyn hurk ‘n ander besondere terrein tussen die lang gras en wilde plantegroei wat hierdie juweel se glans laat verdof – die Zonderwater-krygsgevangenekamp wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer. Maar daar is ‘n man wat Zonderwater se storie goed ken, dit lewendig hou en skouer aan die wiel sit om die terrein en sy erfenis te bewaar. Sy naam is Emilio Coccia.

Die Vlag van die Zonderwater Blok Oudkrygsgevangenes-organisasie
Beskermheer van Italiaanse erfenis
Emilio het in 1970, toe hy 26 jaar oud was, sy ouers, broer en drie susters in Italië agtergelaat om sy siviele ingenieursloopbaan in Afrika te bou. Alleen, met net ‘n tas en ‘n sak, het hy Europa se beknoptheid vir Suid-Afrika se ruimtes verruil en nog nooit spyt gekry ook sy besluit nie. Nou, 55 jaar nadat hy hier kom wortel skiet het, vertel hy dat spasie en vryheid sy rykdom is, eerder as geld. Nadat hy vir 13 jaar gehelp het om kraglyne te lê, het hy sy eie konsultasiemaatskappy begin en konstuksiewerk gedoen tot sy aftrede in 2010.

Emelio Coccia hou die Erfenis van die Italiaanse krygsgevangenes in Zonderwater vas
As Italianer wat in Pretoria woon en in geskiedenis belangstel, het hy kort voor lank van die Zonderwater-krygsgevangenekamp te hore gekom. Sy eie patriotiese pa het in sy leeftyd vir drie oorloë aangemeld, ook die Tweede Wêreldoorlog, maar hy was telleurgesteld oor Italië se verraad teenoor Duitsland en het nie veel oor sy oorlogsdae gepraat nie. Emilio het wel by sy ma gehoor wat gebeur het en is sodoende geprikkel deur die verhale van die Italiaanse krygsgevangenes wat oor die wêreld heen verstrooi is.
In 1986 het hy die jaarlikse vereringsfunksie vir gesneuweldes by Zonderwater begin bywoon. Dit word sedert 1947 deur die Zonderwater-kamp Oudkrygsgevangenes-organisasie gereël. Die organisasie het sedert hul amptelike registrasie in 1965 goeie bande met die regering gesmee en die kamp se instandhouding oorgeneem, al is dit staatsbesit. Emilio het in 1997 voorsitter geword e nook sy gewig daar ingegooi. Sedert 2020 is hul mandaat om die terrein en geboue te onderhou egter weggeneem en is die museum en begraafplaas gevolglik vir die publiek gesluit.

Die binnekant van die museum, voordat dit ontruim moes word
“Die museum is in 1990 gebou en het baie memorabilia van krygsgevangenes bevat. Die nabygeleë Cullinan-diamantmyn se dinamietskietery het krake in die museumgebou veroorsaak en ons het dit ontruim sodat die struktuur herstel kon word. Maar na die herstelwerk wou die regering nie die museumgebou se sleutel weer vir ons gee nie, en ek was nie bereid om daardie waardevolle items waarvoor ons verantwoordelik is, wat gewere en swaarde insluit, terug te neem sonder dat ons organisasie dit kon self kon bewaar nie,” vertel Emilio.
Die organisasiee en die Italiaanse konsulaat is wel in gesprek met die regering en Emilio hoop dat hulle binnekort weer die bestuur van die terrein kan oorneem en vir die publiek kan oopstel.

Besondere houtsneewerk in die museum
Skatkis van nuwe inligting in argiewe ontdek
Buiten die terrein en die waardevolle memorabilia wat Emilio help bewaar, het hy ook op ‘n skatkis van inligting in die nasionale militêre argiewe afgekom. In 1997 het hy 42 kiste met mikrofilm gevind wat nog nooit na die Tweede Wêreldoorlog oopgemaak is nie. Die kiste het die gedetailleerde mediese rekords van meer as 100 000 krygsgevangenes bevat. Die rekords het vertel wat hul name was, waar hulle gewerk het, waar en wanneer hulle gevange geneem is, wanneer hulle in Suid-Afrika aangekom het en met watter skip, wie hul ouers was, wat hul geboortedatum was, hul rang en die name van eggenote, en alle mediese diagnoses.
“Vir my is die wonderlikste van hierdie rekords om aan elke gevangene ‘n naam te gee. Tweedens wou ek vir die families inligting oor hulle kon gee. Ek het besluit om die rekords te fotostateer. Dertien jaar later het ek die name en besonderhede van presies 108 892 krygsgevangenes in my eie rekords gehad. Vyf vertrekke in my huis is vol argiefdokumente!” vertel hy.

Een van die besonderse oorsponklik vlae wat aan die Zonderwater-organisasie geskenk is
Met al hierdie dokumente tot sy beskikking het Emilio hom behoorlik in die wel en weë van die Zonderwater-krygsgevangenes verdiep. Hy vertel dat Zonderwater se fasiliteit vir die kamp gebruik is omdat dit ‘n opleidingskamp vir die Unieverdedigingsmag was en daarom ideaal vir die doel. Die Uniesoldate is weggestuur om te gaan veg, en die krygsgevangenes het in hul plek ingetrek.
Die lewe in ‘n krygsgevangenekamp
Aan die begin was die lewe moeilik vir die gevangenes in die kamp. Hulle het jong offisiere met min ervaring gehad wat groot groepe moes bestuur. Geweld en wanbestuur was algemeen. In 1942 het ‘n kommissie gaan ondersoek instel of die kamp volgens die Geneefse Konvensie bestuur word en was ontevrede met wat hulle gesien het. Kampaanvoerder De Wet is toe met ‘n nuwe een, Prinsloo, vervang.
“H.F. Prinsloo was 52 jaar oud toe hy deur Jan Smuts aangestel is. Hy was ‘n uitstekende kampaanvoerder, waarskynlik omdat hy self as 12-jarige seun in Barberton se konsentrasiekamp was, tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy het geweet hoe dit voel om ver van jou familie af te wees, die trauma van gevangeneskap sonder om te weet wanneer jy bevry gaan word,” noem Emilio.
Prinsloo het die Geneefse Konvensie tot op die letter toegepas en die probleme van die swart mark en die swak posstelsel opgelos. Hy was ook ‘n groot sportman en het die gevangenes aangemoedig om sport te doen, soos atletiek, boks, basketbal, voetbal en volleyball. Hy het besef dat die sielkundige uitwerking van die oorlog op die gevangenes groot is en het dit met sport teëgewerk.
“Daar was ‘n krygsgevangene, ene Triccoli, wat in 1944 in Zonderwater ‘n nuwe greep vir skermswaarde ontwikkel. Dit was so goeie ontwerp dat dit later gepantenteer het. Troccoli het ook na sy vrylating ‘n skermskool in Italië begin en ‘n hele paar wêreldkampioene opgelewer,” vertel Emilio.
Zonderwater se krygsgevangenes kon ook verf en beeldhouwerk doen, wat verskeie topkunstenaars opgelewer het. Een so ‘n voorbeeld is Eduardo Villa, die bekende beeldhouer wie se versameling by die Universiteit van Pretoria bewaar word. Villa het ook ‘n borsbeeld van Prinsloo gemaak.

‘n Skildery van Luitenant Ingber, wat in Januarie 1946 gemaak is
Verder het Prinsloo skole geopen om ongeletterdheid te bekamp, sodat die mense werk kon kry na die oorlog, en boeke, balle en skermtoerusting vir die kamp bekom. Hy het selfs ‘n hospitaal laat bou wat 3 000 pasiënte kon akkommodeer.
Italiaanse krygsgevangenes se stempel in SA
In die rekords kon Emilio sien dat die krygsgevangenes behoorlik aan die werk gesteek is, veral vir voedselproduksie tydens die oorlog, waar hulself as ‘n groot bate bewys het. Duisende is na plase gestuur om daar te werk en nog baie om tonnels en damme te bou.
“Hulle het wondere verrig, omdat hulle harder as die plaaslike mense gewerk het en vaardig was met dinge soos bouwerk, tuinwerk en kosmaak. Dié wat op plase gewerk het, is goed behandel en het dikwels deel van die boer se familie geword. Hulle het gehelp om kos te maak en wasgoed te was, en het ook saam geëet en musiek gemaak. Hulle daarwees was opbeurend vir die boergesin en hulle het ook met nuwe idees en innovasie vir die boerdery gekom – van verkoelingstelsels vir boorgatwater en nuwe konstruksieontwerpe vir geboue tot die kruisbestuiwing van groente- en blomsade en operamusiek.”

‘n Pragtige horlosie wat deur die krygsgevangenes gemaak is
Hy voeg by dat baie Italiaanse krygsgevangenes ook verhoudings met die plaaslike meisies aangeknoop het – sommiges is getroud en ander het net kinders saam gehad. En dis juis hierdie kinders wat Emilio op ‘n weeklikse basis kontak om inligting oor hul Italiaanse pa’s te kry.
Emilio, die boodskapper
Die beste deel van die jarelange navorsing wat Emilio gedoen het, is dat hy al ses biologiese kinders van Italiaanse krygsgevangenes met hul familie kon herenig.
“’n Vrou van Kaapstad het my gekontak omdat sy haar pa gesoek het. Sy het sy naam vir my gegee en ek kon hom in die rekords opspoor en bevestig dat hy uit Noord-Italië gekom het. Sy is soontoe en het eers by die polisie, kerk en munisipaliteit aangeklop vir hulp, maar sonder sukses. In die register kon ek toe naspoor wie vir sy graf betaal het en op dié manier haar halfsuster opspoor – die twee susters lyk baie na mekaar!”

‘n Armband vir ‘n geliefde
Nog ‘n versoek het gekom van ‘n man, Guiliano*, wat sy pa gesoek het. “Ek het die laaste adres op die hospitaalrekords gaan opsoek en met my suster, wat nog in Italië woon, se hulp ‘n telefoonnommer gekry. Maar die telefoongesprek het nie goed verloop nie, die Italiaanse man was agterdogtig en het gedink ons wil iets van hom hê. Nadat ek vir Guiliano laat weet het, wou hy dit daar laat, maar sy seun het ‘n brief geskryf wat ons toe na Italië gekoerier het,” onhou Emilio.
Die Italiaanse oupa wou aanvanklik nie eers die brief in ontvangs neem nie, maar toe Emilio se suster dit met die gewone Italiaanse posstelsel by sy huis laat aflewer het, was hy gefop en het dit tog gelees.
“Die uiteinde is dat Guiliano na Italië gereis het en met sy aankoms by sy pa se huis die ou man in ‘n stoel sien sit het. Hy het nader gestap en in Afrikaans gevra: ‘Hoe gaan dit met Pa?’, waarna sy krygsgevangene-pa ook in Afrikaans geantwoord het: ‘Goed, dankie’. Guiliano het nog twee of drie keer in Italië gaan kuier voordat sy biologiese pa oorlede is,” vertel Emilio met ‘n glimlag.

‘n Arend – van die pragtige houtsneewerk in die museum
Op ‘n dag toe Emilio navorsing in die militêre argiewe gaan doen het, vertel die direkteur hom van ‘n versoek uit Australië vir inligting oor ‘n Zonderwater-krygsgevangene. Cathy* se ma het op haar sterfbed vir haar ‘n brief geskryf waarin sy erken dat haar biologiese pa in Zonderwater was.
“Met die van wat sy vir my gegee het kon ek geen inligting opspoor nie, maar dit was ook nie ‘n algemene Italiaanse van nie en ek het vermoed dat die spelling verkeerd was. Ek bel Cathy toe in Melbourne en vra haar om die van vir my uit te spreek. Op hierdie manier kon ek die regte van uitwerk. Daar was egter meer as een gevangene met hierdie van. Vir ‘n paar maande lank het ek gesoek, gebel, nagevors en weer probeer, totdat ek eindelik by die regte man uitgekom het – maar hy was ongelukkig reeds dood.

Skoene wat van meel en water gemaak is
“Ons het toe met sy seun kontak gemaak en Cathy is Italië toe om haar halfbroer en -suster te ontmoet. Ek het saam gegaan vir die eerste ontmoeting om te tolk, want hulle kon mekaar glad nie verstaan nie. Na ‘n lekker middagete saam is die ys gebreek en die bande gesmee, en hulle het kontak gehou daarna,” onthou Emilio.

Die netjiese begraafplaas op Zonderwater
Gelukkige eindes soos hierdie maak die navorsing vir hom kosbaar, vertel Emilio. Dit, saam met die instandhouding van die kerkie op Zonderwater en die bewaring van honderde artefakte wat Italiaanse krygsgevangenes gemaak het, is sy bedrae tot die nagedagtenis van Italië se krygsgevangenes in Suid-Afrika.

Zonderwater Krygsgevangenekamp tussen Pretoria en Cullinan
- As jy inligting oor Zonderwater se Italiaanse krygsgevangenes wil hê, kontak Emilio by oh2oza@gmail.com.

- Petronel Fourie
- Petronel28@gmail.com