Krygsgevangenes lê nou naamloos in hulle grafte

Abstract

The Zonderwater Italian Military Cemetery, once a well‑maintained memorial site for 277 Italian prisoners of war who died in South Africa between 1941 and 1947, has fallen into serious neglect. Repeated break-ins have left the electric fencing destroyed, the office ransacked, and the grounds largely abandoned. Thieves have removed the bronze name plaques from the graves, leaving the fallen soldiers unidentified. The museum, formerly home to the prisoners’ artwork and craftsmanship, now stands empty, with its collection stored elsewhere for safety after the alarm system was disabled.

The cemetery forms part of the history of the Zonderwater POW camp, the largest Italian prisoner-of-war camp in South Africa during the Second World War. Established near Cullinan, the camp was designed to house up to 100 000 prisoners and developed into a self-contained settlement with barracks, hospitals, schools, theatres, workshops, sports fields, and cultural institutions. After the war, many prisoners were temporarily employed on nearby farms, and some remained in South Africa, later founding the Zonderwater Ex‑POW Association in 1965 to preserve the cemetery. The Italian government supported maintenance efforts until 2020.

Since 2021, the site has been under the administration of the South African Department of Correctional Services, but the Italian consulate reports ongoing difficulties in securing and maintaining the grounds. Requests to resume management of the cemetery have been unsuccessful. The current state of decay stands in stark contrast to the historical significance of the site as a place of remembrance, cultural heritage, and shared wartime history.

Opsomming

Die Zonderwater Italiaanse Militêre Begraafplaas, eens ’n goed versorgde gedenkplek vir 277 Italiaanse krygsgevangenes wat tussen 1941 en 1947 in Suid-Afrika gesterf het, verkeer vandag in ’n toestand van verval. Ná herhaalde inbrake is die elektriese omheining vernietig, die kantoor geplunder en die museum leeggemaak terwyl waardevolle artefakte elders gestoor word. Diefstal van bronsnaamplaatjies het die grafte naamloos gelaat, wat die waardigheid van die oorledenes verder aantas. Die begraafplaas vorm deel van die geskiedenis van Zonderwater, die grootste Italiaanse krygsgevangenekamp van die Tweede Wêreldoorlog, waar tot 100 000 gevangenes gehuisves kon word en waar ’n uitgebreide infrastruktuur van barakke, hospitale, skole, teaters en kulturele instellings bestaan het. Ná die oorlog het sommige voormalige krygsgevangenes in Suid-Afrika gebly en in 1965 die Zonderwater Oud-Krygsgevangenevereniging gestig om die terrein te versorg, met ondersteuning van die Italiaanse regering tot 2020. Sedert die terrein in 2021 onder die bestuur van die Departement van Korrektiewe Dienste val, sukkel die Italiaanse konsulaat om instandhouding en sekuriteit te verseker, en pogings om beheer terug te neem het tot dusver misluk. Die huidige verval staan in skerp kontras met die historiese en simboliese belang van die terrein as ’n plek van herinnering, versoening en gedeelde geskiedenis.

Caption: Zonderwater 1

Zonderwater Italiaanse Militêre Begraafplaas

Foto: Salomi Louw

Caption: Zonderwater 2

Die brons naamplaatjies is van die grafte afgesteel

Foto: Salomi Louw

Caption: Zonderwater 3

Zonderwater 1941 – 1947

Bron: Photothèque CICR

Caption: Zonderwater 4

Ontspanning buite die barakke
Bron: Zonderwater Oud-Krygsgevangenevereniging

KRYGSGEVANGENES LÊ NOU NAAMLOOS IN HULLE GRAFTE

Die Bronberger se Januarie-uitgawe

Met toestemming van Die Bronberger word hierdie artikel her-publiseer in die belang van ons militêre veterane en militêre-historici

Die bronsplaatjies op grafte in die Zonderwater Italiaanse Militêre Begraafplaas is afgesteel en die Italiaanse krygsgevangenes wat in die Tweede Wêreldoorlog in dié interneringskamp gesterf het, lê nou naamloos daar.

Ná verskeie inbrake is die elektriese omheining vernietig, die begraafplaas se kantoor geplunder en die terrein, wat eens goed instandgehou is, is so te sê verlate. Die museum, wat eens die tuiste van die krygsgevangenes se handewerk was, is leeg omdat die items elders veilig gestoor word en die alarmstelsel is, volgens ’n lid van die Zonderwater Oud-Krysgevangenesvereniging, gedeaktiveer.

Dié begraafplaas het tussen 1941 en 1947 die finale rusplek vir 252 Italiaanse krygsgevangenes geword. Vandag is daar, ná ’n herbegrafnis van krygsgevangenes uit die Worcester-begraafplaas, 277 grafte. Die eerste 10 000 krygsgevangenes het in die lente van 1941 vanaf die fronte in Ethiopië (toe nog Abessinië genoem) en Eritrea op Zonderwater aangekom.

Hulle is in tente, wat oorspronklik deur die Unie-troepe gebruik is, gehuisves. Later is die tente deur barakke, wat die Italianers self opgerig het, vervang. Zonderwater-krygsgevangenekamp was die grootste van die 18 Tweede Wêreldoorlogse Italiaanse Krygsgevangenekampe.

Dié kamp is reg langs Cullinan, wat toe ’n spookdorp was, opgerig. Die myn het in 1932 gesluit weens ’n daling in diamanthandel. In 1939 het dit geblyk dat Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog gaan deelneem en die weermag het sy oë op die dorpie Cullinan gehad. Die Premier Diamond Mining Company se eiendom, wat omliggende plase ingesluit het, is aan die regering verhuur. Teen die einde van 1939 het die regering die plaas Zonderwater van die African and European Investment Corporation gekoop om as opleidingsgebied te dien. Mettertyd is dele van ander plase ook gehuur tot omtrent 6 800 morg grond in die Cullinan-gebied in militêre gebruik was.

Die bevelvoerder troepe, Premiermyn was aanvanklik in beheer van die Zonderwater-krygsgevangenekamp, maar in 1942 is kolonel Hendrik Frederik Prinsloo as kampkommandant aangestel.

Daar was 14 blokke, elk met vier kampe van 2 000 mans. Elke kamp het 24 barakke met sinkdakke gehad. Dit was ’n ‘dorp’ wat beplan is om 100 000 soldate te huisves en daar was 30 km paaie, menasie-sale, opleidingsentrums, skole, gimnasiums en sportvelde waar groot byeenkomste gehou is.

’n Orkes is in die lewe geroep; daar was mobiele filmteaters en 17 teaters met akteurs en regisseurs, kuns- en handwerkuitstallings, kunsklasse, ’n biblioteek met 10 000 boeke en ’n groot uitstallingsaal waar kunswerke jaarliks tentoongestel is.

Elke blok het sy eie buitelug altaar en kapel gehad en daar was 20 Italiaanse kapelane. Zonderwater het die grootse militêre hospitaal in Suid-Afrika gehad (met 3 000 beddens) en het uit 150 geboue, elk met 20 beddens, bestaan.

Nie alle krygsgevangenes is met Zonderwater se sluiting op 1 Januarie 1947 dadelik gerepatrieer nie. Baie van hulle is aanvanklik as werkers op plase in die omgewing uitgeplaas en die laastes is eers in 1955 gedemobiliseer.

’n Groep oud-krygsgevangenes, wat in Suid-Afrika agtergebly het, het besluit om die begraafplaas te onderhou en so is die Zonderwater Oud-Krygsgevangenevereniging in 1965 gestig. Emilio Coccia het in 2000 die voorsitter van dié vereniging geword en daar was tot 2020 finansiële ondersteuning van die Italiaanse regering.

Sedert 2021 word die terrein deur die Suid-Afrikaanse Departement van Korrektiewe Dienste bestuur omdat dit op grond is wat aan dié departement behoort. Livio Spadevecchia, die Italiaanse konsul-generaal, sê dat die Italiaanse konsulaat sedertdien sukkel met instandhouding en sekuriteit op die perseel en dat hulle verskeie versoeke om die begraafplaas se bestuur terug te neem, op niks uitgeloop het nie.

A black rectangle with white lines AI-generated content may be incorrect.