Johan Mostert

Die Buro vir Staatsveiligheid (BvS)/Nasionale Intelligensiediens (NI): ’n Unieke verskynsel in die Westerse intelligensiewêreld

Abstrak: Buro vir Staatsveiligheid, BSV, Intelligensiewetenskap in Suid-Afrika, Intelligensie, Nasionale Intelligensiediens (NI).

Die Buro vir Staatsveiligheid (BvS)/Nasionale Intelligensiediens (NI) was ’n unieke verskynsel in die Westerse intelligensiewêreld. Dit was inderwaarheid vyf intelligensiedienste in een.

Intelligensiedienste wêreldwyd word normaalweg georganiseer rondom ’n enkele generiese funksie. Die Wet op Staatsveiligheid (Wet 104/1978) het egter vyf intelligensiefunksies aan die BvS/NI opgedra.[i] Agter elke funksie hieronder, word die Amerikaanse en Britse organisasies wat daarvoor verantwoordelik is, tussen hakies aangedui.

  • Buitelandse insameling (CIA, MI6)
  • Elektroniese insameling (NSA, GCHQ)
  • Teeninligting (FBI, MI5)
  • Nasionaal strategiese vertolking (ODNI, JIC)
  • Binnelandse insameling en vertolking, ‘n besondere funksie wat nêrens elders ter wêreld in demokratiese lande gepraktiseer is nie.

Positiewe Intelligensie

Wat hierdie unieke funksie betref, het die BvS/NI die land se interne, huishoudelike, veiligheidsituasie gemoniteer en geëvalueer (noem dit duidelikheidshalwe positiewe intelligensie om dit te onderskei van teeninligting). Geen ander land het sy interne situasie so onder oë genee soos dit deur die Buro/NI gedoen is nie. Nie een diens in die VSA het byvoorbeeld intensief gefokus op die veiligheidsituasie in ‘n deelstaat nie. Daar is nie gereelde verslae geproduseer oor die stand van die veiligheidsituasie in Texas, Mississippi, Ohio of enige ander deelstaat nie. In Engeland is daar ook nie evaluasies gedoen oor die stand van die veiligheidsituasie byvoorbeeld in Sussex, Herefordshire of Hertfordshire nie.

Behoorlike Intelligensiewaarderings

Anders as die ander lande, het die BvS/NI ‘n behoorlike intelligensiewaardering gedoen van die hele land en al sy provinsies. Die kabinet en veiligheidsinstansies is deeglik op die hoogte gehou. Indien die huidige bedeling dit ook doeltreffend gedoen het, sou gebeure soos die onluste van 2021 in veral KwaZulu/Natal voorkom kon word.

BsV/NI se benadering tot binnelandse intelligensie was anders as die van diktature waar eerder sterk gefokus word op die bedreiging vir en die beveiliging van die persoon van die staatshoof en sy regering. Die klem is hoofsaaklik op teeninligting.

Fokus op die bedreiging vir die staat

BvS/NI het gefokus op die bedreiging vir die stabiliteit van die staat en die beveiliging van die bevolking. In hierdie opsig was die Buro vir Staatsveiligheid en Nasionale Intelligensiediens uniek; nie net in sy verskille met diktature nie, maar ook met gevestigde demokrasieë waar die noodsaak aan stabiliteit nie so akuut was nie. Die BsV/NI het hierdie taak met groot integriteit uitgevoer en nie, soos ook die ander intelligensieorganisasie in die binneland, die Veiligheidstak van die Polisie, by die partypolitiek van die dag betrokke geraak nie.

Akronieme

CIA – Amerikaanse buitelandse intelligensiediens

MI6 – Britse buitelandse insamelingsdiens

NSA – National Security Agency van Amerika – elektroniese insameling buitelands

FBI – Federal Bureau of Investigation van Amerika, binnelandse teeninligting

GCHQ – Government Communications Headquarters van Brittanje – elektroniese insameling buitelands

MI5 – Brittanje se binnelandse teenintelligensiediens

ODNI –Office of the Director of National Intelligence van Amerika – verantwoordelik vir onder meer die vertolking van nasionaal strategiese intelligensie

JIC –Joint Intelligence Committee van Brittanje – verantwoordelik vir die nasionale intelligensiewaardering.

Johan Mostert

[i] Lees ook Goewermentskennisgewing 808 van 16 Mei 1969, wat die wetgewende en regsmatige grondslag vir die instelling van die Buro vir Staatsveiligheid as selfstandige staatsdepartement met ingang van 1 Mei 1969 voorsien het. Na aanleiding van die aanbevelings vervat in die Potgieter Kommissie-verslag, is die funksies van die Buro in 1971 hersien, en in Artikel 2 van die Wet op Veiligheidsinligting en die Staatsveiligheidsraad (Wet 64 van 1972, omskryf.

*