Afsterwe – Sarie van Niekerk

AFSTERWE: SARIE VAN NIEKERK VROUE-REDAKTEUR: NONGQAI

Bostaande kunswerk via Ida Steyn

AFSTERWE – SARIE VAN NIEKERK

Hennie Heymans

Dit is met groot hartseer dat ek moet aankondig dat ons ou Groot Maat en Vroue-Redakteur van die Nongqai, Sarie van Niekerk, oorlede is. Ek het die berig op Vrydag, 23ste Januarie 2026, ontvang dat sy oorlede is.

Ek het die volgende huldeblyk saamgestel:

Op 23 April 2012 stel wyle Johan Jacobs – ook ‘n vrywillige verslaggewer van die Nongqai vir Sarie van Niekerk as volg bekend:

KLAP ‘N PALM…

Wyle Johan Jacobs

Hierdie week ontmoet ons ‘n baie dinamiese dame…’n dame wat baie ondervinding het…iemand wat die media baie goed ken en elke dag vir ons hier op die blad vertel van die daaglikse gebeure rondom ons…’n dame wat ook verre paaie geloop het!

Klap ‘n Palm….Ontmoet vir Sarie van Niekerk

Ek is gebore op Louis Trichardt (Makado) waar my ouers destyds op ‘n kleinhoewe net buite die dorp gewoon het. Ek was die jongste van vier kinders, twee seuns en ‘n suster. Nog net my suster leef nog. My ouers en my twee broers is reeds lankal oorlede.

Het my skoolloopbaan aan die destydse Laerskool Louis Trichardt begin. My pa het toe op ‘n myn by Bandolierskop gewerk. My pa het later ook by ‘n saagmeule in Nelspruit gaan werk, daarvandaan is hy na verskeie myne in die Barberton-omgewing wat veroorsaak het dat die grootste deel van my skoolloopbaan in die koshuis was. Toe ek in std. 8 was, (gr. 10) het die laaste myn waar my pa gewerk het toegemaak en het hy sy pensioengeld geneem en ‘n plaas naby Louis Trichard gekoop. Die het hy later verkoop en na die Dendron (anderkant Pietersburg) omgewing verhuis waar hy twee plase aangekoop het. Ek is dus ‘n plaasmeisie deur en deur.

Ek het my skoolloopbaan afgesluit aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naude se Handelsafdeling. Daarna het ek in Pretoria verder gaan studeer vir ‘n graad en onderwysdiploma waarna ek die grootste fout van my lewe gemaak het en gaan onderwys gee het by Tom Naude. (dit was ‘n fout deurdat vir die onderwysers was ek nog die skoolkind en vir leerlinge wat nog daar saam met my skoolgegaan het was ek ook nog ‘n mede-skolier.) Ek het net twee jaar uitgehou as onderwyser en toe eers saam mat ‘n paar vriende ‘n jaar lank deur Europa gaan duimgooi. Die wonderlikste besluit wat ek ooit geneem het. Daarna het ek baie verskillende werke probeer, Trustbank se ontvangsdames, SAUK, Lugdiens, prokureurskantoor, Rapport, Promosiemaatskappy en toe in 1972 Suid-Afrikaanse Polisie. Ek was eers verbonde aan John Vorster-veiligheidstak, toe Boksburg speurders, Boksburg radiobeheer, Boksburg aanklagtekantoor en Germiston speurders waar ek bedank het na my dogter se geboorte. Toe Beeld toe waar ek ‘n paar jaar gelede met pensioen afgetree het.

Ek het as werkende persoon ondermeer in Pretoria, Hillbrow, Port Elizabeth, Johannesburg-sentraal, Boksburg, Brakpan, Kempton Park, Springs en uiteindelik weer in Brakpan kom woon waar ek nou reeds 17 jaar woon.

Ek was getroud met ‘n landdros van Boksburg maar is nou en tog ook ‘n weduwee (figure dit maar uit). Ek het een pragtige dogter wat departmentshoof vir rekeningkunde by Germiston High School is’

Ek is gek oor rondreis en het al die wêreld plat gereis. Ek het modelwerk gedoen in my baie jonger dae, en het aan skoonheidswedstryde deelgeneem. Ek is ‘n groot sportondersteuner en het in my dae self aan atletiek, korfbal, hokkie en tennis deel geneem. Ek is is ‘n geweldige groot Blou Bul ondersteuner

Ek hou van naaldwerk, kunsnaaldewerk, breiwerk, fliek graag en kuier graag saam met my vriende. Ek is ook mal oor diere, het vier honde en vyf katte. Van my lekkerste vakansies was op die eiland Las Palmas, by Disneyworld, destyds die Victoriawatervalle en Egipte. Ek hou nie graag vakansie by die see nie maar geniet dit om in die berge te gaan vakansie hou en ek is nie ‘n karavaan of kampeermens nie. Ek verkies maar ‘n hotel.

Ek dink waarskynlik die mees stupid ding wat ek al gedoen het, was die dag toe ek uit die hooggeregshof in Johannesburg gestap het na my egskeiding en ek my trou- en verloofringe uit my vinger getrek en dit in ‘n asblik voor die hofgebou gegooi het.

Ek stel ook belang in die politiek en was verlede jaar ‘n kandidaat in die plaaslike munisipaleverkiesing

Die oomblik in my lewe wat ek nooit ooit sal vergeet nie is toe die dokter op 18 Mei 2008 my in die oë gekyk het en gesê het ek het kanker. Alles wat daarna gevolg het sal my altyd by bly maar ek kan vandag sê met die bystand van my kind, vriende en my Hemelse Vader is ek tot dusver vry van kanker.

Ek was nie alleen lid van die eerste polisie opleidingsgroep vir dames nie, ek was ook lid van die eerste tien dames wat ooit by veiligheid gestasioneer was en ek was ook een van die eerste dames wat in die Hervormde Kerk verkies is as diaken.

• Vriende en vriendinne! Nou het ons vir Sarie ontmoet…voel vry om vir haar vrae te vra…maar onthou sy is vry om NIE ‘n vraag te antwoord as sy so voel nie!
Johan Jacobs

IN SARIE SE EIE WOORDE:

EK WAS LID VAN DIE EERSTE GROEP VROUEPOLISIE

10 Januarie 1972! Dit is die dag wat my lewe vir ewig verander het. Op die dag het ek, soos ons destyds spottenderwys gese het “my vingertjies in die lug opgesteek het en beloof het om getrou te wees aan my nuwe loopbaan.” Die nuwe loopbaan was om as lid van die eerste opleidingsgroep vir vroue in die destydse Suid-Afrikaanse Polisiemag ingesweer te word.

So ‘n groot oomblik was daar seker nog nooit voorheen en ook beslis nooit daarna in my lewe gewees nie – behalwe natuurlik die geboorte van my dogter!

Daardie oomblik toe vyf van ons, die eerste groep vroue wat by die destydse John Vorsterplein polisiekantore in Johannesburg, deur die toe afdelingskommissaris gen. De Guisti in sy kantoor die eed van getrouheid afgelê het, sal my altyd bybly. As ek vandag nog na die foto’s teen my studeerkamer se muur kyk, dan voel ek steeds daardie koue rilling wat langs my ruggraat afgeloop het daardie dag. Daardie gewyde oomblik toe hy ons elkeen met ‘n stewige handdruk welkom geheet het in die geledere van die polisie.

Die eerste opleidingskursus het eers in Maart 1972 begin in die Polisiekollege in Pretoria-Wes en tot dan moes ons in kantore by John Vorsterplein werk, wat op sigself ‘n wonderlike ervaring was. Alles was nie maanskyn en rose nie, want van die geharde ouer geslag manne kon maar net eenvoudig nie aanvaar dat die skoner geslag nou ook hul terrein betree nie. Van hulle het dit ook baie duidelik gemaak, maar ons het onsself belowe ons gaan hulle verkeerd bewys en alles in gegooi om ‘n sukses te maak van ons nuwe loopbane.

Uiteindelik het die dag aangebreek dat ons na Pretoria kon vertrek vir ons opleiding. Wat ‘n dag! Dit het omtrent gevoel of ons op heilige grond loop toe ons by die kollege aangekom en ons splinternuwe gebou betrek het. Ek dink vir baie van ons 102 dames was dit aanvanklik ‘n geweldige natuurskok toe ons agterkom hoe belangrik dissipline in die polisie is.

Daar was die onvergeetlike brig. Duveen Botha, of Napoleon, soos sy bekend gestaan het omdat sy baie jare lank geskiedenis gegee het aan die Helpmekaar Hoër Meisieskool in Johannesburg. ‘n Napoleon was sy gewis. Vir haar was daar nie ‘n middeweg nie, net een reguit pad en dit was die regte pad.

Daardie eerste dag toe sy ons in die ou sink kerksaaltjie toegespreek het, was ‘n oomblik wat my vandag nog so helder voor die oë staan. Ek hoor nog haar woorde toe sy aan ons nuwe rekrute vertel watter groot geskiedenis ons besig is om te maak. Ons die baanbrekers in die polisie wat die pad kom oopmaak vir vroue in die toekoms.

Aanvanklik het die manlike personeel, daar was geen vrouelike opleidingspersoneel nie, nie regtig geweet hoe om ons te hanteer nie. Hulle kon nie op die paradegronde aan ons skreeu bors uit, maag in, soos wat dit gedurig op die paradegronde vir die mans uitgebulder is nie. Hulle was te bang om ons fisies te hard te druk op die oefenveld, want kan die arme bloedjies dit hanteer? By tye was dit eintlik lagwekkend soos hulle kleigetrap het oor hoe om ons te behandel. Met verloop van tyd het hulle agtergekom dat ons ook maar net lede van die polisie is en het die jammer kry ook begin verdwyn.

Vir brig. Botha was dissipline en netheid die twee hoof aspekte. Ons skoene moes elke aand ‘gebone’ word, want jy het nie gewaag om met skoene waarin jy nie letterlik jou hare kon kam, uit jou kamer te stap nie. Wanneer sy inspeksie in die kamers gedoen het, het sy ‘n wit handskoen aangetrek en daarmee oor die meubels en onder die bed gevee om te kyk of sy tog nie net ‘n stoffie kan kry sodat sy jou net weer ‘n slag kan aanspreek nie.

Ons het hard gewerk, want die hele land se oë was op ons gerig en ons wou mos bewys ons is net so goed, indien nie beter as die mans nie. Ons wou beter punte kry as hulle, wou beter marsjeer as hulle en wou net eenvoudig beter wees as die manlike geslag – ek dink nogal ons het tot ‘n groot mate daarin geslaag.

Kort voor die einde van ons opleiding het die lang, maer, briljante lt.-gen. Christi Zietsman, destyds betrokke by die veiligheidspolisie en later die speurhoof van die land, en sy span kollege toe gekom en tien dames te keur wat na afhandeling van ons kursus in die kollege gaan agterbly om veiligheidsopleiding te kry. Gelukkig was ek ook een van die uitverkorenes!

Hier het ek ook die eerste keer kennis gemaak met die legendariese gen. Johan Coetzee, “Two-tone” Coetzee vanweë sy een bruin en een groen oog. Toe ek dan ook na die veiligheidsopleiding uitgeplaas word na die veiligheidstak by Johan Vorsterplein, was die einste “Two-tone” die afdelingsbevelvoerder.

Hier is ons, ons was vier dames wat daar beland het, deur die meeste mans met oop harte ontvang, maar daar was tog van hulle, soos byvoorbeeld die destydse kapt. Jaap Burger wat geen geheim daarvan gemaak het, dat daar geen plek vir vroue in die polisie is nie, wat nog in die veiligheidspolisie.

Die jare in die veiligheidspolisie was wonderlik. Opwindend, angswekkend maar ook ongelooflik leersaam. Vir die eerste keer het ek werklik agtergekom watter oorlog ons gevoer het teen die destydse kommuniste, die rooi gevaar soos daar van hulle gepraat is. My jare by die veiligheidspolisie was ‘n tydperk in my lewe wat vir my ongelooflik verrykend was en hoewel ek al baie jare uit die polisie is, sal dit my altyd bybly.

Daar was later jare ander afdelings van die polisie waar ek gewerk het, maar ek dink dit is ‘n storie vir ‘n ander keer. Daar is net so ongelooflik baie en wonderlike ervaringe om oor te praat oor my jare in die polisie, dat mens dit onmoontlik nie alles in een brief kan vertel nie.

So sit hierdie in julle pype en suig daaraan tot die volgende uitgawe, dan vertel ek meer. Van nou af gaan julle gereeld van my hoor, want sien nadat ek uit die polisie weg is, het ek joernalis geword waar ek vir 30 jaar gewerk het en soos almal weet kan ons joernaliste mos nooit genoeg gepraat of geskryf kry nie. Joernaliste kry mos altyd nog iets om oor te skryf, nog iets wat later onthou word en wat uitgesnuffel word wat weer uitgerafel kan word. Ons is mos meesters daarin.

So tot volgende keer, totdat ons hierdie verhaal verder neem en ek sommer ook vir julle foto’s sal stuur van die begin dae van die vrouepolisie in Suid-Afrika, Polisiegroete en onthou ons beskerm en dien.

Sarie van Niekerk (Vorster toe ek by die polisie aangesluit het).

WEER ‘OUTOBIOGRAFIESE ARTIKEL

Op 6 April 2021 skryf Sarie

1972: DIE JAAR WAT MY LEWE TOTAAL OP SY KOP GEDRAAI HET

Sarie van Niekerk

Vroeg in my lewe het reeds besluit ek wil soveel werke as moontlik doen want ek het die ondervinding gesoek. Na skool en universiteit, het ek gaan onderwys gee maar sommer bitter gou besluit vir my, met twee grade en ‘n onderwysersdiploma in die hand, is dit regtig die regte werk nie. Ek het ‘n besluit geneem en in die volgende tien jaar was daar omtrent nie ‘n werk wat ek nie gedoen het nie. Tikster, lugwaardin, klerk by prokureurskantoor, een van Jan Marais se mini-ontvangsdames by Trustbank, die nou gedoemde Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, Rapport en nog ander. Die lewe was vir my ‘n uitdaging gewees.

In Oktober 1971 het ek weer begin wandelende voete kry en begin rusteloos raak in my werk destyds by kommunikasiemaatskappy. ‘n Reuse ongeluk ‘’n paar maande vroeër toe ek nog by Rapport gewerk het, op ‘n aand na ‘n storie op pad terug kantoor toe, het ek baie tyd gehad om te dink en finaal besluit ek moet iets anders doen.

Toe ek toe een Sondagoggend die koerant oopmaak, val die koerant sommer outomaties by vakatures oop. Wat sien ek daar: Die Suid-Afrikaanse Polisiemag is op soek na geskikte dames om vir die eerste keer in die geskiedenis van die polisie as volwaardig opgeleide beamptes in die polisie ingelyf te word. Ek weet vandag nog nie wat my so aangetrek het nie, die opwinding van ‘n totaal nuwe era of die feit dat ek dalk een van die gelukkiges kan word om die tot toe die manlike geslag se heiligdom binne te dring. Die volgende oggend was my aansoek klaar uitgeskryf, ek kon dit nie gou genoeg by die naaste polisiestasie inhandig nie.

Dit was dan ook nie lank daarna nie toe ek ‘n oproep ontvang van die polisie af dat ek een van di aansoekers is wat gekies word om voor ‘n keurraad te verskyn waar my lot bepaal sal word of ek ‘n polisiebeampte gaan word en of ek gaan bly waar ek is. Die keurraad was amper skrikwekkend. Gelukkig het ek dadelik vir die toe kolonel Duveen Botha herken, want jare gelede as oud-onderwysstudent, het ek voor haar geproef. My broek het behoorlik gebewe, want haar bynaam was nie verniet Napoleon nie. Ek is behoorlik gedril en is daar weg.

Nie baie lank daarna nie het ek die langverwagte oproep ontvang: “Jy was suksesvol in die keuring. Baie geluk jy kan op 10 Januarie 1972 by die destydse Johan Vorster Polisiehoofkantoor in Johannesburg gaan aanmeld waar jy sal werk totdat jy saam met 101 ander dames na die polisiekollege in Pretoria sal gaan vir jou opleiding”.

My vreugde het geen einde geken nie.

Ek kan nooit die oomblik vergeet toe myself en vier ander dames die eerste dames in die nou Gauteng was, maar toe nog John Vorsterplein, wat in die kantoor van wyle genl. Chris de Guisti, die destydse afdelingskommissaris in sy kantoor, ingesweer is nie. Wat ‘n groot oomblik was dit tog nie gewees nie. Die oomblik toe ek my regterhand opsteek en sê: “So help my God” het dit werklik vir my gevoel of my bloed blou geword het. Toe ek na die seremonie terugkom in die tikkantoor waar ek tydelik gewerk het, het ek eintlik my hand met ‘n speld gesteek om te kyk of my bloed rooi of blou was. ‘n klomp ander offisiere het ook die geleentheid bygewoon en natuurlik die media, want dit was mos die snaakste ding wat nog in die polisie gebeur het.

Die vyf van ons het maar ander werke gedoen, ek het weer gaan tik, totdat dit tyd geword het om Pretoria toe te gaan vir ons opleiding in die kollege. Tien dae voor ons moes vertrek ontwikkel ek toe ‘n niersteen in die kantoor. Die polisie jaag my na die distrikgeneesheer en hy sê: “Dadelik hospitaal toe!” Ek sê vir hom: “Dokter jy moet seker beduiweld wees ek gaan oor ‘n week polisiekollege toe en as ek nie kan gaan nie verbeur ek die geleentheid en dit kan nie gebeur nie!”. Ek het aanhou werk en gemaak asof ek niks makeer nie.

Toe breek die groot dag aan. 1 Maart 1972, waarop ons kollege toe geneem is. Wat ’n dag! Maar ongelukkig was daar reeds voordat ons kollege toe is van die geharde ou here wat ons net eenvoudig nie kon aanvaar nie. Vir hulle was daar nie plek vir dames in die polisie nie.

Wat ‘n oomblik was dit nie gewees die oomblik toe ons deur die kollegehekke ry na paradegrond waar onder meer die toe kol. Duveen Botha, die kollegebevelvoerder, brig J.J. van Heerden, die baas van die plaas in die kollege, die toe maj. Ansie Nel en die toe kapt. Paul Bothma ons verwelkom het toe ons uit die bus geklim het nie. Daar was splinternuwe woonkwartiere vir ons gewees met die verwelkomende naam Rosehof.

Een van die hoogtepunte sommer met die intrap in die polisiekollege was toe kol. Botha ons die middag in die destydse ou sink kerkgeboutjie in die kollege welkom geheet het. Mense, hoe verder sy gepraat het, hoe meer ys het deur my are gestroom, hoe blouer het my bloed geword. Dit was Duveen Botha op haar allerbeste gewees, ‘n verwelkomingstoespraak wat ek vandag nog onthou en ek glo ook al die ander 101 dames in daai snikhete klein geboutjie.

Ons het hard gewerk. Die hele land se oë was op ons gewees, veral die van die manne, van seniors tot konstabels, wat steeds geglo het daar is nie plek vir dames in die polisiemag nie. Daar was die, wat elke dag net gesit en wag het, dat ons moes misluk, maar ons was daar om te bly. In elke opsig van die opleiding was ons net so goed soos die manne, indien nie beter nie en moenie dink ons is sagter behandel as die manne nie!

Eindelik het die tyd aangebreek dat ons die kollege kon verlaat en ons vlerke kon sprei toe ons uitgeplaas is na stasies en afdelings reg oor die land.

Ek was een van die tien dames wat na verdere opleiding na veiligheidstakke uitgeplaas is. Ek en vier ander het by Johan Vorsterplein beland. Mense hier het ek darem met dinge te doen gekry wat ek nie gedink het in ons land bestaan nie. Hieroor kan ek nie veel sê nie want onthou ons het mos met uitveërs geskryf.

Dit is van nasionale veiligheid die dinge wat ons hier mee te doen gekry het. Wat ek wel kan sê hier het ek die “Moeder van die Nasie” ontmoet – die werklike Winnie Makidikazela Mandela. Wat ‘n verbitterde mens! Ek sal nooit vergeet toe sy en ek op ‘n dag saam met wyle AO (oom) Natie van Rensburg beland het nie, toe ons haar ingebring het vir die oortredings van haar inperkingregulasies. So halfpad na die negende verdieping van John Vorsterpein (veiligheidskantore) het sy my so snobisties op en afgekyk en wou van oom Natie weet die dingetjie is. Toe oom Natie sê dat ek lid van die veiligheidstak was, het sy my met meer minagting aangekyk en losgetrek: “O ek sien nog iemand wat ons kan doodmaak, wie se keel ons kan afsny wanneer die ANC die dag die land oorneem.” Wel die ANC het die land oorgeneem. Winnie is dood maar ek loop darem vandag nog rond

Terwyl in die veiligheidstak het ek ook te doen gekry met, wat ons toe almal gedink het die eerste geval van stedelike terreur in die land was. Dit wat later bekend geword het as die Foxstraat-skietery. Wat ná meer as byna 15 uur toe gebleik het nie stedelike terreur was nie. Maar sommer ‘n interne sakeverskil tussen twee broers. Daar het ek gesien hoe vinnig die polisie mense vanuit alle oorde bymekaar kan kry om bystand te verleen,

Hierna is ek verplaas na Boksburg se speurders. Dit was seker een van die opwindendste tydperk in my polisieloopbaan. Ek het ‘n ou Bruin speurder, Oompie, of te wel AO Morden daar leer ken wat my onder sy vlerk geneem het. Hier het ek saam met Oompie die bendelewe in Reigerpark (die Bruingemeenskap in Boksburg) leer ken. Oompie en ek moes meer as een dag skuiling soek teen die bende, maar dit was sy roeping om die bende in sy geliefde Reigerpark uit te roei. Hier het ek ook van die wonderlikste mense ontmoet, mense met wie ek tot vandag nog vriende is. Hier het ek een van die grootste bedrogskemas deur ‘n vrou ondersoek wat mens jou kan indink.

Hier is ek getroud met ‘n aanklaer wat ek juis gedurende die bedrogondersoeksaak ontmoet het. Van my troue wil ek darem ook net iets vertel, ‘n dag wat ek altyd sal onthou. Die destydse polisiekapelaan van die kollege kol. (ds) Hennie Visser het my kom trou en toe ek na die troue uit die kerk stap. toe verras die polisie van Boksburg my met ‘n erewag in uniform buite voor die kerk. Dit het my regtig trane in my oë laat dit kry, wat ‘n verrassing was dit nie gewees nie!

Van Boksburg is ek verplaas na die uniformondersoek in Boksburg wat maar ‘n gelykmatige eenheid met was nie veel opwinding nie. Daarvandaan is ek na die klagtekantoor verskuif (vandag se kliëntedienssentrums). Hier is nou die plek waar mens regtig polisiewerk leer en dinge eerste sien. As ek dink aan die mense wat met pap geslaande gesigte, gebreekte arms en bene en vele ander beserings by die klagtekantoor opdaag om klagtes te maak het ek party dae gedink: “Genade tog is dit werklik hoe die lewe daarbuite gaan?” Die een voorval wat ek nooit sal vergeet nie, is toe daar een Vrydagaand ‘n man in die klagtekantoor ingestap kom en sê hy wil ‘n aanklag van poging tot moord teen iemand maak. Daar was op die oog af nie iets te sien wat so ‘n klag kan regverdig nie, maar toe die man omdraai toe sit daar ‘n byl in sy kop vas. Hy het die heelpad van Reigerpark na Boksburg geloop met die byl wat in sy kop gekap is. Ek was eintlik bleek soos ek geskrik het.

Toe breek die 1976 Soweto onluste uit waar ek toe na die radiobeheersentrum gestuur word. Daar het ons vir maande lank 12 ure skofte gewerk sonder eers ‘n afdag. Daar het ons gesit en luister hoe die manne wat die aanvanklike skoolkindersonluste onder beheer moes bring gewys, wat in hulle steek. Dit was skrikwekkend om daarna oor die radio te luister veral toe dit later feitlik landwyd versprei het. Daar het ek besef hoe goed ons manne daardie tyd hierdie land van ons kon verdedig. Een inwoners van Soweto het mos eendag gesê: “Die polisie is uitstekende skuts, maar hulle kan nie tel nie.”

Toe is ek na die bedrogtak in Germiston. Ek het ongelooflik lekker gewerk met die latere genl.maj. Adriaan de la Rosa as takbevelvoerder. Die ondervinding wat ek hier opgedoen het, het my in my latere loopbaan van joernalis baie gehelp. Dit is ook hier waar my polisieloopbaan ten einde gekom het. ‘n Klein blou oog wit krulkop dogtertjie het my laat besluit sy beteken vir my meer as die polisie en buitendien, daardie tyd was daar nie juis plek vir ‘n getroude vrou met ‘n klein babatjie in die polisiemag gewees nie. Ek het na my kraamverlof net my kennisgewingtydperk gaan uitwerk en toe liewers by die huis gebly by my dogtertjie.

Ek kan vandag terug kyk op ‘n ongelooflike loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisie ‘n besluit wat ek in 1971 op die ingewing van die oomblik geneem het, wat my hele lewe verander het. Ek het vandag nog ‘n anderste uitkyk op die lewe as voor my jare in die polisie. Ek sal altyd ‘n sagte plekkie vir die polisie in my hart hê. My bloed is vandag nog blou!

AFSTERWE – SARIE VAN NIEKERK

Brig Fanie Bouwer

Dit is met ‘n seer hart dat ek vandag van Sarie se heengaan ingelig is.

Ek wil graag net hier, kortliks, iets sê oor Sarie, want haar lewensverhaal is bekend aan ons almal.

Dit is ook bekend dat sy onder die eerste dames was in die geskiedkundige opname van 1972.

Sarie was een van die eerste klompie van ons wat destyds by brigadier Hennie Heymans se blad vir afgetredenes aangesluit het. En ook hier. Dit is waar ek haar leer ken het as ‘n uitstaande komunikeerder en skrywer. Dit was veral laasgenoemde talent wat gemaak het dat sy haarself vir baie jare as ‘n bekwame joernalis by Beeld bevind het.

Haar belangstelling in die polisie en sy geskiedenis het egter nooit verflou nie – tot die laaste toe sy redakteur van die Vroue-Nongqai was. Talle geskiedkundige polisie-publikasies het ook deur haar hande gegaan.

Sarie het my oor die jare partykeer gebel en gevra of ek iets oor ‘n sekere onderwerp sal skryf? Ander kere het sy my sommer ‘n opdrag gegee, met keerdatum en al.

Hiermee dra ek my/ons innige simpatie oor aan Sarie se kinders, familie en vriende.

Ek is bly ek kon jou kon leer ken, Sarie – al was d.m.v. Facebook en met ons gesprekke oor die telefoon. Dankie vir jou vriendskap.

Rus in vrede.

Fanie Bouwer

ONS DANK AAN ALMAL VIR HUL BOODSKAPPE VAN MEDELYE

HIER IS ‘N FOTOALBUM OOR SARIE VAN NIEKERK

Hennie Heymans

BOEKE GEPUBLISEER

Genl van der Merwe, Sarie en ek het die volgende boek saamgestel:

Sarie en ek het die volgende boek saamgestel:

Gedenkdae

Saam met genl Van der Merwe die laaste kommissaris het ons ook twee gedenkdae gereël toe die SA Polisie 100-jaar oud was, en toe die Vrouepolisie 50-jaar oud was.

Saluut en eerbetoon

As u sover gelees het, nooi ek u uit om net daar waar u lees, u hoof te buig vir ‘n half-minuut in stille aan ons vriendin te wy.

Petro en ek sal haar daaglikse boodskappies mis.

Ek weet sy was gelowig en ‘n kind van die Here – mag sy in Vrede Rus!

Hennie Heymans