Uittreksels uit die 1986 Dagboek van Adj-Off. Madeleine Theron

UITTREKSELS UIT DIE 1986 DAGBOEK VAN ADJ-OFF. MADELEINE THERON

Teks: Madeleine Theron

Verwerk deur: Anemari Jansen

C:\Users\Anemari\Documents\ANEMARI ROMAN\AAA SNIPPERS IDEES SKRYFGOED DIALOOG\michael de villiers\eNonqwai\REAKSIE EENHEID 6 OOSRAND ARTIKEL REEKS\ARTIKEL 12 - MADELEINE SE STORIE\FOTO 2 - MADELEINE VANDAG.jpg

Kaptein Madeleine Theron vandag

“Ek was ‘n meisiekind in manswêreld – my opleiding by Eenheid 6

Die dag toe ons plaas toe is vir opleiding, het ons eers touwerk by die Benoni Brandweerstasie gedoen. Ek het my regter-maermerrie teen ‘n vensterbank oopgestamp dat die wit van die been sigbaar was terwyl ek met die tou na onder moes gaan. Ek onthou dit was flippen seer!

Na die touwerk het die instrukteurs die toring vol skuim gepomp en ons moes, met gasmaskers en suurstoftenks, van bo na onder met die trappe stap en weer terug. Allerlei voorwerpe is in die pad geplaas om ons tog te bemoeilik: bakstene, stukke hout, ensovoorts. Dit was ‘n klómp stelle trappe om uit te klouter. By die tweede stel trappe het ek besef dat my gasmasker lek. Ek het groot suurstof-nood ervaar en letterlik boontoe gehardloop.

Sommer dieselfde middag is ons na die plaas buitekant Heidelberg geneem, vir verdere opleiding. Kort voordat ons op die plaas aangekom het, het hulle ons na ‘n rivier of dam geneem en moes ons met kit en geweer op die kop, daardeur stap.

Nodeloos om te sê – op daardie stadium het my been yskoud gevoel en was bitterlik seer van die vensterbank-stamp. Net die feit dat ek en Janine die enigste meisiekinders tussen die mans was, het my laat uithou en aanhou.

Die litteken is vandag nog sigbaar op my been.

++++++++++++++++++++

OPLEIDING IN 1986, TYDENS DIE ONLUSTE

Ons was só uitgehonger vir vleis! Vir dae lank het ons ‘rat packs’ gekry waaruit die kasies en sjokolades verwyder is. Ons kon dit net eenvoudig nie meer eet nie. Op ‘n stadium het plaasmense vir ons ‘steak’ gegee wat ons weggesteek het. Ons het net gewag vir ‘n geleentheid om dit gaar te maak. Dit het egter net nooit gebeur nie en die ‘steak’ moes weggegooi word. Ons was baie ongelukkig daaroor en het sers. Piet Stander en adj-off. Toit Wessels ordentlik daaroor verwens.

Dit was hulle besluit om die ‘rat packs’ te sensor. Ons was so geïrriteerd daaroor dat ons adj-off. Wessels afgeloer het om te bepaal waar die kasies en sjokolades versteek word. Ek en Janine het dit gaan steel en vir ons trommeldik geëet – sonder om dit natuurlik met die mans te deel anders sou adj-off. Wessels baie gou uitgevind het die voorraad is veel minder.

++++++++++++++++++++

Ons instrukteurs het die R5-geweer, haelgeweer en pistool uitmekaar gehaal en die verskillende dele gemeng. Om alles te kroon is hierdie klein ritueel in die nag uitgevoer, nadat ons deeglik moeg was na ‘n dag se hardloop, huispenetrasie, stap, ‘leopard crawl’ deur die mielielande en hongersnood.

Die vuurwapen-onderdele is op die grond gelaat waar ons hulle weer aanmekaar moes sit. Ons moes voel-voel rondtas vir die regte onderdele. Wanneer dit langer as drie minute geneem het om al drie vuurwapens aanmekaar te sit, is ons gestuur om hek toe te te hardloop en terug. Teen daardie tyd van die nag was ons al meer as gatvol.

Een nag het ons besluit om tot net buitekant die plaaswerf te hardloop en dan in die gras te gaan lê. Na ‘n rukkie het ons opgestaan en kamma baie uitasem teruggedraf tot by die huis. Waarop adj-off. Toit so ewe doodluiters en rustig vra: “En wat het oom Toitjie vir julle aan die plaashek gehang?”

Natuurlik kon niemand eers raai wat dit kon wees nie – sy gedrag en optrede kon jy nooit voorspel nie – waarop ons mooitjies moes omdraai en terughardloop hek toe. Daar vind ons toe ‘n leë Cokeblikkie aan die hek! Kon hy nie eerder ‘n tak, ‘n papiersak, enigiets anders daar hang, as iets soos die koeldrankblikkie, wat ons herinner het aan dít waarna ons almal gesmag het nie?

++++++++++++++++++++

Ek en Janine het in die plaashuis geslaap – “sodat oom Toitjie ‘n oog oor ons kon hou,” soos hy dit gestel het. Badtyd gedurende daardie Juliemaand van 1986 was érg. Dit was my eerste winter in die Transvaal en ek het dus ékstra koud gekry. My tone was permanent seer en het semi-bevrore gevoel. Voordat ek en Janine kon bad, was dit adj-off. Toit en sers. Stander se beurt. Die twee het aand na aand gesorg dat hulle elke druppel warm water opgebruik, want “die meisies kan nie voorgetrek word nie.”

‘n Bad is veronderstel om jou beter, skoner en meer uitgerus te laat voel. Daardie badsessies het my egter een graad voor verkluim gelaat.

++++++++++++++++++++

Ons was byna permanent aan die hardloop. Hulle het beslis “hardloop” met “rus” verwar. Bosbus was erg. As jy nie vinnig genoeg is om die Canter te haal nie, het hulle eenvoudig vir jou weggery. Natuurlik kon sers. Stander en adj-off. Toit besluit wanneer ‘n mens dit nie gaan maak nie – die Canter kan mos volstoom vinniger ry as wat enige normale doodmoeë mens kan hardloop.

Ek sien nou nog in my geestesoog my tekkies, die vinnig verbysnellende grond onder my voete en die tweede trap van die Canter-trok. Soms het alles voor my swart geword net voordat ek die finale trap gehaal het – net om ‘n oomblik later te besef: ek het dit gemaak!

++++++++++++++++++++

Wanneer ons so gehardloop het, het adj-off Toit en sers. Stander knap langs ons kom ry en nonsens gesoek. Hulle sou biltong kerf – sulke lang ordentlike stukke – en smaaklik eet, terwyl hulle blikkies vol Coke drink.

Adj-off. Toit sou elke nou en dan opmerkings maak soos: “Lekker vars plaaslug – vry van die rook en vry van die roet. Asem in, asem uit…”

Ek dink as ek ‘n man was sou ek sake met hulle uitgesorteer het – jy kan dink hoe. Die feit dat ek ‘n vrou was, was die enigste aspek wat my gekeer het – ek moes my gedra. Op ‘n stadium in my lewe was sers. Piet Stander die mees gehate persoon in my bestaan. Hy het dit ook goed geweet omdat ek myself die lekker toegeëien het om dit self aan hom te vertel.

Natuurlik het hierdie erge haat soos mis voor die son verdwyn toe ons opleiding voltooi is! Toe eers het ek besef dat hulle heel oukei is, kon ek aan hulle dink as ménslike mense.

Ek en Janine het een oggend ‘n oefengranaat gestel onder die regtervoorwiel van die voertuig van adj-off Toit. Hy het net begin agteruit ry toe dit ontplof. Hy het sy gat afgeskrik! Hy het gestop, vooroor op die stuurwiel op sy arms gerus en toe stadig, baie stadig en versigtig (byna eerbiedig) agteruit gery. Ons het geskree soos ons lag! En was ek jammer? Nee, beslis nie.

++++++++++++++++++++

EK EN JANINE WAS DIE EERSTE VROUE WAT ALLES SAAM MET DIE MANS GEDOEN HET

Ons was later so deel van die mans, dat ván hulle vergeet het ons was by, en het byvoorbeeld, net daar op die plek, die rug gedraai en water afgeslaan – dan baie ongemaklik besef dat ons twee meisies ook daar is.

Ek het maar net my rug gedraai en gemaak asof niks gebeur het nie. Arme goed!

Vloek – en ek praat nou van érg vloek – was mos maar deel van die mans se taalgebruik. Een oggend, terwyl almal gereed maak om te hardloop, het ek na Hein Kilian se kantoor gestap. Ek was só vies.

Ek het hom so gekyk en gesê: “Ek en Janine respekteer manlikheid. Dit is tyd dat ons vroulikheid ook gerespekteer word.”

Waarop hy my gevra het wat fout is. Na my verduideliking dat ek keelvol is vir al die gevloekery, het hy dadelik opgestaan, almal bymekaargebulder en die situasie net daar opgelos.

++++++++++++++++++++

In ‘n sekere mate het vrouwees teen ons getel ook. Ons kon nie sê ons het byvoorbeeld PMS of maagpyn nie, al was dit so – géén vrou sal dit so sê, tussen baie mans nie. Dan het ons maar deurgedruk.

Die algemene gesegde oor iemand wat opgee, was dat hy ‘n “huilie” was. Van die begin af het ek besluit ek is geen huilie nie. Ek moes baie keer op my tande kners, ja, maar ek was nooit ‘n huilie nie.

++++++++++++++++++++

Die feit dat kapt. Kilian geen alkohol gebruik het nie, het ook ‘n gesonde verskil gemaak vir my. Dit het vir my baie beteken, en ek het geweet ons word nugter beoordeel.

C:\Users\Anemari\Documents\ANEMARI ROMAN\AAA SNIPPERS IDEES SKRYFGOED DIALOOG\michael de villiers\eNonqwai\REAKSIE EENHEID 6 OOSRAND ARTIKEL REEKS\ARTIKEL 12 - MADELEINE SE STORIE\FOTO 6 - MADELEIN,JANINE EN KOL. KILIAN.jpg

Kapt Janine Coetzee, Kol Hein Kilian, Louis Pretorius, Kapt Madeleine Theron en Anton Myburgh

++++++++++++++++++++

Nadat ons onsself bewys het, is ons absoluut aanvaar as deel van Eenheid 6. So deel, dat soos ek reeds gesê het, hul soms vergeet het dat ons meisiekinders was. Ons was egter nooit mannetjiesagtig, of verlief op vrouens nie.

Van die mans, moet ek sê, het ek gesien en beslis besef: “Hemel, maar jy het báie gebruik in jou!”

Op ‘n paar van hulle was ek dan ook erg verlief, maar van hulle leef nog en ek gaan dus geen name noem nie.

Die een het ek baie liefgeraak voor. Ons het ‘n paar maal uitgegaan. Dit was wragtig “ware liefde” van my kant af. Hy het op ‘n stadium op verlof gegaan en verloof teruggekom na die Eenheid toe. Dit het nooit vir my sin gemaak nie, totdat ek ‘n paar jaar gelede, via ‘n familielid, uitgevind het dat hy ‘n “moffie” was, en vir die skyn getrou het.

Die ander persoon was baie oulik, maar hy het ‘n verplasing geneem om nader aan sy ma, wat siekerig was, te neem. Ons belangstelling in mekaar het begin nadat sy verplasing reeds ingehandig was. Nie een van ons wou ‘n langafstand-verhouding hê nie en so het hierdie verhouding ook ten einde geloop.

‘n Paar het belanggestel in my, maar dit sou net nooit werk nie. My pa het altyd gesê dit is veiliger om met goeie mense te meng.

++++++++++++++++++++

Een ou het my op ‘n aand uitgeneem en dit het my skoonsuster die hele aand laat wakker lê. Toe ek haar vra hoekom sy nog wakker is toe ek terugkom, toe is haar antwoord: “Die knop in sy broek is te groot. Ek hoop nie jy gaan óóit weer saam met hom uit nie.”

Ai tog. Ek het dit nie eens opgemerk nie. Hy is ook reeds oorlede.

++++++++++++++++++++

Wayne Farr het my gesoen – AG – so ‘n lekker soen, terwyl dit sag gereën het – dit was net lawigheid, want ons was wragtig net vriende. Daarna was ons vriendskap nooit weer dieselfde nie, ‘n mens soen mos nie jou beste maat nie, het ek geglo.

++++++++++++++++++++

Ek het geen seksuele verhouding met enige van die mans gehad nie. Daar was net een manier om beskerm te word, en dit was die regte manier. Dit was belangrik om hulle almal reguit en eerlik in die oë te kon kyk en te weet: hulle aanvaar my as een van hulle.

Ek is getroud met een van Eenheid 6 se ouens, maar is jare later van hom geskei. Hy is ook intussen oorlede. Ek noem ook nie sy naam nie, want ek neem sy familie in ag – ek was baie lief vir hulle en het behoorlik getreur oor hulle na die egskeiding.

Vandag is ek gelukkig getroud met Johan Theron – my beste maat.

++++++++++++++++++++

ALLERLEI

Soois Roux het dikwels die menasie se bakkie “geleen” en dan het hy probeer om my bang te ry. Ons het gegaan na ‘n veld agter die eenheid – dan is daar deur gate, slote en oor koppies gejaag, so vinnig as wat die ou bakkie dit kon hanteer. Ek was deurmekaar geskud, geskommel en het altyd met bloukolle uit hierdie “bundu bashing” gestap. Maar ai – hy was tog so trots op sy bestuursvernuf! En tot my verbasing het die ou bakkie dit gehou.

– – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – –

Die kombuistannie was vir al die lede baie goed gewees. In die winter was daar ‘n samedromming van mense in die kombuis – die stowe was lekker warm. Dan kom kapt. Kilian ingestap en protesteer hard met ‘n donderende stem: “Wat soek julle almal hier? Julle staan net rond. Gaan raak besig!”

Dan kom die tannie, oud en krom maar sonder enige vrees in haar sagte blou oë so tussen die skare uit, vat hom agter sy rug aan sy belt, probeer hom oplig en sê dan kalm maar streng: “Kaptein, uit.” Dan het niemand geloop nie en die kaptein het maar saam rondgestaan.

Ek het nie van groente gehou nie. Elke etenstyd moes ek by die tannie aanmeld, dan is ek groente gevoer met ‘n eetlepel – want jy het dit nodig, het sy geglo. Geen gesonde mens kan daarsonder nie. Jy moet jou kragte opbou. So het ek mondevol groente afgewurg – die slegste wat sy my gevoer het was sulke klein ronde kooltjies – jig!

– – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – –

Een oggend het ‘n paar van die ‘ou manne’ (dis nou die wat voor ons op die Eenheid was) ons Springs Lykshuis toe geneem.

Dit was kwansuis om te kyk of ons gaan ‘crack’. Op pad daarheen is daar ordentlik met ons gespot. Daar aangekom is ons na die disseksie kamer. Oral het die lyke op tafels gelê. Die was die eerste maal na my ma se dood (toe ek elf jaar oud was), wat ek weer ‘n lyk gesien het. Ons het bygestaan met die lykskouing en dit het my van die begin af so geïnteresseer, dat ek met alles in my daar wou gaan werk.

Die mediese sy daarvan was net bokant my menslike begrip. ‘n Paar jaar daarna was ek een van die eerste vroue wat by ‘n lykshuis toegelaat was vir disseksiewerk op liggame. Op daardie stadium was daar net by Hillbrow Lykshuis twee vroue werksaam.

Ek het dit ontsettend baie geniet en baie kennis opgedoen in my jare by die staatslykhuis in Springs.

– – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – –

C:\Users\Anemari\Documents\ANEMARI ROMAN\AAA SNIPPERS IDEES SKRYFGOED DIALOOG\michael de villiers\eNonqwai\REAKSIE EENHEID 6 OOSRAND ARTIKEL REEKS\ARTIKEL 3 - LARRY HANTON\ARTIKEL 3 - TEKS EN FOTOS\FOTOS ARTIKEL 3\FOTO 2 - DIE OORSPRONKLIKE GROEP.jpg

Baksteen Marais, Bert (Landmyn) Steyn, Willie Odendaal, Piet Landman, Larry Hanton, Bez Bezuidenhout, Johnny Johnson, Stidworthy

Ek het baie belanggestel in plofstof en wou op ‘n stadium ‘n plofstof-kursus volg – wat botweg geweier is. Sers. Larry Hanton het my altyd saamgeneem wanneer daar geoefen is – skietoefeninge en granate gooi was aan die orde van die dag, wanneer daar nie spesifieke opdragte was nie.

Ons kon skiet soveel as wat ons wou. Ons het baie oefengranate, skokgranate en handgranate gegooi, asook geweergranate geskiet. Ek kan nog onthou hoe sers. Larry my keer op keer gewaarsku het: “Hou altyd die plastiese springstof uit die son.”

Op ‘n keer het sers. Larry ‘n geweergranaat geskiet. Die venstertjie was rooi. Die granaat het dus nie ontplof nie. So stap ek en hy in die granaat se rigting. ‘n Entjie weg van die granaat af, het iemand agter ons besluit om ‘n skok-granaat te gooi. Die skokgranaat het ontplof. Ek het in my lewe nog nooit so groot geskrik nie.

Sers. Larry het gespring en verskriklik gevloek, en ek het aangevul waar hy gestop het. Albei van ons het gedink die geweergranaat het ontplof – en die geweergranaat se uitwerking is natuurlik baie kragtiger as dié van ‘n skokgranaat.

– – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – –

Opleiding by Eenheid 6 was ‘n ondervinding wat die res van my lewe, op ‘n positiewe manier, beïnvloed het.