Philip de Kock se ‘Kontreistories’
DIE TWEE JAAR OUE KAAS
Op ‘n vakansie in die Drakensberg word daar aangedoen by ‘n lokale kaasmakery. Dit word bedryf deur twee susters wat ‘n klompie koeie melk en dan verskillende kase maak. By ons aankoms word die kase gewys en geproe en ons word getrakteer op ‘n toer deur die kaasmakery. Dis alles baie interessant en in die vakansiegees en met die goeie verkoopstegnieke word ons oorgehaal om verkillende kase aan te koop, onder andere ‘n twee jaar oue Cheddarkaas met ‘n redelike skerp reuk. Die kaas het nogal ‘n sterk reuk maar ons is nie bekommerd nie want ons is by die tyd darem al gewoond aan die smake van verkillense soorte kaas.
‘Ek maak die yskas skoon’
In ons noppies sit ons na die vakansie af huistoe en besluit om die kaas slegs vir spesiale geleenthede te gebruik aangesien ons nogal ‘n hele paar note moes uithaal om dit te bekom. So gesê, so gedaan. Daar gaan ongeveer drie weke verby alvorens ‘n geleentheid kom om kosvriende te onthaal. Met groot verwagting word die yskas oopgemaak en die kaas gesoek. Helaas geen kaas nie. Daar word egter nie te veel bekommer nie want nog net een van ons twee is tuis. Met die finale tuiskoms blyk dit dat die kaas nie gebruik is nie. Wat nou gedaan? Inderhaas word die huiswerker geroep om te vra of sy lig op die saak kan werp. Sy kan en met ‘n groot glimlag wat soek vir komplimente sê sy dat sy daardie sak stink goed die vorige week weggegooi het want dit was vrot. Dit het so gestink dat die hele yskas daarna geruik het. Nouja ons kon toe nooit die veskillende kase proe of teen mekaar opweeg nie maar die yskas was darem “skoon”.
Philip de Kock
‘ Eerste Mossie kry ‘n wurm, maar die tweede Muis kry die kaas.’
*