Met ekenning aan Maroela Media, waarin hierdie artikel deur Petronel Fourie die eerste keer geplaas is.
Kerkmuseum bewaar geheime van vrouespioen Johanna Brand
Soos meeste mense het ek al die naam Johanna Brandt gehoor, daardie vrouespioen wat deel van die Kappiekommando was tydens die Anglo-Boereoorlog. Maar min het ek verwag om haar in die S.P. Engelbrecht-kerkmuseum teë te kom, waar ‘n gesangeboekie, naaldwerktafel, kerkkussing en piepklein meubels my op my eie ontdekkingstog oor haar lewe stuur.
‘n Gesangeboek se ou deuntjie
Tussen ‘n hele versameling van kerkdinge wat die museum bewaar en uitstal, pryk die psalm- en gesangeboekie wat aan Johanna behoort het. Ek maak dit versigtig oop en lees die boodskap wat haar pa, ds. Nicolaas van Warmelo, binne geskryf het: “Aan Johanna op haren achtsten verjaarsdag van haren vader, Heidelberg 18.11.1884”. Hoendervleis slaan op my arms uit – ek het ‘n soortgelyke boekie by my eie pa gekry, en hier hou ek nou klein Johanna s’n vas. Klein Johanna wat later ‘n groot gees in Suid-Afrika sou word.
.
Johanna Brandt as 12-jarige
Johanna was die vierde kind en jongste dogter uit die tweede huwelik van ds. Van Warmelo met Maria Maré. Sy het in Kaapstad skoolgegaan, maar na haar pa se dood in 1892 het sy saam met haar ma en die ander kinders na Pretoria verhuis. Hier het hulle bevriend geraak met onder andere president Paul Kruger, generaal Piet Joubert, staatsekretaris dr. W.J.J. Leyds en ds. en mevrou Bosman. In 1897 is sy na Duitsland waar sy musiek bestudeer het. Weer vryf ek oor die gesangeboekie, want vir musikale Johanna moes hierdie liedere baie vreugde gebring het.
Net voor die Anglo-Boereoorlog wat in Oktober 1899 uitgebreek het, het sy na Suid-Afrika teruggekeer. Die oorlog het ‘n nuwe patriotisme in Johanna laat ontkiem, sodat sy al haar kennis, vernuf en kontakte ingespan het om die Boere in hul stryd te help. Johanna sou ‘n Boerespioen word, voorvattervrou van die kappiekommando.
Johanna Brandt in die 1950s
‘n Naaldwerktafel se nalatenskap
Onder Johanna se gesangeboekie in die kerkmuseum is ‘n pragtige tafeltjie van okkerneuthout wat ook aan Johanna behoort het. Die versierings daarop getuig van ware vakmanskap en ek kan my sommer indink watter mooi klere, tafeldoeke en ander huisware sy hiermee gemaak het.
Miskien het sy haar slim planne beraam terwyl sy behendig met haar naaldwerkmasjien besig was. Dit sou goeie agtergrondgeraas kon maak wanneer moeë spioene by hul woonhuis in Pretoria aangeklop het, mymer ek. Want tydens die Britse besetting van Pretoria het sy en haar moeder vanuit hul woonhuis genaamd Harmonie, aan die Apiesrivier, geheime skakeldiens aan die Transvaalse burgers gelewer. Hoewel hul huis omring was deur huise wat deur die Britse militêre owerhede beset is, was dit dikwels skuilplek van Boerespioene, en ook die plek waar inligting deurgesmokkel is.
As deel van haar spioenasiewerk het Johanna gereeld kontak met haar ouer suster, Line (gedoop Christine Deliana) Cloete, gehad. Line het in Kaapstad gewoon en was met Henry Cloete getroud. Hy was ‘n wetsagent in Britse diens wat gereeld hoë Britse offisiere as besoekers ontvang het, onder andere ook generaals Roberts en Kitchener.
Johanna Brandt en Ds. Louis Brandt
Tydens hierdie besoeke het Line na hulle gesprekke geluister en só inligting bekom en aan haar suster in Pretoria gestuur. Die susters het selfs ‘n geheime skrif gebruik deur met onsigbare suurlemoensap te skryf wat onder ‘n warm strykyster te voorskyn gekom het. In hierdie skrif het Johanna ook ‘n oorlogsdagboek bygehou wat bewaar gebly het en tans in die Brandt-versameling in die argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Pretoria gehuisves word.
Mooie miniatuur meubels
Twee ander items in die S.P. Engelbrecht-museum vertel die verhaal van Johanna se tyd as verpleegster in die Irene-konsentrasiekamp. Dankbare inwoners van die kamp het vir haar ‘n miniatuur dennehouttafeltjie en riempiesbankie met garingriempies gemaak, uit waardering vir haar hulp en ondersteuning. Die twee kleinode maak my skoon bewoë wanneer ek dit van nader bekyk. Onder die tafeltjie se blad is koekiebokspapier geplak om dit mee te versier en die pote is pragtig uitgekerf.
Johanna en haar ma was twee van die ses vrywillige verpleegsters uit Pretoria wat in die konsentrasiekamp van Irene hulp verleen het. Die toestande in die kamp was so haglik dat hulle dit vir die wêreld wou vertel. Deur bemiddeling van ‘n goedgesinde persoon is ‘n volledige beskrywing van die kampontberinge in ‘n silwer sigaretdosie uitgesmokkel en aan hul joernalisvriend W.T. Stead besorg. Hy het dit deur sy tydskrif Review of Reviews aan die groot klok gehang.
Johanna se oorlogservaringe het die grondslag gevorm vir twee van haar boeke, naamlik The Irene concentration camp (1904), wat die volgende jaar in Nederlands met die titel Het concentratiekamp van Irene gepubliseer is, en die bekende Die Kappie commando, of Boerevrouwen in geheime dienst (1913). Hierdie werk was ‘n Nederlandse vertaling van die oorspronklike Engelse uitgawe The petticoat commando or Boer women in secret service (1913), wat Johanna in 1958 op 82-jarige ouderdom self in Afrikaans as Die Kappiekommando of Boerevroue in geheime diens vertaal het.
Die kerkkussings van ‘n knap vrou
By die gesangeboek, naaldwerktafel en meubeltjies is nog een ding in die kerkmuseum uitgestal wat aan Johanna behoort het: die bruin en groen kerkkussings waarop sy gesit het toe sy later in haar lewe deel van die Kaapstad-gemeente was. Dit was juis in hierdie jare wat sy haar eie werk na Afrikaans vertaal het. Ander skryfwerk waarvoor sy lang ure op stoelkussings sou moet deurbring (stel ek my voor), sluit in The millennium (1918, met ‘n Afrikaanse uitgawe in dieselfde jaar), Die smeltkroes (1920), ‘n politieke vlugskrif Die nieuwe wyn (1921), en twee romans in Engels: Patricia (twee dele, 1923 en 1928) onder die skuilnaam Marcus Romondt, en Elinda (1938).
Johanna was in baie opsigte ‘n merkwaardige vrou wat ‘n wye belangstelling gehad het. Sy was medestigter en erepresident van die Vroue- Nasionale Party in Johannesburg (1915), asook van die Wêreld-Harmoniebeweging te Pretoria in 1916. ‘n Erelidmaatskap van die Eugene Field Society in Amerika is in 1938 aan haar toegeken vir haar prestasies op literêre gebied.
Sy het haar verdiep in die studie van natuurgenesing en die bestryding van kanker. Sy was die stigter van die Harmonie-skool van Natuurgenesing en het in 1938 ‘n eregraad van die American School of Natural Physic ontvang. Behalwe pamflette oor natuurgenesing het sy The fasting book (1912) en The grape cure (1928) geskryf, wat later ook in Afrikaans vertaal is.
Johanna Brand se laaste jare
Johanna het ‘n lang en gelukkige huwelik met ds. Louis Ernst Brandt gehad, waaruit sewe kinders gebore is. As weduwee het Johanna haar eggenoot byna vyf-en-twintig jaar oorleef. Nadat haar geliefde Lou dood is het haar seun Andries, wat predikant in Vishoek, Kaapstad was, haar kom haal om by hulle te woon, want hy voel sy het sorg nodig. Hoewel sy ‘n geruime tyd daar gewoon het, was dit vir haar te bedrywig. Sy het ook nie daarvan gehou om van hom afhanklik te wees vir vervoer nie.
Johanna trek toe in ‘n woonstel in Nuweland in, naby die bushalte, sodat sy gereeld bioskoop toe kon gaan. Sy hou haar ook besig met skryfwerk en het ‘n wye kring korrespondente gehad. Toe sy die Hollandse Kappiekommando op 82 in Afrikaans vertaal het, was dit dadelik ‘n treffer onder lesers.
Johanna Brandt op ‘n latere ouderdom
Op die rype ouderdom van 88 kom Johanna Brandt op 21 Januarie 1964 stil en alleen in haar woonstel te sterwe. Sy word veras en haar as word in die Kirstenbosch Botaniese Tuine gestrooi.
Met die gesangeboek in my hand, meer as 60 jaar na haar dood, bewys ek ook ‘n laaste eerbied aan hierdie vrouespioen, verpleegster, skrywer en baanbreker. Miskien is ‘n aandgesang gepas om haar lewe te herkenk. Met die uitstap neurie ek saggies “hoed my as ek my gaan neerlê”, en hoor hoe Johanna se stem harmoniseer…
Petronel Fourie