BRIG. GEORGE MARX
MY REIS NA GISTER: BRIG. GEORGE MARX (SAP – AFGETREE)
Sarie van Niekerk en Mariaan Linde
Sarie van Niekerk: hoof-skrywer. Redakteur Nongqai Vroue
Hoe het dit gekom dat hierdie fantastiese lekker storie oor brig. (afgetree) George Marx ontdek is waar hy daar op sy plasie in die Groot Brakrivier-gebied in die Wes-Kaap wegkruip.
Mariaan Linde, was saam met my in 1972 lid van die eerste groep dames wat ooit in die polisiekollege in Pretoria-Wes as volwaardige polisiebeamptes opgelei is. Die vriendskapsbande het deur die jare hoog gebrand en op ‘n dag bel Mariaan my en vertel vir my dat sy die ideale storie vir my Nongqai ontdek het. Van wat sy my vertel het was ek vreeslik nuuskierig en ‘n heerlike gesprek het gevolg. Ek het haar gevra om vir my na ons gesprek ‘n e-pos te stuur en kortliks te vertel wat haar so opgewonde maak.
Toe kom haar antwoord op ‘n dag in my e-pos:
Kol. Mariaan Linde – mede-skrywer en haar man kol. Frans Linde (Frans het die ander foto’s geneem.)
Hallo Sarie,
Ons gesprek van vanoggend verwys
In hierdie gesprek het sy my vertel van die baie interessante afgetrede brigadier wat sy en haar man, Frans, (self ‘n afgetrede kolonel in die polisie) ontmoet het. Hulle is nou veldwerkers vir die Bejaardesorg in die gebied Suid-Kaap, wat strek van Stilbaai tot Plettenbergbaai. “Bejaardesorg stuur geskenkies vir die bejaardes met ouderdom 75, 80, 85 ensovoorts en dan gaan lewer ons dit af en ontmoet die oudlede en vertel hulle waarmee ons hulle kan behulpsaam wees, Polmed, GEPF ensovoorts. So het dit toe gebeur dat ons brig. George Marx besoek het met sy 80ste verjaarsdag”.
Dit wat Mariaan my in daardie gesprek vertel het, het dadelik my belangstelling gewek. Ek het haar gevra of sy en Frans bereid sal wees om te help om ‘n spesiale uitgawe van brig Marx (of oom George) soos hy liefderik op Groot Brakrivier, waar hy op sy plasie woon, bekend staan, die lig te laat sien. Die twee het ingewillig en ons drie het aan die werk gespring.
Maar voor ons verder vertel van wie brig. Marx is en wat hy doen, het ek hom gevra om ‘n lys van 19 vrae te Antwoord. Hieruit kan ek ‘n baie goeie kort begrip van hierdie merkwaardige oompie leer.
BRIG. GEORGE MARX SE DNS
1. Is jy ‘n linker- of regterbrein? Links.
2. Skryf jy links of regs? Regs.
3. Is jy ‘n dag of nag mens? Dag.
4. Is jy ‘n tee- of koffie drinker? Koffie.
5. Is jy ‘n vleis, rys en groente (aartappels eter)? Vleis drie keer per dag.
6. Is jy ‘n vegetariër of ‘n vegan? Nee!
7. Is jy n braaivleis mens of verkies jy ‘n ordentlik gedekte tafel? Gedekte tafel.
8 Wat is jou beste leesstof? Boeke, koerante en tydskrifte. Wat se boeke? (speurverhale, outobiografieë, ware verhale of wat)?
9. Wat is jou geliefkoosde kleur? Wit.
10. Is jy ‘n pak klere man of casual klere man?……Casual – tyd vir alles. Sosiale funksies en kerk – respek netjies.
11. Watter motor ry jy? Toyota kar, Morris Minor
12. Plaaslewe of stads- (dorp-) lewe? Plaas!
13. Nat of kurkdroog biltong en wors? Natterig.
14. ‘n pap- of rys eter?…….Rys.
15. Bier of whisky drinker? Drink glad nie.
16. Is jy ‘n burger en chips eter? Nee!
17. Wat maak jou vreeslik kwaad? Vals mense.
18. Hoe en waarmee ontspan jy?….Boerdery, stokperdjies en karre.
19 Is jy ;n winter of somer mens? Somer.
20. Hoe en waar hou jy graag vakansie?……Toer graag met ou karre, Nie spesifieke plek (erfenis).
Een van die antieke motors in die brigadier se versameling
Kortliks ‘n vinnige oorsig van brig. Marx
Hy was stasiebevelvoerder op Oudtshoorn en later bevelvoerder van die onluste-eenheid, Kimberley waar hy jare gelede afgetree het.
Tydens ‘n besoek aan lede van die Bond van Oud-Polisiebeamptes, het Mariaan en Frans brig. Marx ontmoet wat daardie maand (Oktober 2023) sy 80ste verjaardag gevier het. Onaangekondig besoek hulle toe, vergesel deur Stoney (hy is die voorsitter van die Outeniqua Bond van oud-polisiebeamptes) en sy vrou, Dalene, oom George op sy klein plasie in die skilderagtige omgewing van Botlierskop Natuurreservaat, neffens Groot Brakrivier waar hy en sy oorlede vrou, Anna saamgewoon het. Na haar dood bly hy stoksielalleen op die plaas.
“Met ons aankoms op die plaas het Oom George net klaar geslag en ons baie hartlik ontvang. Sommer so met die afklimslag het ons lekker gesels en eerste oom George se versameling “vintage” voertuie gaan bewonder. Oom George is nog ‘n aktiewe lid van die oud-motorklub en deurreis nog die Kaap na byeenkomste van die klub in sy “vintage” voertuie onder andere twee Morris Minor motors en ‘n Anglia, daar is nog ‘n paar ander motors waaronder ‘n onweerstaanbare sportmotor ook, almal in uitstekende toestand agter slot-en-grendel”, vertel Mariaan.
Oom George se onweerstaanbare sportmotor uit sy versameling.
Hierdie horlosies in sy museum is almal al meer as 300 jaar oud, maar hy sorg dat almal in werkende toestand is.
Die heel eerste Afrikaanse kabinet, met dr. D.F. Malan as eerste minister.
Na die lekker geselsies oor die ou motors neem Oom George ons toe na sy eie museum, langs die huis. Hier het die tyd net eenvoudig te vinnig begin water trek en skielik was dit al skemer en het dit vinnig laat geword, want Oom George kon nie ophou om te vertel van die geskiedenis van elke museumstuk wat hy daar versamel en vertroetel nie.
Oom George is ook iemand wat sy voorgeslagte nie sommer net aanvaar nie. Hy het sy familie se geskiedenis deeglik nagevors en dit ook ter boek gestel. Verder was Oom George ook bekend in die Wes-Kaap vir sy kennis oor waterregte en het hy dan ook sulke sake met groot sukses ondersoek. Op die rype ouderdom van 80 is Oom George nog die sekretaris van die Waterskema in sy gebied. Hieroor het Oom George ook ‘n boek geskryf.
Die volgende op die lysie wat hy net eenvoudig vir ons moes wys, was Oom George se broodboomtuin en daarna lekker koffie drink, en dit is koffie wat hy self oes, brand en maal en ook nog self vir elkeen skink in ‘n lekker groot koffie beker.
Tyd vir ‘n koppie boeretroos. Oom George kweek, bak en maal sy koffie bone. Hy skink dit ook self!! Daar was ook nog iets by om te eet.
Die kuiertjie is afgesluit met die oorhandiging van ‘n klein presentjie aan Oom George, met liefde aan hom gestuur vanaf die Bejaardesorgkantoor in Pretoria. Ons het hom gegroet en so tussen die bergskilpaaie deur die pad gevat huis toe.
Kan nie in woorde uitdruk hoe die kuiertjie ons geïnspireer het nie, vertel. Mariaan van hierdie eerste kuier by oom George.
Daar is besluit dat Oom George se storie vertel moet word en ons het Sarie gekontak om reëlings te tref om Oom George te kom besoek en ‘n volledige storie in die Nongqai te dra.
Lank lewe Oom George tot ons spoedig weer kom kuier en koffie drink en ons moet onthou daar word nie afsprake gemaak nie, jy daag net op.
Sommer net so ‘n vinnige foto van ‘n gedeelte van die museum.
Uiteindelik het die dag van ‘n volle onderhoud met hierdie merkwaardige afgetrede brigadier aangebreek. Steeds die polisieman wat, hoewel 80, flink en regop aangestap kom, mens nog net so flink en regop groet en vriendelik in nooi om eers ‘n koppie koffie te drink, voor die lang gesels begin.
Oom George praat graag oor sy voorgeslagte en boonop verskriklik trots op sy van, dus was dit ook nie snaaks toe hy wegtrek met “laat ek jou eers iets vertel aangaande my van. Die van Marx word ook aangeteken as Marcus, Marks en ander spellings afgelei van die seun van Mars. Marcus beteken behorende aan die Romeinse God van oorlog. Daar is ‘n Nederlandse begrip: “We het verleden niet eert, is het toekoms niet werd. We zijn we we zijn maar dat zijn we vooral daar de eigechappen die we onze voorouers geërfd hebben.”
Die verhaal van sy voorgeslagte:
Die stamvader van die Marx geslag, Johannes Theodorus Marx is op 8 Oktober 1703 in Holtzweiler, Duitsland gebore. Hy kom in 1727 na die kolonie as soldaat, “wagenrijder en beestwachter” en pas beeste op vir die regering in die Land van Waveren (Vallei van Tulbagh). Hy tree in 1730 uit as soldaat met die rang van korporaal. Sy ouers was Gerhardus Marx en Catherina Peters. Hulle was Rooms Katolieke, en rig ‘n ‘Fusssfall’ of Heilige huisie in 1775 op in Holtzweiler met die inskripsie Gerhardus Marx et Catherina Peters 1775. Dit was gewoonlik gedoen deur vooraanstaande ryk mense.
‘n Dokument in verband met die oorspronklike eienaar van die plaas, gedateer 29 Oktober 1943
Gerhardus Marx was ‘n goeie skut en wen in 1708 en 1709 die skietkompetisie in Holtzwieler, en word gekroon as ‘skutkoning’. Die 1680 immigrasie beleid in die kolonie het bepaal dat slegs Duitsers en Nederlanders wat Protestante is, gewerf kon word. Daar is egter ‘n uitsondering gemaak met die Franse. Johannes Theodorus Marx was ‘n Rooms Katoliek maar verander in die kolonie sy naam na Dirk Marx en verander ook van geloof. Volgens verskeie bronne was hy later ‘n grootwildjagter en boer.
“Dit word beweer dat ‘n aanstaande bruidegom in daardie tyd eers ‘n olifant of leeu moes skiet voor hy die ‘ja woord’, kon vra. Hy moes bewys dat hy sy aanstaande sou kon beskerm. Dit was ook ‘n goeie geleentheid om moontlik van ‘n ongewenste toekomstige skoonseun ontslae te raak. Later besit Dirk Marx verskeie weidingsplase. Hy trou met Martha Dorothea Becker, en kom vestig hom in die Vergelegen Districkten. Die plase Ruiterbosch, Hagelkraal en Leeukuil (vandag bekend as Leeukloof) naby Mosselbaai word deur die Heemraad aan hom toegeken. In 1746 word die plaas de Nauga naby Hemelrood (Herbertsdale) aan Vryburgers toegeken, en word later ook Marx se eiendom. Uit die huwelik word drie seuns en drie dogters gebore. Sy jongste dogter Hester Marx, trou met Jesaias Terblanche, en vestig hulle op die plaas Melkhoutskraal. Na Terblanche se dood verkoop Hester Terblanche die plaas aan George Rex wat die dorp Knysna daarop vestig. In 1804 trou Isabella Klaze, ‘n agter kleindogter van Dirk Marx, met Petrus Terblanche en hy kry in 1814 die plaas Gonnakraal en Grootvlakte naby Mosselbaai van die Heemraad”
Oom George het in 1998 twee dele van hierdie plaas gekoop. Maar hy dwaal eers weer terug na Dirk Marx. Dirk raak in 1775 ‘n luistervink (spioen) vir die regering terwyl hy op Hagelkraal gewoon het. Dirk Marx het geen verbintenis met Karl Marx nie. Karl Marx het egter ‘n verbintenis met die kolonie gehad deurdat sy suster met Carel Juta getroud was wat in 1853 begin het met die publikasie De Zuid-Afrikaan.
‘n Ou skeermes uit sy museum
Maar waar kom die Marx-familie vandaan?
Die Marx-familie se stamvader Dirk Marx.
Oom George vertel vinnig die familie se herkoms. “Die Marx’e van Mosselbaai en omgewing, waarvan ek een is, stam uit die kinders van Dirk Marx. My oumagrootjie wat ‘n Pinard (wat later Pienaar geword het) was, en ‘n kind van haar is begrawe op de Nauga. My oupagrootjie, Gert Alewyn Marx was ‘n saaiboer in die Mosselbaai distrik. Hy kon in sy laaste jare nie praat nie as gevolg van ‘n besering wat deur ‘n os veroorsaak is. Tydens middagete op die land wat hy besig was om te ploeg het hy gebukkend voor ‘n os gaan staan, en met ongeduld sy werkers aangespreek om klaar te eet met die woorde ‘‘n Marx werk hom dood, hy eet hom nie dood nie’. Die os het sy kop opgeruk en hom op sy keel gestamp, en sy stembande is so erg beskadig, dat hy daarna nooit weer kon praat nie.
Gert Alewyn Marx, my groot oupagrootjie se seun Alewyn Marx was met Maria Weyers getroud. Hulle seun, Salomon Stefanus Marx my oupa, volg in die voetspore van Dirk Marx en raak op ‘n jeugdige ouderdom ‘n luistervink (spioen) tydens die Anglo Boereoorlog 1899 – 1902. Hy het na ses maande bedank, en raak ‘n touleier, en later ‘n transportryer met ‘n ossewa en deelboer in die distrik. Hy trou met Sophia Nelson ‘n dogter van James Florence Nelson. James Florence Nelson was ‘n seun van Lord Horatio Nelson 1758 – 21 Oktober 1805. Hy was ook bekend na ‘n geveg as Baron van die Nyl. James Florence Nelson het vanaf sy pa se oorlogskip uit die Kaap gedros, en hom kom vestig op Hemelrood (Herbertsdale), waar hy diens gedoen het as ‘n polisiebeampte. Hy trou met ‘n dogter van Jacques Pinard (Pienaar), die stamvader van die Pienaars.
Kyk dan net netjies staan die brigadier en sy drie kollegas hier!
In die oorvol museum is daar nou behoorlik iets van alles uit die brigadier se lang polisieloopbaan.
My pa, Salomon Stefanus Marx, gebore op 20 September 1916 en oorlede op 9 Junie 1956, het as deelboer op plase in die distrik gewerk waar ek gebore is. Hy trou Martha Magdalena van Zyl van Albertinia. Haar oupagrootjie was Gideon van Zyl wat getroud was met Dyalina Pinard (Pienaar). Volgens oorlewering het Gideon van Zyl moontlik gestam uit die seuns van Willem van Zyl. Willem van Zyl en sy vrou Christina van Loveren het agt kinders gehad. In 1706 neem hy deel aan ‘n protesaksie teen Wilhelm Adriaan van der Stel. Hy versuim om tydens sy verhoor voor die Raad te verskyn en word in sy afwesigheid met 200 riksdaalders beboet, en vir vyf jaar verban na Mauritius. Na sy terugkoms raak hy vanaf 1717-1724 lid van die Heemraad van Drakenstein.
“My pa raak betrokke by die destydse klipmyne van Albertinia as springstof hanteerder. My eerste skooljaar, sub A, (graad een) was in 1950 in ‘n plaasskool met die naam van Twee Kuilen, Albertinia. Ek en my broer asook al die plase se kinders het na en van die skool geloop. Daar was in 1950 nie publieke vervoer of skoolbussies nie. Die algemene vervoermiddel het bestaan uit perdekarre, donkiekarre en trapfietse. My pa het later ‘n 1927 model A Ford gery. Dit was algemeen bekend dat lede van die Nasionale Party (NATTE) Ford voertuie gekoop het, en die Verenigde Party (SAPPE) Chevrolet voertuie.
Brig. Marx, waaraan staan jy so diep en peins? Vandag loop hy met ‘n kruk en die jare is ver gevorder maar hierdie veteraan staan nog sterk op sy plasie.
“Die afstand wat ons geloop het na en van die skool was tussen drie en vier kilometer. Dit was ‘n een vertrek skool waar al die kinders tot std. 5 (graad sewe) klas geloop het. Ons het ‘n baie goeie onderwyseres gehad wat ons nie opgesaal het met huiswerk nie. Ek het nie boeke of potlode in sub A gehad nie, maar het op ‘n hout geraamde lei met ‘n griffel geskryf. Die einde van 1950 het die skool gesluit as gevolg van te min leerlinge. My ouers het in 1951 vir my en my broer ingeskryf in ‘n plaasskool op Keurfontein, 22 kilometer vanaf die plaas af. Ons het loseer by my oupa Salomon Stefanus Marx en ouma Sophia Marx. Sondae het ons met fietse gery na Keurfontein en Vrydae terug. My oupa en ouma, beide op pensioen, se leefwyse en gewoontes het verskil van dit waaraan ons gewoond was. Die etes was uitstekend, maar in die aand is net swart tee bedien. Hulle het geglo jou maag moet rus. Wanneer die kerse aan die brand gesteek is, kort voor huisgodsdiens, is die luike voor die vensters gegrendel. Oupa het geglo dit is om te voorkom dat vyandige vliegtuie die lig sal sien en die huis aanval. Die Tweede Wêreld Oorlog van 1939 – 1945 was toe al reeds verby. Ek kan in alle eerlikheid getuig dat ek elke Maandag pak gekry het omdat ek my skoolwerk (huiswerk) nie gedoen het nie. Ek het met eer uit die stryd getree deur nooit kop te gee nie!”
Die krokodil – PW Botha se outobiografie: The Last Betrayal word ook in die museum bewaar. Oom George was en is steeds ‘n groot ondersteuner van wyle pres. PW. Botha. Saam met PW op die foto is wyle genl. Hennie de Witt. Die foto is geneem met die oorhandiging van die wit perd op die foto aan PW.
Die Marx-naam word nog steeds met groot trots voortgesit deur Brig. Marx.
Oom George se ouers verhuis na Albertinia waar sy pa vir ‘n paar jaar werksaam was by die destydse afdelingsraad van Riversdale. Hy en sy broer word ingeskryf by die laerskool op Albertinia. Hy moes vinnig aanpas, en gereeld sy huiswerk doen. Sy pa sterf in 1956 toe hy 12 jaar oud was. Na sy dood is vasgestel dat as gevolg van ‘n klerikale fout het sy pa nooit ‘n permanente aanstelling gehad nie, en dus nie gekwalifiseer het vir ‘n pensioen nie. Dit was arm jare wat gevolg het maar sy ma het kop bo water gehou deur koeke, beskuit, en melkterte te bak op bestelling. Sy het later ‘n prys gewen wat uitgeskryf was deur ‘n bekende meel produsent. Haar wenresep was vir ‘n Madeira tert.
Die vyftiger jare was baie moeilik. Daar was ‘n oorvloed produkte beskikbaar meer die geld om dit te koop het ontbreek.
Die Republikeinse byvoegsel toe Die Volksblad. ‘n Trotse herinnering uit Oom George se museum.
Hy vertel van die baie moeilike vyftiger jare. Daar was in die 1950’s ‘n oorvloed produkte op die mark maar die geld om te koop het by almal ontbreek. Die middelklas en arm mense het dieselfde basiese geriewe gehad. Op die plase was gebruik gemaak van ‘n swart stoof, gewoonlik ‘n Welcome Dover, ‘n yskas wat met lampolie gewerk het, lampe of kerse en ‘n put toilet (long drop). In die dorpe was die emmerstelsel by baie huise in gebruik. Lopende water en elektrisiteit was in die meeste plaashuise iets ongewoon, selfs in verskeie dorpshuise is van kerskrag gebruik gemaak. In die straatblok waar hulle op Albertinia gewoon het was daar net een inwoner wat ‘n radio besit het.
Hy was akademies nie goed nie, maar “ek het nooit gedruip nie”.
“Ons het egter nie buitebande gebrand, klippe gegooi of getoi-toi nie. Albertinia se skool het min buitemuurse aktiwiteite gehad. In daardie jare het ons onder gewig rugby gespeel. Ek was altyd te swaar vir onder 85 pond en te lig vir onder 116 pond. Ek was redelik goed in atletiek en het gereeld as 14-jarige wedlope in die 880 treë onder 14, die 880 treë en een myl vir seuns onder 17 gewen of ‘n plek gehardloop. (Die destydse 880 treë is vandag se 800m).
‘n Kassie vol herinneringe in die museum.
Alhoewel ek nooit gedruip het nie was ek akademies beslis nie ‘n uitblinker nie. Ek het houtwerk geneem en besit vandag nog ‘n opvou stoel wat ek gemaak het. My houtwerk loopbaan is beëindig toe ek ‘n skroef met ‘n kwart duim bytel ingedraai het. Ek is uit die klas gejaag en het tikskrif gaan neem. Ek slaag std 7 (gr. 9) in 1958.
Die Suid-Afrikaanse Polisie Credo
Hy slaag std. 7 in dieselfde jaar waarin sy ma weer getroud is en die gesin verhuis na Wolseley waar hy aan die Hoërskool Wolseley ingeskryf was. Dit was vir hom ‘n groot verandering want hier het hy kennis gemaak met skoolkadette, rugby en atletiek. Hy het vleuel gespeel vir die skool se eerstespan en redelik gevaar in die 880 treë. Hy word opgeneem om aan die Boland Interskole atletiek byeenkoms op Ceres te gaan deelneem in die 880 treë. Hy besluit om nie van die skoolbus gebruik te maak nie, en ry met sy fiets oor die berg na Ceres. Hy vaar sleg in die wedloop en so word sy atletiek loopbaan op skool beëindig. Hy slaag std 8 (gr. 10) wat ‘n staatseksamen was aan die einde van 1959 en gaan werk as klerk in ‘n kafee, en Saterdagaande in die bioskoop. Sy taak was om toe te sien dat daar nie bottels en blikke rondgegooi word nie. In daardie jare het blank en nie-blank nog apart gesit, “maar sê hy daar was egter nooit enige voorvalle van swak gedrag of geweld nie”.
‘n Baie waardevolle aandenking in die museum, hierdie klein Bybel wat die brigadier in1941 by sy kerk ontvang het.
“Ek het aandskof in die kafee gewerk teen sewe sjielings (sewentig sent) ‘n skof. Kort na die skool gesluit het in Desember 1959 het ek van 06-18:00 op ‘n plaas appelkose gepluk teen twee sjielings (twintig) sent ‘n dag. Ek moes vroeg oggend met my fiets na die plaas ry want die boer het ‘n laatkommer nie laat inval nie. Die kafee eienaar het ook ‘n viswinkel bedryf. Hy het my daar ‘n permanente pos aangebied, maar my begeerte was om by die Suid Afrikaanse Polisiemag aan te sluit”.
Hier het ons nou behoorlik iets van alles uit sy polisiedae in die museum.
Hy het toe aansoek gedoen en is die keuse gegee om die werwingsoffisier (destyds ‘n veldkornet) in die Paarl te gaan spreek of te wag totdat hy na Wolseley kom vir onderhoude. Hy het besluit om self na die Paarl te gaan vir die onderhoud. Hy het met sy trapfiets, ‘n opgeboude resiesfiets sonder vandag se ratte, gery oor Bainskloof, Wellington tot in die Paarl. Een van die vereistes was destyds gesonde vertoonbare voortande. Die bruinmense in sy kontrei praat van “hek-bekke”. Hy het egter ‘n tande probleem gehad en is na die distrikgeneesheer op Wolseley wat sy tande getrek het. Wolseley het nie ‘n tandarts gehad nie. Hy het met sy trapfiets (resiesfiets) na Riversdale gery waar sy broer se tandarts vir hom ‘n kunsgebit gemaak het.
Skilde uit oom George se dae as polisieman waarvan een van Ovamboland.
Staande Orders, enige polisiebeampte se “polisie se Bybel.”
Laggend vertel hy verder “as ek dit vir die jeug vertel dan gryp hulle die selfone en Google die afstand. Hulle skud dan hulle kop so asof hulle my nie wil glo nie. My ouers is verplaas en ek bly op Wolseley aan totdat ek kennis van die polisie gekry het. Ek was van kleins af geleer om te spaar, en het alles wat ek verdien het weggesit. My swaar verdiende loon het ek in die sorg van die vrou by wie ek loseer het gelaat vir veilige bewaring. My woonplek was ‘n spoorweghut met geen geriewe behalwe ‘n waskom en beker. Dit was ‘n arm spoorweg gemeenskap met die mans wat op die spoorlyn gewerk het. Op ‘n Saterdag oggend het die polisie my geneem na die distrikgeneesheer vir ‘n mediese ondersoek. Daardie middag vertrek ek met die trein (tweede klas) na Pretoria”.
Hy kry so skewe laggie en sê “toe ek my geld vra moes ek hoor dat die oom die geld nodig gehad, en gevat het. Die vrou het tussen die spoorweggesinne gaan geld soek om te leen. Met respek teenoor die mense, in die tyd van die maand soek ‘n mens nie by hulle geld nie, veral as jy weet dat jy dit nie gaan terug kry nie. Die vrou het £5 (tien rand) te leen gekry, en so verloor ek al my spaargeld.
Hy is op 15 Maart 1964 tot die rang van sersant bevorder.
Wêreld Valskerm-klub logistieke ondersteuning.
“Ek het op 15 Maart 1960 aangesluit met magsnommer 37959, met ‘n maandelikse salaris voor aftrekkings van £30 (R60), en my opleiding gekry in die destydse polisie depot in Pretoria. Vandag staan dit bekend as die polisie akademie. Rekruut konstabels met matriek se begin salaris was ‘n bietjie meer as die met std 8 (graad 10). Die opleiding was uitstekend behalwe dat ek nie kon dril nie. Ek was gedurig uitpas tot groot ergernis van sers. Hoorn, ons troep- en dril sersant. Daar word vandag nog gepraat oor instrukteurs van daardie tyd. Hulle was gevrees maar ook ons helde. Die bekendste was sekerlik hoofkonstabel Bokkie Breedt. Hy het die paradegrond met ‘n ysterhand regeer. Lt. Louis Snyman, die parade offisier en betrokke by die berede afdeling. En sers. Hoorn drilafdeling. Dan was daar ook sers. Barnard, was een van die wet instrukteurs en het ons met die wette en ondersoek van misdaad touwys gemaak. Sers. Smit, betrokke by die gimnasium, en Jos Sirakus betrokke by sportafrigting. Ek noem net die vanne en range van destyds omdat ek nie weet met watter range hulle afgetree het nie. Hierdie lede was die sout van die aarde”.
‘n Regte negosie-hoekie in die brigadier se persoonlike museum!
Net voor sy indiensneming is daar polisiebeamptes in Natal vermoor wat ‘n groot aansporing vir hom was om ‘n polisiebeampte te word. As kind was lede van die Franse Vreemde Legioen sy helde. Terwyl hy in die depot was het die onluste aan die destydse Witwatersrand uitgebreek. Hy was egter nog te jonk om opgeroep te word. Die sirene het gereeld in die nag afgegaan dan moes hulle paradegrond toe hardloop met die klere wat hulle aan het. Daar is dan ‘n paar rekrute uitgeroep, veral die met swaar voertuig lisensies. Bokkie Breedt het op ‘n keer weer swaar voertuig bestuurders gesoek. Hy het toe twee uitgesoek wat die paradegrond met ‘n dubbel besem moes vee.
Pos is soggens deur die berede afdeling met ‘n muilwa in die stad gaan haal. Soos dit mos maar van tyd tot tyd gebeur, was daar voorspellings dat die wêreld op ‘n sekere dag sal vergaan. Na bewering het ‘n nuwe rekruut die eerste keer wagdiens gedoen by die ingangshek van die depot tydens so ‘n voorspelling. Hy was seker skrikkerig en het sy horlosie gereeld dopgehou. Daardie nag presies om middernag het Yskor warm as uitgegooi teen die koppie bokant die depot (akademie). Die lid het so groot geskrik dat hy sommer weggehardloop het, en is in die stad gekry. Dit is egter net ‘n bewering wat ek nie kan staaf nie”.
‘n Miniatuur Voortrekker Monument in die museum.
Hy beklemtoon dat Godsdiens ‘n belangrike vereiste vir indiensneming was. “Die van ons wat nog nie aangeneem was nie het in die depot na ure klas geloop. Ek is in die depot aangeneem en voorgestel as lid van die NG Kerk. Tydens my opleiding het ek die beker gekry vir die beste .38 rewolwer skut van troep 18V, en tweede met die .303 geweer”.
‘n Ontslagsertifikaat uit die destydse koloniale magte.
Na opleiding is hy uitgeplaas na Caledonplein, Kaapstad as ‘n sestien-jarige waar hy gewerk het saam met sers. S.S. Walters, die skrywer van ‘On Duty’. Hierdie boekie het, volgens oom George, al die Kaapse regulasies en wette bevat. Dit is verkoop teen vyf sjielings (vyftig sent) wat hy geskenk het aan die Weduwee en Weesfonds. Hy mag as polisiebeampte nie winsgewende werk verrig het nie. Op ‘n dag teen die einde van 1960 het die klerk van die stasiebevelvoerder in die gang afgeloop en by elke kantoor gevra wie belangstel in ‘n verplasing na Upington met tikskrif as vak.
Wie het Eskom nodig as jy nog so ‘n primus stofie het? (In die museum.)
Hy het verstaan dit is Epping/Tuine in die Kaap wat algemeen bekend was as Eppington. Hy het sy naam opgegee aangesien hy wou wegkom uit Caledonplein en polisiewerk wou gaan doen by ‘n kleinere polisiestasie. Einde Desember 1960 het die klerk ‘n treinkaartjie en roetevorm gebring. Hy was verbaas en wou weet waarom hulle hom nie met ‘n patrollie voertuig kan neem nie. Die volgende woorde wat hy hierna geuiter het, sal hy maar verswyg. Hy verneem toe dit is Upington. “Dit was die laaste keer dat hy ‘n brief geteken het sonder om dit te lees!”
Kimberley afdelingshoofkantoor het op 1 Januarie1961 verskuif na Upington met kol. (“Kort-haar”) Snyman as bevelvoerder. Oom George vertel vinnig die kolonel het daardie bynaam gekry as gevolg van sy haarstyl. Die kantore het na ‘n paar maande weer terug geskuif na Kimberley. Dieselfde datum is ‘n nuwe afdelingshoofkantoor geskep vir Suid- Westelike distrikte in Oudtshoorn met kol.
Hans Berg as afdelingskommissaris. Hier het oom George vir ‘n ruk briewe getik totdat tiksters aangestel is, en is hy toe verplaas na die distrikshoofkantoor op Upington as klerk. Hier op Upington het hy aan atletiek deelgeneem en met die Gordonia-kampioenskappe die twee myl en 880 treë (vandag se 800m) gewen. Later die jaar is hy opgeneem in ‘n span wat aan die Griekwa-kampioenskappe in Kimberley gaan deelneem het. “Ek was die enigste inskrywing vir die 880 treë, en het gevolglik nie deelgeneem nie. Ek het op Upington, tot groot frustrasie van ‘n sers. Calitz, vir die spoorweë se eerstespan vleuel en agsteman rugby gespeel. Die sersant het geglo dat ‘n polisiebeampte die dorp moet ondersteun. Ek het teen hom in ‘n proefspan vir Oranje Unie gespeel en hom sy dag in die skrum belowe. Ek het sleg tweede gekom, as die heelagter kon sou hy my seker ook geslaan het. Die woord slaan hoort eintlik nie in hierdie sin nie, dit was baie erger”.
Voorblad van die manuskrip wat Oom George geskryf het.
Dieselfde sers. Calitz was later die afdelingskommissaris van Noord Kaap. Oom George sê hy het eers in latere jare die waarheid in sy siening besef. In Oktober 1961 word hy verplaas na Alexanderbaai, en word deel van die wielstappers. So ‘n verplasing was algemeen bekend as ‘Land In’. Die dorpe Alexanderbaai, Port Nolloth, Springbok en sekere Weskus dorpies was onder Noord-Kaap ingedeel. Ek is gou ingetrek as tikker en finansiële klerk in die kantoor van die offisier in bevel. In daardie tyd is salarisse in kontant uitbetaal in ponde, sjielings en pennies.
‘n Bejaarde egpaar Marx, vermoedelik die dat met die brigadier se aftrede.
“Hier het ek en ‘n paar atlete op ‘n soutpan geoefen vir die 1962 polisie atletiekkampioenskappe in Pretoria en word vir Noord-Kaap gekies. Ons het egter nie ‘n afrigter nie en kom in Pretoria aan met net atletiekklere. Ek is ingeskryf vir die 880 treë op senior vlak. Ek neem deel teen Tokkie Peters, Angus McCay en Willie Olivier, almal springbokke, en ander bekende atlete.
Die hoefangel is destyds gebruik om in paaie te gooi om karre te stop.
Terwyl ek op Upington was, was daar sprake dat my klub Willie Olivier wou nooi om teen my te hardloop. Ek het hier my kans gesien maar as Willie Olivier en die ander springbokke ‘n motor was dan sou ek tydens die wedloop net hulle agterligte gesien het. Ek speel rugby vir die Polisieklub op agsteman en verteenwoordig diamant-streek in dieselfde posisie. In Alexanderbaai het ek vir polisie jukskei gespeel en was betrokke by die afrigting van die damesskietklub vir die delwers se vrouens. Ek was baie lief vir snoeker maar het slegs aan klub kompetisies deelgeneem”
Elke artikel in die museum vertel sy eie verhaal.
Einde 1962 is hy met ‘Land Uit’ verplaas na distrikshoofkantoor, Port Nolloth as tikker. Kapt. G.C. Bester was die distrikskommandant, en word opgevolg deur kapt. W.B. van der Vyver. Hy wou nie magtiging gee dat die polisielede met staatsvervoer na Alexanderbaai ry vir rugby nie. Die jong sersant het summier ‘n klub op Port Nolloth gestig waar hulle op ‘n soutpan vriendskaplike wedstryde gespeel het. Gedurende 1963 word hy weer verplaas, die keer na Oudtshoorn afdelingshoofkantoor as klerk.
Port Nolloth en sekere dorpe in Namakwaland is toe weggeneem van Noord Kaap en ingedeel onder Suid-Westelike Distrikte. Hy vertrek met ‘n 1954 Morris Minor 1000cc na Oudtshoorn gelaai met sy polisietrommel, .38 rewolwer en .303 geweer. Verder het hy genoeg kanne met petrol in die motor, en ‘n half kroon (twee sjielings en ses pennies of 25 sent) in sy sak, met sy spaargeld veilig in ‘n poskantoorboekie. Hoofkantoor besit vandag nog sy .38 rewolwer en .303 geweer.
‘n Familie Bybel, die Marx-familie se geskiedenisboeke en ander herinneringe in die museum.
Terwyl hy op Oudtshoorn gestasioneer was het hy rugby gespeel vir Oudtshoorn rugby klub tot 1981, daarna het hy opgetree as sekretaris, voorsitter, en verteenwoordiger van die klub op Suid-Westelike Distrikte se dagbestuur tot 1989. Hy vertel die hoogtepunt van sy rugbyloopbaan was ‘n vergadering tussen hom, Jan Lotz van SWD se ikoon van rugby, met dr. Danie Craven en Dougie Dyers. Dr. Craven het begin met die gedagte dat alle rasse betrek moet word in klub en provinsiale spanne. Dorpspanne sou dus verteenwoordig gewees het uit alle klubs in die dorp se distrik. Die rugbyraad was bereid om truie vir daardie klubs te borg.
Brig. Marx en sy vrou Anna op hul troudag.
In 1964 is hy as ‘n sersant verplaas na Burgersdorp, en trou dieselfde jaar. “My salaris was R112.00 ‘n maand na aftrekkings. Ek kon egter ‘n skaap koop vir R3.00. In 1965 word ek op my versoek verplaas as stasiebevelvoerder van Knapdaar. Ek was knap daar toe kry die polisie voertuie op die platteland radio’s, en die meeste twee-man polisiekantore word gesluit waaronder Knapdaar. Ek word verplaas na Venterstad maar behuising is ‘n probleem. Die Verwoerddam (nou Gariep) word gebou en behuising word opgeneem deur ingenieurs en werkers. Daar was slegs een opslaan huis beskikbaar, maar die huur was meer as my salaris. Ek word terug verplaas na afdelingshoofkantoor op Oudtshoorn as klerk.
So ‘n wasbeker wat destyds in elke badkamer gevind vandag is dit in die museum.
“In 1972 word ek bevorder na luitenant, en verplaas as stafoffisier by Oudtshoorn polisiekantoor. Oudtshoorn is sedert die tyd van C.J. Langenhoven bekend vir sy talle watersake. Hierdie soort misdaad was gekodifiseer bo 500, en is nie deur speurders ondersoek nie omdat dit as ‘n geringe misdaad beskou is. Hierdie ondersoeke is deur die ondersoek- en navrae personeel behartig. As gevolg van vele uitsprake deur regters dat die polisie nie opgelei is om watersake te vervolg nie, of nie altyd die verweer van die beskuldigdes verstaan nie, het ek betrokke geraak by die ondersoek en nasiening van watersake”.
Suid-Afrika se eerste olie-monsters in sy museum
Na vele mislukkings in howe het hy betrokke geraak by die ondersoek en nasiening van watersake.
Op daardie stadium het hy egter besef dat hy sy kwalifikasie moet verbeter en skryf in vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen, en slaag dit ook. Met bevordering na kaptein word hy toe aangestel as stasiebevelvoerder op Oudtshoorn. Met die rang van majoor word hy aangestel as bevelvoerder van die eerste volwaardige onlus-eenheid, E14 vir die afdeling SWD. In 1973 rig hy lede af vir die eerste Kango-marathon op Oudtshoorn, met een van die lede wat ‘n brons medalje verwerf. Hy het ook twee keer self deelgeneem aan die Nasionale Diensskiet-kompetisie in Bloemfontein, en was lid van die Nasionale Kleingeweer vereniging. Hy was ook betrokke by toutrek by Oudtshoorn-polisie, maar as deelnemer en nie afrigter nie. Hy het in 1974 grensdiens verrig in die destydse Rhodesië (Zimbabwe), in 1978/1979 in Ovamboland (Namibië), 1981 Noord-Natal en 1983 Wes-grens. In Ovamboland was hy in ‘n “hippo”-voertuig wat ‘n landmyn getrap het. Hy het ook diens gedoen in Natal tydens die verkiesing van die driekamer parlement. In Rhodesië het hy vir die eerste keer televisie gekyk. Die rand se waarde was R1.04 sent vir ‘n Rhodesiese dollar.
Pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala skandaal is ook hier uitgebeeld.
“Einde 1989 word ek verplaas as streekhoof van Noord-Kaap onluste-eenheid. Ek raak betrokke by polisie rugby, en word ook verkies as president van Noord-Kaap Toutrekvereniging. Ek neem waar in verskeie senior poste en met bevordering na brigadier raak ek die eerste inspektoraat van die Noord-Kaap. In 1995 word ek medies ongeskik bevind, en verhuis na Tergniet, Mosselbaai. My eggenote sterf in 1997 waarna ek twee dele van die oorspronklike plaas van Petrus Terblanche koop soos vroeër vermeld.
Op hierdie Stradivarius is die brigadier baie trots!
“As gevolg van jarelange twiste oor beurtwater het ek die historiese regte uit die fonteine wat beurtwater verskaf vir die dorp Friemersheim (Munisipaliteit, Mosselbaai), die Gonnakraalboere en Sorgfonteinboere ondersoek. My ondersoek het aanleiding gegee tot die stigting van die Friemersheim-
Om dankie te sê aan Oom George vir 11 jaar se dien in die Marico-gebied.
Waterregtevereniging en die Sorgfontein-Leibeurtvereniging. Ek is sedert 2001 betrokke by die bestuur van die water as sekretaris. Ek het ‘n boek oor die regte van die boere en munisipaliteite geskryf met die titel “Ken Jy Jou Regte”, en dit aan elke verbruiker oorhandig. Hierdie gebied staan ook bekend as Terblanche Land, aangesien die eerste Etienne Terblanche wat na die kolonie gevlug het omdat hy nie die Rooms Katolieke-geloof in Frankryk wou aanvaar nie, se nageslag hulle hier kom vestig het. Ek het Etienne se voetspore en nageslag gevolg tot by die eerste Etienne Terblanche wat hier gebore is, en ‘n boek oor die Terblanche-families geskryf getitel “Ikoon van Kleinvlei.” Ek het in 1989 begin met die stamboom, en stories oor die Marx-, Van Zyl- en Potgieter-families wat pas voltooi is. Ek is tans besig om oor die historiese gebruiksregte van water sedert 1804 te skryf, uit elke rivier, spruit, fontein en watersloot in hierdie gebied. Ek is en sal nooit ‘n skrywer wees nie maar my poging is om my mede-boere in te lig, en die familie ‘n kykie te gee in die leefwyse en kundigheid van hulle voorouers, maar die belangrikste rede is om my brein skerp te hou.”
Selfs hierdie geroeste plat spyker ou herinneringe in vir die brigadier.
‘n Potlood skets van Oom George wat in 1983 vir hom gemaak is.
Wanneer ons die brigadier uitvra oor groot en bekende sake wat hy in sy loopbaan as polisieman ondersoek het, is dit asof hy sommer nuwe belangstelling kry. Hy vertel met ‘n vonkeling van groot, wreedaardige, moorde wat in sy gebied gebeur het, wat hy ondersoek het. Hy kom met ‘n baie interessante stelling voor die dag, en dit is dat hy glo ernstige misdaad word gouer in die stede vergeet as op die platteland. Daar is egter uitsonderings in plattelandse ernstige misdade waaroor daar tot vandag toe steeds gepraat word. Hy noem net ‘n paar voorbeelde waarvan sommige sowaar vandag nog koue rillings deur ons laat gaan.
‘n Langenhoven boek stel waarop enigiemand wat lief is vir Afrikaans vreeslik trots sal wees.
Soos die vier gif moordenaresse wat die hoogste prys betaal het. Die moord op Bubbles Schröder waaroor daar van tyd tot tyd berig word. Op die platteland raak sekere gebeurlikhede kontrei-stories soos die eg-tand moord op Vleiland. “Ek het hierdie dossier, en die moord op Betsie Smit van Clanwilliam na Pretoria gestuur vir opname in die polisiemuseum”. Dan was daar die moordenaar bekend as Bloubaard Swanepoel wat bekend was daarvoor dat hy die besoekende smouse op sy plaas Rietfontein by Oudtshoorn vermoor het. Sy wreedaardige vrou wat kinders se mangels met ‘n langsteel teelepel wat sy rooi warm gemaak het, uitgeskep het. Hy was dan volgens oorlewering die laaste persoon wat op George in die openbaar gehang is.
‘n Noodhulp kissie is een van die belangrikste toerusting vir enige polisiestasie.
In 1946 onthou hy die moord op kapt. van Heerden, die distrikskommandant van Oudtshoorn wie deur Piet Mattyse, ‘n inbreker en uiterse skelm op Van Wyksdorp vermoor is. Hy het na ‘n inbraak geld en ‘n briefie gelos waarin hy skryf dat die eienaar hom niks kan maak nie want hy betaal vir dit wat hy vat. Hy het kapt. van Heerden met ‘n gesteelde .22 geweer doodgeskiet.
Die spook van Uniondale het voorwaar ook haar draai gemaak in hierdie onderhoud met Oom George. “In 1969 was daar die Spook van Uniondale. As klerk by afdelingshoofkantoor, Oudtshoorn het ek en die personeel verskeie navrae hieroor hanteer. Baie mense glo nie aan spoke nie maar hier was iets bonatuurliks, en ja ek glo dat die stories oor haar verskyning wel meriete het. Daar is onlangs ‘n monument vir haar by Uniondale opgerig.”
Oom George se: CUCA” hoekie in die museum
En so waar, die beweerde landing van VVV’s in Suid-Afrika is ook nie vergeet nie. Hieroor vertel hy “In 1972 was daar die beweerde landing van ‘n VVV op Rosmead se tennisbaan, ‘n spoorwegstasie op Middelburg Kaap. In hierdie geval het kol. Lothar Neethling (die latere generaal) die toneel besoek. Stukke van die tennisbaan is in ‘n nabye koppie gevind. Die wat nie aan VVV’s glo nie moet nie verder lees nie. Ek het die onderhoude bekom wat voor en na die verskyning gevoer is. Hierdie, of ‘n soortgelyke VVV het ook dieselfde jaar op Fort Beaufort verskyn. In hierdie geval het die polisie en ‘n boer op die voorwerp geskiet. Dit het ook by Smithfield in die Vrystaat verskyn waar die toneel deur WNNR ondersoek is. Daar was ook getuienis van ‘n lugmag-vlieënier wat beweer het dat ‘n VVV sy vliegtuig gevolg het. Die WNNR en lugmag ontken dat hulle ooit oor sodanige inligting beskik het. In die onderhoude en kommentaar is dit duidelik waarom daar oor hierdie gevalle geswyg word.”
Brig. Marx saam met sy Anna in gesellige luim by ‘n gesellige geleentheid.
Behalwe skaapboerdery op klein skaal hou hy ook ‘n paar bontebokke en springbokke aan. Sy grond grens aan die bekende wildplaas Bottelierskop. Oom George is ‘n groot versamelaar van broodbome. Hy het ongeveer 400 Cycads (broodbome) in ‘n wildomheinde kamp rondom sy plaashuis wat hy beskerm teen stroping. Om stroping van sy geliefde broodbome het hy sy eie kameras opgerig en ook deur die kameras van die wildplaas Bottelierskop, asook hulle wagte.
Hy het ook ‘n klein versameling van na-oorlogse voertuie, onder andere ‘n 1955 Morris Minor twee deur, 1958 Austen Healey Sprite (Sebreng), 1959 Morris Minor vier deur, 1961 Anglia De Lux, 1975 MG’ B’ Roadster, en sy Finans-motor 1994 Toyota Camrey SEI en ‘n paraffien Vaaljapie. Al hierdie voertuie is padwaardig en gelisensieer. “Ek doen elke jaar twee lang toere met die Morrisse. Daar is ‘n groot aanvraag vir skool funksies, troues en motorskoue vir ou motors. Ek was in 2019 president van die Suid-Kaap Ou-Motor Klub.”
Elke dinge in die museum het vir hom ewe veel waarde!
Of dit nou hierdie skoot harp, ‘n stel ou boeke of selfs ‘n baie ou Stradivarius-viool is, vir hom is alle items van ewe heel waarde, hy kan nie ‘n gunsteling kies nie.
Dan is daar ook nog sy versameling van oudhede. In hierdie museum van hom. Op ‘n vraag watter een van die oudhede is sy die belangrikste en duurste item in sy besit, kom die antwoord sonder versuim: “Elke item, van ‘n boek, briewe, foto’s, musiek instrumente, of huishoudelike items is vir my ewe belangrik en waardevol. Ek het onder andere ‘n Stradivarius-viool van 1713, skoot-harp, opwen grammofoon, en outydse tafel model horlosies wat dateer uit die 15de en 17de eeu. Is hulle nou meer werd as ‘n gepatenteerde 1900 kersblaker, 1899 kerslamp uit die Anglo Boere-oorlog, tonteldoos, ‘n 1890 karring bottel, ‘n glasboom bierbeker wat in die 16de eeu gemaak was sodat die Britse koning se sjieling gesien, en geweier of aanvaar kon word, wat bedoel was om as loon vir ‘n Britse soldaat of matroos te dien om vrywillig aan die koning se oorlog deel te neem, twee gatskuur maalklippe deur die Khoi, of ‘n Hollandse Bybel van 1884
‘n Koerant uitknipsel toe die verpakking van die bekende Lyle’s Goue Stroop na 140 verander het in die museum.
“Ek heg net soveel waarde hieraan as aan die twee mossies op ‘n oortjie (kwart pennie) ter ere van die vrouens wat tydens die Anglo Boere Oorlog in Bethulie in die konsentrasiekamp was. As God vir twee mossies kon sorg hoeveel te meer vir daardie vrouens. Ek het ook betyds ‘n Lyles Golden Syrup-blikkie bewaar wat na ongeveer 140 jaar van etiket verander het. Die ou etiket met die leeu en bye op was natuurlik ‘n verwysing na Simpson se raaisel.”
‘n Bejaarde (85) brig. George Marx in sy kombuis waar jy nog sy koffie self kweek en verwerk tot waar dit in ‘n stomende koppie koffie beland.
Hy het na sy aftrede gevind dat daar te veel mense is wat te vroeg aan lewensonttrekking ly, en na ‘n tyd nie juis na enigiets uitsien nie. Hy het pensioenarisse ontmoet in alle sfere van die samelewing wat op 60 emosioneel reeds dood is, maar wat nog bly lewe tot na 80. Hy sê hy het besluit om te lewe tot na 80 en dan dood te gaan. Want, sê hy “daar word mos gesê dat ‘n lewens reis uit net een beurt bestaan. Daar is gevolglik nie ‘n proeflopie nie. Wat jy van jou reis maak is jou keuse, maar jy moet onthou dat wat jy saai sal jy maai.
“Ek lees dat die Griekse digter Konstantyn Kavafis skryf dat sommige mense alles wat begeerlik lyk dadelik wil bekom. Kavafis waarsku daarteen en wys dit van die hand. Hy stel voor dat as jy ‘n reis van die lewe wil hê moet jy hoop dat dit lank sal wees. Vol avonture en ontdekkings. Daar sal teenstand en vyande wees, maar bly hoop dat emosies nie jou liggaam en siel sal raak nie. Onthou altyd waar jou reis begin het, en hoe jy daardeur gevorm en voorberei is. Die belangrikste is die begin, en die bestemming, is die reis self, en wat jy agterlaat is net herinnering.”
Hy vertel dat die polisie hom as sestien-jarige grootgemaak en gevorm tot waar ek vandag is. “My ma het by geleentheid gesê dat ek is soos die polisie my gemaak het, en nie soos sy my wou gehad het nie.”
Hy woon sedert sy vrou se dood in 1997 alleen, en is selfversorgend. Hy het vriendinne maar het ‘n ooreenkoms met hulle. Hy bly uit hulle bed en hulle uit sy beursie.
‘n Tonteldosie, ‘n snuifdosie of dalk ‘nou pilledosie?
Op ‘n vraag hom om asseblief net ‘n ietsie te skryf oor die huis op die plaas. Is dit ‘n lekker ou plaas opstal of hoe lyk dit. Is daar ‘n tuin rondom die huis? Plant jy jou groente en maak jy nie dalk nog jou eie botter nie. Het jy beeste op die plaas, want jy het vroeër in die onderhoud gesê jy is heeltemal selfversorgend, antwoord hy vinnig, dadelik en met ‘n lang omskrywing.
Ek gee nou ‘n lang oorsig maar gebruik wat julle kan. Daar kan met reg verwys word na die omgewing waar ek woon en boer as Terblanche-land. Petrus Terblanche het in 1804 die plaas Gonnakraal by die Heemraad van Swellendam gehuur met die voorbehoud dat hy ‘n uitspanning moet gee vir transportryers. Gonna is ‘n Khoi woord en staan in die Volksmond bekend as bakkerbos of paserina corymbosa ‘n soort fynbos. Die bas van die takke is gebruik as tou om die Khoi se hutte vas te bind en die boere om groente in bossies te bind. Verder het die vrouens wat gestryk en gebak het vir die boere dit gebruik om vuur mee aan te steek in die bakoonde.
Petrus was ‘n hardwerkende boer en koop in 1814 by die Heemraad die plaas Gonnakraal en die plaas Grootvlakte aangrensend aan Gonnakraal. Swellendam en omgewing was bekend as die De Verre Afgeleegene Districten. Hy trou met Johanna Isabella Klaze ‘n agter kleindogter van Dirk Marx. Sy is begrawe op die plaas Gonnakraal, en is die stam moeder van vele Terblanche’e hier en van die wat na die Noorde van die land verhuis het. Die verlate graf is onlangs onwetend deels afgebreek. Ek het die eienaar versoek om dit te herstel met ‘n grafsteen en toegangspad, wat hy gedoen het.
‘n Ou kompas uit die museum. In die brigadier se tyd was dit noodsaaklik vir veral die plattelandse polisieman.
Dirk Marx en sy seuns het verskeie plase in die omgewing van Gonnakraal en Grootvlakte besit. Dirk Marx se dogter Hester Marx trou met Jesaias Terblanche ‘n neef van Petrus Terblanche wat hulle gaan vestig op die plaas Melkhoutskraal. Jesaias Terblanche sterf op 47 jarige ouderdom en Hester Marx verkoop die plaas aan George Rex volgens oorlewering ‘n seun van koning George Rex van Engeland en stig die dorp Knysna op die plaas
Elke artikel in hierdie versameling het groot waarde vir die brigadier. ‘n Skeermeslemmetjie “dog tags, ringe, medalje, ‘n hartvormige hangertjie en vele meer.
Johan Kretzen kom vestig hom in 1837 as n sendeling op Gonnakraal en koop later ‘n deel van die plaas. In 1870 stig hy die dorp Friemersheim wat ‘n vernoeming is van sy geboorte dorp in Duitsland wat beteken Fur Friendscaft und Dienst. Petrus Terblanche sterf in 1855 en van sy seuns het hulle toe alreeds gevestig op die aangrensende grond van Gonnakraal en Grootvlakte waar hulle aanvanklik hardebiesie huise bewoon het. Hulle ‘n bou ‘n skool, vir hulle en die omgewing se kinders, Smitswinkel om die transportryers se waens en boere se gereedskap te herstel en ‘n Water Mollen waar klein hoeveelheid koring gemaal kon word. Hulle noem daardie deel Kleinvlei as gevolg van ‘n vlei op die grond. Die harde-biesie huise word voor en in 1871 vervang met steen huise. Met uitbreiding van die wildplaas Bottelierskop is die woonhuise en skool vervang met moderne wooneenhede en n restaurant. Slegs die Smitswinkel en een van die woonhuise in privaat besit het behoue
Hartseer herinneringe uit sy dae by die honde-eenheid.
Die Vryburgers se boerdery het aanvanklik bestaan uit groente, melk vleis beeste, wolskape en die kweek van lemoene. Die plaasname Oranjetuin en Orange Grove is ‘n bewys daarvan en die name bestaan nog. In 1998 koop ek ‘n deel van Grootvlakte (Ruggens) waarop ek begin boer met dorper skape wat afkomstig was van die plaas van mnr P W Botha, die vorige staatspresident. Ruggens met ‘n uitsig op die see en Outeniqua berge en is 3 km vanaf Friemersheim op ‘n grondpad en 17 km teerpad vanaf Grootbrakrivier. In 2000 koop ek ‘n tweede deel van Grootvlakte (Orange grove) aangrensend aan Ruggens en bou ‘n woonhuis daarop. My grond is geleë op ‘n heuwel tussen die Grootbrakrivier en die Moordkuylrivier – ‘n sytak van die Kleinbrakrivier. My grond se grensdrade is die wildheinings van die wildplaas Bottelierskop, ‘n toeriste plaas en een van die grootste wildplase in die Suid Kaap waarop die groot vyf te sien is.
As so soliede hout knuppel iemand tref gaan hy regtig nie verder hardloop nie.
Ek het met vleisbeeste op my eie grond en huur grond geboer maar afgeskaal na slegs skaapboerdery. Ek het steeds ‘n klein getal skape en ‘n paar springbokke. Alhoewel ek voldoende water het vir huishoudelike gebruik en besproeiing plant ek slegs groente vir huis gebruik. Groente boerdery op klein skaal vir die mark is nie meer koste-effektief nie. Ek het ‘n paar koffiebome wat ek jaarliks oes en verwerk om aan my gaste te bedien. Ek woon sedert 1997 alleen, en sorg vir my self ek is en sal nooit ‘n skrywer wees nie maar hou my besig met navorsing en maak aantekeninge oor die geskiedenis van my omgewing. Ek is sedert 2001 sekretaris van die Friemersheim Waterregte Vereniging en is die Beskermheer van die Sorgfontein-Leibeurt Vereniging. Ek hou my verder besig met my na oorlogse veteraan motors, my museum en my ongeveer 300+ Cycads van verskillende spesies en Cycasse asook ‘n 100+ saailinge. My oudste Cycads is 60 jaar. Ek beskou hulle as deel van my familie. Hulle word beskerm deur kameras en wagte van die wildplaas. My plaas woning is langs The Village van Bottelierskop. As gevolg van onderverdeling is my twee plasies klein. Elders in die land word na sulke eiendom verwys as plotte maar in die Kaap noem ons dit plase.
Lanterns, klein lampies en teen die muur die wapen van die Suid-Afrika voor 1994 en ook die eerste staatspresident van die land voor 1994, adv. C.R. Swart.
Met die koms van Kretzen het hy die Khoi gemeenskap geleer om meubels en skoene te maak. Hulle tennis skoene het leersole gehad. Die bekende en gesogde Volkwyn meubels is deur die Volkwyn broers in Friemersheim gemaak en voortgesit deur hulle afstammelinge. Ek het ‘n riempiesbank en stoele by die laaste Volkwyn laat maak voordat die fabriek gesluit het. Die Outeniqua berg en klowe het baie geelhout en stinkhout gelewer.
Wie wil nou in die stad of selfs op ‘n dorp bly, as jy op so pragtige plasie kan woon?
Ek het ‘n huishulp wat een maal ‘n week kom stryk en huis skoon maak waar nodig. Ek berei my eie etes voor en braai wanneer ek wil en dit is gereeld. Ek glo aan ‘n smaaklike voorbereide maaltyd wat aan tafel voorgesit word met die korrekte eetgerei. Soms maak ek ‘n pot in die veld en gebruik dan my “varkpan”. Ek het twee permanente algemene arbeiders wat na die skape moet omsien, broodbome [Cycads] moet skoon hou en karre moet was. Ek is nie meer gekoppel aan ESCOM se kragnetwerk nie en gebruik ‘solar’. Ek beskou my as ‘n baie gelukkige mens. Alhoewel ek met krukke loop bestuur ek my voertuie, toer gereeld met die ou motors en is gesond. Ek rook nie (het dit in 1966 gelos toe sonde belasting op sigarette verhoog is vanaf 19 sent na 20 sent vir ‘n pakkie 20). As getroude man kon ek dit nie bekostig nie. Die alleen bly het gemaak dat ek geen sterk drank gebruik nie. Wat hou my jonk en aan die gang? Die jeug en vroue geselskap en werk. Ek het baie goeie vriendinne met wie ek ‘n ooreenkoms het: Ek bly uit hulle bed en hulle uit my beursie. Een van hulle het eendag ‘n opmerking gemaak dat as sy na haar dood terug kom dan wil sy ‘n veteraan motor wees, want na hulle word so goed omgesien. Sy wil egter nie ‘n plaasbakkie wees nie.
Baie afgetredenes kom vestig hulle in hierdie omgewing en betaal miljoene vir ‘n klein stukkie grond. Hulle glo dat hulle ‘n sukses van boerdery kan kom maak en hulle geld weer kan terug boer. My raad aan hulle is om rustig te raak en die mooi van die omgewing te beleef en te waardeer. Die eerste verwysing na hierdie gebied is in 1730 gemaak toe die eerste trekboer die Klein-Brakrivier bereik het. In 1745 was die Klein-Brakrivier die Oostelike grens van die kolonie in die omgewing van De Verre Afgeleegene Districten, bekend as Swellendam. Ek wonder steeds hoe die gebied gelyk het toe die eerste Vryburgers hulle hier kom vestig het. Nuwe kopers wil geld maak en in die proses word die landskap verander en selfs tot n mate vernietig.
In 1782 het Francois le Vailand die gebied tussen die twee riviere soos volg beskryf: We crossed a plain, encircled with hills, beautifully covered with trees and bushes, about five miles in circumference. I found there thousands of pelicans and flamingos. When we left the river, we had to climb a difficult and very steep mountain. With patience and hard work the top was reached. The scenery which now opened to the eye richly awarded our trouble. We were admiring the most beautiful country on earth. The land bears the name Outeniqua, meaning in Hottentot “man laden with honey”.
EK HET ONDER BRIG. MARX GEDIEN
Lt.Kol. (afgetree) Zelda (Dawson) Saayman
Ek is Zelda (Dawson) Saayman, afgetrede luitenant-kolonel, in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat vanaf 1981 tot 1985 te Oudshoorn polisiestasie onder die bevel van brig. Marx gewerk het waar hy toentertyd stasiebevelvoerder was.
Wanneer ek die naam brig. George Philippus Marx hoor dan kom die woorde integriteit, intelligensie, dissipline, leier, gesinsman, sportman, organiseerder, voorvatter, Christen, beskermheer, mense mens en ‘n polisieman in murg en been onmiddellik by my op.
Party mense word gebore vir ‘n beroep en sommige mense is die beroep en dit kan gesê word van brig Marx. Hy was die beroep, eintlik nog vandag die polisie dissipline en werkslus het hom nog nie verlaat nie.
Reg is reg en verkeerd is verkeerd. Daar was geen grys gedeeltes nie. Brig. Marx het in ‘n ander soort dissipline geglo en dit was om die wat verkeerd gedoen het ‘n les te leer, deur onmiddellik die situasie aan te spreek en dan aan jou ‘n werkie toe te ken wat met tye glad nie lekker was om na te kom nie, maar daardie les het jy vir die res van jou loopbaan onthou en nooit weer in daardie slaggat getrap nie.
Hy was ‘n bevelvoerder wat met die aanstelling van die eerste polisievroue onder sy bevel moes bestuur. Ek glo dat dit was geen maklike taak vir ‘n bevelvoerder nie. ‘n Vrou in ‘n beroep waar daar net mans was, was verseker ‘n geweldige aanpassing. Ons waarvan ek een is, is met die nodige respek, dissipline, en waardigheid behandel. Dieselfde reëls is te alle tye toegepas vir alle personeel.
Die voorbeeld wat gestel is deur brig. Marx het bewondering afgedwing by sy personeel. Ons het gestrewe om sy voorbeeld na te volg. Brig Marx is ‘n polisieman wat die toekoms ver vooruit was, deur die waarde van opleiding asook die gawes en talente van elke personeellid te identifiseer en het hy gesorg dat jy opgelei word in die rigting waarin jy uitgeblink en presteer het. Teenkanting het hy natuurlik gekry asook ‘n hele paar dik monde en ‘n gekla en gekerm oor waar word ek nou weer ingedruk en wat moet ek nou hier doen want hierdie werk is nie vir my nie, maar so waar as wat padda ‘n manel dra het jy na ‘n paar maande besef, ai man hier hoort ek.
As daar ‘n polisieman is wat ‘n legende genoem kan word, en wat ‘n nalatenskap van hoe om te bestuur met waardigheid en integriteit volgens die Orders, Wette en Regulasie aan sy personeel nagelaat het, dan is dit brig. Marx. Die personeel wat gedien het onder brig Marx se bevel het hoë range en hoogtes bereik in ons polisieloopbane, aanprysings ontvang vir prysenswaardige dienslewering en gedien met trots en waardigheid.
Die stoutegeid los ons vir ‘n volgende keer, nê Brigadier?
Brigadier ek salueer u!!!!
Waar dwaal daardie gedagtes tog? Oom George sit ingedagte in sy museum. En hiermee neem ons afskeid van Oom George. Dankie vir jou diens aan ons land.
ONS SALUEER U BRIG. GEORGE MARX.
Wonderlike lewensverhaal / geskiedenis van n oud SAP lid.
Dankie Japie!
Ek het ook as jong lid onder die bevel van , toe nog kolonel GP Marx, by Onlus Eenheid 14, Oudtshoorn gedien. Ek het groot respek vir hom gehad en ek moet erken dat hy my broek nogal laat bewe het as ons jong klomp Onlusmanne op die rooi tapyt voor hom moes verskyn het vir stoutigheid. Dit was n voorreg om onder kolonel Marx te kon dien.
Dankie vir u antwoord! Het dalk ou SAP-foto’s? Laat weet asseblief. Groete – Hennie Heymans
Gisteraand, net so voor ek gaan slaap, besluit ek om gou eers hierdie storie te lees.
Ek lees en lees en lees, maar voel naderhand dit het geen einde nie.
Nietemin, ek wil net sê dat Sarie Van Niekerk haarself hier oortref het. Deeglik, buitengewoon volledig en gepas ‘versier’ met passende foto’s. Ek het lanklaas so lekker gelees aan ‘n storie. Ons dank aan Sarie – en ook Mariaan -hiervoor.
Dan Brigadier Marx oor wie dit eintlik gaan: Wat ‘n merkwaardige mens. Nie net ‘n uitstekende polisie-offisier gewees nie, maar duidelik ook ‘n persoon wie met sy praktiese hande – op meganiese terrein of wat ook al – ook wondere kan verrig. En dan boonop sy wye en interessante belangstellings en betrokkenheid by sy gemeenskappe waar hy was. Ek staan regtig in verwondering. Sy storie moés net vertel word, want dis ôsum! He is one of a kind, soos die Engelsman sou sê.
Dankie ook aan die 2 offisiere wat hierdie storie aanvanklik aangevoor en gehelp het om dit bekend te maak.
Baie dankie Fanie Bouwer!
Dankie Fanie!