SIR THEODORE TRUTER – THE HATED POLICE COMMISSIONER

Abstract

Daniel Lötter gives readers his views of Col Sir Theodore Truter, the first Commissioner, of the South African Police.

Keywords

  • Court Martial
  • Delarey, Koos – General
  • Fourie, Jopie
  • Interment officer
  • Martial Law
  • Ossewabrandwag
  • Truter, Theodore Truter – Colonel, Sir
  • Van den Bergh, HJ – general
  • Van Rensburg, Hans – Dr
  • Vorster, BJ – Adv

SIR THEODORE TRUTER – DIE GEHATE POLISIEKOMMISSARIS

Daniel Lötter

'n Foto wat persoon, person, swart bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

In ons leeftyd het ons ook maar baie skaam gekry vir Polisiekommissarisse. Na die tyd van rêrige ou gentleman-generaals soos Johann Coetzee, Hennie de Witt en Johan van der Merwe het kommissarisse soos Jackie Selebi (wat agter tralies beland het) en sekere ander net ‘n ou polisieman laat skaamkry. Hulle streke ten spyte was selfs nie een van hulle so ongewild soos die heel eerste Kommissaris van die Polisie, kolonel sir Theodore Truter nie.

Die Polisiewet, wat die vestiging van die ou Suid-Afrikaanse Polisiemag in 1913 deur die Parlement gevoer het, het kolonel sir Theodore Truter aangestel as die eerste kommissaris – suiwer op politieke gronde. Die ou was ‘n Bloedsap wat in die Boere-Oorlog aan Britse kant geveg het en dik maats was met Louis Botha. Sir Truter was ‘n Suid-Kapenaar van geboorte, van George se kontrei. Na Uniewording in 1910 het hy aangebly in die Unie Verdedigingsmag met die rang van Kolonel.

Die eerste plek waar hy, behalwe vir sy oorlogsrekord, swaarde met die meer behoudende Afrikanerdom gekruis het, was toe hy in 1914 die voorsittende beampte was van die Krygshof wat Jopie Fourie ter dood veroordeel. Daaroor is hy en Jan Smuts ewe veel verkwalik.

Toe hy derhalwe in 1913 Kommissaris van Polisie word, was daar nie juis ‘n koor van vreugdepsalms nie. Sir Truter was in elk geval ‘n kortgebakkerde, ongeskikte ou man met sy weglêsnor, sy stokkie onder die arm en sy beneukste geaardheid.

Nou moet ‘n mens billik wees en erken dat sy jare as Kommissaris ook nie die maklikste jare was nie. Sommer 8 maande na sy aanstelling begin die Rebellie en ‘n klomp van sy manne sluit aan by die Rebelle. Dieselfde tyd sit hy met die Foster-bende se avonture in Johannesburg en op die polities mees sensitiewe moment denkbaar skiet ‘n Engelssprekende polisiebeampte vir generaal Koos de la Rey dood in ‘n padblokkade en moet ou sir Truter dit as ‘n ongelukkige ongeluk probeer verkoop – ‘n storie wat baie mense tot hierdie dag nie glo nie. In sy tyd moes hy die 1922 Mynwerkerstaking, die staking van Polisiemanne in November 1917 en die Bulhoek-rebellie van 1921 die hoof probeer bied.

Na 36 jaar diens in die Staatsdiens tree sir Theodorus Truter in November 1926 af en maak plek vir generaal Isaac Pierre (Iep) de Villiers.

Maar sir Truter se werk is nog nie klaar nie, want toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek en die Ossewabrandwag se Stormjaerkorps begin met ‘n binnelandse terreurveldtog in ‘n poging om te verhoed dat Suid-Afrikaanse soldate na die Oorlogsfront in die Noorde gestuur word om aan Britse kant te veg, begin die tweede konsentrasiekamptydperk in ons geskiedenis. By Ganspan en Leeukop en veral Koffiefontein word interneringskampe aangelê waar mense, wat slegs verdink word daarvan dat hulle teen die regering se oorlogspoging gekant is, sonder verhoor opgesluit word. Onder krygswet was dit heel moontlik en onder die manne wat daar opgesluit was, was mense soos Adv John Vorster en sy broer, Koot, die latere moderator van die NG Kerk en genl Langhendrik van den Berg, die eerste hoof van die Nasionale Intelligensiediens. En ‘n horde ander.

En wie word aangestel as die hoof van interneringskampe? Kolonel Sir Theodorus Truter! Uit sy kantoor naby die Uniegebou sit hy soos ‘n spinnekopwyfie in die middel van ‘n spinnerak en maak klikstories bymekaar om mense mee te interneer. Die anti-oorlogsgesinde konserwatiewe Afrikaners kan hom nie verdra nie!

Dr Hans van Rensburg, die leier van die OB, skryf oor hom: “In South Africa, during the war years, the official attitude (and also that of the government’s supporters) was that the Chief Security Officer (Truter), like the King, could do no wrong. Whom he ordered to be arrested and interned on the evidence of some anonymous informer, was arrested…and that was that.”

Geen wonder dus dat sir Truter selfs meer ongewild was as Jan Smuts self nie! Maar die Stormjaers het tot op die laaste vir die ou ‘n verrassing gebêre. Op die aand na die oorgawe van Duitsland, toe daar dwarsoor die wêreld in die strate van stede, insluitend Pretoria en Johannesburg, fees gevier word, oorrompel ‘n groep Stormjaers die wagte by sir Truter se kantoor, bind hulle vas en breek die agterdeur oop. En toe steel hulle die lêers uit die liasseerkabinette. Daarin is al die inligting oor wie hulle kamerade in die interneringskampe verraai het en wie stories by die speurders aangedra het oor bure en familie.

Dit was ‘n seer hou vir die regering van Smuts en ‘n seer hou vir baie mense. So laat as die jare 60 was daar ‘n Nasionale Party kandidaat in ‘n verkiesing in ‘n sterk NP setel wat skaars 10 stemme getrek het nadat dit bekend geword het dat sy naam as informant in sir Truter se lêers was. Uiteindelik het die inligting in daardie lêers vir ‘n hele klomp manne wat nou voorbokke in die Nasionale Party, die NG Kerk en die Broederbond was problematies begin raak en het dr Van Rensburg, die man wat altyd eers na ‘n vreedsame uitweg gesoek het, opdrag gegee dat die lêers uit hulle wegsteekplek geneem en almal verbrand word. Dit sou wragtig interessant gewees het om te sien watter name almal daarin verskyn het!

Sir Truter was tot die dag van sy dood boos oor die verlies van daardie lêers. Hy is op 11 April 1949 in Pretoria oorlede. Die polisiebegrafnis vir die eerste Kommissaris was ‘n luisterryke geleentheid – met opvallend min van die afgetredenes wat opgedaag het!

2024-04-11 15:48

Daniel

Daniel Lötter

  • Met graagte Brigadier. Baie dankie dat u dit wil gebruik.

'n Foto wat skermskoot bevat AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.