SELECTIVE ACTIONS BY SAPS AGAINST POLICE MEMBERS AND GENERALS

SELEKTIEWE OPTREDES VAN SAPD TEEN POLISIELEDE EN GENERAALS

Brig Fanie Bouwer

Suid-Afrika se belofte van ‘gelyke geregtigheid vir almal’ wankel wanneer aanspreeklikheid eindig by die laagste range.

Ons lees gereeld in die media hoe lede van die laer range vinnig gearresteer word, terwyl hul senior bevelvoerders, insluitende generaals, meesal ongeskonde bly. En dit terwyl die vis gewoonlik van sy kop af vrot, soos die praktyk nou reeds bewys.

As die oppergesag van die reg werklik vir almal geld, moet generaals net so aanspreeklik gehou word soos die van die laer range.

Daar was onlangs 5 generaals en 2 brigadiers van die SAPD deur die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (IDAC) gearresteer.

Hierdie offisiere kry toe weer spesiale behandeling, in die sin dat nadat hulle borgtog in die hof ontvang het, hulle terug geplaas is na hulle vorige werkplekke – die Intelligensie-Afdeling waar hulle beskuldig word van die steel en verduistering van baie groot bedrae geld.

Hulle is nie geskors nie. Hulle het nou ál die geleentheid in die wêreld om met getuienis te knoei of om getuies te probeer ompraat. Hierdie soort van gebrek aan optrede van die nasionale polisiekommissaris skree te hemele.

Die mees onlangse geval is die van die nasionale adjunkkommissaris, Shadrach Sibiya, nadat hy 121 dossiere van taakspan teen politieke moorde in KZN laat verwyder en in sy kantoor toegesluit het.

Alhoewel ek van mening is dat hierdie optrede van Sibiya prima facie die misdaad van Regsverydeling uitmaak, is hy slegs op verpligte verlof geplaas, alhoewel dit blyk asof die polisieregulasies nie eers vir so iets voorsiening naak nie. Hoekom met sagte handjies optree as generaals van ernstige misdaad onder aandag kom? Sy geval regverdig skorsing sonder salaris.

Hierdie soort van selektiewe ondersoeke en optrede dui op ‘n opsetlike stelselmislukkings. Die spoor verdwyn dikwels, wat die ondersoek belemmer.

Geweld en korrupsie op grondvlak wek openbare verontwaardiging. Nog meer behoort dit so te wees wanneer top offisiere in die hiërargie betrokke is by misdaad.

Die persepsie ontstaan dat generaals onaantasbaar is, terwyl die laer range elke keer maar die prys moet betaal as die ratte van die gereg teen hulle aan die gang gesit word.

Hierdie wanbalans ondermyn nie net vertroue in wetstoepassing nie, maar knaag aan die fondament van ons demokrasie soos SA se burgers dit juis nou ervaar.

Die werklike argitekte van mislukking – die generaals – mag nie onaangeraak bly nie. Hulle is veronderstel om ‘n eerlike operasionele polisiekultuur voor te hou.

Burgers van die land sal eers die polisie vertrou wanneer geregtigheid vir alle range geld – van konstabel tot generaal.

Dar moet ‘n politieke wil wees om die polisie reg te ruk. Mens kan net hoop dat die nuut-aangestelde Madlanga-kommissie van ondersoek en die spesiale gesamentlike parlementêre komitee van polisie en justisie die kentering sal wees om juis daardie doel te bereik.

Hervorming is nou dringend nodig. Geen skynvertonings mag meer geduld word nie.

Slot

Suid-Afrika verdien ’n polisiediens waar beide leiers en voetsoldate aan dieselfde standaarde gemeet word. Slegs dán kan ons vertroue herstel, menseregte afdwing en die grondwet se belofte van gelyke geregtigheid bewaarheid.

'n Foto wat skermskoot bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.