BOBBY SE BANKIES (1)
Vlenters Visser & Sarie van Niekerk
Vlenters was hierdie week baie besig gewees, sy pen het oortyd gewerk. Hy het sommer drie stories gestuur
In my oorlede neef se weduwee se huis staan ’n liggroen kinderbankie wat al 78 jaar oud is en deur Bobby aanmekaar getimmer is, vertel Bobby.
Bobby het hierdie bankies in groot getalle geproduseer en almal het altyd geterg dat sy bankies meer spykers as hout het, want hy het sy bankies gemaak om te hou.
Bobby het saam met ’n geestes gestremdheid geleef, maar hyself het vas geglo dat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog aan Hitler se kant was het en derhalwe aan bomskok gely het. Daarom het hy ook altyd vir almal met ‘’ Heil Hitler’’ en die daarmee gepaardgaande saluut gegroet.
Een middag het Pa en ek op die sypaadjie gestaan toe Bobby op sy fiets in die hoofstraat aangery kom. Onder sy linkerarm het hy ‘n hele klompie bankies vasgehou en sy regterhand gebruik om die handvatsel te bestuur. Pa, wat ’n terggees was, het sy skoene se hakke teenmekaar geklap, sy arm uitgestrek en “ Heil Hitler’’ geskree. Bobby het die handvatsel gelos en teruggegroet.
En die groen bankie met hopeloos te veel spykers leef steeds voort. Hier is die oorspronklike bankie wat vandag nog in die eienaar se huis gebruik word.
Nodeloos om te sê, het Bobby balans verloor en die teer met ’n slag getref. Hyself het nie ’n enkele skrapie opgedoen nie en die bankies het niks oorgekom nie. Sy fiets was daarmee heen en Pa het vir hom ’n nuwe een gekoop.
In Pa se winkel het hy ’n papiergewig in die vorm van ’n slangetjie gehad. Elke keer as Bobby kom hout en spykers koop het hy voor die slang gaan staan en heen en weer gewieg en die slang aangemoedig om saam met hom te dans. Pa het dan maar die slangetjie weggehaal en onder die toonbank gesit. En vir Bobby gehelp met sy bestelling.
Ongelukkig het hierdie storie ’n hartseer nadraai gehad. ’n Negentienjarige seun het Bobby se bankie in my oorlede neef se weduwee se huis gesien. Sonder haar medewete het hierdie jongman, wat baie handvaardig was, ’n langer en hoër bankie vir haar gemaak. Een Vrydagoggend het hy haar met hierdie geskenk verras, maar dieselfde aand het hy, soos die Belge sou sê, self uit die lewe uitgestap deur homself op te hang.