Grootwordjare: Fanie Bouwer
Abstract
This memoir reflects on a childhood spent on a remote border farm in the Ugie district, where a small, orderly world shaped by routine, hierarchy, and innocence seemed complete and unquestionable. Growing up unaware of broader political and social realities, the author accepted inequality and structure as natural features of life. The first rupture in this certainty came with his entry into the South African Police in 1968, where exposure to diverse communities, educated Black professionals, and critical journalism challenged his inherited assumptions. Gradually, he confronted the complexities of a divided society and recognised the limitations of his early worldview. This awakening unfolded slowly, shaped by lived experience rather than ideology. With maturity came humility—the understanding that ignorance is often an inevitable starting point, but that adulthood demands honest self-examination. The narrative concludes by observing that unacknowledged ignorance remains pervasive, even among modern leaders, and that the refusal to recognise one’s own limitations can be more damaging than ignorance itself.
Opsomming
Hierdie memorie verken ’n jeugdige op ’n grensplaas in die Ugie-distrik, waar ’n klein, ordelike wêreld aanvanklik as volledig en onveranderlik beleef is. Die skrywer beskryf hoe onkunde nie kwaadwillig was nie, maar bloot die natuurlike gevolg van ’n beperkte kinderwêreld. Die eerste breuk in hierdie sekerheid kom met sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse Polisie in 1968, waar blootstelling aan uiteenlopende gemeenskappe, kritiese joernalistiek en opgeleide swart professionele mense sy vroeë aannames uitdaag. Gaandeweg word die eenvoudige plaaslogika vervang deur ’n besef van die land se komplekse politieke, sosiale en ekonomiese werklikhede. Die verhaal toon hoe volwassenheid ’n proses van ontwaking, nederigheid en selfondersoek word. Dit sluit af met die waarneming dat onkunde — veral wanneer dit nie erken word nie — ’n hardnekkige en dikwels gevaarlike verskynsel bly, selfs onder hedendaagse leiers.
Sleutelwoorde:
Grensplaas, Ugie-distrik, Jeugherinneringe, Onkunde en ontwaking, Plaaslewe, Sosiale hiërargie, Apartheidstydperk, Ongelykheid, Polisiekollege 1968, Umtata, Daily Dispatch, Donald Woods, Politieke bewustheid, Sosiale verandering, Selfondersoek, Volwassenheid, Persoonlike ontwikkeling, Geskiedenis en identiteit, Leierskap en onkunde
ONKUNDE OOR MY EIE EN ANDER SE ONKUNDE
Brigadier Fanie Bouwer

Ek wil skryf oor my grootwordjare op ’n grensplaas in die Ugie-distrik, en oor die geleidelike ontwaking wat volg wanneer ’n kind se wêreld groter word.
Ek het as plaasjapiekind nie geweet dat ek nie iets anders weet nie.
Ek het my lewe begin soos soveel ander plaaskinders. Daar was ’n volmaakte sekerheid dat die wêreld soos ek dit gesien het, die wêreld is soos dit werklik was. Daardie wêreld was klein, maar vir my volledig.
Plaaswerk het sin aan die dag gegee. Mense het hul plek geken. Daar was orde in mý omgewing. Ek het nie geweet wat elders aan die gang was nie.
Met my Gecado-windbuks, my bont perd, my twee donkies en my alomteenwoordige brak, Rex, en die groot wattelbos vol tortelduiwe naby, was dit my alfa en omega.
Die woord ‘grens’ het vir my as kind net ’n praktiese betekenis gehad. Dit was ’n draadheining daar bo teen die heuwel, met Transkei aan die ander kant. Ek het nie besef dat dit ook ’n politieke skeidslyn was nie, maar ’n produk van beleid, geskiedenis en mag.
Ek het wel verskille opgemerk, maar weens my onkunde het ek dit nie ontleed nie.
Ek het nie in ’n politieke huis grootgeword nie. Saans het net my pa na die nuus op die draadloos geluister. Wat ek soms in die verbygaan gehoor het, het min sin vir my gemaak.
Ongelykheid was vir my as kind geen ideologiese vraag nie; dit was bloot ’n gegewe van die tyd.
Die plaas self was ’n wêreld van orde. Daar was gesag, arbeid en verantwoordelikheid. Elkeen het geweet wat van hom verwag word. Hierdie gestruktureerdheid het my gevorm. Dit het my geleer van dissipline, plig en gehoorsaamheid aan ’n hiërargie, met my pa bo-aan as die ordehouer.
In my jeug was daar geen idee van ’n verdeelde land nie. Daar was net ons wêreld: eenvoudig, voorspelbaar en funksioneel. Onkunde in die jeug is natuurlik. Miskien selfs noodsaaklik. ’n Kind kan nie die volle gewig van ’n land se geskiedenis dra nie.
My toetrede tot die polisiemag in 1968 het die eerste werklike skeur in my sekerheid gebring.
As jong polisiestudent in Umtata het ek Suid-Afrika begin ervaar op ’n manier wat my vroeë perspektiewe uitdaag. Aanvanklik het die polisiemag soos die plaas gevoel: rang, bevel, dissipline, duidelike strukture. Alles het hiërargies en georganiseerd gelyk. Die wêreld het orde gehad. Jy ontvang opdragte; jy voer dit uit. Jy vertrou die stelsel.
Maar die gemeenskappe waarin ek werk het, het my gekonfronteer met ander werklikhede.
Die eerste was my blootstelling aan die ultra-linkse koerant, die Daily Dispatch, onder redaksie van Donald Woods, wat die politieke status quo met oortuiging uitgedaag het. Waar almal op die plaas destyds ongeletterd was, het ek skielik swart dokters, prokureurs en advokate ontmoet wat vlot Engels praat. Dit was vir my ’n nuwe wêreld.
Die tweede werklikheid was die blootstelling aan alledaagse ongelykhede en die ingewikkelde sosiale strukture van stedelike en semi-stedelike gemeenskappe. Wat ek op die plaas as natuurlik en geregverdig aanvaar het, het skielik komplekse sosiale, politieke en ekonomiese dimensies gekry.
Die eerste werklike ontwaking van my volwassenheid het gekom toe ek hierdie nuwe feite begin besef het. Dit was toe my ou sekerhede begin verbrokkel het. Ek het geleidelik verstaan dat stabiliteit soms net die produk van onderdrukte spanning is en dat wet en moraliteit nie altyd perfek saamval nie. Tog het ek as polisieman die beleid van die regering sonder teenspraak verdedig.
Hierdie insigte het nie oornag gekom nie. Hulle het oor jare gegroei deur blootstelling aan uiteenlopende gemeenskappe, deur konflik, deur die belewenis van politieke en sosiale veranderinge wat die land geskud het.
Dit was waarskynlik die moeilikste deel van my innerlike ontwikkeling: om te erken dat my vroeë perspektiewe beperk was. Nie noodwendig verkeerd nie, maar onvolledig.
Met ouderdom kom ’n sekere nederigheid. Hoe ouer ’n mens word, hoe duideliker sien jy hoe beperk jou vroeë begrip was. Ironies genoeg besef jy ook hoe beperk jou huidige begrip steeds is. Wysheid lê nie daarin dat jy alles verstaan nie, maar dat jy beter kan onderskei en beoordeel.
Ek kyk vandag terug op my jeug met dankbaarheid, nie met veroordeling nie. Onkunde was nie skuld nie; dit was die natuurlike beginpunt van ’n lewe binne ’n spesifieke tydvak.
Volwassenheid bring weer verantwoordelikheid. Dit vereis die moed om jou eie geskiedenis eerlik te bekyk.
Slotgedagte
Onkunde blyk ’n hardnekkige verskynsel te wees selfs waar ’n mens dit die minste verwag.
In die laaste drie dekades van my lewe het ek nuwe bewindhebbers sien regeer wat self nie bewus is van die beperkings van hul eie begrip nie. Hulle weet ook nie dat daar dinge is wat hulle nie weet nie.
Hierdie onvermoë om eie onkunde te erken, het dikwels groter gevolge as die onkunde self.

Weldeurdag – goed beskryf!