Flyday is Officer’s Day

In the days of Marshall Square a Commissioned Officer from Pretoria Head Office visits Chinese Shops in Johannesburg on a Wednesday. A serious subject of Police Corruption told in a humorous fashion.

OP ‘N WOENSDAG IN JOHANNESBURG[1]

(Chris Botha)

Die ou Sjinees kyk die majoor op en af. Sy skamerige kenbaardjie bewe, sy ogies is op skrefies en hy vroetel senuweeagtig met sy hande in die sakke van sy lang kledingstuk. Dit lyk soos ‘n Katolieke priester se gewaad, dink die majoor.

“No, no, no …”, piep die ou Sjinees in sy bewerige stemmetjie, “… this not light, this long…”.

‘n Paar dae voor hierdie gesprek met die ou Sjinees het Kompol[2] die majoor ingeroep. “Ons het ‘n probleem in Johannesburg. Bronne beweer dat sommige lede van die Mag in ‘n onbetaamlike verhouding gewikkel is met die Sjinese gemeenskap rondom Marshallplein. Omkoopgeld en/of -geskenke is hierby betrokke. Dit vind blykbaar redelik openlik plaas, en dit lyk vir ons asof nie net ondergeskiktes hierby betrokke is nie, maar ook offisiere”.

Sò beland die majoor in Johannesburg op ‘n Woensdag. ‘Tjo-tjo’, omkoopgeld of geskenke vir gunsies gelewer deur die polisieman[3], was ‘n ernstige saak. Of dit was om sy erns te bewys, sy status te vertoon, die gemeenskap te beïndruk of bloot omdat hy nie aan die Speurtak verbonde was nie, weet ek nie, maar die majoor is in uniform geklee.

Die majoor het vroegoggend al van sy huis in Queenswood, Pretoria, vertrek. Die pad deur Soutpansbergweg in die rigting van die HF Verwoerdhospitaal, dan deur Sunnyside in die rigting van die Fonteine en die uiteindelike Ou Johannesburgpad was nog redelik stil. By Pete’s Roadhouse in Halfweghuis stop hy eers vir ‘n koppie koffie. Hierna ry hy na die Halfweghuis polisiestasie waar hy die stasiebevelvoerder van Marshallplein vanaf die Aanklagkantoor skakel. “Ek is nou op Halfweghuis, Piet”, lig hy sy kollega in. Hy kry inligting oor die verkeer in Johannesburg en die twee bepaal ‘n verwagte tyd van aankoms.

In Johannesburg aangekom, besef die majoor eers die werklike omvang van die moeilikheid. Die stasiebevelvoerder vertel hom dat die handelaars van Johannesburg eintlik onder beleg is, en die Sjinese besigheidsmense naby die polisiestasie word veral geteiken. Sommige polisiemanne neem na bewering vier maal hul maandelikse polisiesalaris huistoe, belastingvry boonop. Ander weer word ruim voorsien van kruideniersware, drank en klere. Dit is nie vreemd om die kinders se jaarlikse skoolgelde vanaf die besigheidsgemeenskap te kry nie, en selfs lenings om motors te koop word befonds. Die polisiemanne ‘help’ met die beslegting van onderlinge geskille. Bewysstukke en selfs polisiedosssiere ‘verdwyn’ gereeld en geen haan kraai oor enige voorval nie. Bevelvoerders wat optree kry skade aan hul huise of motors. Sommige speurders werf selfs informante om inligting oor hierdie ‘polisie-onderwêreld’ in te win. Behalwe vir ‘gewone’ misdaad soos afpersing, is daar aanduidings dat politieke rolspelers betrokke is by hierdie donker prentjie. Aan die een kant is daar hierdie korrupte sy van polisiëring in Johannesburg, aan die ander kant die amperse helde-verering vir polisiemanne soos ‘Lang’ Hendrik van der Berg, Theuns Swanepoel en At Spengler.

Vir die Sjinese besigheidsmense naby die polisiestasie is die situasie amper Kafkaans[4], vertel die stasiebevelvoerder vir die majoor, ‘n ‘sinlose, disoriënterende gevaarlike kompleksiteit’, ‘n ‘bisarre oorlewingstryd’ wat die Sjinese in die hande laat van ‘onaantasbare polisiemanne met ongekende burokratiese gesag en mag’.

Uit die slagoffers kry die majoor geen inligting nie. ‘n Sjinese juwelier vertel wel dat hy bang is vir polisiemanne. Hy hou geen diamante of goud in sy winkel nie – hy neem slegs bestellings, maak die items by sy huis waar sy volwasse seuns waghou en bring die items na die winkel om die transaksie met die kliënt af te handel. By geleentheid glo die polisieman wat edelstene of goud wil sien hom nie, dan wys die juwelier vir hom al sy leë kaste en kluis. Hy kry so nou en dan ‘n klap of ‘n ernstiger afranseling, maar hy wil nie ‘n saak maak nie. Van die jonger Sjinese, kinders van die besigheidsmense, is meer uitgesproke en selfs kwaad. Maar as die majoor ‘n verklaring wil afneem weier hulle om saam te werk.

Mettertyd weet hy wel dat daar ‘n soort van ‘ooreenkoms’ tussen die tjo-tjo-polisiemanne en die Sjinese winkeleienaars is: daar word naamlik net twee keer per week tjo-tjo gevat. Konstabels, sersante en adjudant-offisiere (oftewel onder-offisiere) maak hul draaie by die Sjinese op ‘n Woensdag. Kommissie-offisiere[5] se beurt is op Vrydag. Hy vind ook uit dat die offisiere ietwat duurder is as die onder-offisiere en dat die Sjinese die rangstelsel goed ken. Uiteraard is dit ook een van die redes waarom die majoor nie veel regkry nie – vir daardie tyd is sy rang eintlik baie hoog, en die Sjinese besef dit ook. Die majoor kry gevolglik die idee dat iemand met sy rang nie sommer net buite die Vrydag-beurt kan opdaag nie, dis gewoon ‘n besoek waarop die Sjinese besigheidsmense moet voorberei.

Die bewende ou Sjinese man, met sy skrefiesogies en sy bewende baard, is die laaste handelaar by wie die majoor uitkom. Blykbaar is dit ook die enigste Sjinees in die middestad wat toe nog nie weet dat die majoor in die omgewing is nie, en wat nie weet waarmee die majoor eintlik besig is nie.

En dis heeltemaal die verkeerde dag – dis dan Woensdag, nie Vrydag nie. En in die tipiese uitspraak van die Oosterling roep die ontstelde ou Sjinese handelaar uit:

“No, no, no”, not today, flaaiday is officel’s day, flaaiday, flaaiday, not today, this not light, this long…”.

(Hartenbos, 24 Oktober 2025)

  1. Die kern van hierdie storie is jare gelede aan my vertel deur ons oud-kollega Tienie Halgryn (RIV), sy oë toegeknyp van die lag, sigaretjie tussen die vingers. Iets in my vermoed dat Kobus (“Pottie” natuurlik …) Potgieter (RIV), my gewaardeerde mede-drilinstrukteur in die ou Polisiekollege, ook teenwoordig was. Hy en Tienie het mekaar goed geken uit die destydse polisie-atletiekkringe uit. Tienie was my kompaniebevelvoerder in die rang van luitenant.
  2. Soos ons na die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie verwys het. Die huidige term is ‘Naskom’, vir Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die Polisiekollege in Pretoria-Wes was in die algemene polisie-spreektaal as ‘Polkol’ bekend. Belangstellendes in ‘polisietaal’ kan gerus onse Hennie Heymans se woordeboek van polisietaal in die Nongqai opsoek en deurlees.
  3. Daar was toe nog nie polisievroue nie.
  4. Na die werk van die Europese skrywer Franz Kafka (1883 – 1924).
  5. Destyds vanaf die rang van luitenant af, verwysende na die Akte van Kommissie wat deur die Staatspresident aan diesulkes uitgereik is.