Snaaks genoeg, was dit een pos wat ek ná my kollege-opleiding nooit weer in die SAP beklee het nie.
Ek het slegs gedurende my studentedae in 1968 in Umtata in 'n aanklagkantoor gewerk. My aanklagkantoorsersant was ene sersant Radebe. Ek was as 'n 'aanklagkantoorreserwe' aangewys. Daarna het ek nooit weer in 'n aanklagkantoor gewerk nie.
Sersant Radebe het my al die truuks, moets en moenies van aanklagkantoorwerk geleer. Hy was 'n baie trotse ou wat nie daarvan gehou het as die stasiebevelvoerder die volgende dag 'n 'query' oor ons werk doen wanneer hy die boeke en registers nagaan nie.
Om destyds 'n klaer se klagte of saak sommer goedsmoeds en sonder goeie rede weg te wys, was een van die ernstiger oortredings wat 'n polisieman kon pleeg. En ek dink met goeie rede: dit het na my mening aan regsverydeling gegrens.
Hoeveel video's het ons die afgelope paar jaar nie al gesien waarin onkundige en lui polisiemanne 'n konfrontasie veroorsaak omdat hulle nie 'n klaer se verklaring wil afneem nie? Dan kom daar ook allerhande dom, niksseggende verskonings om hulle weiering te probeer regverdig.
Destyds, wanneer 'n klagte geweier is, moes die AK-sersant 'n volledige inskrywing – "Charge refused" – in die Voorvalleboek maak, met vermelding van die feite én die redes daarvoor, ter inligting van die stasiebevelvoerder.
Gewoonlik was die AK-sersante gesoute polisiemanne wat hulle wette geken het. En gewoonlik was hulle besluite hieroor in die kol.
'n Aanklagkantoor is die plek waar jy as jong polisieman die kuns aanleer om na 'n klaer se weergawe van die feite te luister en daarna te besluit watter gemeenregtelike of ander statutêre oortreding ter sprake is. Nie almal kon dit altyd behoorlik bemeester nie.
Hoeveel keer het ons nie al op hierdie blad en elders gelees van lede wat klaers die afgelope jare met allerlei duistere redes uit aanklagkantore wegwys nie? En dit gaan nie net oor swak redes nie. Dit gebeur ook omdat hulle regskennis uiters beperk is, hulle nie die feite behoorlik kan ontleed nie, of bloot te lui is om 'n verklaring af te neem. Na my mening grens sulke optrede dikwels aan regsverydeling.
Daar is aanklagkantore én aanklagkantore. Wat bedoel ek hiermee?
Ek wil hier verwys na plattelandse stasies en dié in die stede. Die verskil in werksritme is hemelsbreed. In 'n stedelike aanklagkantoor moet jy jou storie ken!
Stellenbosch, waar ek op 'n stadium stasiebevelvoerder was, het 'n unieke en uiters besige aanklagkantoor gehad. Dit is deur eenvoudige klaers, studente en hoogsgeleerde professore besoek. Natuurlik is dit vandag steeds die geval.
Eenkeer stap ek op 'n Saterdagaand, so teen 20:00, daar in. Die AK-sersant – 'n adjudant-offisier – was 'n ervare ou, ietwat eksentriek en kon by tye taamlik emosioneel raak. En sy aanklagkantoor hét daardie aand gelyk en geklink soos die spreekwoordelike basaar.
Ek het my met ander sake besig gehou om nie in te meng nie. Later, toe dit stil geraak het, vra ek hom: "Hoe was jou dag?"
Hy antwoord: "O, heng, kaptein, hel besig gewees. As ek 'n besem in my agterent gesit het, het ek sommer die 'charge office' ook uitgevee."
Net so!
Woodstock en Khayelitsha, waar ek ook stasiebevelvoerder was, kon selfs nog besiger en rumoeriger raak.
Ek moet vandag weer sê: Daardie aanklagkantoorsersante wat hierdie soort aanklagkantore vir agt uur aaneen onder sulke besige omstandighede behoorlik kon bestuur, waar humeure ook soms opgevlam het, was ysters. Ekself sou dit nooit beter kon doen nie.
Woodstock, daar digby Kaapstad, op 'n hoek van die besige hoofstraat (Victoriaweg), het die stedelike gebiede Woodstock, Soutrivier en Observatory bedien – al drie baie ou, kosmopolitiese gebiede.
Khayelitsha se aanklagkantoor was weer 'n 24-uur-lange riller.
Klaers in aanklagkantore is soms in 'n emosionele toestand en raak kwaad omdat hulle nie onmiddellik aandag kry nie. Ek het my AK-sersante geleer om op te kyk, die persoon te groet en dan aan te dui dat hy spoedig gehelp sal word. Dit het gewoonlik 'n kalmerende uitwerking gehad, waarna die persoon rustig sy beurt afgewag het.
Deesdae word daar na aanklagkantore as gemeenskapsdienssentrums verwys. Dit klink nie vir my sleg op die oor nie.
Ek hou ook van die afgesonderde hokkies waar 'n klaer se verklaring privaat, weg van ander mense, afgeneem kan word. Dit was 'n groot tekortkoming in my dae. Ek het dikwels gewonder waarom die SAP nooit daaraan gedink het nie.
© nongqai.org
Skryf aan ons oor hierdie artikel
Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.
Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.
Verwante Artikels

Ek, my perd en my geweer: Wat meer is nodig?
November 11, 2026

NONGQAI Special series : The men speak : Brig Fanie Bouwer
January 19, 2024

Kapt. Jan Idema
September 1, 2026

Fotoalbum: Ou Polisiestasies en Foto's van Polisiebeamptes uit Vergange Dae
November 3, 2026

1942: Arrestasie van genl. H.J. van den Bergh te Marshallplein, Johannesburg
November 3, 2026
