
’n Boeremeisie, grootgeword op die plaas Elandsheuwel net buite Potchefstroom. In Potchefstroom gebore en getooi. Ek was in die Laerskool Baillie Park en in Hoërskool Gimnasium. Vandat ek kon loop het ek nie soos ander dogtertjies met poppe gespeel nie; ek het altyd ’n speelgoedgeweertjie gehad of ’n kettie. So dit was net gepas dat ek as hoërskoolleerling deelgeneem het aan die .22-kadet-skiet. Ek word drie keer verkies tot die provinsiale kadet-.22-skietspan, en verteenwoordig drie keer my skool op nasionale vlak. Ek word ook aangewys as die skut van die jaar. In 1992 verower ek my Junior Springbokkleure. Ai, my pa was so trots op my.

My loopbaan as polisievrou het op 14 Januarie 1993 in die Polisiekollege in Pretoria begin, waar ek in Peloton 35 was. Ons het in Rosehof op die kollege-terrein gebly. So het my lewe in die groot wêreld begin. Dit was nou nie regtig wat my ouers wou gehad het nie. Ek het goed genoeg op skool gedoen om Pukke toe te gaan, maar my bloed was blou. My pa was self voorheen by Bountak, en die meeste van my ooms en neefs was ook in die polisie. So, dit is wat ek wou doen.
’n Mens is maar angstig as jy met die bus kollege toe ry. Ek het net een maatjie op die bus gehad, Suretta Loots; ons het saam Engels gehad. Die ander meisies was almal vreemdelinge.
By die kollege aangekom, word ons in pelotonne ingedeel. Ek is in Peloton 35 en woon in Rosehof op die tweede verdieping. Jy kan nie eers behoorlik jou klere wegpak nie. Siviele klere bly in jou tas. Die kaste is vir die uniform, wat ek nog nie eers gehad het nie. Jy weet skaars waar alles is, dan moet jy aantree vir liggaamsoefeninge (PT). Dis hier waar ek besef dat ek my tekkies by die huis vergeet het. Al wat ek het, is sulke pikante sandale wat nou maar as tekkies sal moet deurgaan, want daar is nie ’n manier dat jy kaalvoet mag rondloop nie.
Maar gelukkig pas ’n mens vinnig aan en op die ou einde was dit glad nie so ’n groot skok nie. As jy net besef hoe alles werk en die reëls volg – alles doen wat die sersant sê – is jy oukei.
Die lekkerste klasse was beslis skietkuns. Ons het eers skietkuns gedril en moes tot vervelens toe die pas markeer. Eers wanneer ons sersant tevrede was, het sy ons na die skietkunsklas laat gaan. Sodra sy om die hoekie was, het die hare gehang! Die skietkunsinstrukteurs was nie gepla oor dril of oor wat jy die vorige periode verkeerd gedoen het nie; vir hulle het dit oor die wapens gegaan. Solank jou wapenhantering reg was, was jy oukei. By skietkuns het ons lekker tye beleef.
Ongelukkig was dit van korte duur. Die tyd het al hoe nader gekom om uitgeplaas te word, en ons het geweet ons sal weer moet afskeid neem, want ons kan nie almal na dieselfde stasie toe gaan nie.
Ek word uitgeplaas na die destydse Jan Smuts-lughawe. Die eerste keer in my lewe sien ek ’n vliegtuig. Ek bly in Daphne Heights in Kempton Park. My pa het amper ’n hartaanval gekry toe hy die plek sien, en ek weet vandag dat dit met ’n swaar hart was dat hy my daar gelos het. After all, ek was sy regterhand op die plaas en my ouers was baie konserwatief. Dit was nie regtig opwindend om daar te werk nie. Al wat jy heeldag doen, is om na X-straalmasjiene te kyk en te luister vir metaalverklikkers wat afgaan. Dan is dit deursoeke, heeldag en aldag. Nagskofte was die ergste. Die laaste vlugte vertrek net ná 22:00, en dan was daardie plek doodstil.
Vroeg in 1994 skakel die lughawe oor na privaatsekuriteit en daar is nie meer baie nut vir soveel polisielede daar nie. So toe word ek verplaas na Kemptonpark se polisiestasie. Ek het in die aanklagtekantoor gewerk. Ek het ’n baie cool skofbevelvoerder gehad, en op nagskofte kon ek skelm saam met die klagte-voertuig uitgaan. In daardie tyd mag vroue nie eens velddrag gedra het nie. Ons het daardie verspotte pakkies gedra met die dril-skoentjies. Ha, ha. Bietjie vir bietjie het ek my kennis van polisiewerk verbreed.
Op een of ander manier het die taktiese instrukteurs, onder leiding van maj. Pine Pienaar, gehoor dat ek ook op skool was en Junior Springbokkleure gekry het. Hulle bied SWAT-opleiding aan. Ek sit nog so lekker eendag in die aanklagtekantoor toe word ek geroep na maj. Pienaar se kantoor. Glo my, hy was ’n moeilike man; jy wou nie aan sy verkeerde kant gewees het nie. Hy het jou sommer ’n hele voorvalleboek laat oorskryf as jy ’n fout gemaak het. As hy in die oggende die aanklagtekantoor-registers nagesien het, moes dit in ’n sekere volgorde gepak gewees het, en sy koppie koffie moes op sy tafel gestaan het. Dit was elke oggend ná nagskof ’n geskarrel om alles vir hom reg te kry sodat hy die registers kon nasien.
My broek het behoorlik gebewe oppad met die trappe op na sy kantoor toe. My stemmetjie het gebewe toe ek in sy kantoor staan en hom salueer en sê: “Middag, Majoor.”
“Sit,” het die bevel gekom. Ek kon skaars die stoel onder my ingestoet kry. “Ek hoor jy kan skiet?” “Ja,” sê ek, so bietjie. “Ken jy ’n AK47-geweer?” “Ja,” sê ek, en verduidelik ’n bietjie meer oor die wapen. Gelukkig was my pa ’n jagter en ek het op die plaas met wapens grootgeword. Dit was ’n maklike vraag om te antwoord. “Jy is net waarna ek soek.” Die skok is amper te groot; ek begin bewe en val amper van die stoel af. Ek dog vandag is die dag wat ek hier doodgaan in die kantoor. Waarvoor soek hy my? Ek het niks gedoen nie.
Die volgende oomblik is hy op die telefoon en bel vir AO Van Heerden. Hy is ferm as hy sê: “Ek het vir julle ’n dames-instrukteur gekry. Kom na my kantoor en maak haar touwys.”
Toe AO Van Heerden opdaag, gee hy hom opdrag om my sommer die volgende dag Silverton-logistiek toe te vat en vir my ’n behoorlike uniform te kry.
Dit is waar my loopbaan as instrukteur begin het. Hiervandaan is ek binne 24 uur verplaas opleiding toe, en later na Eenheid 38, Tembisa, waar ek SWAT-opleiding aangebied het. Die bevelvoerder daar het geglo dat ’n goeie instrukteur ’n ingeligte instrukteur was, so ons moes saam met die pelotonne in Tembisa werk wanneer daar nie opleiding was nie. Ek het dit vreeslik geniet. Ek het daardie tyd se kode 10-lisensie gehad en het my eie Casspir gehad wat ek in die gebied bestuur het. As ek mooi moet terugdink daaraan, dink ek die ouens het my bestuurder gemaak om my te beskerm, maar as hulle sien, is ek reg vir aksie.
© nongqai.org
Skryf aan ons oor hierdie artikel
Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.
Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.




