NONGQAISouth Africa’s National Security MagazineEstablished in 1907
DONATE

Weskuspatrolie

Diamantspeurders op patrollie deur die Spergebied: van Sam-se-Baai tot Alexanderbaai.

Lt-kol VE Kruger
November 26, 2026November 2026 uitgaweVol. 17 No. 114 minute om te lees

Foto: VE Kruger

Foto: VE Kruger

Die soutlug van die Weskus het vroegdag nog in die neusgate gebrand toe die 4x4-voertuie (bakkies) al tot oorlopens toe gepak is. Slaapsakke, opvoubare kampbeddens, swaar seile om die nattigheid af te weer, en genoeg proviand om 'n klein weermag aan die gang te hou, is met geoefende hande vas-gegespe. Vir die diamantspeurders wat 'n kuspatrollie van Sam se Baai af tot bo by Alexanderbaai.

Nie sommer net 'n gewone skof nie; dit was 'n tog deur die Hartland van die Spergebied—'n wêreld van ruwe rotse, duine, misbanke en ongeslypte diamante.

Teen skemer het die konvooi by Sam-se-Baai stilgehou. Die eerste aand is altyd gereserveer vir die bosberaad. Terwyl die dryfhout-vuur begin knetter het en die swaar potjie met sy ryk aroma rustig op die kole staan en prut het, het die manne in ‘n kring saamgedrom.

Beplanning is gedoen soos net ervare speurders kan: skerp, deeglik en met 'n oog vir elke moontlike skuif wat onwettige delwers of smokkelaars kon maak. Maar sodra die amptelike sake afgehandel was en die eerste koue drankie geskink, het die erns plek gemaak vir kameraadskap.

Staaltjies uit ou dae is opgediep, en kort voor lank het die speletjies begin. Die groot gunsteling van die aand was die eier-uitdaging. 'n Dosyn eiers is in 'n bak neergesit—die meeste hardgekook en afgekoel, maar tussenin het daar 'n paar roues gelê

Die reël was eenvoudig: jy kies 'n eier en slaan hom sonder huiwering teen jou eie voorkop stukkend. Die spanning het hoog geloop, maar dit was een van die seniors, destyds Kolonel Johan Meintjies—wat later jare as 'n generaal in KwaZulu-Natal afgetree—wat die aand onvergeetlik gemaak het. Met 'n strak gesig het hy vorentoe gestap, 'n eier gekies en hom met gesag teen sy voorkop gekap en kraak. Blink-nat eiergeel het stadig oor sy wenkbroue en wange begin afloop.

Die gelag het oor die duine weergalm. Hy het sy gesig afgevee, vasbeslote om sy geluk te draai, en 'n tweede een gegryp. Weer het die rou geel hom gevang. Toe dit die derde keer gebeur, het die Kolonel se gesig net so rooi geword en baie woedend. Hy was oortuig daarvan dat die jonger manne vir hom 'n poets gebak het en dat al die eiers in die bak rou was, totdat een van die manne 'n gekookte eier teen sy eie kop stukkend geslaan en dit skoon afgedop het.

Laat daardie aand is daar geëet, en die vuur is weer gestook.

Daar is toe nog 'n streep getrek—hierdie keer op Braam van Niekerk.

Terwyl hy nog by die vuur gestaan en gesels het, is 'n rubber slang versigtig tot onder in sy slaapsak ingeskuif.

Toe Braam uiteindelik besluit het om in te kruip, het die inklim en die uitklim in een beweging plaasgevind. Hy het met slaapsak en al regop gespring en dit soos 'n vel van hom afgeskud. Braam het daardie nag nie 'n oog toegemaak nie; hy het eerder langs die vuur bly sit en seker gemaak niks kruip nader nie.

Vir die res van die span het die Polisiekoffie, potjiekos en die seelug gou hul tol geëis. Binne minute het die snorkery uit die kampbeddens opgeklink. Dit wat so erg was dat selfs die nuuskierige strandjakkalse omgedraai en die duine ingevlug het...

Vroeg die volgende oggend, nog voor die mis behoorlik gelig het, het die eerste man uitgekruip om die kole oop te krap en die groot swart ketel vir boeretroos op te sit. Terwyl die geur van vars koffie met die soutige mistigheid meng, is die voertuie weer gepak.

Die senior offisiere het hul laaste opdragte gegee, en die onderoffisiere het die Spergebied aangepak.

Die roete noordwaarts was 'n stadige, doelgerigte tog. Langs die kuslyn het die manne deur hul verkykers die diamantskuite op die water dopgehou. Elke boot se posisie is fyn gemonitor om te verseker dat hulle streng binne hul toegekende konsessies bly en nie stilletjies, oor die lyn, diamantgruis op verbode grond pomp nie.

Teen laatmiddag het die konvooi by hul tweede oornagplek, die Grot, ingetrek. Sodra die horlosie uitvaltyd geslaan het, is die kleredrag verruil vir kortbroeke en duikbrille. Gewapen met die nodige kreefpermitte het die manne die yskoue Atlantiese see-water aangedurf en 'n klomp MENEER Weskus-krewe uitgehaal.

Daardie aand was daar geen spoggerige resepte nodig nie—net 'n groot pot suiwer seewater op die vuur waarin die krewe rooi gekook is, bedien met vars brood onder die sterrehemel.

Die volgende dag het die pad gelei na Hondeklipbaai. Hier het die werk weer skerp fokus vereis. Die plaaslike delwers is besoek, hul diamantregisters is deurgegaan en elke ongeslypte diamant in hul kluise is op die diamantskaal geweeg. Elke karaat en elke klip moes tot op die letter korrespondeer met wat in die boeke aangeteken was. Die delwers was maar ligvoet vir die speurders. Hulle was beleefd en behulpsaam, en het vinnig koffie aangebied—want almal het geweet die oog van die diamantspeuder mis niks nie.

So het die konvooi dag na dag al langs die ruwe kuslyn op beweeg deur sand, mis en wind, tot die eindpunt by Alexanderbaai bereik is.

Toe die voertuie vir oulaas tot stilstand kom en die stof gaan lê, het elkeen geweet: hierdie was nie net 'n gewone patrollie nie, maar 'n onvergeetlike ervaring van kameraadskap, plig en die unieke gees van die Weskus.

DIE LEUSE VAN DIE DIAMANT EN GOUDTAK: WE DO IT ON THE ROAD AND UNDERCOVER


Deel hierdie artikel:

Skryf aan ons oor hierdie artikel

Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.

Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.