NONGQAISouth Africa’s National Security MagazineEstablished in 1907
DONATE
Lt Col Locas Holtzhausen SAP VIP protection unit

Die Eerste BBP-beskerming van Mnr Nelson Mandela deur die destydse Veiligheidstak

’n Eerstehandse relaas van die Veiligheidstak se beveiliging van latere president Nelson Mandela tydens sy vroeë besoek aan die Natalse Middellande ná sy vrylating.

Brig. Hennie Heymans (Afgetree)
November 26, 2026November 2026 uitgaweVol. 17 No. 116 minute om te lees

Bygedra deur Lt Kol Lucas Holtzhausen

Kort nadat Mnr Nelson Mandela in Februarie 1990 vrygelaat is uit die gevangenis by Paarl het hy besluit om die Natalse Middelande te kom besoek - onder andere om die plek te kom uitwys waar hy destyds (op 5 Augustus 1962) deur die SAP-Veiligheidstak gearresteer is net buite Lion's River naby Howick.

Ons Distrikskommandant gedurende hierdie besoek was wyle Brigadier GC Wolhuter, wat voorheen verbonde was aan die Veiligheidstak in Pietermaritzburg. Ek was toe onder andere in bevel van die BBP seksie wat toe steeds binne die Veiligheidstak geopereer het.

Ek word toe deur Brig Wolhuter ontbied na sy kantoor en met die inloop sit een van ons destydse blanke onderwerpe van die ANC/UDF (gaan nie sy naam noem nie) in die brigadier se kantoor. Ons ken mekaar en dit was toe nie nodig vir enige amptelike bekendstelling nie. Die man sê toe dat die ANC President beplan om die Natal Middelande te kom besoek en om onder andere die plek te probeer uitwys waar hy destyds gearresteer is.

Brig. Wolhuter het hom gevra wat verlang hulle van die SAP, waarop die man geantwoord het dat hulle bang was dat die IFP en die AWB probleme kan veroorsaak. Ek vra hom toe of hy vir my Mnr Mandela se program kan gee vir sy besoek, maar hy weier en sê dat hulle nie die Veiligheidstak vertrou nie. Waarop Brig Wolhuter hom vra hoe hy kan verwag dat die SAP die nodige beskerming kan verleen as ons nie vooraf die program het nie. Hy het toe teensinnig die program aan ons oorhandig.

Nadat hy die kantoor verlaat het sê die Brigadier vir my dat ons moet verseker dat Mandela niks oorkom terwyl hy in die Middelande is nie want die Middellande was steeds ‘n kruitvat met spanning tussen die IFP en die ANC. Hier was ook ‘n redelike AWB ondersteunings basis in Pietermaritzburg wat probleme kon veroorsaak.

Die Brigadier gee my toe opdrag om my beplanning te gaan doen en enige hulpmiddels wat ek benodig te identifiseer en aan hom te kom voorlê. Terug in my kantoor bespreek ek die komende besoek met my bevelvoerder en hy stel voor dat ek BBP-hoofkantoor skakel om leiding van hulle te kry. Ek skakel toe BBP-hoofkantoor en verduidelik die situasie aan ‘n offisier. Al wat hy toe vir my sê is dat ons moet doen soos ons goed dink. Ek merk toe op dat Mandela met ‘n helikopter sou vlieg na Ixopo en dat ons ook lugsteun sou benodig.

Nadat ek my beplanning gedoen het, het ek dit aan Brig Wolhuter voorgelê en versoek dat die lugvleuel ons moet bystaan. Die Brigadier reël toe ‘n finale voorligting-sessie met die ANC/UDF man en deel hom mee dat die SAP totale verantwoordelikheid vir Mandela se besoek aanvaar.

Ek het toe aan die man ons BBP-protokol verduidelik en sê toe vir hom dat ons geen lang konvooie van motors gaan toelaat nie. Hy was duidelik nie gelukkig nie maar ek het aangedring dat net die nodige BBP-voertuie in die konvooi toegelaat sou word. Ek het egter verwag dat hulle tog sou probeer om deel van die BBP-konvooi te vorm en het beplan vir ‘n “stopper voertuig” agter die BBP konvooi. Die voertuig sou verseker dat geen ander voertuie nader as twee kilometer agter die BBP-konvooi kon kom nie.

Ek het ‘n baie ervare adjudant-offisier aangewys om die voertuig te bestuur. Brig Wolhuter het ook vir my ‘n groot aantal uniform-lede onder bevel van wyle Majoor Gerry Botha toegewys. Ek en Gerry was groot vriende en het dikwels saam gewerk tydens BBP-optredes. Ek en hy het weer deur die plan gegaan en klein aanpassings gedoen.

Mnr Nelson Mandela het toe hier geland met ‘n vliegtuig en ek het myself aan hom gaan voorstel en verduidelik dat die SAP verantwoordelik sal wees vir sy beveiliging. Sy eerste besoek sou wees aan Greytown maar hy sou per motor daarheen reis. Soos verwag het sy aanhangers probeer om deel te vorm van die BBP-konvooi maar die ervare adjudant-offisier in die “stopper voertuig” het hulle van die pad afgedruk en teruggehou.

Terwyl hulle per motor gery het, het ek met die SAP-helikopter gevlieg en dit was eintlik baie snaaks gewees om die BBP-konvooi te kon waarneem met ‘n lang ry voertuie so twee kilometer agter ons “stopper voertuig”.

By Greytown het hy sy ondersteuners toegespreek in die stadsaal en toe wou hy vandaar die plek gaan besoek te Lion's River waar hy destyds gearresteer is. Die BBP-konvooi het deur Howick gery en daar was ‘n aantal AWB-lede wat gepoog het om die pad te versper. Nodeloos om te sê dat my ou maat Gerry hulle gou-gou uitgesorteer het.

By Lion's River gekom kon Mnr Mandela nie presies onthou waar hy gearresteer is nie en het hulle heen en weer gery. Gerry was toe al by die tyd lekker keelvol vir die storie en dui toe sommer self ‘n plek aan waar Mandela gearresteer is. Ek kan tot vandag toe nie bevestig of dit die korrekte plek was nie omdat die arrestasie in die vroeë 60’s plaasgevind het en niemand in sy geselskap daar was met die arrestasie nie. Hulle het toe Gerry se woord aanvaar en vandag staan daar ‘n museum en ‘n monument waar Gerry gesê het dat die arrestasie plaasgevind het.

Die volgende dag het Mnr Mandela na Ixopo gevlieg met sy helikopter en ek het hom gevolg in die SAP-helikopter. Hy het geland naby die Ixopo Hoërskool. Daar was ‘n groot tent opgerig en hy het sy ondersteuners toegespreek.

Generaal-Majoor Dirk Schoeman van Port Shepstone was teenwoordig en het verseker dat die vergadering nie ontwrig is nie.

Die aand met ons terugkeer na Pietermaritzburg het hy sy ondersteuners toegespreek in die Pietermaritzburg stadsaal. Hier het die AWB aan die een kant van die pad gestaan en die ANC/UDF ondersteuners aan die oorkant.

Gerry het die hondemanne op die eiland tussen die twee groepe ontplooi. Die polisiemanne het baie beledigings verduur van die ANC sowel as die AWB ondersteuners, maar die teenwoordigheid van die hondemanne het verseker dat daar geen insidente plaasgevind het nie. Na die vergadering het Mnr Mandela besluit om by ‘n plaaslike restaurant te gaan eet en hy nooi my toe uit vir die ete. Ek het sy aanbod beleefd van die hand gewys en gesê dat dit my taak was om hom te beskerm.

Hy het die volgende dag weer terug gevlieg Johannesburg toe maar eers vir ons kom dankie sê dat ons hom beveilig het. Gerry was in bevel van ons plaaslike kantien gewees en ons het daardie aand lekker gekuier en gelag oor die plek wat Gerry uitgewys waar die arrestasie sou plaasgevind het.

So paar dae later ontbied Brig Wolhuter my na sy kantoor en hier sit dieselfde man wat ons oorspronklik genader het vir Mandela se beveiliging. Hy het sy dank teenoor ons betuig en erken dat hy ons nooit vertrou het nie, maar toe bevestig dat - na afloop van Mnr Mandela sy besoek - sy persepsie van die Veiligheidstak heeltemal verander het.

Brig Wolhuter het toe vir hom gesê dat die SAP net hulle werk doen, en nie kant kies ten opsigte van enige party nie. Die man het wel later ‘n adjunk-minister in die nuwe regering geword.

Na die eerste demokratiese verkiesings het President Mandela weer Pietermaritzburg kom besoek en was ek weer in bevel van sy BBP-beveiliging. Ek het na hom toe geloop en hy het my onmiddellik herken en gevra “How are you Captain”.

Ek was baie bevoorreg gewees om presidente en ministers van beide eras in ons politieke geskiedenis te kon beveilig. Party was vriendelik en ander minder vriendelik. Ek moet erken dat, ten spyte van Mnr Mandela se politieke agtergrond, hy ons as polisiemanne met baie eerbied en respek behandel het.


Deel hierdie artikel:

Skryf aan ons oor hierdie artikel

Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.

Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.