NONGQAISouth Africa’s National Security MagazineEstablished in 1907
DONATE
Brig HB Heymans

Waak teen Ontnugtering

Hoor jy die magtige dreuning? Herinneringe van 'n polisieman in 'n tyd van konflik, diens en verandering

Brig. Hennie Heymans (Afgetree)
November 2, 2026Nongqai - Digital Edition - November 2026 uitgawe7 minute om te lees

Hoor jy die magtige dreuning?

Brig HB Heymans

Ek het dit gehoor.

Toe word die klank sagter, en ek hoor die dertig silwerstukke van verraad saggies op die vloer neer klingel ... Ons inligting aan die ZCIO, GRU, KGB en MI6. So stil. So ongehoord.

Die nuwe stryd gaan voort.

Geen regering regeer vir ewig nie. Uiteindelik sal die stembus praat.

Twee vingers in die lug.

"So help my God."

En ek word ingesweer.

Die attestasie het 'n blywende indruk op my gemaak. Ek was trots om 'n polisieman te wees. Trots om deel te wees van die blou Ystergarde, lid van die dun blou lyn wat tussen anargie en wet en orde staan.

Ek het gevoel dat ek iets groter as myself verteenwoordig: orde, dissipline, diens en verantwoordelikheid.

Ek staan op parade.

"Nasionale saluut! Presenteer geweer!"

"Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika."

Dit het reg gevoel.

In die kollege, in kol. Solomon se klas, hoor ek woorde wat my bygebly het:

"A policeman is not above the law, but subject to the law like any other citizen."

En hoor jy die magtige dreuning?

Ja, ek hoor die tromme en dreunsang van 'n tyd toe ons in 'n land van verlore geleenthede geleef het:

"One settler, one bullet."

"Kill the Boer, kill the farmer."

My gedagtes dwaal terug na die helde van my jeug:

  • Manie Odendaal en sy polisiehond.
  • My stasiebevelvoerder, AO W. Marais.
  • My afdelingskommissaris, kol. C.C. von Keyserlingk.
  • Genl. J.M. Keevy, ons kommissaris.
  • Genl. H.J. van den Bergh, die skrander hoof van die Veiligheidspolisie.
  • Gerard Ludi, ons eie "James Bond".
  • Lt.-kol. F.M.A. Steenkamp, my bevelvoerder in Port Natal se Veiligheidstak.

Later word ek groot. As konstabel was die lewe baie eenvoudig. Swart en wit.

Ek was sewentien jaar oud toe ek die eed afgelê het om Suid-Afrika en sy mense getrou te dien.

Ek leer baie dinge. Tussen skofte verwerf ek 'n graad, nogal in die Engelse medium. Ek ontvang opleiding in teeninsurgensie en vlieg in helikopters. Later word ek na die Veiligheidstak oorgeplaas en woon verdere veiligheidskursusse by.

Ek was nog altyd 'n gewone mens wat belangstel in wat om my aangaan. Reeds vroeg ontdek ek dat ons in die greep van 'n werklike Koue Oorlog verkeer.

Ons opponente gebruik kommunistiese wapens en ander Oosblok-wapentuig.

Ons was 'n Christelike polisiemag. Kapelane het ons bedien. Parades het dikwels begin met Skriflesing en gebed. Ons gemenereg was gegrond op die Tien Gebooie.

Ons arresteer terroriste, beperk mense se vryheid en neem administratief-regterlike stappe. In ons denke was ons deel van die Westerse wêreld se stryd teen kommunisme. Amerika, die NAVO en hul bondgenote het dieselfde bedreiging raakgesien.

Ons het geglo ons saak was reg.

Die SAKP/ANC-alliansie het die wet verbreek, en ons het onsself as verdedigers van die bestaande orde beskou.

Strategiese studies kom aan die beurt. Ek leer van inligting, intelligensie, bedreigings, koverte aksies en die bekamping van die aanslag teen die republiek.

Ek is gevorm deur my skool, my kerk en my kultuur. Ek was apolities, maar ek het waardering gehad vir dr. H.F. Verwoerd en ook vir adv. B.J. Vorster.

Vorster was die polisie goedgesind en het alles in sy vermoë gedoen om die land veilig te hou.

Met verloop van tyd verskyn nuwe helde en rolmodelle op die toneel van my lewe:

  • Genl. Jannie Geldenhuys, waarskynlik die grootste strategiese denker sedert genl. J.C. Smuts. Ons het vele gesprekke gevoer.
  • Genl. Mike Geldenhuys, dinamies en daadkragtig. Ek was later betrokke by die samestelling van 'n boek oor hom.
  • Genl. Johan Coetzee, die "spymaster", wat ek reeds uit sy Durban-dae geken het.
  • Genl. Hennie de Witt. Wat 'n besondere leier.
  • Genl. F.M.A. Steenkamp, wie se waardes en intellektuele benadering 'n groot invloed op my gehad het.
  • Genl. J.V. van der Merwe, 'n eerbare man wat baie wysheid met my gedeel het.
  • Genl. J.J. Viktor, 'n besonder bekwame en intelligente ondervraer.
  • Brig. Piet Goosen, 'n uitstaande leier wat verantwoordelikheid aanvaar het.
  • Maj. Craig Williamson, een van ons bekendste spioene.

Dit is die mense met wie ek saamgewerk het en my positief beïnvloed het.

Baie interessante mense en staatsamptenare het my pad gekruis en my denke beïnvloed.

Ek was nie 'n grensvegter nie. Ek was hoofsaaklik 'n lessenaaroffisier, betrokke by nasionale veiligheid, die ontleding van inligting en diens in die SSVR.

Ek het talle interessante dossiere en leggers bestudeer. Ons het mense van ander lande ontmasker en in sekere gevalle aangekeer.

Die meeste mense sou verbaas wees oor wat alles agter die skerms gebeur het.

Later keer ek as offisier terug na die uniformtak, terug na polisiëring op grondvlak.

Ek het op parade gesidder wanneer "Die Stem" gespeel het. Ek sou alles vir hierdie land opgeoffer het.

Ek was lief vir my werk en vir ons stryd teen misdaad en kommunisme.

My loopbaan het my ver laat reis. Ek was in die Verre Ooste, die Nabye Ooste, Afrika, die Verenigde State en Europa. Ek het ook Kinmen-eiland en Lok Wu, naby Rooi China, besoek.

Ek het 'n kursus in politieke oorlogvoering bygewoon en die kommunistiese wêreld eerstehands beleef.

In my beroep moes jy altyd weet wie om te vertrou.

Ons het mekaar vertrou, ongeag ras of herkoms. Ek het onder goeie bevelvoerders gedien en ook uitstekende mense onder my bevel gehad.

As skakelbeampte met die Mosambiekse polisie kon ek maklik in 'n kwesbare posisie beland het. Hulle kon my enige tyd as gyselaar aangehou het.

Maar ek het geweet die SAP sou my nooit in die steek laat nie.

Die verandering wat gekom het, was uiteindelik onvermydelik.

Die Nasionale Party het die veiligheidsmagte versaak. Daar was min opsies oor vir mnr. F.W. de Klerk.

Basies was die keuse: "Skiet" of "Skik".

Die tuislandbeleid het in duie gestort en ons is gekonfronteer met die realiteit van "een man, een stem".

As jong polisieman het ek reeds vermoed dat dié dag sou kom toe Harold Macmillan sy beroemde "Wind of Change"-toespraak gelewer het.

Die kommuniste kon ons nie op die slagveld verslaan nie, maar hulle het die politieke oorlog gewen.

Ons moet egter waak dat ons nie ons geskiedenis weggooi nie.

Ons moet dit vir die nageslag bewaar.

Elke land beskik oor koverte vermoëns en geheime operasies. Suid-Afrika was geen uitsondering nie.

As gevolg van swak politieke bestuur moes baie van ons voor die Waarheids- en Versoeningskommissie verskyn.

Ek wonder dikwels waar die Nasionale Intelligensiediens en die SAW in hierdie proses was.

Ons opponente, waaronder MK, die ANC en die SAKP, het ook misdrywe gepleeg.

Dit was oorlog.

Ek hoor selde van die ander kant se oortredings: die Kerkstraatbomaanval, Quatro-kamp, halssnoermoorde, handgranate, kleefmyne, landmyne en petrolbomme.

Mnr. Adriaan Vlok het later tot bekering gekom en die voete van voormalige opponente gewas as teken van sy berou.

Hy het erken dat veiligheidsmagte soms koverte aksies moes uitvoer en het openlik spyt daaroor uitgespreek.

Kom ons koester ons geskiedenis.

Die propaganda-aanslag teen ons was geweldig.

Mense het in aanhouding gesterf, en elke dood was een te veel. Tog moet die geheelbeeld ook verstaan word.

Ons het insurgente aangekeer, bomme opgespoor en landmyne onskadelik gestel. Ons het talle lewens gered, hoewel dit nooit volledig bereken sal kan word nie.

Vandag kyk ek terug en besef dat bloot om te leef reeds 'n gevaarlike onderneming is.

Ek dink aan mense wat ek gedurende my studentejare geken het en wat deur die geskiedenis ingehaal is. Ek dink ook aan my eie vriende wat as jong manne hul pligte uitgevoer het en nooit teruggekeer het nie.

Hulle het dienend gesterf en sterwend gedien.

Ons sal hulle onthou.

Ons het die pad gestap wat ons tyd en omstandighede vir ons uitgelê het. Daar was geen padkaart nie, slegs uitdagings en onsekerheid.

Ons beleid is deur die politieke leierskap en die kiesers bepaal, en die veiligheidsmagte moes die besluite van die dag uitvoer.

Ten slotte wil ek iets persoonlik byvoeg.

Ek het deur die jare die voorreg gehad om met baie van ons voormalige opponente te gesels oor die Veiligheidstak van die SAP.

Hulle erken dikwels dat ons professionele teenstanders was. Al het ons aan teenoorgestelde kante gestaan, was daar wedersydse respek.

Dit is die gevolgtrekking waartoe ek gekom het ná gesprekke met lede van SWAPO, MK, FRELIMO, SNASP, die CIA en die GRU.

Baie van hulle was bekwame en toegewyde mense.

Ek het selfs 'n KGB-spioen gesien wat deur ons gearresteer is en historiese artefakte van genl. H.J. van den Bergh en genl. Mike Geldenhuys besigtig.

Dit was die werklikheid van daardie era.

Dit was nie slegs die polisie, as primêre gesagsorgaan van die staat, wat teen opponente opgetree het nie. Die SAW, die intelligensiegemeenskap en ander veiligheidsinstellings was eweneens deel daarvan.

Ons het die land en sy mense gedien sonder aansien des persoons.

Die jaarverslae van die kommissaris van polisie staan vandag nog as onbetwiste stille getuienis van wat bereik is.

Ja, daar was uitsonderings. Ja, daar is foute gemaak.

Maar oor die algemeen was die polisie 'n instelling wat gestreef het na orde, diens en stabiliteit.

Wanneer ek vandag terugkyk, onthou ek nie net die konflikte nie.

Ek onthou die mense.

Ek onthou die eed.

Ek onthou die diens.

En ek hoor steeds, êrens in die verte, die magtige dreuning.